Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Wat gaan nou in Sirië gebeur?

Die Siriese konflik is nie verby nie, dit is bloot op ’n nuwe trajek, skryf Mehmet Ozalp.

’n Noemenswaardige wending het in Desember in die Siriese konflik plaasgevind. Die gebeure aan die einde van 2018 het die land op ’n nuwe trajek geplaas, een waarop pres. Basjar Al-Assad sy mag wil konsolideer en die Islamitiese Staat (Isis) ’n geleentheid sien om met sy bedrywighede voort te gaan.

Pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye het die bal aan die rol gesit met sy aankondiging dat hy met militêre optrede oos van die Eufraatrivier gaan begin in ’n gebied wat beheer word deur die Amerikaans gesteunde Siries Demokratiese Magte. Die groep staan onder Koerdiese leiding.

Al-Assad en Rusland, sy grootste bondgenoot, het sedert die begin van die agt jaar lange konflik nog nie militêr met die Koerde slaags geraak nie.

Al-Assad en Rusland het die Koerde nie as terroriste of insurgente beskou nie maar as beskermers van hul gebied teen Isis en ander jihadistiese magte.

Turkye beskou egter die Koerdiese streek as ’n bedreiging. En sy vrese is legitiem: Indien die Koerdiese streek in Sirië onafhanklikheid verkry, kan dit verenig met die Koerdiese streek in die noorde van Irak en uiteindelik die hoofsaaklik Koerdiese suidooste van Turkye eis.

Turkye se beoogde militêre operasie oos van die Eufraat het nog nie begin nie, maar die aankondiging was ’n sterk stap gerugsteun deur die groot militêre magsopbou op die Turkse-Siriese grens. Dit het druk op die Amerikaanse regering en pres. Donald Trump geplaas om ’n besluit oor Sirië te neem: Staan sterk teen Turkye en plaas verdere druk op die reeds gespanne verhouding, of onttrek aan die land en ontduik só enige verantwoordelikheid vir die situasie.

Trump het die tweede keuse gekies – hy het verklaar die VSA sal sy magte volledig aan Sirië onttrek en Patriot- grond-tot-lug missiele aan die Turke verkoop om hul poging om die Russiese S-400-missielstelsel aan te skaf te verhoed.

Die onttrekking van Amerikaanse magte is op kenmerkende Trump-wyse op Twitter gedoen:

“Ná geskiedkundige oorwinnings oor Isis is dit nou tyd om ons goeie jong mense huis toe te bring!”

Amerikaanse beleid

’n Rookwolk hang oor Bagoez in Sirië ná ’n lugaanval die naweek. Lugaanvalle van die koalisie onder leiding van die VSA vind nog gereeld plaas om die Islamitiese Staat uit dorpe te verdryf. Foto: Getty Images

Trump het dit sedert April 2018 duidelik gemaak dat hy wil hê die VSA moet hom aan Sirië onttrek. Tien dae nadat hy sy voorneme bekend gemaak het, het chemiese aanvalle Trump gedwing om sy magte in Sirië te hou en terug te slaan. Maar hierdie keer het die druk van Turkye gewerk óf Trump het dit gesien as die ideale tyd om uitvoering te gee aan sy plan om te onttrek.

Tydens oudpres. Barack Obama se bewind was die VSA se buitelandse beleid met betrekking tot Sirië om daar aan te bly totdat Isis volkome verslaan was, Iran en sy bondgenote verwyder is, en ’n politieke oplossing in ooreenstemming met die Geneefse vredesamesprekings onder leiding van die Verenigde Nasies (VN) bereik is. Trump het beweer die eerste doelwit is bereik en het dit as voldoende gronde beskou om te onttrek.

’n Vegter van die Siries Demokratiese Magte lê aan op ’n stelling van die Islamitiese Staat naby Bagoez. Foto: Getty Images

Toe kondig Trump op 21 Desember 2018 aan James Mattis, die minister van verdediging, gaan aan die einde van Februarie aftree. The Washington Post het berig Mattis en Trump het kwaai koppe gestamp oor die Siriese onttrekking. Mattis het in sy bedankingsbrief aan Trump geskryf: “Jy het die reg op ’n minister van verdediging wie se standpunte meer met joune ooreenstem”.

Die Amerikaanse beleid oor Sirië word al sedert die begin van die konflik in 2011 gekenmerk deur verskille. Trump het tot dié verwarring bygedra en sy lukrake besluitneming is ook tekenend van sy ontevredenheid met sy eie regering.

Rusland se spel

’n Libanese weermagoffisier met Siriese kinders wat oor die grens na Libanon gevlug het. Foto: Reuters

Die wêreldwye kommer is natuurlik dat die VSA se onttrekking Rusland die streek se militêre en politieke leier sal maak met Iran en Turkye as sy bondgenote. Pres. Wladimir Poetin van Rusland het al in die openbaar gesê Rusland respekteer Turkye se nasionale belange in Sirië.

Hy het bygevoeg Turkye is bereid om kompromieë aan te gaan, saam te werk om die situasie te verbeter, en teen terrorisme te beveg.

Een Russiese oogmerk is om te verseker Al-Assad bly Sirië se president. Rusland mag Turkye toelaat om beperkte operasies in die Koerdiese streek uit te voer, nie net om ’n kompromis met Turkye te handhaaf nie, maar ook om uiteindelik druk op Koerdiese magte uit te oefen om met Rusland saam te werk en Al-Assad se regime te aanvaar.

