Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kyk hoe word Van Wyk Louw ‘Kaaps’ vertel

Hoewel stigmatisering en marginalisering dit baie lank agtervolg het, het Kaaps vandeesweek weer as die oudste variant van Afrikaans sy regmatige plek begin inneem, skryf Heindrich Wyngaard.

Genl.maj. Jeremy Veary het Donderdagaand die N.P. Van Wyk Louw-gedenklesing in Kaaps gelewer. Foto: Argief

Wat op Dinsdag en Donderdag hierdie week op die taalfront gebeur het, was beswaarlik só beplan.

Maar “kaantie” in die jare hierna sal daar dalk gesê kan word dat Jeremy Veary se lewering van die N.P. Van Wyk Louw-gedenklesing – vir die eerste keer in Kaaps – ’n manifestering was van die versugtinge wat nog net Dinsdag op ’n webinaar oor “Die toekoms van Kaaps” uitgespreek is.

Die vyf sprekers wat aan dié virtuele gespreksgeleentheid van die Afrikaanse Taalraad en Afrikaanse Taalmuseum en -monument deelgeneem het – die taalkundiges proff. Charlyn Dyers en Frank Hendricks, onderwyser Monn-Lee Geduld, Veary en dr. Gerda Odendaal van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal – het almal vanuit hul onderskeie hoeke ’n toekomsvisie vir Kaaps belig.

Sowel Hendricks as Dyers, ook mede-redakteurs van die publikasie Kaaps in Fokus, het Kaaps se plek (rol, aansien) as oudste variant van Afrikaans benadruk. Stigmatisering en marginalisering het dit egter baie lank agtervolg, soos dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, ook in sy inleiding tot die gesprek genoem het.

Veary het gesê Kaaps behoort Suid-Afrika se 12de amptelike taal te wees.

Odendaal het onder meer die klem geplaas op die vraag “wanneer word daar vir Kaaps gedóén?” (byvoorbeeld deur studiebeurse en die uitbreiding van die WAT).

En Geduld het ’n pleidooi gelewer dat Kaapssprekende kinders hulself in die Afrikaanse klaskamer moet kan wees, wat net sal gebeur as hulle toegelaat word om hul omgangstaal te besig (“koep”, “loep” en “lekke’”) eerder as die gedwonge Standaardafrikaans (“koop”, “loop” en “lekker”).

In sý inset, het Veary gesê Kaaps behoort Suid-Afrika se 12de amptelike taal te wees en algaande moet daar ook in geskrewe vorm “uiting gegee word aan die ervarings in ruimtes waar Kaaps gebesig word”. Dit moet geld in skole, op tersiêre vlak, in die akademie, in die uitgewerswese – “en alles en wat-wat”.

Virtuele “laanie biesagheid” in Kaaps

Adam Small, die digter en filosoof wat as die vader van Kaaps beskou word. Foto: Argief

Presies soos toe genl.maj. Veary, oftewel “Jeremy vannie Elsies” (na sy gelyknamige memoir), die N.P. Van Wyk Louw-lesing Donderdagaand in Kaaps “[ge]skiet” het.

Hierdie geleentheid van die Universiteit van Johannesburg se departement tale, kultuurstudie en toegepaste linguistiek, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en Litnet, vind jaarliks voor ’n uitgesoekte gehoor plaas.

Weens die Covid-19-pandemie moes ook dié (in Veary se beskrywing) “laanie biesagheid” egter vanjaar virtueel aangebied word.

Maar die spreker was steeds op ’n “kriewelgat-saak” ingestel, om “te kô soek en vra” in die “stamtaal van die Vlaktes” omdat, het hy verduidelik, dit wat die aanlyn gehoor as Standaardafrikaans ken, is in sý boek gewoon Kaaps se verlore seun.

En dié taalpa was nou hier om vir N.P. van Wyk Louw (tot “Boeta NP” deur Veary herdoop) terug te verwelkom by die huis: “Lat ek jou wys wat djy kan wies virrie tyte van nou en die djare wat kom.”

Afrikaanssprekendes moet nou “kopskiet sonne twis” in die gees van 'Boeta NP' se woorde in 'Die oop gesprek'.

Die “velore laaitie” wat onder apartheid “gan mang het” (opgesluit was), synde die soort “deftige Mercedes- of Fakulteits- of Burokratiese of Germaanse Aferikaans” wat Breyten Breytenbach “verpes” het, moet nou tuiskom “af vannie hoegene taalberge, daa waa hy gelê et oorgroei met gras”, terwyl die wêreld onder hom verby beweeg het – “soes Adam Small se Kanna, ’n gewone Moses vi gewone mense, bryn soos grond”.

