Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Leierboer: ‘Hóé moet ons oorleef?’

Die ander dag het hy die minister sprakeloos gelaat toe hy gesê het die droogte het hom al byna geknak. Willem Symington vertel aan Willemien Brümmer hoekom boere in die Noord-Kaap breekpunt bereik het.

Willem Symington, leierboer van die Noord-Kaap, op sy plaas Leeuwkrantz buite Williston. Hy het onlangs aan die minister van landbou, Thoko Didiza, gesê dat hy weens die knellende droogte volgende jaar die einde van sy pad gaan bereik. Foto: Louise Symington

“Ons horison gaan nou net tot die einde van die maand. Daar ís nie meer planne vorentoe nie.”

Willem Symington, leierboer van die skaapplaas Leeuwkrantz buite Williston in die Noord-Kaap, is reddeloos. Raadop.

Só keelvol dat hy aan die begin van die jaar vir die minister van landbou, Thoko Didiza, gesê het dat hy weens die knellende droogte volgende jaar “die einde van die pad gaan bereik”.

“Ek is 55, wit en manlik. Ek is amper aan die einde van die pad. Waarheen nou?” het Symington, Agri Noord-Kaap se adjunkpresident en hoof van Agri SA se rampbestuursentrum gesê.

Vandag, sowat tien dae nadat hy die minister vir ’n oomblik sprakeloos gelaat het, is hy sku vir die kollig. Maar hy wil tóg hê ons moet verstaan dis nie net sy boerdery wat kan vou nie – dis die hele Noord-Kaap.

Indien ek nie ernstig finansiering van ’n kant af kry nie, dan gaan ek nie hierdie jaar oorleef nie.

Hy knik selfbewus hier waar ons in ’n restaurant in die Kaapse wynlande sit wat ligjare verwyder is van die dorheid van sy plaas. Elke nou en dan spring hy op om ’n oproep te maak en ’n krisis te beredder.

“Indien ek nie ernstig finansiering van ’n kant af kry nie, dan gaan ek nie hierdie jaar oorleef nie. Ek gaan nie langer kan vee verkoop nie, ek gaan nie lone kan betaal nie . . . dis kláár. Die punt is, daar gaan mos nou ’n stadium kom wat die banke nie verder kan finansier nie, dis mos nou logies.”

Sy vrou, Louise, sit langs hom by die restauranttafel. “Jy eet die droogte, jy slaap dit, jy sien dit, jy drink dit en jy leef dit.”

Hy vee oor sy kort, swartgrys hare. “Dis jou lewe, jou héle lewe. Jou horisonne raak mos nou al hoe korter, want jy wil die einde van die maand haal, want dis waar die volgende stelletjie rekeninge lê. As jy dít gehaal het, is dit weer die einde van die volgende maand.”

Daar is ’n diep keep tussen sy swart wenkbroue. “Die tipe stres en die tipe invloed wat dit op ’n persoon het is baie soortgelyk aan dit wat mense in ’n oorlogsone ervaar. Plekke soos Damaskus en Beiroet en die geweldige streslading wat dit op jou plaas. Ek sien dit in daai lig, die aanhoudendheid van net dag vir dag, week vir week, maand vir maand . . . dat die situasie net aanmekaar versleg en versleg en versleg en jou planne raak al hoe minder.”

Willem by die voerbale wat hy en die ander boere in die omgewing by skenkers kry. “As jy by ons ’n dier in die veld los, dan sal hy vrek,” sê Willem.Foto: Louise Symington

Die laaste keer toe hulle reën op hul plaas gesien het was op 12 Desember 2012. Sedertdien is dit tien druppels hier en tien druppels daar, maar “dit maak net sulke nat kolletjies op die stoep”, sê Louise.

Bedags wil sy nie eens meer buitentoe gaan nie. Maar saans teen skemertyd gaan draf sy en haar kamera om in die genade van die laaste lig die droogte te dokumenteer.

My kinders word groot met die konsep van jy skryf hier ‘Ek wil boer’, dan vee jy dit met ’n lappie af en dan knoop jy jou hemp toe en dan vergeet jy daarvan.
Louise Symington

Maand ná maand, jaar ná jaar, word die foto’s triestiger. Eers die laaste reën op 12 Desember 2012 en die tweeling wat op kano’s baljaar op die dam. Nou is daar op dieselfde plek net gebarste grond. Vandag is haar foto’s van geroeste draadhekke, plaaspaaie wat slinger na nêrens en reënboë sonder belofte.

“Dis asof die droogte mos in ’n ou se kop inklim en later voel dit vir jou jy’s eintlik maar net lus vir niks,” sê Louise, ’n oud-onderwyseres wat bedags nie verder as die braai loop nie.

