Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: ‘Vaarwel ons wonderwêreld!’

In ’n stoor langs ’n treinspoor het Murray La Vita 007 se aktetas uit Goldfinger, die kop van ’n luiperd wat deur Wilbur Smith geskiet is, en talle ander vreemde objekte (en skatte) ontdek. Dié wonderwêreld gaan egter eersdaags verdwyn.

Will Hinton en Tess Wolpe in hul geliefde The Prop House omring deur die kosbare stukke wat eersdaags opgeveil gaan word. Foto: Adrian de Kock

Ek dink aanvanklik ek is by die verkeerde adres wanneer ek in die Kaapstadse woonbuurt Soutrivier langs ’n groot pakhuis afry en digby ’n treinstasie tot stilstand kom.

Dan sien ek ’n glimlaggende gryskopman wat aan die agterkant van die gebou vir my staan en waai, en ek besef ek is inderdaad nou by die regte plek, want ek herken vir Will Hinton van ’n foto af.

Will en sy vrou, Tess Wolpe, is die eienaars van The Prop House, ’n onderneming wat enigiets van kosbare meubels, mandjies, reistasse en kombuisware tot sambrele, koelbokse en mediese laboratoriumtoerusting aan rolprent- en advertensiemaatskappye verhuur. Eintlik verhuur hét, want hul deure sluit nou ná twintig jaar.

’n Mens snak na jou asem as jy die pakhuis betree en van aangesig tot aangesig kom met rye Barcelona- en Wassily-stoele, stoele van Ron Arad en Josef Hoffmann; ’n kokosneutstoel van George Nelson, Belgiese art deco, standbeelde, lampe, opgestopte diere, kelims, Persiese matte . . . Oral waar jy kyk, is daar skatte. Dit strek voor jou uit oor ’n oppervlakte van 1 000 m².

“Will en ek het albei in Londen in die rolprentbedryf gewerk,” sê Tess.

“Will in die vervaardigings- en rekwisietekant, en ek as bestuurder van ’n produksiemaatskappy. Toe my pa sterf, het ons Suid-Afrika toe gekom en Will het op Kaapstad verlief geraak. Dit was in April 1998 en ons was veronderstel om daarna na Brittanje terug te keer om aan die televisiereeks The Knock te gaan werk.

“Will wou bly en ek het vir hom gesê: ‘Hoekom begin ons nie ’n rekwisietemaatskappy hier nie?’ Op 16 April het ons teruggevlieg, ons woonstel in Londen opgepak, drie skeepshouers vol meubels gekoop, en op 25 Junie was ons terug in Kaapstad.”

En so het The Prop Company begin. Hul eerste groot transaksie was toe ’n produksiemaatskappy ’n klomp items kom huur het vir die rolprent I Dreamed of Africa.

“En toe was dit vir drie weke doodstil. Ek en Will het vir mekaar gesit en kyk en gedink ons het die grootste fout van ons lewe begaan. Maar kort daarna het die besigheid vlamgevat.”

Jy kan die slimste ou in die wêreld wees, maar as jy nie ’n bietjie geluk aan jou kant het nie . . .

Will sê hulle is kansvatters.

“Jy kan die slimste ou in die wêreld wees, maar as jy nie ’n bietjie geluk aan jou kant het nie . . . Wat Tess nie genoem het nie, is dat die kunsregisseur van I Dreamed of Africa my van Londen af geken het en gehoor het ons het hierheen gekom en die besigheid oopgemaak. As dit nie daarvoor was nie, het ons dalk nie nou hier gesit en praat nie.”

Ons stap deur die tamaai pakhuis en Will vertel trots:

“Ons het hierdie versameling oor twintig jaar opgebou. Van die stukke is uniek en dan het ons ook ’n groot verskeidenheid wonderlike moderne klassieke meubelstukke [uit hoofsaaklik die middel van die twintigste eeu]. Ons het ook daarvan gehou om stukke uit die middel 1800’s te versamel. Ons het nog tot verlede jaar stukke aangekoop.

“Dit is ’n groot jammerte dat ons toemaak. Ek dink ons het die rolprentbedryf oor die afgelope twintig jaar gehelp. Hulle het daarvan gehou om hier by ons te kom huur omdat dit ’n wonderlike plek is.”

Moderne meubels

Hulle het hoofsaaklik aan die vervaardigers van Europese en Amerikaanse rolprente en televisiereekse verhuur. “Advertensies was in ’n stadium ook baie groot. Ons nis was moderne meubels.”

Hy noem die name van rolprente soos Invictus, Lord of War, en Blood Diamond.

“En wat was daardie rolprent met Colin Farrell in?” vra Tess.

