Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Trump rig skade aan met Siriese besluit

Die Turkse inval in Sirië en pres. Donald Trump van Amerika se rol daarin het tot skerp reaksies in die VSA, Europa en die Midde-Ooste gelei. Leopold Scholtz ontleed die uitwerking van die inval op die breë internasionale situasie.

Daar word al dekades gesê dat die wêreld klein geword het. Nêrens word dit beter geïllustreer as in die huidige Turkse militêre inval in Sirië nie. Die rimpelings wat dit meebring, word naamlik nie tot Sirië of selfs die Midde-Ooste beperk nie, maar kring oor die hele aardbol uit.

Verlede week het pres. Reçep Tayyip Erdogan van Turkye in ’n telefoniese roetinegesprek met Trump genoem dat hy sy weermag oor die Siriese grens wil stuur om die grensstrook sowat 10 tot 15 km diep te beset en sodoende die Koerdiese strydkragte in die omgewing ’n gevoelige knou toe te dien.

Trump is gewoond daaraan om vinnige besluite te neem. Luidens berigte in die Amerikaanse media het hy dus onmiddellik ingestem, en gesê hy sal die sowat 1 000 Amerikaanse spesmagte, wat in die omgewing is om die Koerde op te lei, eenkant hou en nie inmeng nie.

Hulle is sedertdien heeltemal onttrek.

Alles dui daarop dat hy dié besluit impulsief geneem het sonder om die ingrypende gevolge daarvan te besef. Vir Trump, teen die agtergrond van sy jare lange teenkanting teen Amerika se militêre betrokkenheid elders in die wêreld, was die besluit logies.

Om die enorme betekenis daarvan te verstaan, moet ’n mens iets oor die situasie in die omgewing sê. Daar is baie vir Amerika op die spel, iets wat Trump skynbaar nie mooi begryp nie.

’n Volk sonder ’n land

Tenks van die Turkse weermag word Maandag na die Siriese grensdorp Tal Abjad vervoer. Foto: Getty Images

Die Koerde is ’n volk sonder ’n eie staat wat in die grensstreke van Sirië, Turkye, Iran en Irak woon. Hulle streef na ’n eie staat, maar dit stuit op die onwilligheid van die vier genoemde state wat nie deel van hul grondgebied aan ’n Koerdiese tuisland wil afstaan nie.

Die Koerde kon wel in die praktyk twee gebiede, in noorde van Irak en Sirië, in relatief goed funksionerende outonome streke omskep. Die een in Sirië sal nou kwalik kan oorleef.

Ook het hulle die skoktroepe vir die oorlog teen die Islamitiese terreurbeweging die Islamitiese Staat (IS) gelewer. Dit was hoofsaaklik Koerdiese vegters, grotendeels met Amerikaanse wapens, opgelei deur Amerikaanse instrukteurs en met Amerikaanse lugsteun, wat die gebied van die IS-“kalifaat” in Sirië en Irak stelselmatig teruggedwing het totdat die laaste oorblyfsel vroeër vanjaar geval het.

Toe al het talle kenners gewaarsku: Die feit dat die “kalifaat” geen grondgebied meer beset nie, beteken nie dat hy verslaan is nie. Die gedagte agter die IS bly voortbestaan en besiel steeds duisende fanatiese mense wat gewillig is om hul lewe vir hul vertolking van die Islam te gee.

’n Palestynse betoger in die Gaza-strook betoon sy ondersteuning aan die Turkse militêre ingryping in Sirië. Foto: Reuters

Nietemin, die Koerde het ’n geraamde 10 000 IS-vegters gevange geneem en in gevangenekampe toegesluit. Niemand het mooi geweet wat om met hulle te maak nie, maar die Koerde het die probleem – voorlopig altans – op hulle geneem.

Trump se onderneming in sy gesprek met Erdogan het nou die brose ewewig in die omgewing ingrypend verander. Die Turkse weermag het met groot geweld oor die grens geslaan en tot 130 000 Koerde, meestal bejaardes, vroue en kinders, het op die vlug geslaan.

Die saak word verder gekompliseer deurdat die Turke bygestaan word deur nóg ’n gewese Amerikaanse bondgenoot, die Vrye Siriese Leër, ’n beweging wat teen pres. Basjar al-Assad van Sirië veg.

Dié groep, wys televisiebeelde, pleeg oorlogsmisdade deur ongewapende burgerlikes sommer langs die pad dood te skiet.

Om sake nóg ingewikkelder te maak: Die Koerde het met die Siriese regime en Rusland ooreengekom dat die Siriese weermag die Koerdiese gebied mag binnekom om die Turkse inval te stuit. Dis ’n eskalasie wat skrik vir niks en wat ’n groot oorlog kan inlui.