Afrikaanssprekendes moet nou “kopskiet sonne twis” in die gees van “Boeta NP” se woorde in “Die oop gesprek”. Maar dit is nodig om “oepkop [te] dowwel” eerder as om nog “van agterie draad om jou djaart” met mekaar te praat. Die waarheid groei, volgens Veary, “waa ôs saam dala oppie mirrelgrond”.

Oor “Boeta NP” se voorwoord tot ds. Dawid Botha se Die opkoms van ons derde stand, waarin hy sy “innige begeerte” verwoord “dat my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan” ten spyte daarvan dat dit “óns [is] wat bedreig word”, deel Veary sy eie waarheid dat Van Wyk Louw dit dalk reg het “oorie messe van sy eie môre tien sy taal”.

Dit geld egter nie Kaaps se voortbestaan nie: “My Kaaps was ’n moerstaal wat van slawerny deu apartheid tot nou allie pad die up vannie grond af gekhoeza het (. . .)”, sê hy, “en ek glo vas it sal stêkgevriet bly staan tien ammel wat it wil vidalla”.

’n Digter is nodig

Heindrich Wyngaard

Standaardafrikaans loop egter die gevaar van “starag wegvrek van hoogtesiekte” omdat dit, soos Engels, verhef word as dié tale met “hoërordefunksies”.

Veary vind egter aanklank by “Boeta NP” se uitspraak in sy opstel “Oud en nuut in die literatuur” dat die literatuur “in ’n seker sin tog iets van ons almal [is]” en “ons almal se taal” gebruik, maar spesifiek: “Om in dialek-literatuur iets universeels te sê . . . dit het ’n digter nodig.”

Dié stelling het betrekking tot Peter Blum se “Oor monnemente gepraat”. Nogtans wys Veary daarop “ôs het vêre gekô” met die gebruik van “almal se taal” in die literatuur.

“Maa wie nog allie pad die [literatuur]kraal pesêllie en hoe, makee nog wêk” ten einde inhoud te gee aan Van Wyk Louw se standpunt dat die letterkunde onder meer te doen het “met die volle werklikheid, die onuit-sê-bare volheid van wat ís”.

“Boeta NP” het egter reg “gevortja” toe hy dit in Geestelike bloedsomloop gehad het oor Suid-Afrika wat amptelik tweetalig was, maar in die werklikheid veeltalig. Noudat die land élf amptelike tale het, vra Veary: “Maa issit rêrag so as ammel nie in hulle eie moedetale geskool wôd tie?” En: “Issit rêrag soe assie ienagste ding innie taalrollery wat ôs hoo, ’n saak van Afrikaans se plek tien Ingels is? Ek dink ie soe nie, ve’al as it by Kaaps kô (. . .)

Net soos u self, wanhoop ek soms, maar wat kan ons soort mens vandag anders doen as skryf waar jy kan, praat waar jy kan? Probeer oorreed?
N.P. van Wyk Louw

Van Wyk Louw se “swart engel van die nasionalisme steek egter nog kop uit “deerie tanglippe vannie taaldjingo’s as hulle praat van hulle tale se hoërordefunksies” so asof die res van die land se tale “agte hulle in daai lyn staan”. Ook by wyse van “kleinstamse kraalgedagtes oorie land en kultuur”, kompleet asof “ôs ie een Syd-Afrika-nasie in ôs mixmasala kan wies ie”.

Soos in die geval van C.J. Langenhoven se “rassistiese str*nt”, het Veary ook begrip vir “Boeta NP” se “k*kgedagtes van sy tyd”. Maar uiteindelik is Van Wyk Louw “wat ôs nou van hom maak mette mattedjala van sy woore virrie tyte van nou”.

Dit was daarom vir hom ’n groot voorreg om deur die lewering van die 2020- NP van Wyk Louw-lesing “saamit Boeta NP deurie smal hek van ôs veliede te trek”.

In Kaaps.

Van Wyk Louw se woorde in ’n brief van lank gelede aan “die vader van Kaaps”, Adam Small, oor die onregte van die tyd, is dalk ’n gepaste respons op Veary se lesing: “Net soos u self, wanhoop ek soms,” haal Small uit die brief aan in sy laaste digbundel, Klawerjas, “maar wat kan ons soort mens vandag anders doen as skryf waar jy kan, praat waar jy kan? Probeer oorreed?”

Dít het die deelnemers van vandeesweek se webinaar oor die toekoms van Kaaps en Veary in die Van Wyk Louw-lesing gestand gedoen met hul eie “mattedjala van woore virrie tyte van nou” – én die “djare wat kom”.

* Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en TV-aanbieder. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.