Rusland is besig om ’n fyn strategie te bedryf – hy stel Turkye tevrede, maar nie ten koste van Al-Assad se soewereiniteit in Sirië nie. Erdogan was ’n groot teenstander van Al-Assad in die vroeë jare van die konflik. Rusland maak daarop staat dat Erdogan se erkenning van Al-Assad ander lande met ’n Soenni-meerderheid sal oortuig om hulle by die Rusland-Sirië-kamp te skaar.

Die Turkse minister van buitelandse sake het al gesê Turkye sal dit oorweeg om met Al-Assad in Sirië saam te werk indien Sirië demokratiese verkiesings hou. Maar Al-Assad sal natuurlik net tot ’n verkiesing instem as hy die versekering kry dat hy sal wen.

Die dorpie Toeh in Sirië is in puin gelê ná verskeie aanvalle van regeringsmagte. Foto: Getty Images

Die Verenigde Arabiese Emirate het aangekondig hy gaan sy ambassade in Damaskus heropen en daarna het Bahrein verklaar hy het nooit sy diplomatieke betrekkinge met die Siriese regering verbreek nie. Hoewel Saoedi-Arabië dit ontken het, was daar al mediaberigte dat dié land se ministerie van buitelandse sake diplomatieke betrekkinge met Sirië gaan aanknoop.

’n Belangrike stap in Turkye se erkenning van Al-Assad was tydens ’n ontmoeting op 23 Januarie tussen Poetin en Erdogan. Poetin het Erdogan herinner aan die Adana-ooreenkoms van 1998 tussen Turkye en Sirië. Die ooreenkoms het ’n tydperk van ongekende bilaterale betrekkinge tussen Sirië en Turkye ingelui. Dit het tot 2011 geduur toe die huidige konflik uitgebreek het.

Erdogan het toegegee die ooreenkoms bestaan nog, waarmee hy bedoel het Turkye en Al-Assad se regering kan saamwerk teen terreur. Trump het moontlik ook nie ’n probleem hiermee nie. Toe hy Amerika se oorwinning in Sirië aangekondig het, het hy geen melding gemaak van Al-Assad nie, wat daarop dui hy gee nie om of Al-Assad aan die bewind bly al dan nie.

Die Islamitiese Staat

Vegters van die Siries Demokratiese Magte het in Oktober 2018 hul oorwinning oor die Islamitiese Staat in die Rakka-provinsie in Sirië herdenk. Foto: Reuters

Die grootste bekommernis is dat die Amerikaanse onttrekking aan Sirië Isis sal laat terugkeer. Die groep het beheer oor groot gebiede en die belangrike stede Mosoel in Irak en Rakka in Sirië verloor. Hadjin, die laaste dorp onder Isis-beheer, is in Desember deur koalisiemagte verower. Ondanks dié oorwinnings is dit te gou om te sê Isis is nek omgedraai.

Trump het hiervoor ook ’n oplossing – uitkontraktering. In ’n twiet op 24 Desember het hy aangekondig Erdogan sal “wat ook al van Isis in Sirië oor is, uitroei”. Dít is hoogs onwaarskynlik aangesien Turkye se grootste besorgdheid die Koerdiese streek in die noorde van Sirië is waar Isis na alle waarskynlikheid geen bedreiging sal inhou nie.

Gegewe die feit dat Rusland en Al-Assad die belangrikste magte in Sirië gaan wees, sal húl beleide die toekoms van Isis bepaal. Al-Assad sou nie wou hê Isis moet sy regering bedreig nie. Terselfdertyd was Al-Assad se aanspraak op legitimiteit deur die loop van die burgeroorlog sy stryd teen terrorisme, soos verpersoonlik deur Isis. Indien Isis in een of ander vorm sou voortbestaan, sal dit tot Al-Assad se voordeel strek in die deurslaggewende jare waarin hy sy mag sal wil konsolideer. Dit mag daartoe lei dat hy voorgee om op Isis toe te slaan maar hulle nie heeltemal uitwis nie.

Kinders by ’n vlugtelingkamp in Sirië. Foto: Reuters

Isis sal natuurlik hard probeer om te oorleef. Hy het steeds ’n groot aantal gesoute bevelvoerders en vegters wat guerrilla-oorlogvoering op die streek kan loslaat. Daarby het Isis operateurs regdeur Sirië wat selfmoordbomaanvalle in Siriese stede kan doen soortgelyk aan wat hulle in Irak gedoen het.

Israel is intussen al sedert Mei 2018 besig om Iranse teikens in Sirië aan te val. Israeli-lugaanvalle het in Januarie toegeneem en is helder oordag uitgevoer. Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het die aanvalle erken en gesê Israel se “staande beleid” is om toe te slaan op Iran wat hom in Sirië ingegrawe het.

Ons kan verwag om in 2019 nog meer konflik tussen Iran en Israel te sien noudat die VSA sy voorneme laat vaar het om Iran se teenwoordigheid in Sirië teen te werk.

Die Siriese konflik is nie verby nie. Dit is bloot op ’n nuwe trajek. Die Amerikaanse onttrekking gaan na alle waarskynlikheid ’n magsvakuum veroorsaak wat vinnig deur ander streeksmoonthede soos Turkye, Iran en Israel gevul sal word – onder die wakende oog van Rusland.

* Mehmet Ozalp is verbonde aan die Charles Sturt Universiteit waar hy medeprofessor in Islamitiese Studies, direkteur van die Sentrum vir Islamitiese Studies en Beskawing, en uitvoerende lid van openbare en kontekstuele teologie is. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Isis  |  Recep Tayyip Erdogan  |  Donald Trump  |  Basjar Al-Assad  |  Wladimir Poetin  |  Rusland  |  Sirië  |  Amerika  |  Turkye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.