Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Sal soveelste leuen Trump by stembus kelder?

Die Amerikaanse presidentsverkiesing is nou vol in die pylvak. Naels word gebyt. Hoe staan sake nou? vra Leopold Scholtz.

Daar is nog iets meer as ses weke oor voordat die Amerikaanse presidentsverkiesing op 3 November plaasvind, maar die eerste kiesers het al hul keuse per posstem gemaak.

Hoe gaan sake vorentoe ontwikkel?

Dinge kan baie spannend in die pylvak van Amerikaanse presidentsverkiesings verloop.

By verskeie geleenthede – ’n mens dink aan George H.W. Bush se verkiesing in 1988, George W. Bush s’n in 2000, Barack Obama s’n in 2008 – was die uitslag tot op die laaste ’n naelbytaffêre.

Die rede daarvoor is dat groot getalle kiesers tot op stemdag of baie kort daarvoor nog onseker is vir wie hulle gaan stem. Dus gee die peilings dikwels geen akkurate beeld van wat op stemdag gaan gebeur nie; daarvoor is die swewende stem te groot.

Vanjaar is dit anders. Peilings gee aan dat die aantal onseker kiesers klein is; ’n oorweldigende meerderheid het reeds besluit vir wie hulle gaan stem. Die gevolg is dat politieke gebeurtenisse wat mense se keuse meestal bepaal, dié keer nie hul voornemens beïnvloed nie. (Later in dié artikel kom ons hierop terug.)

Twee politieke bomme

Pres. Donald Trump van Amerika blaas soentjies vir ondersteuners op ’n byeenkoms in Henderson, Nevada. Foto: Reuters

Die laaste week of twee was daar twee politieke bomontploffings wat vorige verkiesingsuitslae dramaties sou beïnvloed het. Dit is die bewerings deur verskeie ondersoekende joernaliste wat onafhanklik van mekaar bevind het dat pres. Donald Trump hom minagtend uitgelaat het oor Amerikaanse soldate wat gesneuwel het – normaalweg ’n politieke doodsonde – en ’n boek deur die vermaarde joernalis Bob Woodward waarin hy onthul dat Trump flagrant oor die erns van die koronavirus gelieg het.

Oor die eerste is in dié ruimte uitvoerig verslag gedoen. Die bewerings, wat op anonieme bronne berus, is heftig ontken en die aanduidings is dat die harde kern van Trump se ondersteuners dit in elk geval nie glo nie.

Dis egter onmoontlik om die tweede te ontken.

Dit gaan die rofste ding wees waarmee jy in jou termyn te make kry.

Die onthulling kan in Trump se eie stem digitaal gehoor word in 18 onderhoude wat hy aan Woodward toegestaan het vir dié se jongste boek, Rage, en wat opgeneem en op die internet geplaas is.

Op 28 Januarie het Trump teenoor Woodward erken sy nasionale veiligheidsraadgewer, Robert O’Brien, het hom gewaarsku dat die ontwikkelende koronaviruspandemie die “grootste nasionale veiligheidsbedreiging” van sy regeertermyn sou wees.

“Dit gaan die rofste ding wees waarmee jy in jou termyn te make kry.”

En O’Brien se adjunk, Matthew Pottinger, het bygevoeg dat die krisis minstens ewe erg as die Spaanse Griep van 1918-’19 sou wees.

Op 7 Februarie het Trump dit dus tereg aan Woodward gestel dat die pandemie “deadly stuff” is, aangesien die virus deur die lug versprei en nie slegs deur aanraking nie. “Dis selfs meer dodelik as selfs jou hardnekkigste griep.”

Die vermaarde joernalis Bob Woordward wie se onthullings oor Donald Trump en die koronavirus Amerika op hol het. Dié foto is in 2017 geneem. Foto: AP

In die openbaar het Trump anders gepraat. Op 2 Februarie het hy aan Sean Hannity van Fox News gesê: “Ons het dit taamlik afgesluit komende van China.”

Op 25 Februarie op ’n nuuskonferensie: “Ons is baie naby aan ’n inenting.”

Op 26 Februarie: “Dis soos ’n griep . . . Dis ’n bietjie soos die gewone griep waarvoor jy inspuitings kan kry. En ons sal basies taamlik gou ’n inenting hiervoor kan hê.”

En op 5 Maart: “Dit lyk of dit in April, jy weet, in teorie, as dit bietjie warmer word, sal dit wonderbaarlik weggaan.”

Op 9 Maart: “So, verlede jaar het 37 000 Amerikaners aan gewone griep gesterf. . . . Niks kom tot stilstand nie, die lewe en die ekonomie gaan voort. Op dié oomblik is daar 546 bevestigde gevalle van die koronavirus met 22 sterftes. Dink daaraan!”

