Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Treine: Jy neem jou lewe in jou hande

WAARSKUWING: Die artikel bevat inligting wat sensitiewe lesers kan ontstel.

 Pres. Cyril Ramaphosa het dalk Dinsdag verkiesingspraatjies gemaak op die Kaapse stasie, maar die gewone Suid-Afrikaner neem steeds hul lewe in hul hande wanneer hulle op ’n pendeltrein klim. Willemien Brümmer en videograaf Adrian de Kock het tussen Kuilsrivier en Kaapstad trein gery.

Op die noordelike lyn na Kaapstad is daar ’n plakker wat lui: “Safe abortion in ten minutes.”

Dís hoe min die lewe op Metrorail se voorstedelike treine werd is.

Op ’n koue Donderdagoggend is ek en die fotograaf Adrian de Kock halfsewe die oggend op Kuilsrivier-stasie. By die kaartjieskantoor beweer ’n vuisvoos kaartjieverkoper dat daar nie nou enkelkaartjies beskikbaar is nie – vermoedelik omdat hy ons wil afraai om die diens te gebruik. Die treine is al ’n uur laat.

Net buite die kantoor is graffiti: “A good cop is a dead cop.” Plek-plek staan groepies mans en dagga rook.

Die skemerdonker stasie is gepak.

Pendelaars verlede Donderdagoggend op ’n trein tussen Kuilsrivier en Kaapstad in spitstyd. “Dis soos rofstoei,” het een van die pendelaars gesê. Foto: Adrian de Kock

Ene Debby, wat in Maitland vir ’n inbelsentrum werk, pers haar lippe saam. Sy wag al sedert sesuur op ’n trein.

“Dis pateties! Ek kleur al my hare hóéveel keer. Hulle gee vir my grys hare. Ek weet nie, ek is al so moeg, nou kom jy daar en jy wil ’n kaartjie koop en hulle sê moenie ’n kaartjie koop nie because the trains are all messed up, maar nou kom jy by die ander kant en dan wil hulle ’n kaartjie hê.”

Dié 49-jarige vrou ry al trein vandat sy 18 jaar oud is. Sy meen die diens is die treurigste wat dit nog ooit was ten spyte van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se moderniseringsprogram van R172 miljard om oor die volgende tien jaar “nuwe lewe” in ’n ontspoorde nasionale spoornetwerk te blaas.

“Ek het gister drie uur lank werk toe gery,” sê sy en speel vir my die stempos wat sy aan ’n plaaslike radiostasie gestuur het.

’n Trein, waaraan mense tot so ver as armlengte by die deure uithang, skree by die stasie binne. Jy sou jou lewe waag as jy die mensemassa uit die pad uit sou probeer stoei. ’n Groep mans wat tussen die treinwaens hang, het ’n reënboogkleurige stroboskopiese lig, ’n blêrkas en ’n sak vol bier. “Ons kap maar aan!” skree een van hulle. “Die Burger moet vir Ramaphosa sê ons sê sy ma se p***!”

’n Paar desperate mans spring op en hang agter aan die trein en tussen die trokke.

Om 07:05 trek ’n tweede trein by Kuilsrivier-stasie in. Dit lyk effentjies minder gevaarlik. “Hardloop!” skree Debby. Ons spring en beur deur die mensemassa wat aan die dak, aan die reëlings en aan mekaar vasklou om staande te bly. Jy ruik dagga, sweet en iets soeter, meer privaat.

Verstaan my asseblief, ons is emosioneel misbruik! Ons is depressief, ons is gebroke!
Mandy-Lynn Mott, pendel-aktivis

Jy kan voel hoe die persoon langs jou in jou nek asemhaal. “Dis soos rofstoei,” sê iemand.

Mandy-Lynn Mott, ’n pendel-aktivis wat in die gasvryheidsbedryf in Kaapstad werk, sê daar is lankal nie meer ’n onderskeid tussen die Metro- (voormalige derdeklas) en die veel duurder Metro Plus-kaartjies nie. Jy klim op waar jy ’n plek kry en daar is in elk geval nie ’n kondukteur in sig nie.

“Jy veg vir jou lewe om op en af te klim. Die mense maak hul lywe styf sodat jy nie verby kan kom nie. Verstaan my asseblief, ons is emosioneel misbruik! Ons is depressief, ons is gebroke! Die hele proses is onmenslik. Ons is soos vee.”

Seksuele teistering is so algemeen dat vroue en kinders dit meestal nie eens oorweeg om by Metrorail of die polisie te gaan kla nie.

