Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: ‘Ons bly saam met ons hond en kat in ’n bakkie’

Byron Stodel (33) en sy lewensmaat, Chantelle Wagner (45), het aan Murray La Vita vertel waarom hulle saam met hul hond en kat in Kaapstad in ’n bakkie woon.

Byron Stodel en sy lewensmaat, Chantelle Wagner, en hul hond, Android, by die bakkie wat die afgelope maande hul tuiste is. Foto: Adrian de Kock

Ons tref Byron Stodel aan waar hy op die sypaadjie langs sy ou VW Caddy besig is om in ’n plastiekemmer wasgoed te was.

“Dis nie maklik nie . . . Dis nie maklik nie. Ek het in die eerste huis hier langs Balmoral grootgeword; die geel huis met die bome,” sê hy.

Hy beduie in die rigting van ’n huis wat sowat 200 m van ons af langs die Balmoral-supermark in die ou Kaapstadse voorstad Woodstock geleë is. Sy bakkie is in die straat agter die supermark geparkeer.

“My pa het die huis in April verlede jaar verkoop en ’n plek in Maclear [in die Oos-Kaap] gekoop. Dit is ’n stuk grond van vier acre. Daar is ’n rivier. Dis van die grid af.

“Ek en my vrou het ook soontoe gegaan en hy het vir ons hierdie bakkie gekoop. Ons was so drie maande daar en toe het ons teruggekom. ’n Mens kan nie daar geld maak nie, so nou verstaan ek ook hoekom mense van die Oos-Kaap af hierheen kom om werk te soek. Jy moet geld hê of heeltemal selfonderhoudend wees om daar te oorleef. Dis ’n lekker opset as jy ’n bietjie geld het om van te leef.”

Hy skuif die bofbalpet op sy kop effens agtertoe.

“Ons het toe teruggekom en ’n bakkie-te-huur-besigheid begin. Ons het gesukkel om dit aan die gang te kry, maar ons hét. En toe pak die clutch op. En dit was dit. Nou word ons nog deur law enforcement gepla.

“Hoe lank is ons al hier?” vra hy in die rigting van die bakkie. “Ek dink agt maande. Dis nou al ’n rukkie. Ek en my vrou.”

Oorlewing

Byron sê hy het net nodig dat iemand hom help om die bakkie se koppelaar te herstel – dít en ’n battery, dan kan hy weer aflewerings doen. Foto: Adrian de Kock

Hoe oorleef hulle?

“Ons doen tuinwerk. Ons maak kartondose bymekaar en verkoop dit. Ons doen odd jobs vir mense in die omgewing. Ek bedoel, ons het 12 jaar in daardie huis gebly, so hierdie”, hy beduie na die omgewing rondom hom, “is wat ek die beste ken. So, ja, ons het die bakkie hier kom parkeer omdat dit die naaste aan my huis is; aan dit wat ek ken.”

Hulle kry water van bure af en gebruik ’n openbare toilet naby die Woodstock-stadsaal. Toe hulle na Kaapstad teruggekeer het, het hulle aanvanklik by sy vrou, Chantelle Wagner (45), se ma in Athlone gewoon.

“Maar toe het die clutch opgepak as gevolg van ’n paar swaar vragte wat ons vervoer het. Ons moes toe uit haar ma se plek uit trek.

“Die ouens hier om die draai wat beddens verkoop, het my drie, vier keer ’n dag gebel om vir hulle beddens af te lewer. Die besigheid het begin optel. Ek het customers gehad. Daar was jobs dae vooruit opgeline,” sê Byron.

Google

Byron voor die huis in Woodstock, waar hy en sy pa gewoon het totdat sy pa dit verkoop en Oos-Kaap toe getrek het. Foto: Adrian de Kock

Op ’n bankie aan die agterkant van die bakkie sit ’n hond. En by die kajuit loer ’n kat uit.

