Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Treine: 'Pappa het nie huis toe gekom nie'

Nadat Fabian Karels in Januarie vermoedelik van ’n bewegende trein gegooi is ná ’n rooftog wat skeefgeloop het, het sy familie steeds geen antwoorde nie. Dis net nog een van die lotgevalle van ’n ontspoorde treinstelsel, skryf Willemien Brümmer.

’n Foto van Fabian Karels op sy geliefkoosde plek by Lambertsbaai by ’n gedig wat sy swaer, Simon Makin, vir hom ná sy dood geskryf het. Foto: Adrian de Kock

“Die Here het vir my ses dae saam met Fabian gegee. Ek is oukei daarmee. Hy kon ten minste aan my hand raak of ek kon sy hand op my gesig sit.”

Janine Karels maak haar hand oop soos ’n waaier en streel met haar vingers oor haar gesig. Dís hoe haar man, Fabian Karels (37), altyd gemaak het net voordat hulle gaan slaap.

Maar nou is al wat van Karels oor is, die altaar in hul voorhuis in Dennemere op die Kaapse Vlakte met die rooi kerse en die Liverpool-serp en die talle foto’s van Fabian: hul troufoto tien jaar gelede, die foto van hom op Lambertsbaai bo die gedig wat sy swaer vir hom geskryf het, die begrafnisfoto’s.

Wanneer sy dogter, Oceane-Leigh (8), na aan hom wil wees, sit sy haar regterhand op die afdruk van haar pa se hand wat hulle by die begrafnisondernemer gekry het en wat nou ’n ereplek op die altaar het.

Sedert Fabian op 14 Januarie tussen Blackheath en die Melton Rose-stasie vermoedelik van ’n bewegende trein gegooi is ná ’n rooftog wat skeefgeloop het, het geeneen van hulle nog enige antwoorde gekry oor wat presies daardie nag gebeur het nie. Die polisie het drie verskillende saaknommers vir hulle gegee en totdat Netwerk24 navraag gedoen het, het Metrorail gesê hy kan nie help as hy nie ’n outopsieverslag en ’n verslag van die polisie kry nie.

Ná verskeie navrae aan die polisie, het sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, aan Netwerk24 gesê: “I don’t have the answers you are looking for.”

Rwexana het ons ná twee dae weer terugverwys na die Kleinvlei-polisie, waar die speurhoof, ene kol. Krige, laat weet het hulle mag nie met die media praat nie.

Juanita Karels en haar kleindogter Oceane-Leigh (8) in hul leefvertrek in Dennemere op die Kaapse Vlakte. Juanita se seun en Oceane-Leigh se pa, Fabian Karels, is op 20 Januarie in die hospitaal dood nadat hy vermoedelik van ’n bewegende trein gegooi is. Foto: Adrian de Kock

‘Ons sal nooit weer trein ry nie’

Janine sit langs haar skoonma, Juanita Karels, en haar dogter in die knus leefvertrek. Die gesin se honde, Skyler en Scampi, sit by hulle op die bank.

“Ek sal net dankbaar wees om te weet hy is aangeval en hy is by die trein uitgegooi en dat dít tot sy dood gelei het,” sê Juanita met Oceane-Leigh op haar skoot.

“Tot dan dink ek nie genesing gaan maklik kom nie.”

Al antwoord wat hulle het, is dat hy nog een van die lotgevalle is van ’n ontspoorde treinstelsel – ’n gesig vir die duisende pendelaars wat daagliks vir hul lewe vrees. 'n Hele aantal mense is reeds dood op Kaapstad se Metrorail-lyne sedert Januarie. 

Ons sal nooit in ons lewe weer op ’n trein klim nie.
Janine Karels

“Hy het voor sy dood baie hard na ’n kar gesoek want hy wou nie meer die treine gebruik nie en hy’t gesê: ‘Janine, jy sal dit nie eens maak op ’n trein nie’. Hy’t gesê: ‘Jy moet altyd vasklou aan jou sak, jy moet heeltyd wakker wees’ en wanneer ook al ek en Oceane-Leigh op die trein wou klim, het hy ’n oorval gekry. Wanneer Oceane-Leigh nou verby die toneel stap of ry waar hy gevind is, kan sy nie asemhaal nie. Ons sal nooit in ons lewe weer op ’n trein klim nie.”

Saam vertel Janine en haar skoonma in byna forensiese besonderheid die sameloop van omstandighede wat tot sy dood gelei het.

Op Maandag 14 Januarie werk Fabian tot 19:30 by Woolworths se inbelsentrum in die middestad. Hy is 37 jaar oud, topfiks en hy lééf vir sy vrou en dogter.

“Hy het my op FaceTime gekontak om 19:20 om te sê hy verlaat nou die werk en dan sou ons gewoonlik in kontak bly op WhatsApp of SMS sodat hy my kon laat weet op watter stasie hy is. Hy was doodbang vir die treine. Dis hoekom ons in kontak sou bly.”

Dié Maandagaand hou Janine egter nie die heeltyd haar foon by haar nie, want sy is besig met Oceane-Leigh se hare. Sy onthou skielik van haar foon en sien daar is nie ’n boodskap van hom nie. Sy bel om 20:20, maar die foon lui net.

