Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Laat die pyn deur jou vingers vloei, bra’

Die middernagtrein het gefluit en Afrikaans se grootste protesmusikant kom oplaai, skryf Anton Goosen.

Piet Botha “was bewus van die bedryf se donker kant, maar hy het hom nooit laat insluk nie”.

So drie weke gelede kuier ons in die Strand by Piet en sy Ricci in die Soul Café.

Die lede van die band Akkedis is ook daar. Piet en die tweeling speel ook saam in die Lyzyrd Kyngs. Lede van sy jarelange Jack Hammer-band in Pretoria het ook afgevlieg: Jonathan, Tertius, The Duke, asook dr. Hein van der Walt, Katvrou, sy Kaapse kitaarspeler Groenie en ’n horde ander ou vriende en kamerade.

Die muse is in die Soul Café, want Piet is daar.

Piet is baie siek. Piet het baie vriende gehad. En nie een vyand van wie ek weet nie.

’n Week daarna was ons weer daar. En weer was daar baie vriende wat vir Piet kom kuier het. Gemütlichkeit, al het almal geweet. Maar die derde keer toe ons daar kom, het Piet ’n ander, onvoorsiene afspraak gehad.

                                                                    ***

Tydens daardie laaste kuiers was Piet se gees soos altyd flink, maar wanneer hy opstaan om sy pyp buite te gaan rook, kon ’n mens sien dat sy liggaam nie meer wil saamwerk nie.

. . . iemand het my gevra hoekom speel ek nog musiek my hele lewe lank. Eerlikwaar, dis die enigste plek waar jy veilig is – saam met jou ‘band’ of ’n vriend of twee op ’n verhoog – want dis heeltemal die waarheid wat daar gebeur. Dis nie hierdie opgesmukte... dis nog ’n ‘real’ wêreld daai, dink ek.
Piet Botha in ’n onderhoud aan Die Wasgoedlyn.

Ek het Piet herinner aan sy woorde aan my lank gelede op die Danzer-toer: “Laat die pyn deur jou vingers vloei, bra.” Dit was in 1992 in ’n tyd dat ek nodig gehad het om te “deal with the living dead”. Ek het na hom geluister en weer begin skryf.

Ek vertel dat ek sy raad sedertdien twee keer aan mense herhaal het wat ek dink dit nodig gehad het: Aan iemand se ma nadat haar man in ’n woonwa met ’n oop gasbottel sy pyp aangesteek het en ná die ontploffing in Tygerberg heen is. Sy kon klavier speel. Die tweede persoon was Ollie Viljoen – nadat hy sy vrou en sy twee beste vriende, Koos Meyer en Tolla van der Merwe, in ’n ongeluk verloor het. Ollie het dit gedoen.

“Maar ek het altyd in die oorvertel van jou woorde vir jou krediet gegee daarvoor, bra,” het ek bygevoeg.

Ek het hom ook vertel van my ouma wat haar vingers tot op bloei stukkend gespeel het op die Steinway terwyl sy besig was om te versmoor van die asma: Beethoven en Rachmaninoff.

“Jy het daardie woorde vir my gesê, Piet, en vandag sê ek dit vir jou.”

Piet het aandagtig geluister terwyl ek met hom praat. Sy spirit was gesond, maar sy lyf was gedaan.

                                                                      ***

Piet was een van die suiwerste musos wat ek ken.

Piet Botha “was bewus van die bedryf se donker kant, maar hy het hom nooit laat insluk nie”.

Sy eerste band was Raven. Hy het baskitaar vir hulle gespeel. Karlien van Niekerk (die skrywer Dolf se dogter) was die sangeres. (Karlien was ook later deel van die Kommissie van Ondersoek).

Piet, Boet Faber en Karlien is ná Raven Kaap toe met ’n nuwe band, Cathryn Wheel. Piet het sy pa, Pik, gevra of hulle sommer in die Kaapse “paleis” langs Groote Schuur kan tuisgaan, want dit het ses maande van die jaar gedurende die parlementêre reses leeg gestaan.

Dit was een groot partytjie in daardie huis en PW het eenkeer verbygery gekom, hoed gelig en vir hulle gewaai, sonder om enigiets te vermoed. Die vreedsame walms uit die vensters het by PW verbygewaai.

                                                                      ***

Jack Hammer die band wat later sinoniem met Piet Botha geword het, het in 1984 gekom.

Die Bushrockband in 1992: Anton Goosen en Finlay Malherbe (agter) met Piet Botha, Sherid van Rooyen en Rob Nell.

