Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: 'Vuil' politiek maak koerante, TV irrelevant

Daar word reeds van Brittanje se verkiesing Donderdag gepraat as een van die vuilste ooit en een waarin die media se tradisionele greep op politieke veldtogte verbreek is, skryf Richard Sambrook.

Uitsaaiers is op die verkeerde voet betrap en koerante is vreemd genoeg gemarginaliseer terwyl die stryd op sosiale media gestry word en populistiese knoppies gedruk word waar hulle ook al gevind kan word.

En die kiesers is tam.

Soos Peter Geoghegan en Mary Fitzgerald van OpenDemocracy onlangs in The New York Times geskryf het: “Die Britse kiesers moet jammer gekry word, want hulle word bestook met verdraaiings, ’n gehuigel en waninligting soos nog nooit in die land se geskiedenis gesien is nie. Daar is vir lank op sentimentele wyse verwys na die tuiste van ‘regverdige spel’ maar Brittanje is nou gasheer vir ’n virus van leuens, bedrog en digitale swendelary wat baie ander lande in die wêreld teister.”

Tog, soos met tegnologie, geld Amara se wet dalk: die impak van die veldtog mag dalk oorskat word op kort termyn en onderskat word op lang termyn. Die lys van oortredings is goed gedokumenteer, maar tot dusver lyk dit of daar nie juis ’n politieke prys betaal word nie.

Die Konserwatiewe Party het sy Twitter-rekening ’n nuwe handelsmerk gegee sodat dit lyk na ’n onafhanklike rekening wat feite nagaan tydens ’n leiersdebat en probeer het om die bekendstelling van die Arbeidersparty se manifes te “Google-kaap” met ’n fopnuus-webwerf.

Hulle het ’n video van die Arbeidersparty se Keir Starmer geredigeer sodat dit gelyk het asof hy nie ’n vraag kon antwoord nie en ’n ander een sodat dit lyk asof senior joernaliste van die BBC met hul beleid saamstem.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, hou ’n kopie van die ‘Daily Mirror’ vas terwyl hy ’n byeenkoms in Bristol toespreek. Foto: Getty Images

Intussen het hulle nie by hul woord gehou oor sprake dat Boris Johnson, premier, ’n onderhoud sal voer met die BBC se Andrew Neil nie (een Tory het skynbaar aan joernaliste gesê hulle sal eerder ‘chicken’ genoem word as om daardeur te gaan) en die premier het geweier om aan Channel 4 se klimaatsdebat deel te neem. Michael Gove en Johnson se pa, Stanley, is as plaasvervangers gestuur.

Die Liberaal Demokrate is gekritiseer vir grafika in sy veldtog-literatuur wat hul posisie beter laat lyk het as wat dit is en vir die verspreiding van propaganda wat ontwerp is om soos onafhanklike plaaslike koerante te lyk.

Hulle moes ook tugstappe doen teen ’n personeellid wat ’n e-pos vervals het om ’n nuusberig wat hulle as “onverantwoordelik” bestempel het die nek in te slaan.

Die Arbeidersparty se ondeundheid was minder ooglopend, maar Jeremy Corbyn het beweerde handelsdokumente rondgeswaai wat glo gelek is en wys dat die Tories die NHS (nasionale gesondheidstelsel) wil verkoop – maar dié dokumente was al vir weke aanlyn te sien. Die Arbeiders het ook geweier om vrae te beantwoord oor onderwerpe wat hulle nie self gekies het nie.

Die Tories se Jong Turke

Matt Hancock, minister van gesondheid, en Nicky Morgan, minister van digitaal, kultuur, media en sport, by die bekendstelling van die Konserwatiewe Party se kultuur se digitale veldtog vir Donderdag se verkiesing. Die plakkaat in die agtergrond probeer munt slaan uit wat Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, se besluitloosheid genoem word. Foto: AP

Die Konserwatiewes het ’n jong digitale span aangestel onder leiding van Isaac Levido, ’n Australiese politieke strydros, om taktiek te gebruik wat vroeër vanjaar in die Australiese verkiesing vir Scott Morrison gewerk het.