Sy wys na haar maag. “My kinders word groot met die konsep van jy skryf hier ‘Ek wil boer’, dan vee jy dit met ’n lappie af en dan knoop jy jou hemp toe en dan vergeet jy daarvan.”

Op die eerste foto, in November 2020 geneem, sny ’n werker op die plaas Leeuwkrantz hawer om dit te baal. Nou, in Januarie 2020, is daar geen hawer meer oor om te baal nie. Foto: Louise Symington

Wie moet die rekeninge betaal?

Hul plaas is nie uniek nie. In dié stadium, sê Willem, word 80% van die Noord-Kaap gery deur die droogte. Dis soos die misbol van ’n miskruier wat al groter word hoe verder hy rol.

Teen einde verlede jaar was daar reeds 62 000 werksverliese in die landbou-produksieketting in die Noord-Kaap en 15 000 plase hier wat ’n volgehoue droogte beleef.

“Die algemene beeld is dat veral boere in die westelike deel van die provinsie diere verminder en ná drie jaar sal hy omtrent 30% van sy weidingskapasiteit minder aanhou. Dis doodeenvoudig dieselfde beginsel as wat ’n wingerdboer sy wingerd snoei. En dan daarvandaan as die droogte in felheid toeneem ná vyf jaar en meer dan sak hy onder 50% van sy produktiewe kudde toe . . .”

Sy gevoude hande wys ondertoe. “Eers gebruik jy nou die vee wat jy verminder het se geld. Daarna, as hulle op is, kompenseer jy met jou spaargeld. As dít op is gaan soek jy ’n finansierder, kláár. Maar ons is nou op die punt waar daai goed nou opgebruik is, so die einde van die maand se rekeninge – waar moet dit betaal word?

“Dan vat die boer nou van daai aanteelooie wat hy oorgehou het en dan laai hy nou ’n bakkievrag en ’n sleepwavrag vol en dan laat slag hy hulle. Met ander woorde, nou sny hy sy salaris aan die agterkant. Maar hoe moet hy anders oorleef? Hy kan nêrens anders meer oorleef nie. En dit gaan nie net met my gebeur nie.”

Ek weet nie wat ons met ons mense gaan maak as hierdie ding nou aangaan en die regering help hulle nie.

Die probleem is “daar is nie meer ’n plek oor waar die plaasbewoners, eienaars en werkers kan geabsorbeer word in die arbeidsmark nie”.

Die laaste droogte wat só gelyk het, was in 1927, “en toe het die boere op die N1 loop pad bou,” sê Willem. “Baie van die boere het na die stede verhuis en by die spoorweë en by die myne loop werk. Daar was plekke in die ekonomie om hulle te absorbeer, wat daar vandag nie meer is nie. Ek weet nie wat ons met ons mense gaan maak as hierdie ding nou aangaan en die regering help hulle nie.”

Hy sug. “Binne ons omgewing is daar net een ding en dis landbou.”

Willem se vrou, Louise, gaan draf elke aand teen skemertyd op die plaas om in die genade van die laaste lig die droogte te dokumenteer.Foto: Louise Symington

Spookdorpe

Hy kan nie meer byhou met al die boere wat eenvoudig die plaashek toegetrek het en die pad gevat het nie. Die probleem is – wie gaan sy plaas koop?

Die probleem is as dit eers ’n spookdorp is gaan dit nooit weer verander nie. Jou besighede stop net.

“In elke distrik is daar verskeie plase in die mark. En met so baie plase in die mark het jy nie eens meer ’n prys in elk geval nie,” sê Louise sag. “Toe ons gekoop het in 2003 het daai grond so vinnig verhandel dat as daar ’n plaas in die mark gekom het, was daar hordes mense wat belang gestel het en jy moes koop teen die prys wat die ou wou hê en jy moes vinnig koop en klaar koop. As daar twintig plase in die mark is, dan hét hy nie ’n prys nie. Die mense soek nou maar werk op ander plekke.”

Willem vryf deur sy hare. “Die probleem is as dit eers ’n spookdorp is gaan dit nooit weer verander nie. Jou besighede stop net. En wie gaan oorbly? Die weerlose mense.”

Neem nou maar Williston as ’n voorbeeld. “Die handelshuis, die koöperasie, alles behoort aan die boere. Met ander woorde vat jy daai boere weg, dan vou daai besigheid. Wat bly oor? Niks. Jy gaan nie meer ’n onderwyser kry wat daar wil kom bly nie, want die skool loop dood. Jy gaan nie meer verpleegpersoneel kry wat daar wil kom bly nie, want jou kliniek gaan tot niet. Dan het jy jou magistraatskantoor en jou munisipale kantoor en so aan. Watter tipe amptenaar wil daar bly as daar geen infrastruktuur in die dorp is nie?”

