Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AFRIKAANS EN SY MENSE - WAARHEEN?
Laat ons onsself wees
Jeanelle Greyling

Jong mense voel oor Afrikaans soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar, skryf Jeanelle Greyling, terwyl Jan Bosman sê Suid-Afrikaners is soos seekoeie in ’n dam.

Jeanelle Greyling skryf:

Hoe inspireer jy ’n jong mens om ’n veer te voel vir ’n fight wat spruit uit die jare waarvan hul ouers hulle moet vertel?

Ons voel soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar wat vir ewig vervloek sal wees weens sy dade.

In ’n land waar werk en geld skaars is, blyk dit Afrikaans trek aan die kort end van die prioriteitslys.

Slegs die sterkste oorleef, dus voel dié wat nie beplan om te emigreer nie dat ons maar ons moeder(taal) se rokspante moet los en die mededingendste taal aanneem.

Ons wil nie geïdentifiseer word met ons verlede van Afrikanernasionalisme nie en Afrikaans kan maar cooler word.

Op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), die mikrokosmos van die Afrikaanse gemeenskap, was daar verlede jaar nog Afrikaanse studente wat bereid was om vir hul taal te veg. Die studente het ’n nagwaak gehou en oom Totius se standbeeld beskerm. Die standbeeld is uiteindelik verwyder en aan die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) toevertrou.

Hoewel die standbeeld oukei is, het die Afrikaanse studente misluk in hul doelwit om dié ikoon op die kampus te hou.

Dit was die eerste keer in jare dat die Afrikaanse studente op die NWU vir iets omgegee het. Afrikaanse studente op ander kampusse landwyd is egter heel apaties.

Die meeste studente op Potchefstroom praat Afrikaans, maar ons ly onder die landwye stigma wat aan Afrikaans kleef.

Akademici het begin vanjaar op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se spitsberaad ook nie baie hoop gekoester nie.

Leef op taaleiland

Die Afrikaanse gemeenskap word gebombardeer met aantygings van wit bevoorregting, rassisme en uitsluiting, terwyl kampvegters vir die taal jong mense aanmoedig om vir hul herkoms te veg.

Inderwaarheid stel ons nie eens belang in Suid-Afrika se vetes vóór 1994 nie omdat ons nie daar was nie.

Trouens, Engels is as gesproke taal vir baie jong Afrikaanssprekendes aanloklik: In Bloemfontein en Pretoria is dit nie ongewoon vir ’n groep Afrikaanssprekende jong mense om Engels met mekaar te praat nie!

Groter magte is aan die werk en die jong generasie besef hulle gaan die stryd verloor. Die taal sal in die volgende eeu ’n stadige dood sterf indien ons nie wegdoen met die tradisionele stigma oor Afrikaans nie.

Om die stigma van die taal as ’n onderdrukkerstaal te begrawe moet ons wegdoen met die salig onbewuste Afrikaanse klieks deur inheemse tale aan te leer.

Ons doen dit nie doelbewus nie, maar ons leef op ons eie taaleiland. Ons teësinnigheid om ons gemaksone te verlaat, skep vervreemding.

Dit is nie genoeg om die Afrikaanse letterkunde te bevorder of private hoëronderwysinstellings te stig nie. Die taal sal bloot sy nasionale mededingendheid verloor en taalklieks aanmoedig, waar kampvegters vir die taal slegs Afrikaanssprekendes in hul ondernemings aanstel omdat hulle nie gerat is om in die uitgebreide samelewing te oorleef nie.

Boonop is dit nodig om die taal vir sy eie sprekers weer cool te maak!

Ou ooms kweek nie liefde

Boonop is dit nodig om die taal vir sy eie sprekers weer cool te maak!

Inisiatiewe soos die Virtuele Instituut vir Afrikaans doen reeds wonderlike werk, maar die groot werk lê by die ouderwetse Afrikaanssprekendes wat grasie en verandering in hul denkwyse moet toelaat.

Ooms wat ouer as ons pa’s is, gaan nie ’n liefde vir Afrikaans by jong mense kweek nie.

Ook nie die randfigure wat teologie studeer en Bybel onder die arm rondloop nie.

Die gewone student is nie so voorbeeldig nie: Ons drink te veel, vloek, wissel van kodes en skop soms ons studie op.

Ons wil nie lees tensy iets mooi lyk nie en seks is ons gunsteling-onderwerp.

In die inligtingsera bestaan daar nie so iets soos TMI (too much information) nie.

Omdat ons Afrikaanse ouers die gesprek – die blote erkenning van dié eienskappe – veroordeel, neig die liberaler studente na die Engelse kant.

Dié veranderde Afrikaanse gemeenskap hoef nie verkeerd te wees nie, maar kan eerder omhels word as die nuwe verteenwoordigers van die taal.

  • Greyling is redakeur van Wapad, studentekoerant van die Puk-kampus.