Joe Biden, DonaldTrump se Demokratiese teenstander, gesels met ’n kieser. Foto: AP

Tien dae later het hy in ’n onderhoud aan Woodward erken: “Ek wou dit altyd onderspeel. Ek wil dit steeds graag onderspeel, want ek wil nie paniek veroorsaak nie.” (Dié rede het hy sedert die verskyning van Woodward se boek verskeie kere herhaal.)

In dieselfde onderhoud het hy erken dat dit nie slegs bejaardes is wat sterf nie; ook jong mense word aangetas. Maar op 24 Maart en weer op 6 Mei het hy in die openbaar te kenne gegee net bejaardes het beskerming nodig.

Al egte stap wat Trump destyds teen die virus gedoen het – hy het dit weliswaar reeds einde Januarie gedoen – was om die binnekoms van mense uit China, indertyd die episentrum van die pandemie, te beperk.

Daarna het hy die bestryding van die virussiekte ooreenkomstig die federale struktuur van die land aan die deelstate oorgelaat. Maar hy is oorval deur ’n stortvloed klagtes van deelstaat-goewerneurs dat hulle geen federale hulp in die vorm van toerusting of kundigheid ontvang het nie.

Intussen het die sterftesyfer in Amerika weens die koronavirus reeds tot meer as 190 000 gestyg.

Trump se leuen sal sy ondersteuners nie afskrik

Dié ondersteuners van pres. Donald Trump van Amerika maak geen geheim van waar hul lojaliteit lê nie. Foto: AP

Die groot vraag is of dit die uitslag van die verkiesing gaan beïnvloed. Die antwoord is waarskynlik nee; verreweg die meeste kiesers het klaar besluit vir wie hulle gaan stem.

Volgens verskeie gemiddeldes van alle peilings loop Joe Biden, Trump se Demokratiese teenstander, beduidend voor. RealClearPolitics gee hom ’n voorsprong van 7,5 persentasiepunte, FiveThirtyEight 7,7, en die BBC se gemiddelde lê op 8.

Uiteindelik is die kiesers se steun egter slegs van onregstreekse belang. Vier jaar gelede het Hillary Clinton byna drie miljoen meer stemme (2,1 punte) as Trump gekry, maar deur die eienaardighede van die kiesstelsel was dit uiteindelik Trump wat agter die lessenaar in die Ovaalkantoor ingeskuif het.

Die kiesers stem vir ’n kieskollege, wat uiteindelik die president aanwys. Die deelstate se getal afgevaardigdes in die kieskollege staan gelyk met die getal kongreslede wat hulle in albei huise het.

Dis dus nie slegs die landwye peilings wat van belang is nie; ook – en veral – dié in die wipplank-deelstate waar dinge taamlik gelykop verloop.

Geweldpleging en betogings in verskeie Amerikaanse stede het gemoedere opgejaag enkele maande voor die Amerikaanse presidentsverkiesing. Foto: Getty Images

Volgens RealClearPolitics loop Biden óf naelskraap óf beduidend in die meeste voor, maar die uiteindelike uitslag kan in beginsel ook andersom wees.

Veral in Florida, ’n sleuteldeelstaat, en in mindere mate in Nevada, neem die steun vir Trump onder Latyns-Amerikaners toe. In Florida is dit veral mense van Kubaanse afkoms wat van Trump hou weens sy kompromislose houding teenoor die Castro-diktatuur.

Dis onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie, dat Trump wéér die verkiesing kan verloor en tog in die Withuis aanbly.

Leopold Scholtz

Intussen styg die politieke temperatuur. Trump en Biden beskuldig mekaar oor en weer dat hulle die verkiesing wil bekook.

Trump sê hy wil ná sy tweede termyn oor ’n derde een “onderhandel”, iets wat kragtens die grondwet onmoontlik is. En een van sy sterkste ondersteuners, Roger Stone, het Trump aangeraai om krygswet af te kondig en sy politieke teenstanders in die tronk te gooi as hy by die stembus verloor.

In Amerika bewapen ekstremiste aan albei kante hulle onder meer met outomatiese aanvalsgewere, gereed om te skiet as die uitslag nie na hul sin is nie.

Hoe ook al, dit lyk nie of Woodward se onthullings die skaal beduidend swaai nie.

Albei kante het hul hakke in die grond geslaan.

Dat Trump in sy eie stem as ’n leuenaar onthul word, maak vir sy ondersteuners eenvoudig nie saak nie en bevestig bloot sy opponente se walging in hom.

Dis asof die tafel vir bloedvergieting in die wêreld se oudste demokrasie gedek word.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.