Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Leefruimte vir Afrikaans

Die konseptaalbeleid vir hoër onderwys wat nou vir openbare kommentaar dien, is die resultaat van hersiening oor etlike jare heen ten einde die bestaande 2002-beleid te vervang. Vanselfsprekend word taalbeleid net soos ander beleid reëlmatig hersien (idealgewys elke vyf jaar) ooreenkomstig ’n veranderende beleidsomgewing.

En het daar nie sedert 2002 veel in Suid-Afrika gebeur nie! Ons verneem egter eers in 2011 van die noodsaak vir taalbeleidshersiening aan universiteite by een van ons vorige ministers, Ndebele Nzimande. Dit was tydens ’n vergadering van die ministeriële adviesraad oor die ontwikkeling van Afrikatale in hoër onderwys.

Hierdie adviesraad is amptelik in 2012 ingestel ná verslae deur twee ministeriële komitees – een in 2003 oor die ontwikkeling van inheemse tale as onderwysmedia, en een in 2008 oor transformasie aan universiteite.

Die konseptaalbeleid word ingelei met verwysings na hierdie en soortgelyke inisiatiewe, maar terselfdertyd met ’n vingerwysing na universiteite omdat hulle sloer met die Afrikatale.

Buiten die Universiteit van Limpopo, Universiteit van KwaZulu-Natal en die Rhodes-Universiteit het Suid-Afrikaanse universiteite grootliks in gebreke gebly om aanbevelings hieroor uit te voer.

Pleks daarvan het hulle begin flankeer met die gedagte dat Engels die aller akademiese taal is; Afrikaans grootliks as alternatiewe voertaal verwyder word, en selfs begin om departemente van Afrikatale te sluit.

Die voorgestelde taalbeleid is daarop gerig om die situasie om te keer deur universiteite nou te verplig om taalbeleid te aanvaar wat prominente status aan die Afrikatale verleen;) hul aanwending en ontwikkeling daadwerklik sal steun (ook finan­sieel);) die behoud van alle akademiese tale (insluitend Afrikaans) sal verseker,) en taalgelykberegtiging en -vryheid van taalkeuse bewerkstellig.

Deels moet dit geskied om transformasie te verstewig, maar ook om institusionele inklusiwiteit en sosiale kohesie te bevorder, en om van universiteite instellings te maak wat verantwoordelik reageer op die eise van ’n meertalige samelewing eerder as om Engelse taaleilande te word.

Die spesifieke vereistes wat aan universiteite gestel word, onder meer om ander tale naas Engels as akademiese tale te ontwikkel en te gebruik, dui daarop hoe uit pas die meeste Suid-Afrikaanse universiteite met die veranderende beleidsomgewing is.

Die perspektief van die hersiene taalbeleid staan in skrille kontras met die voormalige Afrikaanse universiteite se halsoorkop hersieningspoging van taalbeleid sedert die populistiese studentebewegings van 2015 (soos #RhodesMustFall) en hul bejammerenswaardige obsessie om van Afrikaans ontslae te raak en ter wille van vrede en kamtige eenwording en nog allerlei mooiklinkende en vertroostende redes te verengels.

Dit moet vir die universiteite en hul leiers as ’n redelike skok kom dat die konseptaalbeleid hoegenaamd nie sulke sentimente verkondig nie en eerder toevoeging as wegneming voorstaan.

Oorhoofs beskou, verteenwoordig die taalbeleid ’n drastiese denkskuif oor taal aan universiteite. Ofskoon heelwat van die kernbepalings uit 2002 in een of ander vorm behou word, soos dat universiteite moet voortgaan met vreemdetaal-onderrig en -steuning aan studente om die tale (let wel: meervoud) van onderrig en leer te bemeester, is seker die opvallendste verskil dat universiteite nou verplig word tot ’n reeks ingrypende taalreëlings.

Dat van universiteite verwag word om hul taalbeleide (opnuut) te hersien, is ’n duidelike sinjaal dat die Anglomanie wat universiteitsleiers sedert 2015 beetgepak het, nie die gewenste uitkomste gelewer het nie.

In praktiese terme, voldoen ’n instelling soos die Universiteit van die Vrystaat se nuwe taalbeleid om ten minste twee redes nie aan die vereistes van die konseptaalbeleid nie.