“Dit gebeur die hele tyd,” sê Mandy en rol haar oë. “Ek dra nou ’n skouersak en as ek sien ek moet verby ’n man gaan, sit ek die sak tussen ons sodat ons nie in fisieke kontak met mekaar hoef te wees nie. Hulle beweeg nie uit die pad uit nie, want dis ’n cheap thrill. Of hulle vryf teen jou met hul ontblote penisse.”

Plakkers wat onder meer ’n “veilige aborsie binne tien minute” belowe op die noordelike lyn na Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

’n Skoolmeisie van 15, wat saam met haar 13-jarige suster reis, knik skaam. “Ek is báng op die treine. Mans vat op ’n onvanpaste manier aan jou maar jy weet nie wie dit is nie. Ek kry dikwels seer omdat daar so baie mense op die treine is. Partykeer skop mense jou omdat almal net op die trein wil klim. Mense gee regtig nie om dat jy ’n kind is nie.”

Ek moet maar sluk wat ek wil sê. Maar ek is al so f***** gatvol van Metrofail! Really!

Die trein se remme slaan onverwags aan. Ons staan tussen Kuilsrivier- en Bellville-stasie. André Japhta vloek binnensmonds. “Ek het al ’n final warning gekry van laatkom. Ek val six o’ clock in en kyk hoe laat is dit! Ek het al halfvyf van die huis gekom en toe staan ek twee uur lank op die stasie omdat die treine vol is.”

Debby haal diep asem asof sy haar inspan om selfbeheersing toe te pas. “Ek moet maar sluk wat ek wil sê. Maar ek is al so f***** gatvol van Metrofail! Really! Ek bedoel, jy sê nou aanmekaar vir die baas, maar môre, oormôre teken jy ’n warning. Ek het ’n seun wat sy werk verloor het as gevolg van Metrorail. Hy was die helfte van verlede jaar sonder werk by die huis, so alles was op my.”

Die trein word se enjin word afgeskakel en ’n man spring af. “Nou gaat hy maar Bellville toe loop,” sê Debby.

Nog iemand val in. “Tydens load shedding sit hulle die trein net af en dan kom jy eers tjailatyd by die werk!”

’n Man spring af, hurk en verlig homself langs die spoorlyn. “Load shedding!” koggel sy mede-pendelaars.

Die trein trek weg, stop toe ’n tweede keer.

Hy stop ’n derde keer.

Dis 07:40 en ons is nog nie op Bellville-stasie nie.

Lede van die drukgroep #UniteBehind versper vandeesweek ’n ingang by die Kaapstad-stasie om pres. Cyril Ramaphosa te keer om die stasie te verlaat. Foto: Adrian de Kock

‘Ons gaan jou kind begrawe’

Matthew Hirsch van die drukgroep #UniteBehind, wat vandeesweek probeer het om te keer dat pres. Cyril Ramaphosa se konvooi die Kaapse stasie verlaat, sê as daar vertragings van twee uur lank op die N2 sou wees, sou dit voorbladnuus wees.

“Op die sentrale lyn (na Khayelitsha en Mitchells Plain) is daar dikwels net een trein elke twee uur. Jy weet nie wanneer die volgende trein kom nie en alternatiewe vervoer is te duur. Dís hoekom party mans op die treine se dakke ry. Jy noem dit train surfing.”

So tien jaar gelede was daar sowat 104 treine in die Wes-Kaap wat gewerk het. Nou werk net 37 in dié provinsie, aldus #UniteBehind.

Dié drukgroep meen die eerste twee nuwe treine wat gister amptelik deur Ramaphosa op die stasie in ontvangs geneem is, is net ’n verkiesingsfoefie, want dié treine gaan nie in spitstyd loop nie. Hulle sal ook nog afhanklik van die verouderde infrastruktuur wees.

Riana Scott, ’n woordvoerder van Metrorail, het Woensdag bevestig dat die twee treine na die streek gestuur is om getoets te word en dat dit nie passasiers sal vervoer nie. Hierdie treine sal na verwagting eers in 2020 in gebruik geneem word.

Meer as 80% van die sekerheidswagte wat in die Wes-Kaap deur Metrorail aangestel is, is nie by Psira, die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf, geregistreer nie.
Zukiswa Vuka, #UniteBehind

“Intussen het #UniteBehind die Kaapse hooggeregshof gevra om Prasa te beveel om ’n lys van die sekerheidsmaatskappye wat in die Wes-Kaap ontplooi is, asook die kontrakte met dié maatskappye bekend te maak. Prasa het intussen gesê hy is gewillig om te skik, maar #UniteBehind beskou dit as net nóg ’n uitstel-taktiek.

“Meer as 80% van die sekerheidswagte wat in die Wes-Kaap deur Metrorail aangestel is, is nie by Psira, die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf, geregistreer nie,” beweer Zukiswa Vuka van dié drukgroep.

