Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Lank lewe die Wit Zoeloe!

Hy het nooit Johnny Clegg se hand geskud of eens twee woorde met hom gepraat nie. Maar tog voel sy dood persoonlik, skryf Vicus Bürger, so asof jy iemand na aan jou verloor het.

Johnny Clegg op sy Final Journey-wêreldtoer.

Johnny Clegg is dood. Lank lewe die Wit Zoeloe!

In van die hope huldeblyke wat vir Johnny Clegg instroom, lees ek dat hy Afrika se Bob Dylan was. Regtig?

Dit was pynlik toe ek Dinsdagaand van sy dood hoor.

Ek het onrustig geslaap en Woensdagoggend soos ’n kind gehuil. Ek huil toe nie net oor sy dood nie, maar sommer ook oor my pa en ma s’n jare gelede.

Ek het nooit Johnny se hand geskud of eens twee woorde met hom gesels nie. Ek het hom wel in 2017 in Johannesburg gesien optree – dit was ongelooflik, met elke danspassie het hy ’n vuishou teen sy kanker laat klap. Ek het met sy musiek grootgeword, en dit voel dus tog persoonlik, so asof jy iemand na aan jou verloor het.

Die wêreld was toe al wreed en waansinnig, maar Johnny met sy danspassies was pragtig.

Ek was ’n laaitie toe ek Johnny en Savuka en Juluka die eerste keer oor die luidsprekers van my ouers se Sharp-hifi gehoor het.

My gunstelinge was “The Crossing”, “Great Heart”, “Cruel, Crazy, Beautiful World” en “Asimbonanga” (Madiba se tune).

Ons het naweke op Theunissen na onder andere hom en sy band geluister terwyl my pa skaaptjoppies of snoek braai. My ouers het Sondagmiddae geslaap. Die hifi is dan afgeskakel, maar Johnny het steeds tussen my ore gesing. As ek my oë toegemaak het, kon ek hom sien dans ook.

Ek het in die tuin daai Zoeloe-danse probeer doen, en vaal gras en blare opgeskop. Ek het ’n paar keer op my alie beland. Die winterson het nietemin soos ’n verhooglig geskyn.

Die wêreld was toe al wreed en waansinnig, maar Johnny met sy danspassies was pragtig.

’n Nalatenskap van inspirasie

Dis nie net nóg ’n kunstenaar wat dood is nie. Daardie herinneringe sterf saam met hom, nie waar nie?

Nee. Dis nie hoekom ek so hartseer was nie. Nadat ek die trane afgevee het, het ek besef dis nostalgie – mooi herinneringe met ’n klankbaan wat jou hart laat bars – en dat hoewel Johnny en my geliefdes dood is, leef hul nalatenskap voort.

Johnny se nalatenskap is een van inspirasie.

Vicus Bürger

Hy het folk rock en 80’s-popmusiek met Afrika-klanke versoen, en dit was lieflik. In ’n moeilike tyd, nog voor die val van ’n wrede bestel wat op sy makste mense van mekaar vervreem het, het mense oor kultuurgrense heen saamgesing en gedans.

Dis wat hy ons leer.

Die meerderheid mense dink in uiterstes – wit of swart en helde of booswigte.

Ons soek die “bestes” onder ons, maar meer dikwels die “slegstes” onder ander.

Die ironie is dat niemand werklik net goed of sleg is nie. Ons is almal maar so iewers tussenin.

Daar is nie heiliges nie, net flentergat-mense wat almal op soek is na ’n toekoms vir hul kinders en ’n waardige bestaan, ondanks hul velkleur of die taal wat hulle praat.

As die “ons” en “hulle” dus geskrap word, en ons fokus op ons raakpunte en ons mooi, edele eienskappe, kan ons van mekaar leer en ’n indrukwekkende nasie skep.

Nie ’n vervelige of bleek en homogene samelewing wat deur eendersheid van alle uniekheid gestroop word nie. Eerder ’n kleurryke nasie waar diversiteit, verdraagsaamheid en liefde gekoester word.

Hy is nie ’n tweederangse kunstenaar in die skaduwee van ’n ander musikant nie.

Johnny het bewys ons kan versoen, maar terselfdertyd ons diversiteit of uniekheid behou en uiteindelik iets nuuts uit alles skep. Die saam-mekaar-anders-maak, soos die digter Breyten Breytenbach predik.

So is Johnny Clegg Afrika se Dylan?

Nee.

Hy is nie ’n tweederangse kunstenaar in die skaduwee van ’n ander musikant nie.

Hy is ’n seun van Afrika, die Wit Zoeloe! ’n Legende uit eie reg, die grootse gees wat soos ’n impi met musiek en danspassies as skild en spies teen siekte en onreg geveg het.

Lank lewe die Wit Zoeloe!

* Bürger is Netwerk24 se nuusredakteur in Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Vicus Bürger  |  Johnny Clegg  |  Bob Dylan  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.