Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: May bly, maar chaos oor Brexit wyk nie

Donderdagaand vergader die Britse premier, Theresa May, met die hoed in die hand saam met die ander regeringsleiers van die Europese Unie om toegewings oor Brexit te vra. Die antwoord sal sonder twyfel ’n kategoriese “nee” wees, berig Leopold Scholtz.

Op die Europese vasteland weet die regeringsleiers van die Europese Unie (EU) nie of hulle moet lag of huil nie. Die chaos rakende die Britse politiek en Brexit – die Britse uittrede uit die EU – is allesomvattend.

Dinge is só vloeibaar dat byna enige scenario moontlik is. Trouens, in Brussel praat die hoë EU-amptenare al van Brittanje as ’n “mislukte staat”.

Theresa May, premier van Brittanje, het Woensdag weliswaar ’n aanslag op haar posisie as leier van die regerende Konserwatiewe Party oorleef, maar sy het swaar gehawend uit die proses gekom. ’n Premier teen wie se leierskap 117 koukuslede – meer as ’n derde van die koukus – gestem het, kan nóg in Brittanje nóg in Brussel met veel politieke gesag praat.

Daar is één ligpuntjie vir haar. Kragtens die interne reëls van die party mag die koukus vir die volgende 12 maande geen leierskapsverkiesing hou nie.

Dit beteken dat haar leiding van die Tories vir die volgende jaar veiliger is. Dit beteken ook dat haar grootste uitdagers, mense soos die flambojante, maar beginsellose populis Boris Johnson en die prinsipieel aartskonserwatiewe Jacob Rees-Mogg, voorlopig polities magteloos is.

Maar dis ’n skrale troos, want as jy wyer kyk, is May se posisie uiters wankelrig.

Om ’n arm af te ruk

Min Kersvreugde. Theresa May, premier van Brittanje, nadat sy Woensdag ’n mosie van wantroue in haar leierskap oorleef het. Foto: Getty Images

Sy moet die Brexit-ooreenkoms wat haar regering met die EU onderhandel het, deur die laer huis goedgekeur kry. Op die keper beskou, is dit uiters twyfelagtig.

As die laer huis vandeesweek, soos die plan was, oor die ooreenkoms gestem het, sou dit afgekeur gewees het. Die Tory-rebelle se stemme sou saam met dié van die Arbeidersparty, Skotse nasionaliste en sommige kleiner partye ’n meerderheid téén die ooreenkoms opgelewer het.

May het die saak wel slim gehanteer. Sy het die stemming uitgestel en onmiddellik na Den Haag, Berlyn en Brussel vertrek om vir verdere toegewings te pleit.

Sy wis ongetwyfeld dat sy met leë hande sou terugkeer, wat dan ook gebeur het. Maar die doel, so lyk dit, was om aan die parlement te wýs dat daar geen millimeter ruimte vir verdere toegewings is nie, dat die keuse ’n onverbiddelike een is tussen die ooreenkoms en ’n Brexit sónder ooreenkoms.

’n Brexit sonder ooreenkoms sal skadelik vir die EU wees, maar ’n ramp vir Brittanje.

Haar hoop was dan dat sy tyd kon wen sodat die rebelse parlementslede tot inkeer kan kom.

’n Brexit sonder ooreenkoms sal skadelik vir die EU wees, maar ’n ramp vir Brittanje. Jy kan dit vergelyk met ’n arm wat van ’n liggaam geskéúr word, pleks van dat dit chirurgies verwyder word.

Brittanje se ekonomie is in die 46 jaar sedert hy lid van die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap geword het, só met dié van die Europese vasteland vervleg dat afskeiding op ’n ekonomiese bloedbad moet uitloop. Die Tory-rebelle leef in ’n verlede toe Brittanje die wêreld se supermoondheid was; die linkse Arbeiders in ’n ideologiese roes dat die EU ’n verderflike kapitalistiese sameswering is.

Moenie voorspellings waag

Die een betoger wonder of Brexit die moeite werd is terwyl ’n nader glo Brittanje moet die Europese Unie verlaat. Foto: Reuters

Wat gaan nou gebeur?

