Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Hongkong vererger spanning tussen VSA, China

Die wêreld beweeg stadigaan in die rigting van ’n krisis tussen China en Amerika. In dié proses kan Hongkong ’n groot rol speel. Leopold Scholtz verduidelik.

Hoe China die spesiale status van Hongkong hanteer, kan ’n beduidende invloed hê op die toekomstige betrekkinge tussen China enersyds en Amerika en die res van die Weste andersyds.

Dit sal waarskynlik nie op sigself genoeg vir ’n konfrontasie wees nie, maar dit kan mettertyd wel ’n belangrike stap in daardie rigting wees.

Hongkong is ’n hawestad in China, bestaande uit ’n eiland en ’n beperkte gebied op die Chinese vasteland, wat in 1839 deur die Britte van die Chinese keiserryk verower is. Dit was in die sogenaamde Opium-Oorlog toe Brittanje ’n winsgewende opiumhandel met China met geweld gemonopoliseer het.

Dit was deel van die – soos die Chinese dit genoem het – “ongelyke verdrae” waardeur verskeie Westerse moondhede (veral Brittanje, Duitsland, Portugal en Amerika) spesiale voorregte vir hulself afgedwing het teen die keiserlike regering, wat toe sterk aan die verval was.

Dié reeks vernederings het deur al die jare daarna soos ’n afskuwelike litteken op die Chinese kollektiewe bewussyn gesweer.

’n Betoger in Hongkong maak sy standpunt duidelik. Foto: Reuters

Hongkong is vir Beijing dus meer as net ’n hawestad met handelsimplikasies. Dit is ’n simbool van nasionale vernedering, een wat reggestel en selfs gewreek moet word.

In 1997 het die Britse regering ná jare lange onderhandelings ingewillig om Hongkong weer aan China terug te gee. Streng voorwaardes – ’n situasie bekend as “één land, twee stelsels” – is egter gestel.

Enersyds sou Hongkong volkeregtelik weer deel van die Chinese staat word. Andersyds sou die Westerse demokrasie, met inbegrip van vryheid van spraak en die reg tot politieke opposisie, in Hongkong gehandhaaf word.

Reeds kort ná die oordrag was daar kommerwekkende tekens dat die Chinese die toekoms anders as die Britte en die Hongkongers sien, maar tot ’n breuk het dit nie gekom nie. Daardie breuk is pas verlede jaar geopenbaar toe die regering in Beijing ’n wet aanvaar het wat die uitlewering van Hongkongers aan China aansienlik vergemaklik het.

Die Hongkongse demokrate het dit tereg vertolk as ’n poging om hulle te intimideer. Die gevolg was grootskaalse betogings en onluste in die strate van die enklave, en dit het kwaai geweld van die plaaslike polisie uitgelok.

Botsing tussen China en VSA dreig al lank

Onlustepolisie staan gereed in Hongkong. Foto: AP

Die koronavirus-krisis het sake tydelik effens gekalmeer. Maar vanjaar het die Chinese regering deur die aanhouding van honderde Hongkongse demokrate die verdrag met Brittanje vir alle praktiese doeleindes opgeskeur. Terselfdertyd het die Hongkongse wetgewende vergadering, waarvan Beijing die beheer deur allerlei truuks kon oorneem, die vryheid van spraak aansienlik beperk.

Dit het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, laat besluit om sy land se erkenning van Hongkong se spesiale status – en die gepaardgaande ekonomiese voorregte – in te trek. Dit is as ’n strafmaatreël teen China bedoel.

Of dit die Chinese regering werklik straf, sal nog gesien moet word. Soos verwag kan word, het die Chinese media (wat getrou weergee wat die diktatuur aan hom opdra) dit luidkeels veroordeel. Belangriker nog is dat die Hongkongse aandelebeurs onmiddellik met 3,3% opgeskiet het, iets wat China aangryp as bewys dat Amerika geen invloed op die gang van sake sal hê nie.

Die feit is naamlik dat die handel tussen Hongkong en China relatief beperk is. Bowendien begin die Chinese ekonomie nou van die koronavirus-pandemie herstel, en ook die aandelebeurse in Tokio en Seoel weerspieël dit.

Suid-Koreaanse studente betoog uit solidariteit met demokrate in China. Foto: Getty Images

Maar uiteindelik is Pompeo se stap veel meer as ’n ekonomiese strafmaatreël. Dis ’n politiéke gebaar.

China en Amerika stuur al lank op ’n botsing af. Die Chinese is naamlik besig om hul spreekwoordelike elmboë bruut te gebruik om hul invloed in Oos-Asië ten koste van dié van Amerika te vergroot.

As ’n mens op ’n kaart van die Suid-Chinese See kyk, sien jy hoe die Chinese eenvoudig 90% van die omgewing onder hul beheer gebring het. Die maritieme grense wat hulle getrek het, strek tot baie na aan die kuste van die Filippyne, Indonesië, Broenei, Viëtnam en selfs Maleisië, op plekke waar hulle logieserwys niks te soek het nie.

