Wyle Pik Botha was ’n ware “elder statesman”, vertel sy oudkollega Renier Schoeman.

Pik Botha: “Die lewe skuld my niks.”Foto: Alet Pretorius
Pik Botha was só lank ’n sigbare deel van ons politieke en diplomatieke landskap dat sy dood baie Suid-Afrikaners sal laat terugdink aan ’n politikus wat ’n unieke, dikwels hoopgewende, rol in ons landspolitiek gespeel het.
En die reikwydte van sy impak was globaal en het ongetwyfeld op internasionale gebied selfs dié van genl. Jan Smuts verbygesteek.
Nadat hy in 1970 tot die politiek toegetree het, was Suid-Afrika nooit weer regtig dieselfde nie. Hy het die woord “charismaties” verpersoonlik in ’n stadium toe dit baie skaars was op die politieke toneel. Maar dit was ’n charisma met substansie, soos die suksesse van sy politieke en diplomatieke loopbaan bewys het. En die reikwydte van sy impak was globaal en het ongetwyfeld op internasionale gebied selfs dié van genl. Jan Smuts verbygesteek.
In 1993 het Botha met sy termyn van 16 jaar die langsdienende minister van buitelandse sake in die wêreld geword en ’n “elder statesman” sonder gelyke.
As adjunkminister van buitelandse sake vanaf 1992 tot 1994 kon ek eerstehands aanskou in watter mate sy globale rol gegroei het – iets wat ’n groot bydrae gelewer het tot Suid-Afrika se aansien in die wêreld.
(Bron: Die Burger-argief)
Maar hy het nooit vergeet dat hy as politikus ook sy volle ondersteunende rol moet speel in die normaliseringsproses van pres. F.W. de Klerk se regering nie, en hy het dit met die hartstog gedoen wat so eie was aan Pik Botha. Ook op hierdie deurslaggewende terrein het hy met sy oorredende vermoëns mede-Suid-Afrikaners in sy party oortuig om dawerend ja te sê vir ’n nuwe Suid-Afrika.
Ek was besonder bevoorreg om amper drie jaar lank nou met Botha saam te werk en sy voorbeeld van offervaardige leierskap van baie naby te beleef. Dit sal my altyd bybly.

Renier Schoeman in Durban-Noord voor die algemene verkiesing in 1987. Pik Botha sit links. Foto: Verskaf
In 1993 het hy by geleentheid vir ons gesê: “Die lewe skuld my niks. Die Here was goed vir my. Ek het geleenthede gehad waarvoor ek nie gewerk het nie.”
Dís die Pik Botha wat ons altyd sal onthou: erkentlik, toegewyd, vasberade.
* Renier Schoeman was van 1992 tot 1994 adjunkminister van buitelandse sake en is tans ’n kommissaris op die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur, Godsdiens en Taalregte.