“Dis gewoonlik die tyd wanneer hy my pa sou bel om hom te kom haal by die Melton Rose-stasie.”

Om 20:45 loop Janine na die hoek van die straat van waar sy die spoorlyn kan sien en die omstanders sê vir haar die trein is al lankal verby. Sy vra haar pa om te help soek en hulle gaan eers na Blackheath-stasie en toe na Melton Rose.

Dit word 22:00. Hulle ry na die Kaapse stasie en klim by elke stasie af waarlangs hy sou gery het tot by Melton Rose. Teen middernag begin hulle hospitale bel. Janine vra op Facebook of enige van sy vriende hom gesien het.

Fabian Karels en sy dogter, Oceane-Leigh, en sy vrou, Janine, die Kersfees voor sy dood. Foto: Adrian de Kock

“Die volgende oggend het ek geskree en gehuil,” sê Janine.

“Ek het vir my ouers gesê, julle moet my help om hom te vind. En toe word Oceane-Leigh wakker en sy sê sy ruik nie haar pa nie. Hy dra ’n baie sterk parfuum, so ’n mens kon hom oral ruik. Ek moes vir haar sê: ‘Pappa het nie huis toe gekom nie.’ ”

Die volgende oomblik kom een van se kollegas by die Karelse se huis aan om te sê Fabian was saam met ’n ander kollega op die trein, maar sy het by die Bellville-stasie uitgeklim.

“Dis toe dat ons weet ons moet soek tussen Bellville en Melton Rose.”

Janine en haar pa gaan meld hom as vermis aan by die Bellville-polisiekantoor. Sowat vier uur later kom die Kleinvlei-polisie na hul adres in Dennemere nadat ’n lid van die publiek tussen Melton Rose en Blackheath, sowat 2 m van die spoorlyn af, op hom afgekom het. Hy word per ambulans na die Netcare-hospitaal in Kleinvlei vervoer.

Janine byt op haar lip.

Janine Karels op die plek langs die spoorlyn tussen Blackheath- en die Melton Rose-stasie waar haar man, Fabian Karels, op 15 Januarie bewusteloos gevind is. Dit was vermoedelik ná ’n rooftog wat skeefgeloop het. Foto: Adrian de Kock

“Ek het ’n paniekaanval gekry, want ek het nie geweet wat om te verwag nie. Toe ons by die hospitaal kom, kon ek nie loop nie, want my rug het gevoel asof dit verlam is.”

Om 14:00 sien hulle hom aan ’n ventilator in die bybringsaal.

Hy het nooit weer sy bewussyn herwin nie.

Sy ma praat sag: “Toe hulle hom gevind het, was hy reeds bewusteloos. Hy het nooit weer sy bewussyn herwin nie. Die traumadokter sê hy is in ’n vegetatiewe staat en sy een pupil was verwyd. Sy Glasgow-komaskaal (GKS) was 3.”

Sy verduidelik.

“Dis die breinfunksie. ’n Normale mens se breinfunksie is 15 uit 15. Hoe laer die GKS, hoe minder is iemand se kanse. Maar hulle het ook vir ons gesê ons moenie hoop verloor nie, want hy was ’n fitness fanatic en baie bewus van wat hy eet.”

Janine en haar dogter Oceane-Leigh steek ’n kers aan vir Fabian by die altaartjie in hul leefvertrek. Foto: Adrian de Kock

‘Sy hande word yskoud’

Die Woensdag verwyd sy ander pupil, maar hy kan steeds besoekers se hande druk. Trane loop oor sy wange.

Juanita laat sak haar kop in haar hande.

“Ek het die verpleegster gevra of daar enigiets is wat hulle vir hom kan doen en sy het gesê as hy ooit sou wakker word, sal hy nie dieselfde wees nie.”

Sy snik. Oceane-Leigh wat op haar skoot sit met ’n ligbruin teddiebeer is ontroosbaar.

“Ek sê toe ek dink nie dit is wat hy sou wou gehad het vir sy vrou en kind nie, so die Here se wil moet geskied.”

Die Donderdag is sy kop so erg geswel dat die swelling begin afbeweeg na sy breinstam. Sy pupille is vergeel en die dokters sê sy organe het begin ingee.

Hy’t nie meer my hande gedruk nie, hy’t nie meer gehuil nie, niks nie.

Die Saterdag verklaar ’n dokter hom breindood.

Die Sondag kort voor middagete probeer Janine hom soen, maar hy reageer nie meer nie.

“Hy’t nie meer my hande gedruk nie, hy’t nie meer gehuil nie, niks nie. Ek het bo-op hom gelê en toe maak hulle die gordyn toe en my ma het gebid en ek het gevoel hoe sy hande yskoud word.”

Janine kyk verward na die altaartjie met die talle foto’s van Fabian asof sy steeds nie kan glo hy’s nie daar nie.