“Meer as 80% van hulle het al misdade gepleeg en ons weet hulle is weens hul verlede nie geregistreer nie. Hulle sê die vorige veroordelings is omdat hulle MK-veterane is, maar komaan, jy kry nie MK-veterane wat my ouderdom is nie. Ek is nou 28.”

Scott ontken dat die amptenare wat Prasa in die Wes-Kaap in diens geneem het, ’n misdaadagtergrond het. Maar #UniteBehind hou vol dat hy “bewyse” het.

In ’n beëdigde verklaring aan die hof skryf James Stent, ’n #UniteBehind-lid, dat daar “geen sigbare veiligheid op die meeste stasies is nie, sekerheidswagte patrolleer nie en is ook nie op die perronne nie en kruip dikwels weg in beheerkamers of koek saam op een plek, dikwels terwyl hulle sit . . . Sekerheidswagte wat sigbaar is, is meestal onvoldoende opgelei en weet nie hoe om gewelddadige situasies te ontlont nie”.

Dié drukgroep het intussen ’n dringende interdik verkry in die Kaapse hooggeregshof teen Prasa nadat lede gedreig is. “Die sekerheidswagte het na ons lede se families gegaan en gesê: ‘As jou kind nie hiermee ophou nie, gaan julle hulle moet begrawe.’ Dis die mense wat saam met hulle in die townships woon. Hulle woon in dieselfde gemeenskappe,” sê Zukiswa.

Pendelaars hang aan ’n trein op die noordelike lyn na Kaapstad. Desperate pendelaars ry tussen trokke, aan die agterkant van treine en selfs op die dakke om seker te maak hulle verloor nie hul werk nie.Foto: Adrian de Kock

‘Die treine maak my dood’

Gesels jy met pendelaars het elkeen ’n storie oor ’n aanranding, geld of selfone wat op die trein gesteel is of ’n groep mans wat hulle oplig wanneer hulle van die trein afklim om hulle te beroof.

In Dennemere, Blackheath, noord van Kaapstad, is ’n familie in rou nadat Fabian Karels vermoedelik in Januarie vanjaar tussen Blackheath en Melton Rose van die trein gegooi is in ’n rooftog wat skeefgeloop het. Fabian is vyf dae later in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal dood en die familie het nog geen antwoorde by Metrorail of die polisie gekry nie.

Op die Facebook-groep Metrorail Commuters skryf ene Irnalene: “My broer was gisteraand geroof, aangerand en yt (sic) die trein gesmyt op Tygerberg stasie deur 7 African ouens. As enige iemand dalk iets gesien het lat weet maar asb hy lê nou tans in trauma by Tygerberg hospitaal.”

Sy pols is oopgesny en die bloed het uitgespuit asof ’n kraan oopgedraai is.
Yanga Ymabulu, pendelaar

Danielle Daniels van Ravensmead, wat al die afgelope 18 jaar op die noordelike lyn pendel, sê sy is al drie keer van oorvol treine afgestoot. Sedertdien kry sy paniekaanvalle.

“Ek soek op die oomblik werk in die noordelike voorstede want die treine is besig om my dood te maak,” sê sy. Haar pendeltogte het altyd net 30 minute geduur, maar nou neem dit gemiddeld drie uur per keer.

“Daar word geen aankondigings gemaak nie en geen alternatiewe reëlings word getref nie. Ek onthou selfs as ’n kind in die apartheidsera was daar busse wanneer ook al die treine gekanselleer is.”

Yanga Ymabulu van Khayelitsha sê die hartverskeurendste voorval wat hy nog op die treine gesien het, was onlangs toe ’n man wat tussen die waens gehang het, getref is deur ’n leë bottel wyn. “Sy pols is oopgesny en die bloed het uitgespuit asof ’n kraan oopgedraai is.”

’n Begraafplaas vir uitgebrande en gevandaliseerde treine oorkant die Maitland-stasie. Sedert 2015 is 174 treinwaens net in Kaapstad met ’n totale waarde van R528 miljoen vernietig Foto: Adrian de Kock.

’n Begraafplaas vir treine

In Maitland kry ek uiteindelik sitplek langs ’n groot vrou in ’n pencil skirt en blinkleerskoene wat by ’n hotel in Langstraat werk. By die venster uit sien ek iets wat letterlik soos ’n treinbegraafplaas lyk. Daar staan minstens 40 uitgebrande treinwaens en sewe gevandaliseerde waens. Die reën sif saggies oor dié vallei van verlore treine neer.

