Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Wink volstrekte meerderheid vir Boris-hulle?

Donderdag gaan die Britte hul kruisies in ’n belangrike algemene verkiesing trek. Wat verdeel hulle en wat meen kenners kan die uitslag wees? Leopold Scholtz doen verslag.

Donderdag se verkiesing is die derde stemmery in iets meer as vier jaar. Dis die tweede algemene verkiesing, wat aangevul is deur ’n referendum.

Natuurlik het talle kwessies ’n rol gespeel – die stelsel van nasionale gesondheidsorg, onderwys, immigrasie, die ekonomie, misdaad, noem maar op. Maar die een kwessie wat alles oorheers, was Brexit, oftewel Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU). Dit het die land tot in sy diepste kern verdeel.

Dit het alles begin in Junie 2016, toe die destydse premier, David Cameron, op die idee gekom het om die regtervleuel in sy eie regerende Konserwatiewe Party hok te slaan. Dié rebelle het ’n soort guerrilla-oorlog teen sy gematigde beleid gevoer en die kwessie van Brittanje se lidmaatskap van die EU as wapen teen hom gebruik.

Organiseer ’n referendum, het hy gemeen, en snoer die monde van die rebelle vir altyd.

Daar was net een probleem met dié strategie. Hy het verloor. Weliswaar taamlik naelskraap (52-48%), maar die opdrag was duidelik: Neem Brittanje uit die EU!

Cameron kon dié neerlaag nie oorleef nie en het plek gemaak vir Theresa May. Maar May se weifelende leiding en gebrekkige greep op die Tory-party het ’n chaos in die Britse politiek teweeg gebring, en sy het herhaaldelike stemmings in die laer huis verloor oor hoe om Brexit te bewerkstellig.

Dus het sy op haar beurt plek gemaak vir die flambojante Boris Johnson, wat beloof het om Brexit vir eens en altyd agter die rug te kry. Hy sukkel weliswaar om ’n behoorlike skeidingsooreenkoms met Brussel te bereik, maar hoop dat ’n goeie uitslag in vandeesweek se vervroegde verkiesing hom meer politieke spierkrag in die onderhandelings kan besorg.

Johnson en Corbyn die hoofkarakters

Die grootste kwessie in Donderdag se Britse verkiesing is ongetwyfeld Brexit. Boris Johnson, Britse premier, verduidelik op ’n vergadering naby Gloucester hoe hy sal toesien dat Brittanje uiteindelik aan die Europese Unie onttrek. Foto: Getty Images

Johnson is die een hoofkarakter in die verkiesing. Die ander is Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty. Hoe weeg hulle teen mekaar op?

Johnson en die waarheid is nie goeie vriende nie. Meer nog, hy staan bekend as ’n flagrante leuenaar wat byna patologies oor enigiets onder die son lieg.

Reeds as Brusselse korrespondent vir koerante in Brussel is hy herhaaldelik betrap dat hy berigte uit sy duim suig om die EU sleg te laat lyk. En ook as premier het koerante hom verskeie kere op leuens uitgevang.

Maar Johnson vergoed hiervoor deur ’n uiters sjarmante, seunsagtige manier om met mense om te gaan. ’n Voorbeeld: Op een van sy onlangse verkiesingsvergaderings is hy gevra wat na sy mening die straf moet wees vir politici wat lieg. So glad soos ’n paling het Johnson hom daaruit gewikkel: “Hulle moet op hul knieë deur die laer huis kruip terwyl hulle hulself pynig met kopieë van die leuenagtige dokumente.”

Die mense by die vergadering het by wyse van spreke oor mekaar geval van die lag. Johnson is onmiddellik vergewe en het waarskynlik selfs ’n paar stemme gewen.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, het vandeesweek ’n draai in Nailsworth by die stadion van Forest Green Rovers, ’n span wat in die vierde liga meeding, gemaak om stemme te werf. Foto: AP

Daarteenoor maak Corbyn ’n voortdurende suur, woedende indruk. Hy is geen slegte spreker nie, maar maak nie harte warm nie.

Daarby is hy in ’n sekere sin Johnson se grootste bondgenoot. Corbyn is naamlik ’n linkse ekstremis, iemand wat bekend staan as ’n Trotskiïs, iemand wat baie goeie dinge in Wladimir Lenin se ideologie sien.

Hy het slegs deur ’n nuwe stelsel leier van die Arbeidersparty geword. Pleks van die koukus, is dit nou die léde wat die partyleier kies – en in die maande voor die partyverkiesing is tienduisende linkse ekstremiste spesiaal as lede gewerf om vir hom te stem.

