Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kyk wat doen die weer aan misdaad!

’n Studie oor die verband tussen misdaad en klimaat in ’n Suid-Afrikaanse stad het interessante bevindings aan die lig gebring, skryf Gregory Breetzke.

Hoe warmer dit is, hoe meer misdaad word gepleeg, is in ’n onlangse studie bevind. Foto: Shutterstock

Die belangstelling in die verband tussen klimaat en misdaad neem oor die afgelope dekades regoor die wêreld toe. Die meeste navorsing hieroor het tot dusver teenstrydige resultate opgelewer.

Sommige studies het byvoorbeeld geen seisoenale wisselings in die voorkoms van misdaad aan die lig gebring nie. Ander het weer bevind misdaad neem in óf die winter óf die somer toe.

Wat Suid-Afrika betref, is baie min hieroor bekend. Ons het dus in Pretoria so ’n studie onderneem. Ons wou spesifiek vasstel of temperatuur en reënval ’n noemenswaardige uitwerking op die voorkoms van misdaad het. Met ander woorde: Is daar op baie warm dae en dae waarop dit baie reën ’n laer of hoër voorkoms van geweldsmisdaad (insluitende van ’n seksuele aard) en misdaad waarby eiendom betrek word?

Wanneer die temperatuur styg, neem die misdaad ook toe.

Ons wou ook uitvind of die plekke waar dié misdaad voorkom, deur sulke weersomstandighede beïnvloed word. Dit wil sê: Kom misdaad op baie koue dae op ander plekke voor as op baie warm dae?

Ons bevindinge dui op ’n sterk verband tussen temperatuur en misdadige bedrywighede – wanneer die temperatuur styg, neem die misdaad ook toe. Die verband tussen reënval en misdaad is kleiner terwyl weersomstandighede ’n noemenswaardige invloed het op waar misdade plaasvind.

Die resultate van die navorsing kan wetstoepassingsagentskappe help om beter te verstaan hoe weersomstandighede misdaadpatrone in Suid-Afrika se stedelike gebiede beïnvloed en om toepaslike misdaadvoorkomingstrategieë te skep en toe te pas.

Die data

Die idee dat daar ’n verband tussen misdaad en klimaat is, is nie nuut nie. Meer as ’n eeu gelede het die Belgiese sosioloog Adolphe Quételet bevind misdade teen mense bereik in die warmer somermaande ’n hoogtepunt terwyl misdade teen eiendom in die winter opskiet.

Hy het later die temperatuur-aggressie-teorie ontwikkel wat ’n sielkundige verklaring bied vir die toename in misdaad in warmer maande. Hiervolgens sal hitte lei tot ’n toename in ’n persoon se vlakke van frustrasie en ongemak en dus ook die waarskynlikheid van aggressiewe gedrag. En siedaar – interpersoonlike misdade soos aanranding steek kop uit.

Ons het data- en statistiese ontledings in Pretoria gedoen om te kyk of daar ’n verband – indien enigsins – is tussen ekstreme weerstoestande en misdaad. Ons het van die Suid-Afrikaanse Weerdiens klimaatsdata van September 2001 tot Augustus 2006 verkry.

Geweldsmisdade het op warm dae met 50% toegeneem in vergelyking met baie koue dae.

Daarna het ons die tien warmste dae van elke jaar bepaal. Die proses is herhaal met betrekking tot dae met ’n lae temperatuur, hoë reënval-dae, dae waarop dit nie gereën het nie, en lukrake reënval-dae.

Toe het ons na misdaadstatistieke vir dieselfde tydperk gekyk wat ons by die polisie se misdaadinligting-en-ontledingsentrum gekry het.

Dié data het ingesluit die geografiese ligging van elke misdaad, die datum en tyd van die misdade en die aard van die misdade. In daardie vyf jaar is 1 361 220 misdade in 32 kategorieë aangemeld. Al die misdade is toe gekategoriseer volgens geweldsmisdade, misdade van ’n seksuele aard en misdade teen eiendom, voordat ons bepaal het hoeveel van watter tipe misdade per dag gepleeg is.

Daarna het ons bepaal welke invloed klimaat en reënval het op waar misdade gepleeg word.

Die bevindings

Ons bevindings dui aan dat die voorkoms van die genoemde drie kategorieë van misdaad in Pretoria noemenswaardig beïnvloed word deur temperatuur en, tot ’n mindere mate, reënval.

Geweldsmisdade het op warm dae met 50% toegeneem in vergelyking met baie koue dae. Seksuele misdade het met 41% toegeneem en eiendomsmisdade met 12%. Geweldsmisdade en seksuele misdade het op hoë reënval-dae afgeneem en verbasend genoeg het eiendomsmisdade op sulke dae met 2% toegeneem.

Wat ligging betref, is bevind temperatuur en reënval het ’n invloed gehad op waar geweldsmisdaad en eiendomsmisdaad plaasvind, maar nie op seksuele misdade nie.

Nog navorsing moet gedoen word om hierdie bevindinge te bevestig en om te bepaal of dit ook op ander stedelike gebiede in Suid-Afrika toegepas kan word.

Toepassings

Die resultate van hierdie navorsing het die potensiaal om misdaadbestryders in Suid-Afrika in hul stryd te help.

Ons bevindings kan gebruik word om gemeenskappe te eien wat meer geneig gaan wees om onder misdaad deur te loop in sekere weerstoestande, en misdaadbestryders in staat stel om voorkomend op te tree. Dit help hulle ook om strategieë vir soortgelyke buurte te ontwikkel.

Die polisie en ander wat spesifiek gemoeid is met langtermynoplossings vir misdaad kan in hul ontleding van misdaadpatrone dus ook die invloed van weersomstandighede op misdaad in ag neem en sodoende gepaste voorkomingsmaatreëls in werking stel.

* Gregory Breetzke is ’n medeprofessor in die departement geografie, geo-informatika en meteorologie aan die Universiteit Pretoria.

* Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Pretoria  |  Klimaat  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.