Hulle het in wat skynbaar die “peul van mag” genoem word (die Konserwatiewes se hoofkantoor), gewerk en vinnige onverwerkte inhoud vir sosiale media gelewer wat bedoel was om mense te skok, emosies wakker te maak en woede, opwinding en vrees te ontlok in wat die “stryd van die duime” genoem is – ’n verwysing na die belangrikheid van slimfone en die deel van aanlyn inhoud.

Miskien het hulle gevoel met die publiek se vertroue in politici wat besig is om in duie te stort, het hulle niks om te verloor nie. Maar dié taktiek word onderlê deur ’n siniese beskouing van die publiek wat nie tot ’n gesonde politieke grondslag op lang termyn sal lei nie.

Die BBC het gestruikel met sommige kleinerige redaksionele foute wat hy halfhartig erken het.

Intussen is die poging om die legitieme middelgrond in ’n gepolariseerde wêreld waar jy “óf vir ons, óf teen ons is” te vind, ’n futiele oefening vir uitsaaiers wat gereguleer word om onpartydig en akkuraat te wees.

Diegende wat polities oortuig is – wat enige regulering as eensydig kan beskou – stel nie belang in definisies van onpartydigheid nie.

Baie sal sê dit is nou irrelevant – vandaar die klagtes oor valse balans en openbare oproepe vir uitsaaiers om die waarheid te vertel eerder as om bloot mededingende argumente teenoor mekaar te stel. Die BBC het gestruikel met sommige kleinerige redaksionele foute wat hy halfhartig erken het, en dit is aangegryp deur diegene wat gesoek het na tekens van vooroordeel.

Jeremy Corbyn (links), leier van die Arbeidersparty, en Boris Johnson (middel), Britse premier en leier van die Konserwatiewe Party, tydens verlede week se televisiedebat. Nick Robinson was die aanbieder. Foto: Getty Images

Channel 4 het ’n strydlustige houding ingeneem met Dorothy Byrne, sy hoof van nuus en aktuele sake, wat Johnson by Edinburg se televisiefees ’n “alombekende leuenaar” genoem het.

Dié uitsaaier het ook ’n onbuigsame houding gehad en 'n ysbeeld van Johnson gebruik tydens sy klimaatsdebat waaraan Johnson nie wou deelneem nie.

Die regering het op sy beurt dreigende geluide gemaak om weer te kyk na Channel 4 se toelaag.

Channel 4 was dalk dapper, maar veglustigheid moet net as ’n laaste uitweg gebruik word. Soos ’n voormalige voorsitter van Channel 4 gesê het: “Moenie op ’n baksteenmuur afjaag nie, ry eerder om dit.”

Koerante, eens krasse stemme, sukkel nou om gehoor te word te midde van die aanlyn kakofonie.

In teenstelling daarmee, het die BBC eers sterk gestaan toe die premier anders as ander leiers geweier het om hom aan ’n forensiese kruisondervraging van Andrew Neil te onderwerp, maar hom later sagkens behandel op Andrew Marr se Sondagoggendprogram. Daar is aangevoer dat hulle hom steeds probeer oortuig om die moeiliker onderhoud te doen. Moet egter nie jul asem ophou nie. Dit het op weifelagtigheid neergekom op ’n tyd toe onwankelbaarheid beter sou wees.

Dit lyk of uitsaaiers op die verkeerde voet betrap is en of hulle gedwing is om standpunte in te neem wat niemand gehelp het nie. Koerante, eens krasse stemme, sukkel nou om gehoor te word te midde van die aanlyn kakofonie.

