Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Lena, die luiperd en die blinde meisie

Murray La Vita vertel van ’n loeiende luiperd, ’n blinde blommeverkoper, en oeroue rotskuns in ’n afgeleë vallei.

Adrian van Schalkwyk, Caleb Philander, Clayton Koopman en Tiaan Bosman by rotstekeninge in die Sederberge. Foto: Murray La Vita

Die verhaal van Lena van Schalkwyk (68) wat alleen in ’n vallei in die Sederberge in ’n riethuis woon, begin by haar kleinseuns.

Tydens ’n onlangse besoek (my eerste) aan dié streek, het ek die neefs Tiaan Bosman (12) en Clayton Koopman (11) op die plaas Kleinpakhuis ontmoet waar ons ’n naweek deurgebring het.

Ek het hulle oor rotskuns uitgevra. Die lewe van die San en hul kuns wat oral in Suider-Afrika teen rotswande te sien is, fassineer my baie. Ek het al daaroor gelees, maar die enigste voorbeelde van hul merkwaardige rotsskilderye wat ek nog ooit gesien het, was op stukke (uitgekapte) rots in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad.

Nou was ek vir die eerste keer in die Sederberge en kon nie wag om die San-kuns daar te besigtig nie. Ek en my vriendin spreek af om vir Tiaan en Clayton die volgende dag by hul huis op ’n plaas langs Kleinpakhuis op te laai sodat hulle vir ons rotskuns kan gaan wys.

Wanneer ons by die groep werkershuisies stilhou, kom hulle na die motor aangehardloop. Saam met hulle is nog twee seuns, hul neefs Adrian van Schalkwyk (13) van Clanwilliam en Caleb Philander (9) van Atlantis, wat by hulle kuier.

Al vier klim agter in die motor. Ons is besig om na Brenda Fassie se “Vulindlela” te luister en hulle begin dadelik saamsing.

Joga en wildedagga

Sowat 12 km verder beduie Tiaan waar ons moet afdraai. Dit is by ’n klompie huise. Ons vra ’n vrou of ons daar op haar werf mag parkeer en begin deur die veld stap.

Clayton vertel hy is ’n rieldanser en demonstreer aan ons ’n paar danspassies. Terwyl ons stap, wys die seuns plante uit en vertel van hul nut.

“Jy kry ’n tipe bos wat jy kan gebruik wanneer jou kop pyn en wanneer jou rug pyn en wanneer jou maag pyn. Sy naam is sandolien,” sê Tiaan.

“En jy kry die tipe kruie wat jy vir jou kan kook wanneer jy siek is – dit is wildedagga.”

By ’n bos waaraan rooi bessies groei, sê hy:

“Hierdie bessies kan jy eet,” en pluk terstond daarvan en eet dit. “Dit is wildekos,” sê Clayton. “As jy so in die veld loop, kan jy van dit peusel.”

Die seuns sê hulle het hierdie dinge by hul ouma Lena geleer. En by “juffrou Tracy”. Tracy du Plessis is hul “jogajuffrou”. Sy woon op ’n plaas en kom bied by hul skool jogalesse aan.

Lena van Schalkwyk in haar voorkamer. Foto: Jane Solomon

Voor ons in die sand sien ek spoortjies en vra die seuns wat se spore dit is.

“Skilpad,” antwoord hulle dadelik. Tiaan buk af en maak langs die skilpadspore met sy wysvinger merke in die sand. “Die een wat só kom, is ’n slang.” “En die een wat só kom, is ’n akkedis,” sê Clayton en maak ook met sy vinger spore.

“En die ene wat hierso is, is ’n muis,” sê Tiaan terwyl hy aan ons spoortjies uitwys wat uit die sandpaadjie die bosse in verdwyn.

Oerkuns

Nadat ons sowat 15 minute lank gestap het, kom ons by die rotstekeninge uit wat teen die wande van rotse in ’n oorhang aangebring is: Okerkleurige bokke en olifante en ’n ry lang mense. Kenners meen dié misterieuse afbeeldings van lang mense is van die oudstes – tot 10 000 jaar of ouer.

Van die rotstekeninge wat seuns aan Murray La Vita gaan wys het. Foto: Murray La Vita

Ons vertoef ’n hele ruk daar terwyl ek sprakeloos na die delikate oerkuns kyk wat waarskynlik tydens ’n trans deur ’n sjamaan of sjamaans geskep is.

Die seuns neem ons hierna na ’n waterval waar die Brandewynrivier in ’n diep kuil afstort voordat dit verder in die vallei wegkronkel. Ons almal swem in die heerlike koel water en lê daarna op die rotse in die son om droog te word voordat ons na hul ouma Lena se huis toe stap.

Haar woonplek bestaan uit twee rietstrukture – een waarin sy woon en die ander een waarin sy kook – en is skielik onder in die vallei sigbaar nadat ons vir ’n ruk op ’n plato gestap het.

‘Dis óútyds’

Lena en haar oorlede man het die huis 48 jaar gelede gebou. Die oorspronklike rietbedekking is oor die jare met sinkplate gelap.

