Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Lang-Covid en sy simptome

Simptome wat jy ondervind ná besmetting met die koronavirus, kan dui op ’n blywende siekte, skryf Shamil Haroon en Olalekan Lee Aiyegbusi.

Chroniese moegheid is ’n simptoom van lang-Covid. Foto: Unsplash

Vroeër in die Covid-19-pandemie het dit gelyk asof die meeste mense wat met die koronavirus besmet word, lig tot matige simptome ervaar en gewoonlik binne twee tot drie weke herstel, afhangend van hoe ernstig die siekte was.

Maar mettertyd het dit duidelik geword dat sommige mense, ondanks die erns van hul siekte, aanhou simptome ervaar – lank nadat die akute fase van die infeksie al verby is. Dit staan bekend as “lang-Covid”.

Dit blyk uit nuwe navorsing dat die pasiënte ’n reeks blywende simptome en gesondheidskomplikasies ervaar. Dit kan ’n beduidende impak hê op hul lewensgehalte, fisieke en geestesgesondheid, asook op hul vermoë om terug te gaan werk toe.

Volgens berigte is daar ’n groot verskeidenheid simptome, wat dit moeilik maak om die toestand te definieer.

Maar om lang-Covid te verstaan, is moeilik. Volgens berigte is daar ’n groot verskeidenheid simptome, wat dit moeilik maak om die toestand te definieer.

Baie lyers word ook nie in die akute fase van hul besmetting gehospitaliseer nie. Dit beteken hulle is nie in die pandemie se eerste vlaag vir die koronavirus getoets nie.

Dit maak dit nóg moeiliker om te verstaan wat die moontlike oorsake van hul blywende simptome is en ook hoe die simptome verbind word met simptome wat pasiënte vroeg in hul siekte gehad het.

Ons en ander navorsers van die Therapies for Long Covid (TLC)-studiegroep aan die Universiteit van Birmingham het besluit om uit data van verskillende studies ’n duideliker prentjie van lang-Covid en wat dit beïnvloed, te probeer kry.

Dit het ons ’n blik op die simptome gegee, wat ons gehelp het om beter te verstaan wat die impak van die komplikasies van lang-Covid is. Hier is wat ons gevind het.

Simptome van lang-Covid

Wetenskaplikes het vasgestel dat lang-Covid ’n enorme impak op mense se lewensgehalte het en dat daar dringend maniere gevind moet word om dit te behandel of te bestuur. Foto: Unsplash

Ons navorsing het gewys hoe uiteenlopend die simptome van lang-Covid kan wees. Pasiënte kan simptome ervaar wat met enige deel van die lyf verband hou – met jou asemhaling, neurologies en gastro-enterologies.

Ons data het gewys die tien algemeenste simptome vir lang-Covid is moegheid, kortasem, spierpyne, hoes, hoofpyn, gewrigpyne, borspyn en ’n aangepaste reuk- en smaaksintuig, asook diarree.

Ander algemene simptome sluit in ’n wasige gevoel – wanneer denke wollerig en stadig voel – geheueverlies, deurmekaar slaappatrone, hartkloppings en 'n seer keel.

Minder algemene, maar belangrike simptome sluit in gedagtes oor selfdood, selfskending en selfs stuiptrekkings.

Die meeste pasiënte met lang-Covid kla dat van die simptome wat hulle tydens die akute infeksie gehad het, voortduur lank nadat hulle siek was.

Van hulle het splinternuwe simptome aangemeld en by ander het simptome weggegaan en toe weer teruggekom.

Lang-Covid is ’n omvattende toestand wat baie soorte klagtes insluit.

Een van die studies wat ons ingesluit het, het twee hoofklusters van simptome van lang-Covid beskryf: Dié wat net oor moegheid, hoofpyn en hul boonste lugweë gekla het; en dié met ’n verskeidenheid klagtes soos koors en gastro-enterologiese simptome.

Die twee kante wys hoe moeilik dit is om lang-Covid raak te vat. Dis ’n omvattende toestand wat baie soorte klagtes insluit.

Die middel- en langtermyngevolge en impak van lang-Covid moet nog verstaan word. Maar die getuienis wat ons hersien het, dui daarop dat mense met lang-Covid ’n afname in lewensgehalte kan ervaar, kan sukkel om hul daaglikse aktiwiteite te doen of heeltyds terug te keer werk toe. Hulle kan ook probleme met geestesgesondheid hê.

Een studie meld dat byna ’n kwart van Covid-19-pasiënte wat gehospitaliseer is, met angs of depressie sukkel ses maande nadat hul aanvanklike simptome begin het.

Mense met lang-Covid sê dikwels dat hulle deur gesondheidswerkers afgemaak word en min of geen ondersteuning kry om hul toestand te bestuur nie. Dit onderstreep die behoefte aan beter behandeling.

Wat verhoog die waarskynlikheid vir lang-Covid?

’n 'n Wasige gevoel is tekenend van lang-Covid. Foto: Unsplash

Ons het gevind dat verskeie faktore geassosieer word met die ontwikkeling van lang-Covid.

Een studie het bevind dat meer as vyf simptome in die eerste week van infeksie beduidend verband hou met lang-Covid later, ondanks die ouderdom of geslag van die pasiënt.

Daarbenewens is ook gevind veral ouer vroue wat met die eerste simptome gehospitaliseer is, ’n verhoogde risiko het om lang-Covid te ontwikkel.

Verskeie studies het egter getoon dat die ontwikkeling van lang-Covid nie noodwendig verband hou met hoe ernstig die aanvanklike siekte was nie.

Sekere simptome tydens die akute fase van infeksie, soos kortasem, borspyn of abnormale hartklanke, het sterk verband gehou met die ontwikkel van langdurige simptome. Onderliggende siektes, veral asma, het ook die risiko verhoog.

Mense wat met ernstige Covid-19 in die hospitaal beland het, het ’n groter kans om agterna lang-Covid te ontwikkel. Foto: Unsplash

Wat die groot veranderlikheid van lang-Covid eintlik wys, is dat dit uit verskillende sindrome bestaan. Dit is moontlik dat elkeen daarvan verskillende onderliggende oorsake het.

’n Beter begrip van die onderliggende biologiese en immunologiese meganismes van lang-Covid is dus dringend nodig as ons doeltreffende behandelings daarvoor wil ontwikkel.

Die impak wat dit het op pasiënte se lewe, werk en geestesgesondheid, maak dit duidelik dat daar ’n dringende behoefte is aan beter maniere om mense met lang-Covid te versorg.

Buiten vir die evaluering van simptome en die ondersoek na die onderliggende meganismes van lang-Covid, het ons TLC-studiegroep onderneem om moontlike ingrype vir die behandeling van lang-Covid te identifiseer, wat in kliniese proewe geëvalueer kan word.

* Aiyegbusi is ’n navorsingsgenoot aan die Instituut vir Toegepaste Gesondheidsnavorsing aan die Universiteit van Birmingham en Haroon is 'n kliniese lektor aan dieselfde Instituut en universiteit. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


Meer oor:  Lang Covid  |  Koronavirus  |  Hoofpyn  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.