Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Ursula se Brexit-toets en Trump-tameletjie

Wie is Ursula von der Leyen, die vrou wat pas as president van die Europese Unie (EU) aangewys is? En wat beteken haar aanstelling vir die Europese en die wêreldpolitiek? Leopold Scholtz soek na antwoorde.

Dit is ’n pos waarvoor Ursula von der Leyen haar nooit beywer het nie. Maar toe die Europese Parlement in Straatsburg vandeesweek haar aanstelling met ’n flenterdun meerderheid (383 van die 733 stemme) goedkeur, het sy verlig geglimlag en haar vuiste gebal.

Dit was tekenend van ’n vasbeslote vrou wat aan die wêreld te kenne gegee het: Ek gaan nie oor my laat loop nie.

Von der Leyen is in 1958 in Brussel gebore, waar haar pa, Ernst Albrecht, indertyd ’n Duitse amptenaar gesekondeer aan die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap (voorloper van die Europese Unie) was. Sy het ekonomie in Göttingen en Londen gestudeer, omgeswaai na medies en uiteindelik ’n doktorsgraad in verloskunde in Hannover verwerf en was ook dosent aan dieselfde universiteit.

Sy het ’n paar jaar in Kalifornië gewoon, waar haar man, Heiko von der Leyen, aan die Stanford-Universiteit gedoseer het. Sy praat naas Duits ook Frans en Engels feitlik aksentloos. Sy is die ma van sewe kinders.

Von der Leyen het in 1990 lid van die Christen-Demokratiese Unie (CDU) geword, is in 2003 tot lid van die deelstaat Nedersakse se wetgewende vergadering gekies, was lid van die deelstaat se kabinet, en het in 2005 lid van die Bundestag en minister in die nuwe kanselier, Angela Merkel, se kabinet geword.

Deur die jare het sy verskeie portefeuljes behartig, waarvan verdediging die laaste was. Hier het sy minder goed gevaar, iets wat ammunisie aan haar teenstanders verskaf het. Maar dan moet ook in aanmerking geneem word dat die laaste vier ministers van verdediging álmal swak gevaar het in dié portefeulje, wat weens allerlei omstandighede in ’n soort gifbeker ontaard het.

Regs-populiste gee deurslag in verkiesing

Ursula von der Leyen, nuwe president van die Europese Unie. Foto: Reuters

Dis interessant hoe Von der Leyen haar nuwe pos gekry het, want dit vertel ook iets van die EU.

Die pos van president van die Europese Kommissie (die EU se “kabinet”) is vier jaar gelede geskep. Die idee was dat die partye wat in die Europese Parlement verteenwoordig word, kandidate aanwys, en dat die kiesers dit in ag neem tydens verkiesings vir dié instansie. Die kandidate werf dan stemme oor die hele EU, net soos in ’n nasionale verkiesing.

Maar die uitslag van die verkiesing vroeër vanjaar was onbeslis; geeneen van die kandidate kon ’n meerderheid kry nie. En dus moes die Europese regeringsleiers soos voorheen in agterkamertjies vergader en gunste en poste in ’n ondeursigtige proses uitruil.

Afgevaardigdes van die regs-populistiese regerende partye van Pole en Hongarye het die deurslag gegee in die geheime stemming.

Oorspronklik was die Europese Volksparty – die Christen-Demokrate op Europese vlak – se kandidaat die Duitser Manfred Weber. Die Nederlandse Frans Timmermans was die kandidaat van die Sosiaal-Demokrate.

Toe geeneen van hulle die paal kon haal nie, het pres. Emmanuel Macron van Frankryk op die idee gekom om Von der Leyen voor te stel. Aangesien Von der Leyen ’n vertroueling van Merkel was, het laasgenoemde entoesiasties ingestem.

Maar die nuwe president moes wel deur die Europese Parlement goedgekeur word, en dit was glad nie seker nie. Tot op die dag van die stemming in die parlement was sake onseker, maar daardie oggend het Von der Leyen die stemming met ’n kragtige pro-Europese toespraak omgekeer.

Ursula von der Leyen (links) en Annegret Kramp-Karrenbauer, haar opvolger as Duitsland se minister van verdediging, inspekteer ’n erewag in Berlyn. Foto: AP

Ontledings van die geheime stemming in die parlement het ewenwel aan die lig gebring dat die deurslag gegee is deur die afgevaardigdes van die regs-populistiese regerende partye van Pole en Hongarye, die PiS en Fidesz. Dit was opmerklik, aangesien Von der Leyen in al haar toesprake geen millimeter na regs oorgehel het nie.

