Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Mede-menslikheid in ’n halwe millimeter

Met ’n naald so klein en dun soos ’n wimper en gare fyner as ’n haar, gee ’n dokter behendig vir ’n vrou haar sig terug. Elsabé Brits was by ’n kornea-oorplanting in Tygerberg-hospitaal.

Henriëta Davis (73) van Brackenfell in Kaapstad, is al sedert die 1980’s blind in haar linkeroog ná geweldsmisdaad. Later het sy ’n lensoorplanting in die regteroog gehad, maar het ook haar sig in dié begin verloor. Foto: Elsabé Brits

In saal D7 by dié hospitaal sit Henriëta Davis (73) kiertsregop op haar bed en wag vir haar operasie.

Sy is een van die handvol gelukkige mense wat afhanklik is van mediese sorg van die staat wat ’n kornea gaan ontvang, danksy die toewyding van dokters.

Daar is só min skenkers van korneas (en ander organe) dat die kornea wat in haar en ander oorgeplant word, van die buiteland aangekoop moet word.

Dit reën buite, maar in die kamer waarin sy en vier ander vroue ook lê, kan net ek die water sien val.

’n Vrou oorkant Davis lê en brei. Sy kan “niks, niks sien nie”, sê sy aan die verpleegster wat vir haar vertel wat vir middagete is: vleis, rys, blomkool en ’n skorsie.

In die jare tagtig was daar ’n “klipgooiery by die stasie en ’n man het my met ’n draad in die voorkop gesteek,” vertel Davis. Só het sy die sig in haar linkeroog verloor.

Jare lank was Davis ’n huiswerker, tot sy 71 was.

Dr. Derrick Smit, oftalmoloog aan die Tygerberg-hospitaal, vertel Davis het meer as tien jaar gelede ’n lensoorplanting in haar regteroog gehad vanweë ’n katarak, maar uiteindelik het sy weer haar sig begin verloor.

Om in leketaal te verduidelik wat sy nou kan sien: Sy sal kan glad nie grootdruk met ’n vergrootglas lees nie, en sy sukkel om te navigeer wanneer sy loop.

Toe Smit haar bel met die nuus was haar reaksie: “Ek het nie geweet watter kant toe om te gaan nie, so opgewonde het ek geraak. Ek het geskree! Dankie Here! Dankie Jesus,” vertel sy.

Korneas word ingevoer

Die bakkie met voedingstof waarin ’n skenkerkornea geplaas word om dit gesond te hou vir oorplanting. Dit kom saam met nodige inligting van die skenker. Foto: Elsabé Brits

In die operasieteater lê die skenkerkornea in ’n bakkie – steeds in die voedingsmedium waarin dit na Suid-Afrika gestuur is uit die buiteland. Dit kos R22 500, nie omdat jy weefsel koop nie, maar omdat dit deur ’n kenner geoes, voorberei en gestuur moet word.

Eerste merk Smit die middel van die kornea (die een wat uit Davis verwyder moet word). Van daar maak hy met ’n instrument blou strepies – soos op ’n horlosie se wyser – sodat hy reg sny en later steke kan insit. Dié “horlosie” op die kornea het wel 16 merkies in stede van 12.

Die skenkerkornea in die voedingsmedium waarin dit uit die buiteland gestuur is. Foto: Elsabé Brits

Die skenker se kornea moet nou tot die regte grootte gesny word met ’n unieke pasgemaakte instrument.

Dié sny hy tot 7,75 mm. Smit maak die skenkerkornea ’n klein bietjie groter as dié een wat hy uitsny (7,25 mm). Anders sal die waardevolle skenkerkornea deur die ruimte wat gelaat word “val”.

Die nuutgesnyde skenkerkornea gaan lê eers weer veilig in ’n bakkie. Dis natuurlik kleiner as ’n kontaklens, en heeltemal deursigtig.

Henriëta Davis lê op die operasietafel in Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, reeds onder narkose en byna gereed om ’n kornea-oorplanting te ontvang. Foto: Elsabé Brits

Eers dan word die kornea uit Davies se oog gesny, ook met ’n unieke instrument wat die spesifieke afmetings het (7,25 mm), soos benodig.