Will kan nie onthou nie, maar vertel van ’n gesprek wat hy met Samuel L. Jackson gehad het en dat dié aan hom gesê sy agent het hom gewaarsku om nie na Suid-Afrika toe te kom nie omdat dit hier te gevaarlik is.

In Engeland het ek treine opgeblaas, ek het vliegtuie gekoop . . . ek het een keer ’n duikboot gekoop vir ’n projek!

My kollega Adrian de Kock vra vir Will of daar ’n spesifieke rolprent is waarvoor hulle rekwisiete verskaf het wat ’n groot indruk gemaak het. Will kan nie een uitsonder nie. Nog voordat hulle die besigheid begin het, was hy al alles gewoond.

“In Engeland het ek treine opgeblaas, ek het vliegtuie gekoop . . . ek het een keer ’n duikboot gekoop vir ’n projek!”

Hy vertel dan wel van die yskas waarop Dennis Hopper verlief geraak het: “Hopper het hier by ons ’n yskas uitgekies, ’n merkwaardige Amerikaanse yskas uit die sestigs in pragtige kleure. Hulle wou die yskas in ’n hawekantoor gebruik. Hopper het so baie van die yskas gehou dat hy die regisseur gevra het om ’n toneel te skep waar hy die yskas oopmaak.”

’n Oomblik later wys hy na ’n ou leerslaansak uit die 1950's en sê:

“Ons het vir die fliek Ali met Will Smith daardie sak en ander goed na Amerika toe gestuur.”

Wilbur Smith se luiperd

Die kop van ’n luiperd wat deur Wilbur Smith geskiet is. Foto: Adrian de Kock

’n Hele aantal opgestopte diere is oral sigbaar: ’n Jakkals, arende, ’n leeukop, die kop van ’n luiperd wat deur die avonturier en skrywer Wilbur Smith geskiet is (die res van die vel is op ’n rolprentstel beskadig deur die spykerhakke van modelle en daarom verwyder sodat net die kop oorgebly het); en ’n seeskilpad wat aan ’n Mafiaman behoort het.

Wanneer ek my hand oor ’n groot aardbol laat gly, lag Will en sê ’n kroeg is daarin versteek. Dan wys hy na ’n opgestopte otter en begin vertel:

“Ons het ’n naweek op ’n eilandjie by Vermaaklikheid deurgebring en daar was ’n kroeg wat deur ’n Afrikaner-dude bestuur is. Toe word ons vertel van hierdie otter wat van die riviermonding af na die kroeg toe gekom het. Almal het sy teenwoordigheid geniet totdat hy na mense begin hap het. Toe skiet die bestuurder hom waarna hy hom laat opstop en in die kroeg uitgestal het!

“Twee dae voordat ons vertrek het, het ek vir hom gevra om die otter aan my te verkoop. Nie in ’n miljoen jaar nie! was sy reaksie. Ek het gesê ek sal hom ’n paar duisend daarvoor betaal en die volgende oggend het die otter buite die plek waar ons gebly het, gestaan – hy het dit toe vir R2 000 aan my verkoop.”

Kanker en droogte

Waarom het hulle besluit om die onderneming te sluit?

“Kanker is by my gediagnoseer [sy is nou in remissie] en ek was moeg en ook uitgestres oor die rolprentbedryf. En die waterbeperkinge het besighede ’n ernstige knou toegedien,” sê Tess.

Will: “Ek het die skrif aan die muur gesien, maar ek wou dit nie aanvaar nie. Ek was so optimisties oor ons land dat ek gedink het mense sal aanhou om hier te verfilm. En vandag, met die rand wat so swak is teen die dollar en die pond, behoort enige vervaardiger na hierdie lieflike land te kom waar daar ook sulke uitstekende rolprentwerkers is.”

Die feit dat Suid-Afrikaanse produksiemaatskappye hul tariewe so kwaai verhoog het, het buitelandse maatskappye afgeskrik en tot die verswakking in die bedryf bygedra. Hy beaam dat die beperkinge wat weens die droogte ingestel is, veroorsaak het dat talle maatskappye nie weer hier kom verfilm het nie; veral ook advertensiemaatskappye – daardie eens bedrywige en winsgewende bedryf het opgedroog.

Die aktetas bo regs is deur 007 (gespeel deur Sean Connery) gebruik in die Bond-fliek Goldfinger. Foto: Adrian de Kock

Voordat ons vertrek, vra Tess: “Het jy die James Bond-tasse gesien?”

Ons stap weer die groot saal binne. By ’n volledige reeks roomkleurige Samsonite-reistasse gaan sy staan.

“Ons het die stel in Londen gekoop. Kyk net hoe pragtig . . . Die hoedetas, die smuktas . . . Daardie aktetas is in Goldfinger deur 007 [Sean Connery] gebruik,” sê sy.

