Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Krisis op krisis, maar Trump kan weer wen

Hoewel Amerikaanse stede letterlik brand en die Covid-19-pandemie verwoesting saai, lyk dit asof Donald Trump weer in November tot Amerikaanse president verkies kan word, skryf Timothy J. Lynch.

Geweld het in verskeie Amerikaanse stede uitgebreek nadat videomateriaal die ronde gedoen het wat wys hoe ’n swart man, George Floyd, na asem snak terwyl hy op die grond lê en ’n wit polisieman, Derek Chauvin, met die knie op sy nek druk.

Floyd is later dood.

Die onrus dui op ernstige uitdagings vir pres. Donald Trump en die voormalige visepresident Joe Biden terwyl hulle voorberei aan hul veldtogte vir 3 November se presidensiële verkiesing.

Asof die koronavirus nie al genoeg van ’n bedreiging vir die burgerlike diskoers in Amerika was nie, kan dié jongste brandpunt in Amerikaanse rassepolitiek die presidensiële veldtog een van die vlambaarste in die geskiedenis maak.

Covid-19 en Minneapolis kan die neksus wees waarin 2020 se veldtog ontvou. Trump se kritici het hom gekap vir sy hantering van albei kwessies en gevra of hy die land behoorlik in ’n oomblik van krisis kan lei.

En tog is hy dalk nie meer kwesbaar soos die verkiesing naderkom nie.

’n Presidentskap in krisis?

Pres. Donald Trump van Amerika toe hy Maandag na die Withuis teruggekeer het ná ’n besoek aan ’n kerk wat deur betogers aan die brand gesteek is. Foto: AP

As die man in die stoel het Trump beslis met die meer onmiddellike uitdagings te doen. Nie sedert Franklin Roosevelt in die Tweede Wêreldoorlog het ’n Amerikaanse president regeer terwyl so baie Amerikaners weens ’n enkele oorsaak dood is nie.

Die Spil-magte van die Tweede Wêreldoorlog en Covid-19 verskil dalk hemelbreed, maar enige presidensie word beoordeel deur sy vermoë om op vyande soos dié te reageer.

Met sterftes weens die pandemie wat al die kerf van 100 000 verbygesteek het, is dit onvermydelik dat Trump se lot met dié verbysterende (en steeds stygende) getal verbind sal word.

Amerikaners het nie saamgestaan om die virus te beveg nie.

En erger nog, die Minneapolis-betogings wys dat die maatskaplike vesel wat reeds aan die uitrafel was, verder losgetorring word deur die Covid-19-inperkings.

Amerikaners het nie saamgestaan om die virus te beveg nie.

Hulle het eerder toegelaat dat ’n openbare gesondheidsramp verdelings op grond van ras en die ekonomie, sowel as op seksionele en ideologiese verdelingslyne, verdiep.

Trump het, uiteraard, probeer munt slaan uit sulke verdelings. Maar die omvang van die twee krisisse waarmee hy nou te doen het, sal dit baie moeilik maak.

Dié plakkaat som die gevoel op van duisende betogers in Amerika en die res van die wêreld wat hul mening uitdruk oor die dood van George Floyd. Dié foto is in Seattle geneem. Foto: Reuters

Gemeet aan verskeie maatreëls, is hierdie ’n presidentskap in ’n krisis.

En tog.

Trump, ’n verwoede strydros, sal probeer om maniere te kry om albei tragedies tot sy voordeel te gebruik en, nog belangriker, om dinge moeilik vir sy teenstander te maak.

Om mee te begin het Trump nie die koronavirus veroorsaak nie. Hy sal steeds daarop aandring dat sy groot geopolitieke teenstander, die Chinese Kommunistiese Party, dit gedoen het.

Nes die koronavirus, het Trump nie rassespanning veroorsaak nie.

Boonop is syne nie die eerste presidentskap waartydens gewelddadige betogings in verskeie stede uitbreek nie.

Voor Minneapolis het woedende betogings en geweld in Detroit (1967), Los Angeles (1992) en Ferguson, Missouri (2014), uitgebreek weens rassespanning wat steeds nog nie opgelos is nie.

In die 19de eeu is 750 000 Amerikaners dood in ’n burgeroorlog wat geveg is oor die vraag of die slawerny waaronder swart Amerikaners gebuk moes gaan, grondwetlik was of nie.

Trump het dalk nie rassespanning in Amerika tot ’n einde gebring gedurende sy presidentskap nie, maar nes die koronavirus het hy dit nie veroorsaak nie.

Hoe Trump Demokrate vir Minneapolis kan blameer

Betogers in Dallas, Texas, laat hulle nie deur rook en traanrook stuit nie. Foto: AP

Gelukkig vir Trump is Minneapolis grootliks ’n Demokratiese stad in ’n deelstaat op wie se stem dié party altyd kan staatmaak. Hy sal nou in sy veldtog wys op die mislukking van ’n Demokratiese deelstaat se leiers om in die behoeftes van hul swart kiesers te voorsien.

Trump sal aanvoer dat dekades van Demokratiese beleid in Minnesota – insluitend die agt jaar van die Obama-administrasie – daartoe gelei het dat Minneapolis een van die ongelykste stede op grond van ras in die nasie is.

In 2016 het Trump swart Amerikaners gevra of Demokratiese leiers enigiets gedoen het om hul lewe te verbeter. Wat het julle om te verloor deur iets nuuts te probeer, soos Trump?