  • Kovsies voeg nie ’n Afrikataal toe as universiteitstaal nie (dit is nou naas Afrikaans en Engels), en
  • dui nie konkreet aan hoe die gekose Afrikataal (of selfs tale) tot volwaardige akademiese tale ontwikkel en Afrikaans as taal van geleerdheid behou gaan word nie. Die konseptaalbeleid behoort dus die nuwe UV-rektor se hand te sterk in sy voorneme om Afrikaans verder te (bly) ontwikkel. Die hersiene taalbeleid gee konkrete riglyne.

Natuurlik is daar diegene wat sal voel dat die groot klemskuif na Afrikatale deur Afrika-nasionalisme geïnspireer word. Dit is egter so dat taalopheffing (beslis hier) selde slaag sonder ’n taalnasionalistiese dryfveer.

Die ontwikkeling van Afrikaans tot standaardtaal, grootliks danksy Afrikanernasionalisme, is ’n klassieke voorbeeld, maar nie al een nie. ’n Mens moet voorlopig aanvaar die middel heilig die doel – sonder Afrika-nasionalisme gaan Afrikatale nie tot volle wasdom ontwikkel nie.

Die voorgestelde taalbeleid kan as ’n mylpaal beskou word omdat dit konkrete riglyne aan beleidmakers gee oor wat om te doen rakende ’n billike talebestel aan universiteite. Die onverwagse bonus is dat Afrikaans nou weer ’n leefruimte as ’n volwaardige akademiese taal aan universiteite gegun word.

Hopelik sal universiteite die voorgeskrewe, hernude hersieningsoefening hierdie keer reg aanpak en in beleidsvoorskrifte slaag.

  • Prof. Theodorus du Plessis is direkteur van die eenheid vir taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat.
Die konsep-taalbeleid

Die departement van hoër onderwys en opleiding se konsep-taalbeleid vir hoër onderwys is op 23 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer (onder meer vir kommentaar teen 16 Maart).

Dit is daarop gerig om

  • instellings vir hoër onderwys te begelei in die ontwikkeling van taalbeleid wat die amptelike inheemse tale rakende onderrig, leer, navorsing, innovering en wetenskap sal versterk.
  • voorsiening te maak vir die ontwikkeling, implementering, monitering en evaluering van institusionele taalbeleid.
  • transformasie in hoër onderwys te bevorder deur die bevordering van die status en funksies van voorheen gemarginaliseerde tale, inklusiwiteit en sosiale kohesie.
  • die onderrigmedium of -me­diums, ooreenkomstig die grondwetlike reg tot taalkeuse en die uitvoerbaarheid daarvan in hoër onderrig te reguleer.
  • die kommunikasietaal of -tale aan universiteite te reguleer.
  • instellings vir hoër onderwys se rol by taalbeplanning te konstateer, veral rakende taalontwikkeling en taalstatusverhoging van agtergeblewe tale (insluitende nie-amptelike tale soos Nama en Suid-Afrikaanse Gebaretaal) en taalhulpbronaanwending en -voorsiening (deur die opleiding van taalonderwysers en -praktisyns wat ’n meertalige samelewing kan bedien)

Voorskrif:

  • Universiteite moet hul taalbeleid (opnuut) hersien om die Afrikatale ingevolge die konsepbeleid in te sluit en ander nuwe bepalings te verwesenlik.
  • Die hersiene taalbeleid moet ook
  • diverse onderwystale en inheemse amptelike tale aan universiteite insluit.
  • op deursigtige wyse ander amptelike tale buiten Engels as tale van geleerdheid, onderrig en leer verklaar
  • alle interne kommunikasiemateriaal in ten minste drie ander amptelike tale beskikbaar stel.
  • spesifieke strukture vestig om die implementering van die hersiene taalbeleid te verseker.
  • taalontwikkelingseenhede vir navorsing in die amptelike tale instel.
  • vennootskappe met ander universiteite en instansies vestig.
  • jaarlikse verslae van rektore oor beleidsimplementering aan die minister insluit.

Voorts moet

  • die departement ’n gedetailleerde plan vir langtermyn-ontwikkeling vir die behoud van alle amptelike tale as tale van geleerdheid en hoër onderwys (Afrikaans inkluis) opstel.
  • die departement taalfinansiering beskikbaar stel vir die implementering en monitering van die beleid. ) Kommentaar voor 16 Maart aan: Mabizela.C@dhet.gov.za

Meer oor:  Afrikaans  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.