Smit plaas die instrument op die kornea, dit suig vas en maak ’n ligte draai-aksie.

Selfs al kon sy nie werklik sien met die kornea nie, verwyder Smit dit nie vroeër nie, want dalk kon iets verkeerd geloop het in die vorige proses.

Die kornea, met sy vyf lae, sorg dat ander materiaal nie in die oog inkom nie, filter ultravioletlig, fokus lig ook saam met die lens en help om die vloeistofbalans in die oog te behou.

’n Klein deeltjie van die buitenste rand van die voormalige kornea is behoue – 2,5 mm sodat die skenkerkornea daaraan geheg kan word.

‘Fyn naaldwerk’

Dr. Derrick Smit, ’n oftalmoloog aan Tygerberg-hospitaal, besig om die skenkerkornea in Davis oor te plant. Foto: Elsabé Brits

Smit en dr. Zahier Murudker, wat kliniese opleiding as oftalmoloog ontvang, kan albei deur die mikroskoop kyk. Wanneer ’n mens die beeld op die monitor sien, is dit misleidend groot en duidelik.

Dan begin Smit die steke insit.

Die naald, wat hy behendig beheer met instrumente, is so klein en dun soos ’n wimper. Die steke is dunner as ’n haar. (Die steke vir die kornea is nr. 10,0 vergeleke met nr. 1,0 wat normaalweg in die buik gebruik word.)

Die naald en ’n stukkie van die gare (middel) wat gebruik word om ’n kornea mee te heg. Die naald is min of meer so groot soos ’n wimper en die gare is baie dunner as ’n mens se hare. Foto: Elsabé Brits

As ek nie ’n masker op my gesig gehad het nie, sou ek bang wees ek hoes dit weg in ’n onbewaakte oomblik.

Hoe lank oefen ’n mens om dit te doen?

Smit lag.

“ ’n Hele ruk. Op die einde is dit maar fyn naaldwerk,” sê hy, wat in sy vrye tyd houtwerk verkies.

Hy kan nie aan die punt van die naald raak nie, anders word dit stomp. Dit word met ’n naaldvoerder deurgetrek.

Daar is 16 standaardsteke op die merke van die “horlosie” wat hy vroeër ingesit het. Vier hoofsteke en dan vul hy die ander steke tussenin.

Dr. Derrick Smit, ’n oftalmoloog aan Tygerberg-hospitaal, besig om die skenkerkornea deur ’n mikroskoop vas te werk. Die iris van die pasiënt se oog is nie blou nie, dit lyk net so omdat die kornea met ’n blou pen gemerk is as rigsnoer om die steke in te sit. Foto: Elsabé Brits

Hy sê die sukses van die operasie hang af van die spanning van die steke.

Hoewel die mikroskoop van die beste is, kan hy nie te veel inzoem nie, omdat ’n mens perspektief nodig het.

Die steke word geknoop en dan na die binnekant van die oog gedraai, anders sal Davis dit voel wanneer sy haar oog knip.

Selfs met ’n kornea moet ’n mens dadelik verwerping met kortisoondruppels teenwerk.

’n Kleurstof word ná die tyd ingegooi om te sien of daar ’n lekkasie is. Net een steek moet vervang word, anders sal vloeistof uit die oog lek.

Die skenkerkornea word bedek met ’n spesiale kontaklens sodat hy kans gegun word om sy eie nuwe lagie epiteelselle te maak.

Selfs met ’n kornea moet ’n mens dadelik verwerping met kortisoondruppels teenwerk.

Goeie visie oor ses of agt maande

Dr. Derrick Smit, ’n oftalmoloog aan Tygerberg-hospitaal, maak dr. Zahier Murudker touwys. Murudker is besig met sy kliniese opleiding om te spesialiseer en is van die Wynbergse Militêre hospitaal. Foto: Elsabé Brits

Die operasie wat om 14:00 begin het, is om 15:30 klaar. Vir Davis is dit nie ’n kitsoplossing nie.

