Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Ons het nou 'n ekonomiese Kodesa nodig'

’n Ekonomiese Kodesa is nodig in Suid-Afrika, wat nie deur die politiek besoedel word nie en die oog op die toekoms eerder as op die verlede hou. Hierin kan die georganiseerde landbou ’n leidende rol speel, het Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Die landbousektor speel ’n baie belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie en wil deel van langtermyn- ekonomiese oplossings wees. Foto: Gallo Images

Die vernietigende ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie en die onlangse onluste in Suid-Afrika het baie rolspelers weer oor die toekoms van die land laat besin. Volgens Van der Rheede was dit vir hom duidelik dat die grootste oorsaak daarvan sosio-maatskaplik van aard was.

“As ons oë nou nog nie oopgegaan het oor die kwessies van armoede en werkloosheid in die land nie, dan vra ek myself af wát ons uiteindelik sal laat wakker skrik,” sê hy.

Soos dit twee bewoners van die Covid-19-wêreld betaam, gesels ons oor Zoom. ’n Kragonderbreking in sy buurt het Van der Rheede wel genoop om elders ’n stil hoekie met internet-ontvangs te gaan soek.

Hy glo ’n langtermyn-oplossing vir Suid-Afrika se probleme kan net bewerkstellig word as daar ekonomiese groei, inklusiewe groei, werkskepping en sosio-maatskaplike stabiliteit is.

Oor die politiek het ons al gepraat, nou moet dit oor die ekonomie gaan.

Baie – én groot – uitdagings sal oorkom moet word om dié ideale ekonomiese omgewing te skep, maar Suid-Afrikaners kan nie langer stilsit en niks doen nie.

Daarom is ’n ekonomiese Kodesa nodig, meen Van der Rheede.

“Ons het ’n politieke Kodesa gehad,” sê hy met verwysings na die onderhandelings in die vroeë 1990’s wat tot die vestiging van ’n demokrasie in Suid-Afrika gelei het.

“Nou moet ons ’n ekonomiese Kodesa hou. Dit moet ’n gesprek wees wat nie polities besoedel word nie. Oor die politiek het ons al gepraat, nou moet dit oor die ekonomie gaan.”

As politiek nie uit só ’n gesprek gehou gaan word nie, sal dit onder meer daartoe lei dat die grondkwessie voortdurend deur radikale politieke elemente misbruik word, sê van der Rheede.

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, meen ’n ekonomiese Kodesa is nou nodig in Suid-Afrika. Foto: Argief

Dit moet ’n eerlike gesprek wees waarin na antwoorde op verskeie vrae gesoek moet word.

“Ons moet ’n land bou met ’n ekonomiese stelsel wat vir ons jong mense ’n toekoms bied, want my groot vrees is dat daar vir die duisende matrikulante van verlede jaar en vanjaar nie geleenthede sal wees nie omdat ons met ’n argaïese ekonomiese stelsel sit.

“Ons groot probleem in Suid-Afrika is hierdie groot monopolieë – staatsmonopolieë soos Eskom en Transnet. Ons het met die onlangse kuber-aanval op Transnet gesien hoe die hele stelsel van in- en uitvoer tot stilstand kom.

“In boerdery sê ons jy moet nie al jou eiers in een mandjie sit nie, maar dit is hoe ons ekonomiese stelsel gebou is. Eskom het die monopolie op elektrisiteit en Transnet op hawens en die spoorweë.

“Adam Smith, die vader van kapitalisme, het lank gelede reeds gesê monopolieë wat die hele ekonomie beheer en bestuur is ’n groot onding. Ons het mos ook al gesien hoe die hele wêreld se ekonomie deur die ineenstorting van Wall Street tot stilstand gebring is.”

Die eerlike ou wil ’n bydrae lewer, maar met wie gesels hy of sy?

Dié punt is ook met die onlangse onluste bewys toe groot winkelsentrums, wat eintlik dorpe en streke se ekonomieë gemonopoliseer het, afgebrand of geplunder is.

“Toe is almal in die moeilikheid.”

Die probleme hou nie by monopolieë op nie. Daar is nog wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging wat die “hele stelsel geburokratiseer het en dit met allerlei onhaalbare teikens verbind het”.

Boonop vertrou mense nie meer die stelsel nie omdat die vlakke van korrupsie en oneerlikheid te hoog is en daar mense is wat die groter belang van die samelewing nie op die hart dra nie.

“Die eerlike ou wil ’n bydrae lewer, maar met wie gesels hy of sy?” vra Van der Rheede wat ’n paar dae voor ons gesprek self die slagoffer van ’n skelmstreek was.

“Maar ons kan nooit ophou om te probeer goed doen nie, want goedheid het oor die eeue heen nog altyd die boosheid oorwin.”

Van droogtes en sprinkane en ander probleme

Een van die geleenthede verlede jaar toe daar met die hulp van Agri SA kos aan kwesbare gemeenskappe in Kaapstad uitgedeel is. Foto: Jaco Marais

Van der Rheede sal graag wil sien dat ’n ekonomiese Kodesa met kreatiewe, werkbare planne vorendag kom. Sulke gesprekke moet verkieslik in elke dorp plaasvind.

“My visie is dat elke boere-unie, elke sakekamer in die dorp, elke taxi-vereniging, die skole en die kerke bymekaarkom. ‘Raait boys, hoe doen ons nou hierdie goed?’ ”

Georganiseerde landbou kan hier ’n rol van integriteit en visioenêre leierskap vervul, meen Van der Rheede.

“Vir my is dit belangrik dat ons die rol wat die landbousektor die afgelope tyd gespeel het, beklemtoon en ook sê hoe ’n mens die toekoms sien.

