Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Mnangagwa en Zanu-PF: Wolf in wolfsklere?

Die Zanu-PF-regering se gewelddadige optrede in die burgerlike oproer in Zimbabwe bevestig net weer dié regime se obsessie om die mag te behou, skryf Pieter Labuschagne.

As ’n mens pres. Emmerson Mnangagwa en die Zanu-PF se optrede wil verstaan, moet jy die fundamentele aard van mag begryp. Zanu-PF en sy leierskorps verdiskonteer reeds dekades lank alle handelinge op grond van die verkryging en die behoud van mag.

Zanu-PF het sedert sy ontstaan as bevrydingsbeweging tot sy relatief onsuksesvolle omskakeling na ’n politieke party deurgaans ’n obsessie gehad om mag te monopoliseer.

Die teoretiese verskil tussen mag en gesag is baie belangrik wanneer Mnangagwa en Zanu-PF ter sprake kom.

Mag beteken dat die magshebber ’n persoon of persone kan dwing om bepaalde handelinge uit te voer. Wanneer die dwangaksie uitgevoer word, is daar meestal beperkte of geen morele en etiese waardes nie.

In teenstelling hiermee is gesag die uitoefening van mag op ’n eties-morele grondslag en in die belang van die breër gemeenskap.

Die uitoefening van mag is meestal eendimensioneel en dwingend, teenoor die multi-dimensionle aard van gesag, wat bykomende etiese en morele elemente bevat omdat dit binne ’n normatiewe raamwerk uitgeoefen word. Die uitoefening van gesag word gewoonlik deur die meerderheid van die bevolking aanvaar (gelegitimeer), omdat dit in hul belang uitgeoefen word.

In die geval van mag ontbreek die morele dimensie en in sy absolute vorm korrupteer mag soos lord Acton eeue gelede verklaar het: “Power corrupts and absolute power corrupts absolutely.”

Geweld in die bevrydingstryd

’n Veelseggende plakkaat van ’n Zimbabwiër wat verlede week voor sy land se ambassade in Pretoria betoog het. Foto: Rueters

In Zimbabwe het Zanu-PF mag oor dekades verabsoluteer: Gedurende die gewapende stryd (1964-1980) om mag te kry en daarna, in die era ná 1980, om dit te behou. Die magsbeheptheid en obsessie om mag te besit, definieer die wese van dié bevrydingsbeweging/politieke party.

Gedurende die bewind van oudpres. Robert Mugabe was daar kort tydperke, veral net ná onafhanklikheid in 1980, dat die regime van mag na gesag oorgeskakel het.

Hierdie dun vernislagie van demokrasie is egter vinnig afgeskil sodra die regering se monopolie oor mag, wat hom op fundamentele wyse gekorrupteer het, bedreig is.

Zanu (Zimbabwe African National Union) het geweld en mag sedert sy totstandkoming onder die leierskap van eerw. Ndabaningi Sithole as sinoniem beskou. Toe Sithole bereid was om die gewapende stryd op te skort, is hy vervang as leier deur Mugabe, wat onverbiddelik oor die gebruik van geweld was.

Mnangagwa, derde leier van Zanu-PF, is van dieselfde stoffasie as sy voorgangers.

Sy bynaam is “Die Krokodil” – die reptiel wat die meeste deur die inheemse bevolking gevrees word omdat hy sy slagoffer vanuit die lig na die duisternis (onder die water in) trek.

Pres. Emmerson Mnangagwa op sy onlangse staatsbesoek aan Rusland. Foto: Getty Images

Wrede en gewelddadige metodes om mag te bekom en te behou, het gedurende die bevrydingsoorlog vanaf 1964 tot 1980 stelselmatig deel van Zanu en Zapu (Zimbabwe African People’s Union) se DNS geword.

Die toepassing van immorele metodes en geweld in dié oorlog is internasionaal stilswyend “aanvaar” en selfs gelegitimeer omdat teen ’n onderdrukkende “koloniale” wit minderheidsregering geveg is.

In 1978 het Zapu-magte byvoorbeeld ’n passasiersvliegtuig, die Hunyani, met ’n missiel neergeskiet pas nadat dit by die Karibameer opgestyg het.

Zapu-kaders het die paar passasiers wat oorleef het, daarna wreed met die kreet “Julle het ons grond gesteel’ vermoor.

Joshua Nkomo, Zapu-leier, het baie mense geskok toe hy in ’n televisie-onderhoud daaroor uitgevra is en gelag het. Geen Westerse land het die voorval veroordeel nie en Skandinawiese lande het steeds materiële en emosionele steun aan die bevrydingsbewegings verskaf.

Zanu het sy veldtog in aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing met brute geweld gevoer.

Mugabe se onverbiddelike houding gedurende die Rhodesiese burgeroorlog en sy onversetlike houding teen kompromieë op die Lancaster-beraad het sy party bevoordeel.

Zanu het sy veldtog in aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing met brute geweld gevoer en die bevolking wreed geïndoktrineer.