Europese politieke ontleders wys daarop dat die PiS en Fidesz haar waarskynlik gesteun het om erger – Timmermans – te voorkom. Timmermans het as vise-president van die Europese Kommissie herhaaldelik in die Pole en Hongare se nekke geblaas oor hul aftakeling van die regstaat en die demokrasie, en hul oordeel was dat Von der Leyen makliker hanteerbaar sal wees.

Dis dalk ’n fout. Von der Leyen het haar man gestaan teen die Duitse generaals en admiraals, manne wat nie daarvan gehou het om aan ’n vrou verslag te doen nie.

En sy het geen enkele belofte aan die PiS en Fidesz gemaak wat later teen haar gebruik kan word nie. Die volgende vier jaar, die tydperk van haar bewind, behoort lewendig te wees.

Brexit, Poetin en Trump

Baie geluk! Ursula von der Leyen (links), nuwe president van die Europese Unie, word deur Angela Merkel, Duitse kanselier, gelukgewens. Von der Leyen is ’n vertroueling van Merkel. Foto: AP

Daar is verskeie uitdagings wat op internasionale terrein op Von der Leyen wag. Die dringendste is Brexit.

Die Britse uittrede uit die EU is nou vir 31 Oktober geskeduleer, die dag voordat Von der Leyen in Brussel oorneem. Maar sy sal die nalatenskap van Brexit, wat ongetwyfeld nadelig gaan wees vir sowel die EU as veral Brittanje, moet hanteer.

Dis nóg in die EU nóg in Brittanje se belang dat die uittrede met te veel chaos gepaard gaan. Bowendien moet Von der Leyen die ander 27 lidlande bymekaar hou en keer dat nóg ’n land wegbreek.

’n Tweede uitdaging is die krapperige betrekkinge met Rusland en China.

Pres. Wladimir Poetin wil sy land opnuut in ’n groot moondheid omskep, en dus juig hy elke keer as die Weste verswak word en ’n vakuum skep wat hy kan vul. Die Chinese is besig om hul invloed primêr in Oos-Asië en die Stille Oseaan te vergroot, maar dis ’n politieke en veral ekonomiese uitdaging waarop die EU ’n antwoord moet vind.

Pres. Donald Trump van die VSA sal een van Ursula von der Leyen, nuwe president van die Europese Unie, se grootste tameletjies wees. Foto: AP

Dalk die taaiste tameletjie wat op Von der Leyen wag, is pres. Donald Trump van Amerika. Trump benader die internasionale politiek soos ’n boekhouer wat net twee kolomme sien – inkomste en uitgawe.

Sy eerste – en dikwels enigste – vraag is: “Wat is daarin vir óns?” En daarmee bedoel hy veral geld.

Hy het die EU al as ’n “vyand” bestempel, ’n organisasie wat glo uitdruklik gestig is om Amerika te benadeel. Amerikaanse besteding aan Navo, sy bondgenote in Asië, ensovoorts, word alles in dié lig gesien.

Trump sien klaarblyklik nie dat daar sake is wat nie in geld gemeet kan word nie. Soos invloed en geloofwaardigheid.

Die algemene neiging in Europa is om maar die koppe in te trek en te wag dat die storm uit Washington bedaar.

Hoe gaan Von der Leyen, ’n sterk vrou, die stoomroller Trump hanteer? Verskeie leiers, soos premier Theresa May van Brittanje, pres. Emmanuel Macron van Frankryk en Mark Rutte van Nederland, het hom heuning om die mond probeer smeer sodat hy minder ongenaakbaar word, maar tevergeefs.

Die algemene neiging in Europa is om maar die koppe in te trek en te wag dat die storm uit Washington bedaar, iets wat egter glad nie seker is nie.

Dis moeilik om te voorspel hoe Von der Leyen Trump tegemoet gaan tree. Moet egter nie verbaas wees as ’n hele paar van haar blonde hare teen die einde van haar termyn eerder grys gaan wees nie.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Angela Merkel  |  Donald Trump  |  Wladimir Poetin  |  Europese Unie  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.