Die gebied staan bekend as Waterval, sê Lena. Dit is genoem na die waterval waarby ons pas was. Op ’n vraag of sy die waterval ooit besoek, sê Lena:

“Nooit. Ek gaan net hier af rivier toe,” sê sy en wys na die Brandewynrivier wat ’n ent van haar huis af verbyvloei. “Vroeër jare het ek my water van die rivier af gedra. Vandag het ek water hier wat aangelê is. Ek kan nou my kraan oopdraai.”

Tiaan en Clayton saam met hul ouma Lena. Foto: Murray La Vita

Haar inkomste bestaan uit die R150 wat sy per dag verdien wanneer sy huiswerk op ’n plaas in die omgewing doen.

“As die wit man vir my vra om te kom werk, dan’s ek bly. Die AllPay-geld raak mos op.”

Ek vra haar oor die boustyl van die rietstrukture.

“Dis óútyds. Ek het by my ma en my pa geleer om dit te maak. Ek het op Suurrug, naby Heuningvlei, grootgeword. Dit is daar by Wuppertal. My ouma en my oupa het ook daar gebly.”

‘Hulle het swaargekry’

Ons praat oor die rotstekeninge.

“O jissis! Ek het Boesmantekeninge gesien! Ek kan vir julle nóú loop wys. Hier by my huis en dóér teen die berge. Die tekeninge is baie mooi.”

Is sy ’n nasaat van die San wat nog tot in die 19de eeu hier gewoon het?

“Nee, meneer. Ek is ’n bruinmens. Hulle was ’n aparte nasie wat uitgemoor is deur die Boere en ander nasies. Maar daai mense was liéf vir ons gewees . . .

“Ons moet dink hoe hulle lewe gewees het. Daai mense het swaargekry. Vandag se mense kry lékker. Ek kom sit en drink net water. Dáár staan my waterkan.”

Sy staan op en gaan haal buite ’n plastiekbottel wat met lap bedek is.

“Kyk hierso, meneer, dis my koelsak dié. Vat hierdie water en dan proe julle dit; dit is koue water; dit is my yskas dié,” sê sy laggend en verduidelik dat sy die bottel in ’n sak toegedraai het en dit toe met lap oorgetrek het. Die rivierwater is inderdaad heerlik koel. Ek drink twee keer daarvan uit ’n groen plastiekglasie.

Lena by haar oond waarin sy brood bak. Foto: Murray La Vita

Blinde blommeverkoper

Lena sê sy kry swaar. Haar man is al jare gelede oorlede. Hulle het nege kinders, maar hulle is al almal uit die huis uit en een seun is dood.

“Dis net ek. In die aande slaap ek alleen. Ek is veilig. Ek glo in die Here.”

Skielik sê sy: “Sien meneer daai vroumens? Sy kan nie sien nie.” Ek is aanvanklik verward en kyk rond, maar sien nie nog ’n vrou in die vertrek nie. Dan besef ek sy verwys na die porseleinbeeld van die blinde blommeverkoper.

“Sy kan mos nie sien nie; sy kan nie sien nie.”

Sy het die beeld by een van haar seuns gekry wat op ’n plaas in die omgewing woon en werk.

Die Blinde Blommeverkoper. Foto: Murray La Vita

Ek vra haar of daar luiperds hier in die berge is? Sy knik en boots die geluid na wat die roofdiere maak. Dit klink soos die wind wat loei.

“Jy kan maar onthou, as hy só maak dan wil hy ’n man eet; dan is hy honger. Ek het al twee keer een hier gesien. O jis, daai ding is wreed. En die bobbejane! Jis, ’n hond eet nou op. Kyk hoe lyk my bene van die honde,” sê sy en wys na letsels op haar kuite. ’n Vrou wat verder af in die vallei woon se honde het haar aangeval.

Rooibostee en agtdaegeneesbos

Lena gaan haal ’n plat Tupperware-bak en wys vir ons die rooibosteesaadjies in ’n houer. Sy maak dit onder rooibosteebosse bymekaar en verkoop dit dan. Sy praat ook oor ander plante waarvan haar ouma haar geleer het; plante wat gesond maak.

“Die agtdaegeneesbos . . . En hierdie klip wat so bont is; jy kan hom vat as jou kind se mond seer is en dan kan jy hom wás met die blom.”

Waarna sy verwys, is die ligene wat op rotse groei.

“Jy krap hom af en dan maak jy hom fyn en dan gooi jy net ’n bietjie suiker in. Môreoggend dan is jou kind beter.

“Ken jy slangbos? Vir kinkhoes; as ’n kind baie hoes, dan gebruik jy slangbos. My ouma het vir my geleer.”

In haar tuin is groenbone en ’n perskeboom vol vrugte. Daar staan ook ’n pragtige groot wildevyeboom wat sy jare gelede self hier geplant het.

Lena onder die wildevyeboom wat sy self geplant het. Foto: Murray La Vita

Wanneer ons vertrek, wys die seuns na ’n wit hondjie wat ’n ent van die riethuise in die skadu van ’n rooibosteebos lê. Sy naam is Whitey, sê hulle. Hy is blind.

Meer oor:  San
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.