Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kyk uit vir nuwe leiers
Pres. Cyril Ramaphosa was die afgelope week in die nuus oor die regering se ommeswaai oor die rookverbod. Foto: Getty Images

Die teleurstelling van ons tyd is ’n gebrek aan sterk leiers wat – soos nooit tevore nie – nugtere, logiese en sinvolle rigting kan gee, skryf Barnard Beukman.

Ons het voor die Covid-19-pandemie reeds ’n samelewing geword wat ’n normaal geskep het van polarisasie, waarin redelikheid vir swakheid uitgekryt word, ander wat van jou verskil persoonlik beledig word, bedrog aan die orde van die dag is en die negatiewe in alles gesien word.

Dis asof die giftige pre-pandemie-normaal ’n passasier op die rug van die koronavirus geword het. Die een herhalende vraag is hoe die nuwe normaal gaan lyk.

Die beter vraag

Die beter vraag is eerder hoe ons dié nuwe normaal gaan skep en waar ons die mense gaan kry om rigting te gee. Dit gaan nie gedoen word deur bitterbekke, wat self nie kan sien hoe hulle besig is om te sink in die gal wat hulle braak nie.

Die polarisasie-model in samelewings, politieke bewegings en lande het ’n ongekende hoogtepunt bereik, maar is moontlik oornag ook uitgedien. Hoe help dit ons nou?

Die groot teleurstelling van ons tyd wêreldwyd is ’n algehele gebrek aan middelpuntvlietende leiers wat – soos nooit tevore nie – nugtere, logiese en sinvolle rigting gee. Moontlik is die grotes van ons tyd op die toneel, maar hulle gaan vinnig moet hand opsteek om raakgesien te word. Dis die soort historiese leierskap wat almal nou moet probeer uitleef, soek en bemagtig.

Sommige is so vasgevang in watter minister wat sê en hoe, dat hulle die besielende verhale miskyk van mense – jonk en oud – wat reeds begin innoveer het, die nuwe normaal vir hulself en hul bedrywe – klein of groot – begin skep het. Wat begin help het, al is dit net om lapmaskers vir ander te maak. En wat ander heeltyd probeer bemoedig of aanmoedig.

Mense gaan stap soggens in die skoonste lug in dekades en die natuur haal weer asem in sy ruskans weg van ons vernietiging. Tegnologiese innovasie op persoonlike vlak is ongekend.

Joegaai maats

Maar laat ons nie hieroor joegaai maats skreeu nie. Hier kom bepaald reuse-uitdagings. Baie kosbare strukture wat werk verskaf of deel van ons samelewing geword het, soos sport-unies, kerkgemeentes en groot maatskappye, se voortbestaan – soos ons dit ken – word bedreig.

Vanselfsprekend moet regerings, wat wêreldwyd uitgevang is dat hulle nie basiese dienste in stand gehou het nie en ongekoördineerd oor hul voete geval het, verantwoordbaar gehou word. Hulle moet beïnvloed, in howe aangepak en aan die kaak gestel word waar nodig.

Die soort optrede was voor die pandemie nodig en sal daarna ook so wees. Veral hier in Suid-Afrika.

Oraloor verleng regerings inperkings, of probeer sukkel-sukkel daaruit bestuur. Maar in Suid-Afrika moes ons die afgelope week lees dat die kommunikasieflater en soveelste toutrekdebakel oor die rookverbod “die gevolg is van ’n interne magsgreep in die ANC teen pres. Cyril Ramaphosa”. (Die soveelste wat van die ontleders aankondig. Want van hulle het voorheen ook geskryf “Cyril sal nooit ANC-leier word nie”, die “CR17-fondsonthullings het hom gesink” en hy het “finaal sy meerderheid in die nasionale uitvoerende komitee verloor”.)

Plek-plek het sommige media, kenners en waarnemers ook meegesleur geraak deur ’n eensydige golf van uitbreekkoors. Daar word nie eens moeite gedoen om balans te handhaaf of ander standpunte lug te gee nie.

Barnard Beukman

In hoek vasgeverf

Regerings wat inperkings ingestel het, het volgens die Sweedse wetenskaplike Johan Giesecke nie alles verkeerd gedoen nie, “maar hulleself in ’n hoek vasgeverf en hoe gaan hulle nou daaruit kom?”

Hy meen die beskerming van bejaardes, die handhawing van ’n gesonde afstand en die gereelde was van hande is die manier vorentoe. Min lande – beslis nie Suid-Afrika nie – het die Sweedse samelewingsdinamika om sonder inperking enige kans te gestaan het.

In ’n soort teenstrydige balans moet ons:

* Menslike inperkings ongelukkig stadig bly verslap.

* Ekonomiese beperkings vinniger ophef.

* Absurde reëls en korrupsie beveg.

* Op ’n gesonde afstand leer leef.

* Ons politieke leiers en uitbuitende private sektor steeds ongenadig tot verantwoording roep.

* Nie sosiale media as enigste inligtingsbron gebruik of heen en weer deur die mood swings daarop gekarakteriseer word nie.

* En daardie visie en leierskap wat nog ontbreek, vinnig opspoor, globaal en tuis.

Alles met ’n baie kalmer nugterheid. Dus meer doeltreffend.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Leiers  |  Gemeenskappe  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.