Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Laat Castro maar sy storie spin

Sy nuwe boek gegrond op openbaargemaakte dokumente werp nuwe lig op die veelbesproke gevegte rondom Cuito Cuanavale, skryf Leopold Scholtz.

Die Suid-Afrikaanse mag se Olifant-tenks en Ratels by Mavinga. Foto: Dokumentasiesentrum

Nog terwyl die lug in Angola van die laaste gevegte van die Grensoorlog in 1988 gedawer het, het Fidel Castro, diktator van Kuba, met ’n vernuftige vervalsing van die geskiedenis begin.

Die doel van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), het sy narratief gelui, was om die dorp Cuito Cuanavale in te neem, dit as toegangspoort te gebruik om deur te stoot na Menongue, die Angolese middelland en uiteindelik na Luanda.

Die einddoel, het Castro volgehou, was om die pro-Westerse rebellebeweging Unita (’n “marionettebeweging”) in Luanda aan die bewind te plaas, en die apartheidsregering se heerskappy oor die hele Suider-Afrika te vestig.

Dié Castro-narratief is gretig oorgeneem deur die Angolese MPLA, Swapo, die ANC en verskeie linkse akademici (wat geeneen gebodder het met behoorlike navorsing nie).

Die Dokumentasiesentrum van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Centurion, buite Pretoria, bevat tienduisende dokumente wat “vertroulik”, “geheim” of “hoogs geheim” gestempel is. Dit behels briewe en ander kommunikasies tussen verskillende hoofkwartiere, memorandums, daaglikse situasierapporte, notules van vergaderings, ensovoorts.

Daaruit blyk dit dat Suid-Afrika se oogmerke met Operasie Moduler, Hooper en Packer – die gevegte aan die Lomba en in die omgewing van Cuito Cuanavale – inderwaarheid taamlik beskeie was. Van die Castro-propaganda bly eintlik niks oor nie.

Al die Castro-propaganda is – weliswaar uiters vernuftig – uit sy duim gesuig.

Dis nie dat die Suid-Afrikaanse politieke en militêre leiers geen begeerte gehad het om hul bondgenoot, Unita, in Luanda aan die bewind te sien nie.

Maar hulle was realisties genoeg om te weet dat dit ’n yslike oorlog sou uitlok waarvoor nóg die SAW nóg die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing gerat was.

Die bronne maak dit duidelik dat die Suid-Afrikaners nie regtig op beduidende skaal in die Angolese burgeroorlog (tussen Unita en die MPLA, gesteun deur Kuba) wou inmeng nie. Húl oorlog was primêr teen Swapo, om te keer dat dié die bewind in Windhoek oor die loop van ’n AK-47 oorneem en die ANC-veldtog in Suid-Afrika ’n groot hupstoot gee.

Die SAW se militêre strategie in Suidwes was daarom om die oorlog teen Swapo so veel moontlik tot Ovambo te beperk en die teeninsurgensieveldtog só te vergemaklik.

Dit het die SAW gepas dat Unita die hele suidoostelike hoek van Angola beset en daardeur Swapo se insurgensie na Okavango en die Caprivi-strook byna onmoontlik gemaak het.

Dit was dus regstreeks in die belang van die Suid-Afrikaanse oorlogspoging teen Swapo dat Unita militêr moes oorleef. Gevolglik, toe die MPLA in 1985, 1986 en 1987 met groot offensiewe teen Unita begin, het die SAW gemeen hy is verplig om die rebellebeweging te gaan help.

Uit die korrespondensie voor die begin van die veldtog blyk duidelik hoe huiwerig die Suid-Afrikaanse politici en generaals oor die saak was. Ja, ons moet Unita gaan help, was die oortuiging, maar dit moet klande­stien en tot die minimum beperk bly – die nuus mag absoluut nie uitlek nie.

Ja, ons moet Unita gaan help, maar dit moet klande­stien en tot die minimum beperk bly.

Dit was natuurlik naïef, want die aanvanklike uiters beperkte hulp was onvoldoende. Die besluit einde Augustus 1987 om 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (met sowat 1 000 man, ’n battery artillerie en 150 voertuie) oor die grens te stuur, het wat dit betref ’n grens oorskry: Toe kon dit nie meer geheim gehou word nie.

En tog sou dit nog tot in November duur voordat die SAW-betrokkenheid erken is!

Dié onwilligheid om betrokke te raak het ewenwel ook beteken dat die magte wat wel ingestuur is – 61 Meg, artillerie en elemente van 32 en 101 Bataljon – hopeloos onvoldoende vir die taak was. Later is versterkings (bykomende artillerie, 4 SA Infanteriebataljon en tenks) ingestuur, maar uiteindelik sien jy ’n voortdurende refrein in die frontbevelvoerders se kommunikasie: Ons het te min magte!