Die krapperigheid tussen China en Amerika kom al uit pres. Barack Obama se dae.

Uiteindelik gaan dit om die beheer van die Spratly- en Paracel-eilandgroepe in die Suid-Chinese See – eintlik weinig meer as ’n aantal rotsblokke in die see wat egter deur die Chinese tot militêre basisse met landingstroke en al uitgebrei is.

Daar is glo taamlike olieneerslae in die omgewing, maar dit gaan om meer as dit. Deur die besetting van die twee eilandgroepe en die maritieme omgewing beheers China nou ook die deurgang van die Stille na die Indiese Oseaan, waardeur hy sy strategiese posisie aansienlik verstewig.

Krapperigheid al in Obama se dae

Die vlae van China en Hongkong wapper oor ’n regeringsgebou in Hongkong. Foto: Reuters

Die krapperigheid tussen China en Amerika kom al uit pres. Barack Obama se dae.

Obama wou hom al loswikkel uit die voortdurende konflikte waarin sý voorganger, George W. Bush, Amerika in die Midde-Ooste gewikkel het. Hy het ingesien dat China tot Amerika se éintlike strategiese mededinger aan die ontwikkel was, en het dus al verskeie jare gelede ’n “skarnier na die Ooste” aangekondig, waarvolgens Amerika se klem van die Midde-Ooste na die Stille Oseaan verskuif sou word.

Ondanks belangrike detailverskille tussen die regerings van Obama en pres. Donald Trump het laasgenoemde die Obama-klemverskuiwing voortgesit.

China is klaarblyklik nie tevrede dat Amerika die wêreld se leidende moondheid is nie.

Geleerdes wys teen dié agtergrond op wat die Theukudides-val genoem word. Theukudides was ’n antieke Atheense historikus wat die Peloponnesiese Oorlog tussen Athene en Sparta (431-404 v.C.) beskryf het.

Soos dit uit sy beskrywing blyk, was die konflik eintlik onvermydelik wanneer een groot moondheid (in dié geval Sparta) ’n ander een (Athene) van sy troon probeer stoot. In die huidige tyd, so word gemeen, is dit China wat Amerika se internasionale oppermagtigheid probeer uitdaag.

Iets soortgelyks het ook in die jare voor 1914 gebeur toe Duitsland Brittanje van sy posisie as nommer een probeer stoot het. In albei gevalle het dit tot uitputtingsoorloë gelei wat sowel die wenner as verloorder ernstig verswak het.

Tans, so word gevrees, kan die wêreld opnuut in die Theukudides-val trap.

Pres. Xi Jinping van China se geduld met Hongkong is skynbaar op. Foto: AP

China is klaarblyklik nie tevrede dat Amerika die wêreld se leidende moondheid is nie. Daarom is die Chinese besig met ’n ongekende modernisering en versterking van hul weermag, veral hul vloot, waarmee hulle hul mag tot ver van hul eie kuste kan projekteer.

Obama se strategie was om ’n soort veiligheidskordon om China op te bou, wat sou strek van Japan en Suid-Korea in die noorde via Maleisië in die suide tot Indië in die suidweste. Maar Trump se houding, wat nugter beskou van onbeholpenheid getuig, het dié strategie aan die wankel gebring.

Dit alles wil nie sê dat ’n oorlog onvermydelik is nie; bloot dat ’n oorlog nie as onmoontlik gesien kan word nie. Dit wil ook nie sê dat China selfs sónder ’n oorlog suksesvol gaan wees nie.

Stellige voorspellings is onmoontlik. Wat wel seker is, is dat sake uiters vloeibaar is.

Die Chinese breë strategie berus naamlik op sowel ’n stok as ’n wortel. Naas die militêre spiere wat hy bult, brei hy ook sy “sagte” invloed uit deur die skep van ’n moderne “Chinese syroete”, só genoem na die syroete wat in die antieke tyd tussen die Chinese en die Romeinse keiserryk bestaan het.

Die moderne syroete omvat die grootste deel van Oos- en Sentraal-Asië en selfs Afrika. Dit het reeds aansienlike sukses behaal, maar die boelietaktiek wat die Chinese regering tans in sy eie omgewing toepas, kan die welwillendheid wat hy met die syroete bewerkstellig het, heeltemal beduiwel.

Wat gaan nou gebeur? Stellige voorspellings is onmoontlik. Wat wel seker is, is dat sake uiters vloeibaar is.

En dít, veral met ’n onstabiele president in die Withuis en ’n heersugtige president in Beijing, is ’n kruitvat.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Xi Jinping  |  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Barack Obama  |  Mike Pompeo  |  Brittanje  |  Hongkong  |  China  |  Amerika  |  Covid-19-Pandemie  |  Demokrasie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.