Maar te midde van al die geraas en rook op sosiale media, was daar heelwat goeie verslaggewing. Soos Fran Unsworth, direkteur van BBC Nuus, in The Guardian geskryf het, het dié uitsaaier ondanks kritiek – van dit geregverdig, maar die meeste nie – steeds onder meer diepgaande onderhoude met leiers gebied, feite nagegaan en beleidsrigtings ontleed.

Dit is daar as jy daarvoor soek – en die uitsaaibedryf word steeds as meer geloofwaardig as die gedrukte media beskou. En te midde van ’n storm van partydigheid het uitsaaiers koers gehou. So miskien is dit alles net die gewoel van ’n veldtog vol haat en nyd en daarna sal dinge weer kalm word. Miskien.

Moeilikheid vir die toekoms

Jo Swinson, leier van die LIberaal-Demokrate, staar in oënskynlike afgryse na ’n marionet van premier Boris Johnson, in Edinburg. Foto: Reuters

Maar dit is waar die langtermyngevolge ter sprake kom. Politieke partye het die media ongetwyfeld probeer ondermyn deur populistiese knoppies te druk en die standaarde van verkiesingsveldtogte te ignoreer. En ons media-instellings het gesukkel om vinnig by die nuwe taktieke aan te pas – die toon en tydskaal van digitale veldtogte en onkonvensionele en ontwrigtende strategieë.

Gevolglik het hulle lomp en loodvoetig gelyk.

Die openbare uitsaaiers is, nes ander sfere van die openbare lewe, deur ’n moeilike dekade van besuinigings-befondsing waar finansiële doeltreffendheid as belangriker as openbare waarde beskou is.

Nou gaan die BBC en Channel 4 waarskynlik wie ook al die verkiesing wen vervreem.

Dit is nie bevorderlik vir ’n sterk stabiele uitsaai-omgewing wat reg staan om die verantwoordelikheid te neem wat ons van openbare instellings verwag nie.

Brittanje se uitsaaiers – ITV, Sky, Channel 5 én die BBC en Channel 4 – was nasionale suksesstories wat die land bymekaar gehou het met oomblikke van gedeelde ervarings wat die lewe van al die Britse nasies weerspieël het. Só iets lyk nie altyd moontlik in tye van verdeeldheid waarin populisme toeneem nie.

Konsensus neem af en word vervang met omvattende skeptisisme en sinisme. Verdeeldheid neem nie net toe tussen kiesers wat deel van die Europese Unie wil bly en dié wat dit wil verlaat nie, maar ook tussen stedelik en landelike gemeenskappe, noord en suid, ryk en arm, ingeligtes en oningeligtes en jonk en oud.

Dit word deels aangevuur deur ekonomiese beleid, maar meestal deur groot tegnologie. Sosiale media het aan elkeen ’n stem gegee – insluitende dié wat min het om te sê – en dit het die media en politici in ’n populistiese slagyster laat trap in die hoop dat hulle daardeur die mening van die massas sal weerspieël. Groot tegnologie se platforms het die publiek se aandag opgeslurp, modelle van die openbare media gebreek, ons lewe binnegedring en ons data verkoop.

Hulle het ’n platform geskep vir propaganda en waninligting wat nie in analoog-wêreld toegelaat sal word nie en vir hulle was hul eie winste belangriker as die openbare belang.

Boris Johnson, Britse premier, praat met ’n inbeller by die Konserwatiewe Party se hoofkantoor in Londen. Foto: Reuters

Met kunsmatige intelligensie wat vinnig ontwikkel, sal die samelewing se bestuur en verstaan van inligting selfs nog verder agteruitgaan.

Ondanks die talle oproepe vir regulasie of meer opvoeding in mediageletterdheid, is dit onwaarskynlik dat ’n nuwe regering die moed sal hê of dat dit vir hom ’n prioriteit sal wees om Facebook en Google aan te vat.