Georganiseerde landbou moet sy rug styf maak waar dit nodig is en ons moet hard praat en ons moet ons stem laat hoor waar dit nodig is, maar terselfdertyd kan ons nooit van die onderhandelings-tafel wegstap nie.

“Kommersiële landbou word dikwels as die groot vark in die verhaal gesien, veral as dit by goed soos grond kom.”

Georganiseerde landbou het ’n baie ambivalente verhouding met die regering, maar dit bly ’n baie belangrike verhouding omdat seker gemaak moet word dat ’n beleidsomgewing geskep word waarbinne die landbousektor kan funksioneer.

“Georganiseerde landbou moet sy rug styf maak waar dit nodig is en ons moet hard praat en ons moet ons stem laat hoor waar dit nodig is, maar terselfdertyd kan ons nooit van die onderhandelingstafel wegstap nie.

“Ons moet ’n leierskapsposisie daar inneem en ons moet ’n beter toekoms vir al ons mense beding.”

Die landbousektor sal graag wil hê dat die regering kennis moet neem van al sy uitdagings wanneer beleide opgestel word. “Daar is droogtes, daar is sprinkaanplae, daar is skommelinge in die markpryse, daar is goed soos booswigte wat jou op jou plaas aanval. So ’n boer moet elke dag met een oog oop lê en natuurlik het jy die geweldige disfunskionaliteit op munisipale vlak waar daar nie behoorlike dienslewering is nie.

“Dan praat ek nie eens van stygende elektrisiteitskostes en ander insetkostes soos byvoorbeeld bemestingstowwe nie.

“Dis nie maklik om ’n boer te wees nie, maar ondanks daai druk waaronder boere verkeer, het ons verlede jaar daarin geslaag om die land se voedselvoorraad in stand te hou en aan te vul. Voedselinflasie is in bedwang gehou. Dit is eintlik die grootste prestasie waaraan jy kan dink.

“Ons het versoeke gekry uit Mosambiek en Zimbabwe: ‘Asseblief, help ons met kos.’ Hulle het as gevolg van beleidsraamwerke in ’n situasie verval waarin hulle nie meer hul mense van kos kan voorsien nie.

“Hierdie jaar sien ons weer die geweldige rol wat landbou in terme van die opstande in KwaZulu-Natal gespeel het. Deur ons interaksie met die regering kon ons onmiddellik sê hulle hoef nie bekommerd te wees nie, daar is genoeg kosvoorraad vir die land. Ons kon ook onmiddellik seker maak dat dit oor die land heen vervoer kon word.

“Dit is waar die verbintenis en die skakeling met die regering so kritiek is, want as jy nie teenwoordig is in daai gesprekke nie en jy laat nie jou gesag daar geld nie, dan bly die regering oningelig oor die situasie en weet dan nie wat om te doen nie.”

‘Jy kan nie net links en regs grond uitdeel nie’

Opkomende boere moet met behoorlike opleiding en finansiering bygestaan word. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Gesprekke met die regering oor hoe om grondhervorming op ’n geordende manier te doen is net so belangrik. In gesprekke moet dit duidelik gemaak word watter beleid sal werk en watter beleid nie sal werk nie. Behoorlike opleiding van en finansiering vir nuwe boere moet ook ter sprake kom.

“Jy kan links en regs vir mense grond uitdeel, maar as hulle nie behoorlik opgelei is nie en nie finansiering het nie, dan is hulle van die begin af doodgebore.”

Volgens Van der Rheede is daar ministers in die kabinet wat ’n realistiese uitkyk op sake het, goed in die ekonomie onderlê is en volkome begrip vir die situasie het. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar en is daar ministers wat steeds ras en die verlede as die grondslag vir sekere beleide wil gebruik.

“Ons het vir hulle uitgewys dat as jy daardie pad begin inslaan, ondermyn jy nie net kommersiële landbou nie, maar ook opkomende boere. Opkomende boere se sukses is tot in ’n groot mate van kommersiële landbou se sukses afhanklik. Jy kan nie die een sonder die ander hê nie.

Georganiseerde landbou moet juis nou na vore tree en ’n baie spesifieke leierskaprol vervul om die mense van die land saam te bind, om swart en wit byeen te bring en die kos op die tafel te sit.

“Dit is waar Zimbabwe en ander lande ’n groot fout begaan het. Hulle wou kommersiële landbou doodmaak in die hoop dat dit dan geleenthede vir opkomende boere sal skep.

“Ons groot argument is dikwels in hierdie gesprekke met die regering dat die kommersiële landbousektor nie vir die wolwe gegooi moet word nie. Dit moenie as ’n vyand of struikelblok gesien word nie. Jy praat van meer as 100 jaar se kommersiële landboukundigheid wat ons het.

“En hierdie ouens gaan nêrens heen nie, want jy kan nie jou grond soos ’n fabriek vat en op ’n ander plek gaan sit nie.”

Ras moenie deel van die debat wees nie, sê Van der Rheede.

“Sodra jy mense op grond van velkleur begin takseer of op grond van velkleur marginaliseer, skep jy verskriklike verdeeldheid en onderlinge wantroue en jy bring net groter wanhoop. Dit kan ons nie bekostig nie, veral nie nou nie.

“Georganiseerde landbou moet juis nou na vore tree en ’n baie spesifieke leierskaprol vervul om die mense van die land saam te bind, om swart en wit byeen te bring en die kos op die tafel te sit.”

Maar dit gaan oor veel meer as net ’n bord kos op die tafel.

“Ons moet ook seker maak dat mense saam eet en dit saam geniet. Só bou jy die nasie. Om vas te klou aan hoe dinge in die verlede gebeur het, gaan nie werk nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.