“Ons het ’n kat gehad wat saam met ons van die huis af Oos-Kaap toe getrek het en weer saam met ons teruggekom het. Haar naam was Google. Sy is op 22 Julie doodgery. Ek het haar hier oorkant [hy wys na die Greatmore Art Studio oorkant die straat] onder die bome begrawe. Sy was nog warm.

“Dié hond het ek die dag ná my verjaardag in Januarie gekry. Ek het iemand met die hond sien loop. Sy was nog klein en hy was maer en het wurms gehad. Ek het gedink no ways, en hom gevra of ek die hondjie kan kry. Ek is nog altyd lief vir diere.

Die kat se naam is Nougat, soos in Nougat-sagteware.

“So, ons het Android [die hond] nou al agt maande lank. En die kat . . . Dieselfde persoon wat die hond gehad het, het onlangs met die kat gekom en gesê hy het haar iewers gekry en hy weet ons sal na haar kyk. Hy was seker bang sy sal omgery of uitgesit word.”

Die kat se naam is Nougat, soos in Nougat-sagteware, verduidelik hy. “Dis een van die jongste Android-weergawes.”

Hier is ’n dus ’n tema: Google, Android en Nougat. Wanneer ek Byron later vra of hy ’n telefoon het, sê hy ja, maar dit is tans by Cash Crusaders. Hy gee vir my sy nommer en sê hy beplan om die foon binnekort weer terug te kry.

Chantelle en Nougat

Nougat bly ook in die bakkie. Foto: Adrian de Kock

Ons ontmoet Chantelle waar sy agter in die bakkie saam met Nougat sit. Sy verduidelik Nougat en Android slaap voor in die bakkie en sy en Byron agterin.

Op die vraag of hulle nie oor hul veiligheid besorg is nie, sê Byron hulle ís veiligheid.

Chantelle: “Mense sê ons maak die buurt veiliger deurdat ons hier buite is.”

Dit het nog net een keer gebeur dat iemand die bakkie in die nag probeer oopmaak het, sê Byron.

“Dan raak ek mal. Die mense ken my; ek raak luidrugtig,” voeg hy by.

Ek vee die straat hier en probeer die omgewing skoonhou. Maar niemand merk dit eintlik op nie. Kort voor lank is dit weer vuil.
Byron Stodel

Ons staan nou aan die agterkant van die bakkie sodat Chantelle, wat steeds agterin sit, aan die gesprek kan deelneem. Neffens ons staan ’n groot swart luidspreker. Byron sê hy het dit in die straat opgetel en beplan om dit te verkoop.

“Daar is ’n sak klere wat sy verkoop,” sê hy en beduie na die binnekant van die bakkie.

Chantelle: “Ons doen loswerkies . . . maak tuine skoon.”

Byron: “Ek vee die straat hier en probeer die omgewing skoonhou. Maar niemand merk dit eintlik op nie. Kort voor lank is dit weer vuil.”

Die bekende Stodels-tuinwinkels behoort aan familielede van hom.

Chantelle: “Hy kan ook irrigation en landscaping doen . . .”

Die bekende Stodels-tuinwinkels behoort aan familielede van hom.

Byron: “My pa het op ’n kol ’n landscaping-besigheid gehad en so het ek ook irrigation leer doen. Maar toe het hy dit toegemaak en met ander dinge begin.”

Hy sien nie kans om “met sy stert tussen sy bene” na sy pa in die Oos-Kaap terug te keer nie.

“Ek het die huis verlaat om op my eie bene te staan. Hy is 1 200 km van my af. Ek praat nou en dan met hom op WhatsApp.”

Groot fout

Chantelle en Byron besig om wasgoed te was. Foto: Adrian de Kock

Byron en Chantelle sal in Oktober tien jaar saam wees. Hoewel hy aanvanklik na haar as sy vrou verwys het, sê hy nou hulle is nog nie getroud nie.