Daar is, soos die kommentator Azeem Azhar dit bestempel het, ’n groterwordende gaping tussen nuwe tegnologie en instellings se vermoë om daarop te reageer. Dit word weerspieël in die stadige reaksies, die onvanpaste toon en geslote benadering rakende die bestuur van krisisse wat ons in openbare uitsaaiers sien.

Hoewel hulle glo dat hulle by die nuwe digitale wêreld aanpas, verander die korporatiewe kultuur nie. Dit word steeds deur offisiere beheer wat deur infanteriste bedien word.

Politieke advertensies op die internet en die befondsing van partye moet ook openlik en deursigtig gereguleer en georganiseer word.

Wat gaan anders wees in ’n volgende verkiesing oor vyf jaar? Brittanje het ’n meer deursigtige benadering tot politieke veldtogte nodig.

Soos Adam Boulton, Sky News se buitengewone redakteur, ons verlede week herinner het, is daar steun vir ’n onafhanklike kommissie om televisiedebatte in die toekoms te organiseer. Dit gebeur reeds in Amerika.

Dit sal beteken dat die demokratiese noodsaaklikheid van aspirant-leiers wat met die publiek praat bestuur word deur ’n onafhanklike, deursigtige en formele proses. Dit sal dan nie langer agter geslote deure bespreek word en op sogenaamde ooreenkomste tussen here berus nie.

Politieke advertensies op die internet en die befondsing van partye moet ook openlik en deursigtig gereguleer en georganiseer word. Dit kan nie meer gebeur dat buitelandse oligarge honderdduisende vir ’n ete of ’n potjie tennis betaal nie. Daar sal ook nie meer Facebook-advertensies wees wat op ’n sekere groep gerig en beperk is en nie waar of akkuraat hoef te wees nie.

Die gehoor by verlede week se televisiedebat tussen Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, en Boris Johnson, Britse premier en leier van die Konserwatiewe Party. Foto: Getty Images

Die uitsaaiers, altyd mededingend, sal moet saamwerk om verhoudinge met die partye en die kolosse van die tegnologie-wêreld te bestuur. Hulle sal net vertrap word as hulle dit op hul eie probeer doen. Hulle het baie groter deursigtigheid nodig – om hul waardes en oordele te verduidelik, die “waaroms” sowel as die “wat” van hul besluitneming wat die publiek in die duister hou.

Dit sal dalk ook nodig wees om hulself te speen van die geheime bearbeiding en die aanhaal van ontoeskryfbare anonieme bronne met die nuutste skinderstories. Laat ons die deure oopgooi en verslaggewers toelig op sessies in Westminster wat op rekord is.

Politiek en die media het groter verskeidenheid nodig. Soos ’n senior uitvoerende hoof van ’n uitsaaier aan my gesê het: “Dit is nie genoeg om hulle na die tafel te nooi nie – ons moet die tafel vir hulle gee,” het hy gesê met verwysing na die jeug en mense wat op etniese en sosiale vlak uiteenlopend is.

Brexit sal die openbare lewe vir minstens die volgende vyf jaar oorheers.

Niks hiervan sal uiteraard gou gebeur nie. Vuil politieke truuks bring jou min of niks in die sak nie.

Die aantrekkingskrag daarvan om mag agter geslote deur te hou, is te groot.

Brexit sal die openbare lewe vir minstens die volgende vyf jaar oorheers. Maar die sinisme van politieke leuens en die vrees om beheer te verloor deur die deure van mag oop te gooi kan nie voortduur nie.

As politiek en instellings, insluitende die media, nie vinnig met deursigtigheid, diversiteit en openheid aanpas nie, sal die historiese, sosiale en tegnologiese veranderings wat ons ondervind dit uiteindelik breek.

* Richard Sambrook is ’n professor in joernalistiek en direkteur van die sentrum vir joernalistiek by die Universiteit van Cardiff. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Bbc  |  Jeremy Corbyn  |  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Britse Verkiesing  |  Media  |  Sosiale Media  |  Koerante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.