Smit vertel hulle kan niks doen aan die oog waarin sy trauma opgedoen het nie. Om vir die kornea-oorplanting voor te berei, is die oorgeplante lens van destyds eers verwyder.

Davies sal oor ses of agt maande weer goeie visie hê wanneer die kornea weer helder is en sy ’n nuwe lens ook sal kry.

Ek wil na my tuin toe gaan om te sien of my blommetjies nog net so mooi groei.

Sy en haar man, Niklaas, bly in ’n tehuis vir ouer mense waar sy ook haar blomtuintjie versorg.

“Ek wil na my tuin toe gaan om te sien of my blommetjies nog net so mooi groei. Al was my oë só, was ek lief vir my tuin,” sê sy.

’n Kornea is ’n halwe millimeter dik. Vyf lagies van sig. Dié weefsel, wat van ver is, is die uitleef van altruïsme. Van medemenslikheid.

* Elsabé Brits is ’n wetenskapjoernalis by Netwerk24.

Wat doen Tygerberg-hospitaal?

By Tygerberg-hospitaal het toegewyde dokters daarin geslaag om jaarliks tussen 20 en 25 korneas in te voer en oor te plant. Hulle hoop om meer te doen met privaat skenkings, soos dié van Ian Halfon van die Slick Restaurant Group. Daar is 117 mense op die waglys.

Dié eenheid by Tygerberg het ook met ’n nuwe metode begin waar die hele kornea nie oorgeplant word nie, maar net ’n dun lagie. Dit staan bekend as Descemet se membraan-endoteel-keroplastiek (DMEK).

Dit herstel sig beter en verwerping is minder.

Net twee lae van die pasiënt se kornea word verwyder en vervang met twee lae wat uit die skenkerkornea geneem word. Ander dele van die skenkerkornea kan ook vir ’n oorplanting op iemand anders gebruik word. Hulle het onlangs met dit begin en reeds vyf gedoen.


Hoekom is korneas so skaars?

In talle lande is ’n mens outomaties op die orgaanskenkerlys by geboorte en jy moet aansoek doen om van die lys verwyder te word as jy kultuur- of geloofsbesware het. As jou naam nie meer op die skenkerlys is nie, is dit ook nie meer op die ontvangerlys nie.

In Suid-Afrika is wetgewing in 2006 strenger gemaak.

Voorheen was forensiese staatslykshuise onder beheer van die polisie en wetgewing het dit onder beheer van die departement van gesondheid geplaas.

Volgens ’n artikel in South African Medical Journal (SAMJ) kon korneas vroeër by staatslykshuise verwyder word met die telefoniese toestemming van naasbestaandes. Korneas moet binne 12 uur ná afsterwe verwyder word. Nadat die wetgewing verander het, moes skriftelike toestemming verkry word en familie moes die liggaam uitken.

Die skenking van korneas het van 565 in 2002 tot 89 in 2016 gedaal, luidens die artikel.

“Die syfers (skenkers) van staatshospitale was altyd laag en het toenemend gedaal in die tydperk van ondersoek (2002 tot 2016). Terwyl die syfers (skenkers) van private hospitale redelik konstant gebly het, is die meeste skenkers nou van private hospitale af, maar die syfer bly in die algemeen laag.”

Die uiteinde van die wetgewing is dat die armste mense benadeel word.

Die artikel noem ook dat die regering nie orgaanskenking steun nie en dus word min mense in staatshospitale skenkers. Nog redes is swak openbare opvoedingsprogramme oor wat orgaanskenking behels, kultuurkwessies, ’n hoë voorkoms van MIV en hepatitis, en gesondheidswerkers wat nie potensiële skenkers verwys nie.

Wetgewing kan egter die probleem oplos as daar net ’n fraksie van meer as 50 000 mense wat aan onnatuurlike oorsake in Suid-Afrika sterf, se korneas en ander organe geskenk kan word.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.