Wat ook dui op die beskeie aard van die Suid-Afrikaanse oogmerke.

Die Suid-Afrikaanse veldtog het deur verskeie fases gegaan, en die SAW-doelstellings het daarmee saam ontwikkel.

In die eerste, voordat die SAW die grens oorgesteek het, kry jy ’n debat onder die offisiere of Cuito Cuanavale ingeneem moet word. Die konsensus is nee; dit sal die oorlog te erg eskaleer.

In die tweede fase, tot begin Oktober 1987, is die doel baie eenvoudig: Stuit die MPLA-offensief! Dit het uitgeloop op ’n reeks gevegte langs die Lomba, met die klimaks op 3 Oktober, toe 61 Meg die Angolese 47 Brigade platgeloop en feitlik uitgewis het. Dit was een van die volledigste militêre oorwinnings in Afrika se geskiedenis, en seker sedert die Duitse Afrika-Korps se oorgawe in Mei 1943.

Maar nog voor dié geveg het pres. P.W. Botha die front op 29 September besoek. Nadat hy oor die situasie ingelig is, het hy toestemming vir ’n teenoffensief gegee met die opdrag: Slaan die vyand hard genoeg dat hy sy jaarlikse offensief nie in 1988 kan herhaal nie.

Daarvoor is versterkings na die front gebring. Die aanduidings is dat Botha self geen beswaar had teen die inname van Cuito Cuanavale nie, maar dat die hoof van die SAW, genl. Jannie Geldenhuys, bevrees was dat die oorlog bo die vermoë van die weermag sou eskaleer. Hy het dus ’n stokkie daarvoor gesteek.

In die weke wat hierop gevolg het, is die MPLA-magte in ’n reeks gevegte noordwaarts teruggedryf. Die Suid-Afrikaners se opdrag was om die vyand óf oos van die Cuito-rivier te verslaan óf om hulle weswaarts tot oor die rivier terug te druk. Vervolgens moes die rivier as verdedigingslinie voorberei word, Unita moes bemagtig word om die verdediging oor te neem, en die Suid-Afrikaners sou vir ’n welverdiende bier huis toe gaan.

Niks meer nie, niks minder nie. Al die Castro-propaganda, wat so gretig deur sy politieke ondersteuners nagevolg is, is – weliswaar uiters vernuftig – uit sy duim gesuig.

Dis waar dat die SAW-generaals se operasionele oordeel hulle in dié laaste fase lelik in die steek gelaat het. Pleks dat hulle iemand soos kol. (later genl.maj.) Roland de Vries se raad volg, om wes van die Cuito-rivier om die vyand se steelkant te breek en hulle onverwags in hul rug te tref, is die Suid-Afrikaners gedwing om ’n reeks frontaanvalle op ’n aantal goed voorbereide stellings te doen.

Binne die beperkings van die terrein het die Suid-Afrikaners aanvanklik goed geslaag. Maar toe neem die Kubane die operasionele bevel oor, en hul beplanning was uitstekend.

Hulle het ingesien dat die Angolese elke keer ineenstort as die SAW kontak slaan. Dus het hulle deur ’n kombinasie van slim geplaaste mynvelde, oorweldigende artillerievuur van die hoë wesoewer van die Cuito en lugaanvalle voorkom dat die Suid-Afrikaners hoegenaamd kontak met die verdedigers maak.

Drie keer is die SAW teruggeslaan. Drie keer het die generaals die frontoffisiere gedwing om dom aanvalle teen hul beterwete op onneembare stellings te doen.

Dit het aan Castro ’n argument vir sy narratief op ’n skinkbord gegee.

Dit alles neem nie weg dat die Castro-weergawe op ’n flagrante leuen berus nie. Dalk moet ’n mens hom nie heeltemal kwalik neem nie; hy kon nie weet wat alles agter die SAW-skerms gebeur nie, en bowendien is (selfs valse) propaganda ’n integrale deel van oorlogvoering. Maar dit is die historikus se taak om uit te vind wat régtig gebeur het. En, gegrond op die egte, onvervalste SAW-dokumente uit die tyd, hoop ek die volledige verhaal is nou vertel.

* Lees ’n resensie van Die SAW en Cuito Cuanavale: ’n Taktiese en strategiese analise hier.

Meer oor:  Fidel Castro  |  Angola  |  Kuba  |  Grensoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.