Die lede van Jack Hammer het nie geskrik vir partytjie hou nie. Een aand, met albei ons orkeste by die Koepelfees in Vredefort, het ’n venue-eienaar van Parys albei bands genooi om agterna oor te kom vir ’n partytjie by hom op sy onkoste. Paul (The Duke) van de Waal, die tromspeler, het opgekyk en gesê: “That man does not know what he is saying”.

In die tyd van Houtstok in 1990 het ons mekaar baie gesien. Dit was hy wat die naam Bushrock vir ons orkes voorgestel het toe ek in 1992 met Danzer landwyd getoer het.

Die eerste voorstel was Die Zeffers, maar zef was nog nie so in die mode toe as nou nie. Piet was in die Bushrock-band en hy het geweet hoe om met ’n band te werk: Die youngsters, soos hy hulle genoem het. Piet het ’n magdom jong musikante onder die vlerk geneem wat by hom geleer het en saam musiek gemaak het.

Op die Danzer-toer was dit toe so dat Piet een aand op Stellenbosch die twee youngsters ’n les in rock ’n roll moes leer. Hy het gewoonlik agter op die verhoog gestaan en speel waar hy hul kon dophou, maar daardie aand kom hy met sy hoed uit die donkerte vorentoe na die lig en draai sy Marshall-amp tot op nr. 11 oop. Dirk Uys het dit agterna beskryf as ’n musikale Stuka-duikbomwerper wat uit die donker wolke op die gehoor neergeduik het. Die laaities se groot koppe het soos pap ballonne gekrimp nadat generaal Jack Hammer sy sprak gesprook het.

Piet het die laaities almal byname gegee – twee van hulle was die Slangkoppe – nie om een of ander lelike rede nie, maar omdat hul dieselfde gedink het. Soos Medusa: een kop, baie slange.

Die tromspeler was Doris, want hy het die toer dikwels opgehou omdat hy gereeld sjampoe by die winkels wou aanskaf. Doris was die enigste een wat gescore het op toer. “Money for nothin’ and chicks for free,” het Dire Straits mos gesing.

Dit was ook op daardie toer dat ek “Tony G” geword het. Piet het dit altyd uitgespreek met ’n Mafia-aksent.

                                                                    ***

In 1996 het Piet vrede gemaak met Afrikaanse musiek. Hy het die eerste kopie van ’n Suitcase vol winter vir my na my plaas toe gebring.

Ek was stunned. Daardie album is een van die groot mylpale in Afrikaanse musiek. Suitcase was nie net liries nie, maar musikaal uitstekend. Nie net drie-akkoord-rock ’n roll nie. Die ware Jakob.

’n Langpad-ritueel

Ek en die werkers was destyds besig om grond op die plaas aan te ry terwyl ek die CD kliphard in die bakkie gespeel het. “Want ’n vrou sal jou doodmaak as sy kwaad is, in ’n donker kamer met ’n haelgeweer,” het Piet op die titelsnit gesing.

Een van die werkers, Peter, het opgekyk en gesê: “Dit is so, ja”.

“Goeienag generaal”, nog ’n song op daai album, is een van die beste protesliedjies ooit in Afrikaans. En so ook verskeie snitte op sy ander Afrikaanse albums.

                                                                        ***

Oor die dekades van vriendskap het Piet en ek hordes vertonings saamgedoen. “Konings van die langpad,” soos hy sou gesê het.

En op die pad ’n baie goeie reisgenoot.

Dikwels sou ons ná lang stiltes by ’n casino verbyry. Piet sou dan opkyk en sê: “Kom ons gaan sit ons wages alles op swart.” Gevolg deur sy droë laggie.

                                                                       ***

Neil Young en Willie Nelson is nog hierdie kant, maar Piet en Tom Petty speel nou anderkant.

“Êrens word iemand gebore en elders word ’n ander een begrawe.” Maar as die man met die lang swart jas ’n mens kom haal, is dit net Breyten Breytenbach se woorde wat bly: “Laat die bitter sluwe eende op my graf kak in die reën.”

Hunter S. Thompson het gesê: “The TV business is uglier than most things. It is normally perceived as some kind of cruel and shallow money trench through the heart of the journalism industry, a long plastic hallway where thieves and pimps run free and good men die like dogs, for no good reason.”

Dit is waar vir die musiekbedryf ook.