Om mee te begin moet beklemtoon word dat die Britse politiek so vloeibaar soos water is. Enige voorspelling kan hopeloos verkeerd wees, behalwe dat May by vanaand se spitsberaad in Brussel geen betekenisvolle toegewing van die ander 27 EU-regeringsleiers gaan kry nie.

Dis die merkwaardige – waar die EU-leiers meestal kwaai verdeeld is, is Brexit die een saak waar hulle soos een man saamstaan. Hulle sien dat dit teen hul belang is dat die EU verder verswak word, en dus word Brittanje behoorlik hard aangepak om enige verdere afskeidings te voorkom.

Tog kan verskeie scenario’s geïdentifiseer word.

Ondersteuners van Brexit wil hê die Britse regering moet gehoor gee aan die uitslag van die referendum waarin die meerderheid Britte gevra het hul land moet hom aan die Europese Unie onttrek. Foto: Reuters

Feit is dat May nog steeds die ooreenkoms deur die laer huis moet kry. Soos sake nóú staan, gaan sy daardie stemming steeds verloor, al kan aanvaar word dat sy en haar luitenante die telefoonlyne na rebelse parlementslede rooiwarm bel om hul stem te kry.

Indien sy verloor, het sy verskeie keuses as sy ’n chaotiese Brexit wil voorkom.

Sy kan ’n algemene verkiesing uitskryf. Dit klink nie baie waarskynlik nie, want die moontlikheid bestaan dat ’n keelvol Britse kieserspubliek die Arbeiders as die volgende regering kan aanwys – en dan word die harde Marxis Jeremy Corbyn die premier. Vir selfs die mees rebelse Tory is dit ’n ramp wat tot elke prys vermy moet word.

Tweedens kan May die kiesers opnuut in ’n referendum raadpleeg. Dan is dit natuurlik wel belangrik presies wat die vraag gaan wees: moet die kiesers weer oor Brexit as sodanig stem, of moet hulle tussen verskillende Brexit-alternatiewe kies, of wat?

En as May wéér verloor, hoe kan sy sonder ’n flenter politieke geloofwaardigheid aanbly? Sy moes al klaar die enorme toegewing doen deur te beloof dat sy nie die Tories in die volgende algemene verkiesing sal lei nie, waarmee sy haarself basies in ’n flou makou omgeskep het.

Jonges wil deel van EU bly

Dié betoger wil ’n nuwe referendum oor Brexit hê. Foto: Getty Images

The Times het die dilemma waarskynlik die beste in Donderdag se hoofartikel behandel:

“Mev. May het haarself in ’n hoek toegeverf waaruit daar slegs een duidelike ontsnapping kan wees. As die laer huis die ooreenkoms wat sy onderhandel het verwerp, sal sy oor die koppe van die LP’s moet gaan en die volk raadpleeg. Die reëls van die Konserwatiewe leierskap beteken dat die premier nou 12 maande lank nie uitgedaag kan word nie, maar sy bly nietemin ’n gevangene van haar party – tensy sy bereid is om die dapper besluit te neem om die besluit uit die kloue van die parlement te haal en terug te plaas by die volk, waar dit begin het.”

Daar is Britte wat wil hê hul land moet deel van die Europese Unie bly, maar wil ander Europeërs hulle dáár hê? Foto: Getty Images

Peilings wys dat ’n ligte meerderheid van die kiesers nou ten gunste van voortgesette lidmaatskap sal wees. Dis nie ’n kwessie dat dié wat vír Brexit gestem het, van mening verander het nie, maar dat meer jong mense intussen stemgeregtig geword het én bereid is om te gaan stem. Die jonges is veel meer as die ouer mense bereid om deel van die EU te bly.

Hoe ’n mens ook al na die saak kyk, die chaotiese wyse waarop die Britse politici die Brexit-affêre hanteer, lok ’n soort simpatieke hoongelag op die Europese vasteland uit. Die algemene gevoel is steeds hoop dat die Britte uiteindelik tot hul sinne kom en by die EU bly, maar steeds meer mense kry die gevoel dat dit dalk beter sal wees dat dié lastige land sy ry kry.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Europese Unie  |  Jeremy Corbyn  |  Boris Johnson  |  Theresa May  |  Leopold Scholtz  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.