Jan Bosman

Jan Bosman skryf:

‘Ons, die mense van Suid-Afrika, glo Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” So verklaar die aanhef tot die 1996-Grondwet.

Dit moes sekerheid gee, maar vandag is ons verbouereerd, oorversigtig, te bang om op tone te trap, oordrewe politiek korrek. En in die proses gee ons byna ons taal, Afrikaans, en ons identiteit, Afrikanerskap, op.

Die prys om identiteitlose en verengelsde Suid-Afrikaner te wees, raak te hoog.

Begrip en respek

Die gesprek gaan lankal nie oor Afrikaners of Afrikaans of Suid-Afrikaner nie.

Die gesprek behoort ook nie te gaan oor Afrikaans en wie besitreg daarop het of wie se kultuurbate of kultuurerfenis dit is nie.

Afrikaans is slegs die medium of instrument waardeur ons kultuur uitleef. Daarom is Afrikaans nie ’n uitsluitende taal nie.

Afrikaans is en bly ’n wetenskap-, onderrig-, sake-, kultuur-, akademiese, skryf- en sommer alles-taal.

Die gesprek behoort te gaan oor die aanvaarding van mekaar. Maar meer as dit: begrip en respek. Tussen Afrikaners, tussen Afrikaanssprekendes en tussen Suid-Afrikaners.

Dit het verlore geraak in die gejaag na nasiebou en die prysgawe van identiteit. Internasionaal word kulture in die metafoor van ’n ysberg omskryf. In die Afrika-konteks is dit dalk meer gepas om die metafoor van ’n seekoei te gebruik.

Daar is duidelike elemente van ’n kultuur wat sigbaar is bo die oppervlak, asook dit wat minder sigbaar is. Hierin is soveel elemente wat kultuur omskryf, waaronder gedrag, gewoontes, waardes, geloof, leefwyse, gedragsreëls, taal, tradisies, geskiedenis en vele ander. Sommige is meer bewustelik en ander onbewustelik.

Die uitdaging is hoe ons almal in dieselfde dam gaan oorleef.

Seekoeie in dieselfde dam

Met bostaande vergelyking in gedagte is ons dus in Suid-Afrika metafories soos ’n klomp seekoeie in dieselfde dam.

Die uitdaging is hoe ons almal in dieselfde dam gaan oorleef. Bevuil ons die water deur ons gevegte met mekaar, deur selfsugtig om te gaan met ons denke en uitsprake, deur oordrewe te transformeer en met politieke korrektheid gevestigde ruimtes prys te gee? Deur vernietigend om te gaan met tale en instellings? Deur kwetsend en beskuldigend om te gaan met ras? Só gaan daar nie oorlewing wees nie.

“Verenig in ons verskeidenheid” beteken dat ons mekaar die ruimte moet gee om identiteite en kultuur te kan uitleef en daardeur uitdrukking te gee aan Suid-Afrikanerskap.

Net so moet daar ruimte wees vir die veelheid van kultuurgroepe om hul onderskeie kulture en identiteite volledig uit te leef. Dan gaan dit nie meer oor oorlewing nie, maar oor uitlewing.

Ons almal, wit en swart, Xhosa, Engels of Afrikaans of Afrikaner, staat of burgerlike samelewing sal harder moet werk om inhoud te gee aan begrip, aanvaarding en respek vir die verstrengeldheid van Suid-Afrika se diversiteit.

Suid-Afrika is tot soveel meer in staat as die verskeidenheid van Suid-Afrikaners net toegelaat sou word om hulself te wees. Om ’n Suid-Afrikaner te wees beteken nie prysgawe van ons identiteit as Afrikaners of Afrikaanssprekendes nie. Inteendeel, ons moet ons identiteite volledig en sonder inperking kan uitleef.

Prof. Marinus Wiechers, die grondwetkenner, het by geleentheid geskryf: “Gebruik van sy taal en uitlewing van sy kultuur is sekerlik van die belangrikste maniere waardeur die mens sy menswaardigheid uitleef en bevestig. Miskenning van die individu se reg op taal en kultuur is dus ’n miskenning van die individu se inherente reg op menswaardigheid.”

As ons in die Suid-Afrikaanse dam wil oorleef, sal ons ons moet skaar aan die kant van diegene wat net soos ons besef dat ons mede-afhanklik is van mekaar.

Bygesê, dit moet in ’n bedeling wees waar daar ruimte is vir elkeen en waarin elkeen homself kan uitleef met erkenning van menswaardigheid.

As diegene wat die sluise wil ooptrek of beur teen die walle deur aggressie en alles wil koppel aan #*MustFall hul sin kry, gaan ons almal meegesleur word in ’n vernietigende en onkeerbare vloed. Afrikaner, Afrikaanssprekende, Xhosa, Sotho, wit, swart, bruin – ons het mekaar nodig.

  • Bosman is hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Meer oor:  Afrikaans  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.