Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Land van breek en nie bou

Donald Trump se broerskind skryf ’n onheilspellende stukkie karakter los, meen Leopold Scholtz.

Pres. Donald Trump en sy vrou, Melania, tydens vieringe van Onafhanklikheidsdag by die Withuis op 4 Julie. Foto: Getty Images

My eerste kennismaking met Amerika was op 4 Julie 1988, toe ek as joernalis ’n reis van vier weke oor Amerika heen op uitnodiging van die land se regering begin het.

Dit was op ’n tydstip dat die polarisering in Suid-Afrika nader aan ’n hoogtepunt beweeg het – daaglikse gewelddadige betogings in die townships, troepe wat patrolleer, die staatsadministrasie wat tot stilstand knars, wit en swart wat mekaar met agterdog bekyk.

En hier kom ek in Washington aan, te midde van ’n uitbundige fees van vuurwerk by die “Mall” in Washington, die plein tussen die Lincoln-monument en die gedenknaald ter ere van George Washington.

Op televisie word tientalle Amerikaners aan die woord gelaat. Dikwels mense met ’n migrasie-agtergrond – mense wat óf elders gebore is óf van wie die ouers of grootouers van oor die hele wêreld gekom het na Amerika, die land van demokrasie en vryheid.

Ek onthou nog hoe diep die indruk was wat dit op my gemaak het. ’n Land met sóveel uiteenlopende oortuigings en agtergronde, maar waar die inwoners op die nasionale feesdag alle verskille opsy skuif en hul gesamentlikheid vier.

Net twee jaar tevore het pres. Ronald Reagan, daardie ikoon van deernisvolle konserwatisme, ’n meesterlike toespraak ter viering van Onafhanklikheidsdag gehou, een wat sedertdien ’n baken van lig vir mense van alle partye en oortuigings was.

’n Goeie president ontkén nie verskille nie, maar bou ’n brug.

In daardie toespraak het Reagan gewys op die breuk tussen twee van die vaders van die land, John Adams en Thomas Jefferson, maar hoe hulle later hul verskille oorkom het. Hy het voortgegaan: “Glo my, as daar een indruk is wat ek het ná die voorreg van vyf en ’n half jaar in die amp wat deur Adams, Jefferson en Lincoln beklee is, is dit dít: Dat die dinge wat ons verenig – Amerika se verlede waarop ons so trots is, ons hoop en aspirasies vir die toekoms van die wêreld en dié geliefde land – hierdie dinge weeg baie swaarder as die dingetjies wat ons verdeel. En dus herbevestig ons vanaand dat Jood en nie-Jood, ons is één nasie voor God, dat swart en wit, ons is één onverdeelde nasie, dat Republikein en Demokraat, ons is almal Amerikaners.”

Reagan was sonder twyfel een van die suksesvolste presidente in die Amerikaanse geskiedenis. Na buite het hy die grondslag vir die beëindiging van die Koue Oorlog gelê, na binne het hy daarin geslaag om die politieke en sosiaal-ekonomiese verskille te oorbrug.

Dít is die taak van ’n goeie president. Nie om verskille te ontkén nie, maar om ’n brug daaroor heen te bou.

In sy twee toesprake vandeesweek, by Mount Rushmore en voor die Withuis, het pres. Donald Trump sekere van dié note gedruk.

In eersgenoemde geval het hy hulde gebring aan pres. Abraham Lincoln vir die afskaffing van slawerny, en vervolg: “Ons verklaar dat die Verenigde State die mees regverdige en buitengewone nasie is wat ooit op aarde bestaan het. Ons is trots op die feit dat ons land gestig is kragtens Joods-Christelike beginsels, en ons verstaan dat dié waardes die saak van vrede en geregtigheid oor die wêreld heen dramaties bevorder het . . . Ons glo in gelyke geleenthede, gelyke geregtigheid, en gelyke behandeling vir burgers van elke ras, agtergrond, godsdiens en geloof. Elke kind, van elke kleur – gebore en ongebore – is na die beeltenis van God geskape.”

Hy het dié sentiment ’n dag later in Washington herhaal.

Hy voel diep binne hom hy is niks van wat hy voorgee om te wees nie.