Hy sal hierdie mantra in die komende maande herhaal.

Trump het ’n stabiele steunpersentasie van 80% onder kiesers van die Grand Old Party gehandhaaf regdeur die koronavirus-krisis.

Dit sal ook help dat sy steun onder Republikeinse kiesers nooit gewankel het nie, maak nie saak hoe skokkend sy gedrag was nie.

Hy het ’n stabiele steunpersentasie van 80% onder kiesers van die Grand Old Party gehandhaaf regdeur die koronavirus-krisis.

Dit het gehelp om sy steun onder alle kiesers bestendig te hou soos die pandemie vererger het. Dit het tussen 40% en 50% gewissel.

Dié is nie verskriklike syfers nie. Ja, Trump se leierskap het bygedra tot ’n klomp rampe. Maar as die meningsopnames reg is, het hy tot dusver die soort van katastrofe vermy wat sy kanse op herverkiesing kan kelder.

Hoekom dié oomblik ’n uitdaging vir Biden is

Joe Biden, die Demokratiese Party se presidentskandidaat, kon nog nie politieke munt slaan uit die onrus in verskeie Amerikaanse stede en die Covid-19-pandemie nie. Foto: Reuters

Biden is veronderstel om tans ’n goeie saak aan die mense van Amerika te stel dat hy ’n meer as doeltreffende leier is.

Maar dit word nog nie in die meningspeilings weerspieël nie en die Demokraat het slegs ’n louwarm voorsprong bo Trump in die verkiesing.

Die ander probleem is dat die Demokratiese Party nie ’n bastion van eenheid is nie en Biden het nog nie gewys dat hy die vermoë het om dié party te verenig nie.

Ná die 1960’s het die Demokrate probeer om hul party die natuurlike tuiste van swart Amerikaners te maak.

Ras is ook al vir lank ’n bron van verdeeldheid in Biden se party. Demokrate in die suide was, byvoorbeeld, sleutelagente van slawerny in die 19de eeu en van die segregasie wat in die 20ste eeu daarop gevolg het.

Ná die 1960’s het die Demokrate probeer om hul party die natuurlike tuiste van swart Amerikaners te maak terwyl die Republikeinse Party vlerk gesleep het by onvergenoegde wit kiesers in die suide.

Die Demokrate het grootliks geslaag op dié front – hul party kry gewoonlik die steun van tusen 85% tot 90% van swart kiesers in presidensiële verkiesings.

Betogers maak buite die Amerikaanse ambassade in Berlyn hul gevoelens oor die dood van George Floyd duidelik. Foto: Getty Images

Die uitdaging vir Biden is om die lojaliteit van swart kiesers teenoor sy party te behou en terselfdertyd verantwoordelikheid te ontduik vir die maatskaplik-ekonomiese mislukking van Demokratiese beleidsrigtings in stede soos Minneapolis.

Boonop is hy ’n wit kandidaat uit die noorde (van Delaware). Tussen 1964 en 2008 is slegs drie Demokrate tot president verkies en hulle was almal uit die suide van die Amerika.

Om te vergoed moes Biden dikwels op rassepolitiek staatmaak om hom te onderskei van sy vernaamste Demokratiese teenstander – Bernie Sanders het gesukkel met die kanalisering van swart aspirasies – en van die Republikeine. Dit het daartoe gelei dat hy by tye omstrede dinge kwytgeraak het.

Biden kon nog nie die geleenthede aangryp wat Covid-19 en die onrus in Minneapolis sy veldtog bied nie.

In 2012 het hy swart Amerikaners gewaarsku dat die destydse Republikeinse presidensiële kandidaat Mitt Romney hulle almal “weer in kettings sal slaan”. En net meer as ’n week gelede het hy swart kiesers kwaad gemaak deur te sê diegene van hulle wat Trump in die verkiesing ondersteun, is “nie swart nie”.

Biden is baie beter as Trump oor rassekwessies en behoort die huidige krisisse te kan gebruik om homself as ’n natuurliker “hoof-vertrooster” voor te stel, maar hy kom eerder ietwat onbeholpe in dié verband voor en word bespot omdat hy neerbuigend is wanneer dit oor ras gaan.

Hy kon nog nie die geleenthede aangryp wat Covid-19 en die onrus in Minneapolis sy veldtog bied nie.

Daar is rede vir hoop

’n Winkel in St. Louis, Missouri, is Maandag deur betogers aan die brand gesteek. Foto: Reuters

Amerika gaan die laaste maande van 2020 se veldtog wanhopig en in ’n toestand van verval binne. Die keuse is tussen ’n opportunistiese president en ’n uitdager wat horende doof is.

Maar Amerika het voorheen al ernstige uitdagings die hoof gebied en sterker anderkant uitgekom. Nie die burgeroorlog van die 19de eeu of die Spaanse Griep-pandemie van die 20ste eeu kon hom onderkry nie.

Daarby geld die grondwet steeds en is federalisme op ’n manier herbore sedert die begin van die pandemie. En daar is ’n geslag van jonger, meer diverse leiers wat gestaal word in die vuur van krisis en die leiding sal help neem in die herstelpoging.

* Lynch is mede-professor in Amerikaanse politiek aan die Universiteit van Melbourne. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.