Piet was bewus van die bedryf se donker kant, maar hy het hom nooit laat insluk nie. Selfs hier het hy aan die buitekant gestaan, die ewige outsider. Hy was op sy gelukkigste met sy kitaar in die hand, maak nie saak waar nie – maar veral op toer en by Strab in Mosambiek, ’n fees waar hy van die begin af as stigter teenwoordig was. Strab is ’n unieke, vreedsame ervaring.

Valhalla op aarde is slegs ’n tydelike skynbeeld, dit geld vir alle kuns en alle kunstenaars. Dis waar woorde. Soos “laat die pyn deur jou vingers vloei, bra”.

“Maar ek is bietjie jonk om af te tree, besides, ek het nie ’n pension nie. Ek wil hier sterwe. Ek sal baie gelukkig wees. Julle kan my maar net hier in die see gooi,” het Piet voor Strab se verhoog gesê vir die opname van ’n dokumentêr oor sy lewe, The Road.

                                                                       ***

Toe ons ná daardie groot saamkuier by die Soul Café teen Sir Lowryspas uitry, stuur Arthur van die Akkedisse vir my ’n WhatsApp: ’n Foto van Piet wat in die Soul Café sit en klavier speel.

“Laat die pyn deur jou vingers vloei, bra.”

Piet het Strab met ’n week misgeloop, want die middernagtrein het gefluit en die “Ou swerwer” van wie hy sing kom oplaai: “Dit maak nie meer saak nie, die dice het geval en gerol en vertel / Ek wens dit was nie waar nie, maar ek sal nie ooit weer met jou kan dans nie / Ou dromer, droom nog ’n bietjie langer, nog ’n bietjie dieper / jy sal weet wanneer die droom verby is / dan is dit tyd om te gaan.”

Rus sag, ou grote, ek is bly jy was ’n goeie vriend van my. Sterkte aan Ricci, Vivian, Jessica, Robynne en Piya.

* Piet Botha, musikant en liedjieskrywer, gebore 18 Julie 1955, oorlede 2 Junie 2019.

* Anton Goosen is ’n liedjieskrywer en musikant.

Swiets en swem

Hendrik (Kabous) Hancke vertel:

Ek was in die vroeë 2000’s Anton Goosen se roadie by die KKNK tydens die Anton en Vrinnevertonings.

Die eerste oggend skop een van die ander lede van ons geselskap aan my voet waar ek in my enkelbedjie slaap: “Bra Piet wag buite vir jou.”

Iewers tydens die vorige aand se malheid het ek oënskynlik ja gesê vir Piet se voorstel dat ons daardie oggend vroeg gaan swem. Teen wil en dank het ek my moeë karkas uit die bed gesleep. Piet het reeds vir my gewag. In die Opel was sy kitaartas, swemklere en handdoeke. Kort voor lank het ons voor Bridgeton (net buite Oudtshoorn) se munisipale swembad gestop.

Bra Piet het dadelik al die straatkinders bymekaar gemaak en begin opdragte uitdeel. “Jy vat die kitaartas, jy vat die handdoeke,” het hy gehiet en gebied.

Piet het al wat kind was se toegang betaal en twee uur lank het ons geswem en baljaar in die hemelblou bad in die middel van die dorre Karoo.

Ná afloop van die doop het Piet die kitaartas-kind nader gewink. “Bring daardie kitaar,” het hy geroep. Meer as ’n uur daarna het bra Piet sy hart uitgespeel vir Bridgeton se straatkinders. Grootoog, oopbeklaggende en selfs hier en daar saamsingend, het die straatkinders kruisbeen op die gras die bebaarde rock ’n roller aangestaar.

Later, met die kitaar weer terug in sy tas en op pad terug, kon ek sien iets pla. “Wat is fout? Dit was dan nou so ’n lekker oggend,” wou ek weet. Bra Piet het skielik die verte ingefrons.

“Een bliksem het die ander bliksems se swietsgeld uit my skoen gesteel. Dis mos hoe dit werk in die wêreld. Maar toemaar, ek het klaar ’n ander plan vir môre.”

Die volgende oggend was ek reg vir Piet toe die Opel voor ons huisie tot stilstand rammel.

Weer het ek swaar getrek ná ’n aand van ekstase en musikale malheid in die strate van Oudtshoorn, maar ek kon nie wag om Piet se plan te sien nie.

By die kar gekom, was die agterste sitplek so toegepak onder die lekkergoed, daar was skaars plek vir die kitaar.’n Trek van genoegdoening het oor bra Piet se bebaarde gesig gespoel. “Hierdie keer gaan een bliksem nie al die ander bliksempies se swiets steel nie,” het hy gegrom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.