Maar Trump het aansienlik verder as dié Reagan-agtige woorde gegaan. Hy het ’n pikdonker prentjie geskets van dié wat anders as hy dink deur te verwys na “ ’n groeiende gevaar wat elke seëning waarvoor ons voorvaders so hard geveg het, bedreig”:

“Ons nasie is getuie van ’n genadelose veldtog om ons geskiedenis uit te wis, om ons helde te belaster, ons waardes te neutraliseer en ons kinders te indoktrineer. Woedende bendes probeer die standbeelde van ons stigters omverwerp, ons heiligste monumente ontsier, en ’n golf gewelddadige misdaad in ons stede aan die gang kry.”

Sulke mense, het Trump gesê, maak hulle skuldig aan ’n “kanselleerkultuur – om mense uit hul poste te dryf, andersdenkendes in die skande te steek en totale onderwerping te eis van enig­iemand wat nie saamstem nie”.

Hy het gepraat van ’n “nuwe verlinkse fascisme wat absolute trou vereis”.

Die doel van dit alles is “om die Amerikaanse Revolusie omver te werp”.

Dis waar dat die historiese omstandighede van 1986 en 2020 in Amerika aansienlik verskil.

In 1986 was Amerika die onbetwiste leier van die vrye wêreld. Reagan se besliste beleid om sy land se belangrikste internasionale teenstander, die Sowjetunie, hok te slaan, was besig om vrugte af te werp, want laasgenoemde sou binne vyf jaar soos ’n stuk porselein op ’n harde oppervlak in stukke spat.

Reagan self was luidens peilings op die hoogtepunt van sy gesag – aansienlik meer kiesers het sy bewind goed- as afgekeur. Met sy sonnige en positiewe uitstraling het hy Amerikaners goed oor hulself laat voel.

Geen wonder nie dat sy visepresident, George H.W. Bush, aan die einde van 1988 met 53,4% teenoor die 45,6% van dié se teenstander gewen het.

’n Mens sou, afhangende van jou eie politieke oortuigings, baie oor Trump se presidentskap kon sê.

Die een sal sê hy het die ekonomie reggeruk en dinge onbevrees op die naam genoem. ’n Ander kan met ewe veel reg meen Trump het Amerika tot die been verdeel en ’n onnodige kultuuroorlog aan die gang gesit.

Wat niemand kan ontken nie, is dat Trump se politieke styl neerkom op polarisering, meer polarisering en steeds meer polarisering. Of dit ’n goeie of slegte ding is, moet elkeen maar vir homself besluit.

Wat wel waar is, is dat die gevoel van eenheid in verskeidenheid wat Amerika gekenmerk het in die nadae van die Reagan-bewind, toe ek in Amerika aankom, heeltemal kapot is. As ’n mens die media volg, as jy hoor wat politici oor en weer sê, lyk dit of die kloof onoorbrugbaar is.

Eintlik moet dit nie verbasend wees nie. In die pas verskene boek van dr. Mary Trump, Donald Trump se broerskind (sy is ’n kliniese sielkundige), word ’n pikdonker prentjie geskets van ’n narcis wat niks omgee vir enigiets behalwe sy eie ego nie.

Luidens ’n berig op die BBC-webwerf skryf sy onder meer: “Donald is nie bloot swak nie, sy ego is iets broos wat elke oomblik versterk moet word omdat hy diep binne-in hom voel hy is niks van wat hy voorgee om te wees nie”.

Volgens dr. Trump het hy selfs ’n vriend betaal om sy toegangseksamen tot universiteit namens hom te skryf. Sy persoonlikheidsgebreke is vererger deurdat sy pa, Fred, hom as kind ongenadig geboelie het.

Al wat die president ken, skryf sy, is “lieg, om tot die laagste gemene deler te daal, bedrieg en om verdeling te saai... As hy ’n tweede termyn gegun word, sal dit die einde van die Amerikaanse demokrasie wees.”

Ek ken Donald Trump nie persoonlik nie. Wat wel van buite gesien kan word, is dat hy Amerika tot die been verdeel het.

* Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Donald Trump  |  Ronald Reagan  |  Mary Trump  |  Vsa  |  Amerika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.