Hy is dood weens ernstige kopbeserings. Sy nek was geswel en hy het kneusplekke reg rondom sy nek gehad asof iemand hom probeer wurg het. Daar was skaafplekke tussen sy bene. Drie van sy ribbes en sy linkerarm was gebreek.

“Die traumadokter het gesê dit lyk asof hy gewurg is en toe is hy aan sy broek opgehys en by die trein uitgegooi,” sê Janine.

“Hy is ook oor die kop geslaan.”

Janine en Fabian Karels het daarvan gehou om bypassende klere te dra.

‘Ek sal myself verdedig’

Sy glo hy het homself probeer verdedig. Dis hoekom sy inkopiesak met die duur gesigroom wat hy daardie Maandag gekoop het, haar tablet en sy foon en beursie steeds in sy sak was toe hulle hom gekry het. Niks is gesteel nie, maar sy sak was losgesny van sy lyf. Sy knipmes was oop maar die skêr wat hy altyd op die trein by hom gedra het, was weg.

Janine knik.

“Ek glo hy het baklei. Toe ek hom ontmoet het, het hy tai chi en koeng foe gedoen. Hy’t altyd gesê: ‘Niemand moet my probeer beroof nie. Ek sal myself verdedig. Ek werk te hard om my goed weg te gee.’ ”

Dit was nie die eerste keer dat daar ’n voorval was op die trein nie.

Ja, hy is beslis van die trein gegooi.

“In Desember was sy arm seer en hy het my gevra om hom te help uittrek en toe sien ek sy een tatoeëermerk was pers en blou en toe sê hy hulle het sy treinwa beroof en die coloured ouens het hulself en die meisies op die wa beskerm. Hy’t na Kleinvlei-polisie gegaan en gesê ’n bende rowers klim op by Blackheath–stasie en klim dan weer af by Melton Rose nadat hulle die mense gerob het, maar die polisie het niks gedoen nie.”

Sy knik weer.

“Ja, hy is beslis van die trein gegooi. Die polisie het vir my gesê as hy gespring het, sou hy sy bene gebreek het, maar net sy arm was gebreek. Hy was nie ver van die spoorlyn af nie.”

“Fabian was doodbang vir die treine,” vertel Janine Karels. Foto: Adrian de Kock

‘Ek wil net weet wat gebeur het’

Tot dusver was dit weens burokratiese onbeholpenheid moeilik vir die familie om enige vorm van afsluiting te kry.

“Ons wil graag ’n kruis oprig waar hy gevind is, maar hulle (Metrorail) het vir Janine gesê sy kan nie, want daar is nie ’n saak nie,” sê Juanita.

“Hulle het gesê die polisie weet nie van die voorval nie.”

Ek het nie woede nie, want op wie moet jy dit uithaal?
Juanita Karels

Is hulle kwaad oor hoe hy dood is?

Sy ma dink ’n oomblik, toe: “Ek het nie woede nie, want op wie moet jy dit uithaal? Ek wil net weet wat met hom gebeur het. Hy was my oudste seun.”

Haar stem is rou.

“My dogter het ’n negejarige seun wat baie geheg was aan Fabian. Ons sien nou saam ’n sielkundige, want hy kry nagmerries of hy word huilend in die middel van die nag wakker. Hoekom moet dit nou juis sy oom wees?

“Vir my sal dit net help as iemand na vore kan kom en sê: ‘Dis wat ek gesien het.’ Selfs al wil daardie persoon anoniem bly. Dis nou amper drie maande en die polisie het nog niks gedoen nie. Wat sê dit vir jou oor hierdie land?”

Janine is net dankbaar dat sy die ses dae by Fabian in die hospitaal gehad het. Sy wil nie kwaad wees nie.

Sy wys na die teddiebeer wat Oceane-Leigh teen haar vasdruk.

“Sy het hierdie teddiebeer vir my gekoop vir Moedersdag. Sy en Fabian sou elke Valentyns- en Moedersdag beplan. Hulle het vanjaar al klaar begin beplan toe hy dood is. Sy het toe vir my suster gevra om saam met haar te gaan en gesê: ‘I need to go buy the stuff that my daddy wanted to buy for mommy.’ ”

Sy streel oor haar dogter se hare. “Die teddiebeer se naam is Fabian.”

* Daphne Kayster, Metrorail se woordvoerder, het Maandag laat weet dat hulle nou (ná verskeie navrae deur Netwerk24 en eers sowat drie maande na sy dood) uiteindelik met Janine Karels oor die voorval kontak gemaak het. 

“Ons het gevra vir ’n verklaring oor die gebeure sodat ons dit verder kan ondersoek. Die proses sal van daar af voortgaan,” sê Kayster.

* 'n Sestienjarige leerder is Vrydag dood op die Suidelike Metrorail-lyn in Kaapstad. "Voorlopige verslae dui daarop dat 'n jong man van 'n bewegende trein geval het tussen Soutrivier en Woodstock terwyl hy probeer het om van die een trein na die ander te spring," het Riana Scott, woordvoerder vir Metrorail, gesê. Simo Maninginingi was 'n leerder aan die Zonnebloem Nest Senior Skool en hy het op die toneel gesterf. 

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Metrorail  |  Treindienste  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.