Ballingskap

Tess en Will elk op ’n Eames-stoel. Foto: Adrian de Kock

Tess se pa was Harold Wolpe.

“Nelson Mandela was ’n vriend van my ouers. My pa was die prokureur wat die papiere vir die Lilliesleaf-plaas geteken het. Toe die klopjag op Lilliesleaf uitgevoer is, is my pa in hegtenis geneem terwyl hy uit die land probeer vlug het.

“Daar is toe op my oom James Kantor se regsfirma, waar my pa gewerk het, [Wolpe was met Kantor se suster AnnMarie getroud] toegeslaan. En dáár was talle lêers met die letters ANC op, wat gestaan het vir antenuptial contracts, nie African National Congress nie. Die veiligheidspolisie het egter op al daardie lêers beslag gelê.

“Toe my ma in hegtenis geneem is, het James na Percy Yutar [prokureur-generaal en staatsaanklaer in die Rivonia-verhoor] gegaan en gevra hulle moet haar laat gaan. Sy is toe vrygelaat en moes die land binne 24 uur verlaat.

“My pa het op 10 of 11 Julie 1963 uit aanhouding ontsnap en deur die destydse Betsjoeanaland na Brittanje weggekom.”

Haar grootwordjare in Engeland was moeilik.

“Ons was ’n Joodse gesin en het nie soos Engelse gelyk nie; dit het vir ons probleme geskep. Ons het baie rondgetrek . . .

The Prop House bevat ook ’n afdeling met mediese laboratoriumtoerusting en hierdie geraamte waarby Tess poseer. Foto: Adrian de Kock

“Die dag toe Mandela vrygelaat is, was ek so ontsteld want ek het geweet ons sou na Suid-Afrika moes terugkeer. Ek onthou ek het in Londen na die nuus sit en kyk en gedink: dis nou die einde . . . Ek het nie gedink ek sou ooit na Suid-Afrika terugkeer nie want ek het die land gehaat. Ek het gehaat wat gebeur het; ek het dit gehaat dat families opgebreek is en dat sommige mense ’n verskriklike dood gesterf het.”

Hul huis in Londen is dopgehou en haar pa het ’n toestel gehad waarmee hy die onderkant van sy motor bekyk het vir bomme voordat hy dit bestuur het.

“My pa was veronderstel om by Ruth First te wees [in Maputo] vir ’n vergadering toe sy vermoor is, maar hy het ’n swaar verkoue gehad en het saam met Joe [Slovo, sy vriend van kinderdae af] by die huis gebly. Gelukkig dat my pa by Joe was toe hy hoor Ruth [sy vrou] is opgeblaas.”

Wat ek ook onthou, is dat ons nanny Angelina by die lughawe nie kon sit nie omdat sy swart was.

Tess se herinneringe aan die Suid-Afrika wat sy as vyfjarige kind as banneling moes verlaat en eers weer ná dertig jaar besoek het, is yl.

“Ek onthou ’n swembadjie wat my pa vir ons in die tuin van ons huis in Orange Grove gemaak het. En ek onthou die keer toe dit gesneeu het en hoe ons buite rondgehardloop het.

“Wat ek ook onthou, is dat ons nanny Angelina by die lughawe nie kon sit nie omdat sy swart was. In Londen moes ek terapie ontvang want ek was erg getraumatiseer.”

‘Verskriklike verlies’

Al die items in The Prop House – sowat 1 500 – is reeds genommer. Op 28 en 29 September word die inhoud opgeveil.

“ ’n Mens het geheg geraak aan baie van die stukke. Hier is pragtige stukke wat ek net wil hou,” sê Tess.

Will by ’n televisiestel waarvan die ontwerp geïnspireer is deur die ruimtevaarder Joeri Gagarin se helm. Foto: Adrian de Kock

Sy wys na ’n Italiaanse leerbank en stoele en sê:

“Ek wil hierdie Zanotta hou . . . En ek wil die Hoffman-stoel hou; ek wil die Arne Jacobsen-stoel hou; die eierstoel. Daar is ’n paar dinge. O, en daardie kas agter jou wat ek in Londen gekoop het toe my pa dood is en ek ’n bietjie geld geërf het.”

Dan wys sy na ’n lieflike kas met smal laaitjies.

“Dit is die kas waarin ek my ontwerpe gehou het – ek is as tekstielontwerper opgelei – maar dit gaan ek verkoop,” sê sy.

En voeg dan by: “Ons voel verpletter. Dit is ’n verskriklike verlies.”

* Duncan Auctioneers behartig op 28 en 29 September die veiling van The Prop House se inhoud op die perseel te Railwaystraat 1, Soutrivier.

Meer oor:  Rolprentbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.