Hernude IS-aanslag op Europa?

’n Siriese soldaat vuur in gevegte teen terreurgroepe. Foto: Getty Images

Nog ’n implikasie is dat die Koerde reeds begin het om die wagte wat die IS-gevangenes bewaak, terug te trek om teen die Turke te veg. Luidens berigte het etlike honderde IS-vegters reeds uit die kampe ontsnap.

Aangesien ’n herstel van die kalifaat op kort termyn onwaarskynlik lyk, is dit logies om aan te neem dat die ontsnaptes oor die Midde-Ooste gaan uitsprei en die hele wêrelddeel met terreuraanslae destabiliseer. Ook Europa en Amerika sal met hernude aanslae rekening moet hou.

Europa word op nog ’n manier by die saak betrek. Daar kom uit die Europese Unie (EU) woedende reaksies wat bykomende ekonomiese, diplomatieke en militêre sanksies eis.

Erdogan beklee in dié opsig ewenwel ’n magsposisie. Ná die meer as ’n miljoen vlugtelinge wat in 2015-’16 oor die Egeïese See na Griekeland en die res van Europa (hoofsaaklik Duitsland) gestroom het, het bondskanselier Angela Merkel ’n ooreenkoms met die Turkse leier gesluit om die vloedgolf in te dam.

In ruil vir grootskaalse finansiële hulp het Erdogan beloof om die vlugtelinge in Turkye op te neem en te keer dat hulle na Europa gaan. Nou dreig hy om al 3,5 miljoen van hulle op die EU los te laat as dié met die kritiek op hom voortgaan.

Dis naakte afdreiging. In welke mate die Europeërs daarvoor skrik, staan nog te besien.

Trump loop deur in die VSA

Pres. Donald Trump van die VSA loop onder toenemende kritiek deur vir sy ondeurdagte besluit oor Turkse militêre inmenging in die Siriese konflik. Foto: AP

Intussen het ’n ongekende tsoenami van kritiek om Trump se kop losgebars. 

Dit kom nie alleen uit Europa of van die Amerikaanse Demokratiese Party nie – dit is oorde waaruit ’n mens sulke kritiek verwag. Dit kom egter ook uit Trump se eie Republikeine, en selfs van die fundamentalistiese Christelike vleuel, wat tot dusver bankvas agter hom gestaan het.

’n Goeie voorbeeld is eerw. Pat Robertson, ’n charismatiese prediker wat sy oë vir al Trump se uitspattighede met ander vroue en pornografiese aktrises gesluit het en bly sê het dat Trump God se goedkeuring wegdra. Hy van alle mense het nou gewaarsku dat as Trump só voortgaan, kan hy die “hemelse mandaat” verspeel.

Dis belangrik, veral aangesien die Demokrate ’n ondersoek na ’n moontlike afsettingsprosedure (impeachment) teen Trump begin het. Daarvoor sal minstens 20 Republikeinse senatore teen hul eie president moet stem.

Die vraag is of die Siriese kwessie ’n invloed daarop sal hê. In dié stadium lyk dit twyfelagtig, tensy die groeiende gevoel onder die kiesers ten gunste van ’n afsetting oorweldigend toeneem.

Pres. Reçep Tayyip Erdogan van Turkye Foto: Getty Images

Die allerminste wat ’n mens egter daaroor kan sê, is dat dit Trump nie gaan help nie. Die platvloerse manier waarop hy op openbare vergaderings teen sy politieke opponente te kere gaan, skrik baie ordentlike konserwatiewe Amerikaners af.

Trump se verweer oor die Sirië-kwessie is dat die mense daar mekaar al dekades uitmoor, en dat hy nie wil hê dat Amerikaanse soldate daarin vasgevang word nie. Dit laat egter buite rekening dat hy die proses in sy telefoongesprek met Erdogan aan die gang gehelp sit het, asook dat Rusland en Iran se invloed daar sterk ten koste van dié van Amerika toeneem.

Ten slotte bemerk ’n mens onsekerheid in Israel. Trump was tot dusver Israel se grootste bondgenoot, maar as hy só maklik Amerika se Koerdiese bondgenote vir die wolwe kan gooi, wat is sy woord werd? word in Israel gevra.

Sedertdien het Trump ander geluide laat hoor, maar dit gee slegs aanleiding tot beskuldigings dat sy oggend- en aandpraatjies verskil.

Uiteindelik kan Trump vind dat die logika van sy verweer hopeloos oorskadu word deur die skade wat Amerika se betroubaarheid ly.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Republikeinse Party  |  Islamitiese Staat  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Turkye  |  Israel  |  Rusland  |  Sirië  |  Koerde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.