Rye bakkies staan tou by die koöperasie op Williston om voer op te laai van skenkers. Foto: Williston Droogtehulp-Facebookblad

As die damwal breek

Die een ding wat die boere en hul werkers nog op die plase hou is die skenkings, sê Willem. “Jong, dis ongelooflik wat mense doen. Kos, voer, geld, hulp met skoolfonds . . .”

Louise straal. “Die geskenke wat ons twee se kinders gekry het hierdie vakansie is ongelooflik! My een seuntjie het so gekyk en gesê: ‘Weet jy, Mamma, ek kan nie gló dat enige ander mens sommer net so iets vir jou sal gee nie’.”

Hy knik. “Hierdie uitreikaksies van mense het ’n ongelooflike invloed op die psige van ons mense. Iemand anders gee om. En wat nou in verskeie gesprekke deurgekom het, en ek verstaan dit persoonlik ook, is ek kan my nog beheer en myself dissiplineer vir die moeilikheid, maar moet net nie dat iemand vir my góéd is nie, dan breek die damwal. Jy’s nou in hierdie skrum en daar is nie nou tyd vir hartseer wees nie, maar as ’n ou in daai skrum vir jou goed is, dan . . .”

Sy oë blink. “So die mense is op bréékpunt.”

Willem by sy skape wat wag om gevoer te word. Die produksie op die meeste skaapplase in die Noord-Kaap het met 50% gedaal sedert die droogte meer as sewe jaar gelede begin het.Foto: Louise Symington

‘Dan red ek die provinsie’

Maar nee wat, die R300 miljoen skenking aan die Noord-Kaap wat onlangs deur die departement van water en sanitasie bewillig is om onder meer boorgate te sink is “belaglik”.

“Dís nie waar die nood lê nie,” sê Willem vinnig. “Wat ons nodig het is veevoer. Die oomblik as jy die vee kos gee, dan behou jy die getal diere op die plaas, jy maak die bietjie geld wat die ou wel nog genereer los om sy ander verpligtinge na te kom en jy hou die diere in produksie en aan die lewe.”

As die minister van landbou nóú vir hom R700 miljoen gee, dan red hy veeboerdery in die Noord-Kaap – én hy red die provinsie se ekonomie daarmee.

“Die tipe stres en die tipe invloed wat die droogte op ’n persoon het is baie soortgelyk aan dit wat mense in ’n oorlogsone ervaar,” sê Willem.Foto: Jaco Marais

Hy kom al ’n lang pad met georganiseerde landbou en só ontwikkel jy vakmanskap. Syne is omgewingsake en natuurlike hulpbronne en rampbestuur.

“Maar jy weet, as ’n ou jaar in en jaar uit met hierdie goed werk op hierdie vlak – distriksvlak, provinsiale vlak en nasionale vlak – en jy kry geen vordering nie, dan raak jy party dae kwaad en onbeskof, veral as jy alles, álles, alles doen . . . En ons is nie politici nie, ons is nie eens groot sakemense nie, ons is plein boere . . . dan probeer jy lateraan op ’n ander vlak ook tot ’n ou deurdring.”

Dis daarom dat hy nou die dag, heeltemal uit karakter, vir die minister gesê het sy doppie is byna geknak. En veral by transformasie het hy ’n bietjie “die spoor verloor”, want die beginsel wat hy doodeenvoudig by haar wou vestig is boere wíl die landbousektor transformeer.

“Maar indien ek as ’n ou met twee landbougrade wat van 1990 af suksesvol boer . . . indien ek in 2020 op die punt kom wat ek kan síen dat ek nie langer kan aangaan nie, hoe wil die minister die opkomende sektor suksesvol vestig in hierdie omstandighede?”

“Indien ek nie ernstig finansiering van ’n kant af kry nie, dan gaan ek nie hierdie jaar oorleef nie. Ek gaan nie langer kan vee verkoop nie, ek gaan nie lone kan betaal nie . . . dis kláár.”Foto: Jaco Marais

Hy staan op, haastig op pad na ’n volgende afspraak. “Die helfte van Zimbabwe se mense moet nou by die VN kos kry. Hulle is nie by voedselnood nie, hulle is op die rand van verhongering. Met ander woorde as jy nie vir hom hulp aanbied nie, gaan hy doodgaan. Daai besef is nie eens in ons regering se koppe nie. Ons is gewoond daaraan in ons land is kos – maar dit gaan verander.”

Ek gáán boer in Suid-Afrika. Beslis! Vir seker gaan dit weer reën.

Sal hy self sommer sy plaashek toetrek?

Hy bly ’n oomblik stil, skud toe sy kop stadig. “Ek gáán boer in Suid-Afrika. Beslis! Vir seker gaan dit weer reën.”

Hy aarsel. “Ek moet net op die plaas wees die dag as dit reën.”

Meer oor:  Willem Symington  |  Willemien Brümmer  |  Droogte  |  Noord-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.