Ná ’n onlangse parlementêre vraag deur die DA het Blade Nzimande, die minister van vervoer, te kenne gegee dat 24 treine sedert Oktober verlede jaar gevandaliseer is. Sedert 2015 is 174 treinwaens net in Kaapstad met ’n totale waarde van R528 miljoen vernietig. Die stad se owerhede is steeds in die duister oor wie vir die brandstigting op Metrorail se treinwaens verantwoordelik is.

#UniteBehind reken egter dis dalk mense wat by Prasa ontslaan is wat pogings om dié pendeldiens weer op koers te kry wil verongeluk.

Pendelaars neem foto’s terwyl ’n trein op die Kaapse stasie brand. Dié foto is op 28 September 2018 geneem. Foto: Adrian de Kock

“Vir my is Prasa die grootste slagoffer van staatskaping,” sê Zukiswa. “Ek vra myself af of dit is omdat dit maar net ’n werkersklas-probleem is? Is dit omdat Ramaphosa net op ’n trein klim wanneer hy verkiesingspropaganda maak?”

By die werk is hulle moeg, hulle is dalk seksueel geteister en hulle kry ’n waarskuwing omdat hulle laat is.
Zukiswa Vuka, #UniteBehind

Sy sug. “Mense verlaat hul huise teen 03:30 om betyds te wees vir ’n trein en wanneer hulle by die stasie aankom, is die treine vertraag. By die werk is hulle moeg, hulle is dalk seksueel geteister en hulle kry ’n waarskuwing omdat hulle laat is. Wanneer hulle huis toe moet ry, is hulle laat omdat die trein met twee uur vertraag is. Tuis word vroue deur hul mans geslaan omdat hulle dink hulle het hulle verneuk. Ons hoor die heel tyd hierdie soort stories en dis net een ding: Prasa. Nie Transnet of Eskom of SAA is so erg nie.”

Die trein wieg en skuifel voort. In my kop weerklink ’n refrein uit Richard van der Westhuizen se “Tussen Treine”: Tussen treine, tussen stasies lê die leë spasies van die onskuld nou verlore.

Die vrou met die blinkleerskoene laat sak haar kop in haar hande. “Tegnologie het vooruitgegaan maar dié diens gaan net agteruit. Ek móét die trein neem. Taxi’s is te duur en hulle neem die wet in eie hande. Die vorige keer toe ek op een moes klim oor ’n trein wat laat was, moes ek die driver vra om te stop want hy het in die verkeerde rigting by eenrigtingstrate opgery en kortpad gevat oor sypaadjies. Dit was my laaste taxi-reis. Op die treine is daar minstens ’n spoorlyn. Jou lewe is nie in die hande van ’n maniak wat dink hy is in The Fast and the Furious nie.”

Sy lyk tot die dood toe moeg, al het haar werkdag nog nie begin nie. Soos byna elke ander pendelaar op die oggendtrein.

Pres. Cyril Ramaphosa en ander hooggeplaastes knip vandeesweek ’n lint om die eerste nuwe trein amptelik in ontvangs te neem. Drukgroepe sê hulle het arm mense se pyn as ’n fotogeleentheid misbruik. Foto: Adrian de Kock

Om halfnege, twee uur nadat ons op Kuilsrivier-stasie aangekom het, knars ons by Kaapstad-stasie in. Dit was veronderstel om ’n tog van 45 minute te wees.

’n Man loop en sing terwyl hy met sy kierie op die perron stamp: “Say yes, say yes, hallelujah!”

Ja, vir staatskaping en ongebreidelde plundering?

Ons rit was niks uitsonderliks of spesiaals nie. Dit was net nog ’n rit tussen die stasies van ’n gesaboteerde staat.

*Riana Scott het by navraag gesê sedert Maart 2018 is bykomende sekerheidshulpbronne ontplooi “om die aftakelende gety van vandalisme op die Wes-Kaapse spoornetwerk teen te werk”. Prasa se sekerheidspanne het sedertdien gereageer op 258 voorvalle wat tot 352 inhegtenisnemings gelei het.

Volgens haar was daar danksy wetgewing en die Nasionale Vervolgingsgesag skuldigbevindings en borgtog is geweier. “Van die 186 sake wat in die hof verskyn het, is borgtog in elke geval geweier en daar was 27 skuldigbevindings en ’n totaal van 197 jaar en ses maande gevangenisstraf is opgelê. Die Spoortoepassingseenheid is ingestel om Prasa se beskermingsdienste, die provinsiale en Rapid Rail-polisie-eenhede asook die private sekerheidskontrakteurs se hand te sterk.”

*Dié storie is die eerste in ’n reeks van twee oor die treine van die dood. Die menings in hierdie artikel weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Pendelaars  |  Metrorail  |  Treindienste  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.