Zanu het die verkiesing teen alle verwagting in met ’n groot meerderheid gewen bloot omdat hy nie geskroom het om geweld te gebruik nie.

Zimbabwe-Rhodesië was oorlogsmoeg en dit was bekend dat die party wat kon verseker dat geweld beëindig word, die verkiesing sou wen. Zanu was die enigste party wat in 1979-’80 in staat was om só ’n waarborg te verskaf.

Die Mugabe-regering en geweld

Zimbabwe se ekonomie het kwaai agteruitgegaan onder oudpres. Robert Mugabe. Foto: Argief

Mugabe en Zanu het ná 1980 glad nie die wrede toepassing van geweld laat vaar nie – inteendeel, dit het die party se visitekaartjie geword.

Tot soveel as 20 000 mense is na raming tussen 1983 en 1987 in Matabeleland in die Gukurahundi-veldtog vermoor om beheer oor die Ndebele te vestig en rebelse Zapu-lede te onderdruk.

Die rol van Mnangagwa, Zimbabwe se eerste minister van staatsveiligheid, in dié veldtog bly tot vandag toe ’n besprekingspunt in Zimbabwe.

Mugabe en Nkomo het in 1987 ’n verdrag onderteken wat onder meer behels het dat hul twee partye saamsmelt om Zanu-PF te vorm.

Benewens die vergrype in Matabeleland, het die eerste twee dekades van onafhanklikheid in Zimbabwe betreklik rustig verloop.

Die behoud van mag is deur die manipulering van verkiesingsuitslae en laer grade van geweld verseker.

Zimbabwiërs betoog verlede week voor hul land se konsulaat in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Zanu-PF het eers in 2000 weer sy ware kleure gewys nadat die MDC onder Morgan Tsvangirai ’n sterker opposisieparty begin word het.

Wit boere en hul plaaswerkers het duur vir hul steun aan die MDC betaal.

Die Mugabe-regime het hard en vinnig opgetree en verseker dat sy party nie sy monopolistiese beheer oor mag verloor nie.

Plaasbesettings as strafmaatreël teen die wit boere het onder meer moord behels en boere is van grond verdryf waarop hul families al in sommige gevalle langer as 100 jaar geboer het.

Die MDC is aan ’n orgie van geweld onderwerp en met knuppels tot onderdanigheid geslaan. Die daaropvolgende verkiesings is weer gemanipuleer en waarnemers het bevestig dat die uitslae bekook was.

‘Die Krokodil’ en geweld

Polisie patrolleer verlede week strate in Harare. Foto: Reuters

Mugabe is ná meer as ’n dekade van ekonomiese agteruitgang, wat met rekordhoë inflasie gepaardgegaan het, binne Zanu-PF geïsoleer.

Die weermag was instrumenteel in die staatsgreep waarin Mnangagwa hom teen die einde van 2017 vervang het om sodoende te verseker dat Zanu-PF steeds die mag behou.

Die verwydering van die Mugabe-kliek het allermins beteken dat Zanu-PF ’n demokratiese metamorfose ondergaan het. Enige bedreiging teen sy magsmonopolie word onmiddellik met geweld onderdruk.

Die geweldsopsie bly deel van Zanu-PF se DNS en enige kentering is onwaarskynlik omdat ’n jakkals van haar verander, maar nie van streke nie.

Dié harde werklikheid is by herhaling in die verkiesing van 2018 gedemonstreer. Die legitimiteit van die verkiesing is bevraagteken en rooi ligte het weer geflikker toe sporadiese betogings van ontevrede MDC-ondersteuners met geweld onderdruk is.

Pres. Emmerson Mnangagwa skud verlede week hand met Sergei Iwanof, uitvoerende hoof van die Russiese diamantprodusent Alrosa. Foto: Reuters

Mnangagwa besef deeglik dat sy land net ekonomies sal herstel as stabiliteit eers herstel word. Hy weet dat buitelandse beleggers eers gelok sal word en lenings eers beding kan word wanneer vrede en stabiliteit na Zimbabwe terugkeer.

Mnangagwa se uitsprake en optrede is gevolglik hoofsaaklik daarop gemik om beleggers na Zimbabwe te lok. Dit is ’n berekende taktiese opsie en dui nie op die morele en etiese transformasie van Zanu-PF nie.

Die eskalering van geweld ná die geringste teken van burgerlike onrus met die verhoging van die brandstofprys, wat al tot die dood van 12 mense en die aanranding van talle ander gelei het, bewys dié punt.

Die geweldsopsie skuil net onder die oppervlakte.

Die behoud van mag sal altyd Zanu-PF as regerende party se trajek bepaal. Die tragiese waarheid is dat vrede en ware demokrasie in Zimbabwe steeds ’n ontwykende droom bly.

* Labuschagne is ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Zapu  |  Zanu-Pf  |  Emmerson Mnangagwa  |  Robert Mugabe  |  Morgan Tsvangirai  |  Geweld  |  Mag  |  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.