Hier het die Britte dus te make met ’n leier wat nie werklik die steun van sy party-establishment geniet nie. Dit gaan onder die kiesers nie ongemerk verby nie, en dit sal beslis in die verkiesingsuitslag weerspieël word.

Nog ’n nadeel vir Corbyn is dat hy, anders as Johnson, geen duidelike standpunt oor die EU het nie. Diep in sy hart beskou hy die EU as ’n kapitalistiese sameswering en wil hy ook met die liggaam breek, maar die party-establishment dink anders.

Dus is die standpunt wat hy in die openbaar verkondig, halfhartig: Hy wil ’n tweede referendum hê, maar sal daarin geen standpunt vir of teen EU-lidmaatskap stel nie.

Wat die peilings voorspel

Meningspeilings wil dit hê dat premier Boris Johnson se Konserwatiewe Party ’n absolute meerderheid in die laer huis gaan hê ná Donderdag se verkiesing. Foto: Getty Images

Wat is die vooruitsigte vir die verkiesing?

Volgens die gemiddelde van alle peilings, soos gepubliseer op die webwerf Politico.EU, kan die Tories 43% van die stemme verwag, die Arbeiders 33%, en die Liberaal-Demokrate (die enigste party wat onomwonde vir voortgesette lidmaatskap van die EU is) 12%. Die Skotse Nasionaliste staan op 4% en Nigel Farage se Brexit-party op 3%.

Vergeleke met 2015 sou die Tories min of meer dieselfde persentasie kry; die Arbeiders sou van 40 na 33 duik, die LibDems sou van 7,4 tot 12 groei en die Skotse Nasionaliste van 3 tot 4%.

’n Tiende van die kiesers het nog nie besluit vir wie hulle gaan stem nie.

Een rede vir die Konserwatiewe se verwagte oes is dat die Brexit-party besluit het om geen kandidate te stel in kiesafdelings waar dit ’n Tory-oorwinning kan keer nie. Dit beteken dat baie potensiële Brexit-stemmers geen ander keuse het as om vir die Konserwatiewe kandidaat te stem nie.

Die huidige peilings sê weens die Britse kiesstelsel egter nie alles nie. ’n Kandidaat word in ’n kiesafdeling verkies as hy ’n relatiewe meerderheid stemme kry. Teoreties is dit moontlik dat ’n party wat 50,1% van die stemme in élke kiesafdeling trek, dus ál die setels in die laerhuis kan beset.

Die peilings wys egter ook iets uiters interessants, naamlik dat sowat ’n tiende van die kiesers nog nie besluit het vir wie hulle gaan stem nie, en dat hulle takties gaan stem.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, spreek ’n byeenkoms in Bristol toe. Dit is tot Corbyn se nadeel dat hy nie ’n sterk standpunt het oor Brittanje se verhouding met die Europese Unie nie. Foto: Reuters

Luidens een peiling kan tot 44% van die mense wat éintlik tot die Arbeiders aangetrokke voel, vir die LibDems stem in kiesafdelings waar die Tories verslaan kan word. Altesame 39% van die LibDem-ondersteuners kan terselfdertyd vir die Arbeiders stem op plekke waar dit kan help om die Tories die onderspit te laat delf.

Dié mense se hoof-oorweging is om Brexit in sy spore te stuit en ’n tweede referendum uitgeroep te kry. Ander peilings wys dat die meeste Britte nou téén Brexit sal stem as hulle die kans kry.

Leopold Scholtz

Wat Johnson ook nie help nie, is dat een van sy Konserwatiewe voorgangers, oudpremier John Major, die kiesers saam met ’n ander oudpremier, Tony Blair, aangemoedig het om só te stem dat Brexit onmoontlik word.

Die gevolgtrekking van die peilingdeskundige Andrew Cooper is dat die meeste kiesers nie ten gunste van die Tory-weergawe van Brexit is nie, maar dat die meeste ook teen ’n Arbeider-regering onder Corbyn is. Dit lyk asof baie mense dus hul kruisies met toegeknypte neuse gaan trek.

Nietemin het die maatskappy Datapraxis op grond van ’n halfmiljoen onderhoude deur die peiler YouGov voorspel dat die Tories ’n absolute meerderheid van 38 in die laer huis gaan kry. Ander peilings wys ewenwel dat die Konserwatiewe meerderheid krimp en dat ’n onbesliste uitslag, soos in 2015, ’n ligte moontlikheid is.

Wat ook al die geval, dis eers verby as die vet dame sing. En dit sal eers Vrydag wees.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Arbeidersparty  |  Konserwatiewe Party  |  Jeremy Corbyn  |  Boris Johnson  |  Theresa May  |  David Cameron  |  Brittanje  |  Misdaad  |  Brexit  |  Klimaat  |  Verkiesing  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.