“Ons het in Silvertown [in Athlone] ontmoet. Ek was op skool saam met ’n ou van Silvertown en ek het soontoe gegaan vir sy 16de verjaardagpartytjie. Daarna het ek gereeld daar gekom. ’n Vriend van my het my aan Chantelle voorgestel.”

Byron sê hy en sy ma praat nie met mekaar nie. Sy ouers is in 1994 geskei. Hy het “op verskillende plekke” in Kaapstad grootgeword en hier gematrikuleer. Ná matriek het hy ’n “gap-jaar gevat”.

“Dít was my groot fout . . . drugs. My pa en my broer het vir ’n ruk Londen toe gegaan en my hier gelos in die huis wat hy in Walmer Estate [bo Woodstock] gehuur het. Ek was soort van alleen. Dis waar tik in die prentjie gekom het . . .”

Optelgoed

In ’n plastiekemmertjie agter in die bakkie is ’n verskeidenheid gereedskap.

“Dit is gereedskap wat ek oor die jare bymekaargemaak het,” sê Byron.

Chantelle: “Mense gooi dinge weg en dan is dit dinge wat ons dink ons kan gebruik of verkoop.”

Byron: “Dit lyk dalk na gemors, maar dis daai ding van one man’s rubbish is another man’s treasure.”

Mense gee soms vir ons kos.
Byron Stodel

Chantelle: “Ons het ’n ruk terug al ons klere verloor. Hierdie ou het vir ons ’n gratis blyplek aangebied. Ná ’n maand wou hy hê ons moet huur betaal.

“Toe gooi hy ons uit en hou al ons goed. Hy het dit begin verkoop. Jy sien mense wat jou klere dra. En dis nie asof jy dit kan terugvat nie. So, jy moet afskeid neem van goed wat sentimentele waarde gehad het. Dinge wat ek wou weggee wat ek self gemaak het; dinge wat ek by my ma gekry het soos ’n ou horlosie of ’n ou kierie . . .”

Byron: “’n Ou Gillette-skeermes wat aan my ma se pa behoort het en seker ouer as ons albei saam is.”

Kos

Chantelle en Nougat agter in die bakkie. Foto: Adrian de Kock

Waar kook hulle?

Byron: “Mense gee soms vir ons kos.”

Chantelle: “Ons het uitgevind ons mag nie hier vuurmaak nie; ons sal ’n boete van R1 500 kry, so . . .”

Byron: “Dis onregverdig. Hierdie ouens wat stalletjies langs die pad het, braai en maak kebabs wat hulle verkoop. Hulle is vreemdelinge. So, dis oukei vir die vreemdeling om ’n vuur te maak, maar ék mag nie. Wat is my erfenis? Om te braai.”

Chantelle: “Partykeer as ons geld het, koop ons noedels en dan kry ons kookwater.” Byron: “By die veiligheidswagte,” sê hy en beduie na die hoofstraat toe . . . Elke dag kan die Kersfees wees nie.”

Ons het regtig gedink ons gaan haar verloor . . . Die wurms.
Byron Stodel

Wanneer ek oor die hond Android se kop streel, sê Chantelle: “Ek weet nie of dit senuagtigheid of opwinding is nie, maar as iemand nader kom om haar te vryf, begin sy pie. Maar dit lyk my dit gebeur nie nou nie.”

Byron: “Ons het regtig gedink ons gaan haar verloor . . . Die wurms.”

Chantelle: “Sy kon nie eet nie; ons moes haar met ’n syringe voer.”

Byron: “Ek het ontwurmingstroop gekoop en haar ontwurm en Chantelle het haar met kitspap en goedkoop R1-koekies gevoer wat sy gemeng het.”

Byron raak bewoë.

“Hulle . . . Hulle is die highlights in ons lewe.”

Meer oor:  Athlone  |  Woodstock  |  Kaapstad  |  Dwelms  |  Haweloses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.