Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Leopold Scholtz leer uit eeue oue boek

Een van die invloedrykste boeke van die 20ste eeu, Oswald Spengler se ontleding van Europa se agteruitgang, het ’n eeu gelede verskyn, skryf Leopold Scholtz.

Die aanvang van die 20ste eeu op 1 Januarie 1900 is in die Weste gekenmerk deur ’n matelose optimisme. Die Nywerheidsomwenteling was in volle gang, tegnologiese vooruitgang was verstommend, internasionale handel het gebloei, die kultuurlewe het steeds nuwe hoogtes bereik.

Die algemene kultuurhistoriese opvatting was dat die geskiedenis ’n haas wetmatige vordering toon, dat die een hoogtepunt noodwendig deur ’n volgende opgevolg word. Tog, binne 14 jaar is die wêreld in ’n verwoestende oorlog gedompel, die ergste wat die mensdom tot in daardie stadium beleef het, een wat uiteindelik die lewe van 10 miljoen mense sou eis.

Propagandaplakkate uit die Eerste Wêreldoorlog.

Reeds voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het sommige Europese denkers al begin twyfel aan die geldigheid van die algemene optimisme. Een van hulle was die Duitse geskiedenisfilosoof Oswald Spengler (1880-1936), wat in 1911 aan sy pessimistiese lewenswerk, Der Untergang des Abendlandes (“Die ondergang van die Awendland”, bedoelende Europa) begin werk het.

Die eerste band het kort voor die einde van die oorlog in 1918 verskyn, en die tweede band het in 1922 gevolg. Die rampspoedige konflik en die gevolge daarvan het sy pessimisme gesteun.

Sy eerste sin (en fundamentele uitgangspunt) lui: “In dié boek word ’n eerste poging gewaag om die verloop van die geskiedenis te voorspel.”
Spengler het die ontwikkeling van die destyds moderne massamens deur die Nywerheidsomwenteling en die demokrasie as die wortel van die kwaad gesien. In bewoording wat vandag byna net so geldig is, was sy vlammende aanklag teen die leë materialisme: “Daar is ’n ‘Dink in geld!’ soos daar ’n matematiese en juristiese denke is.”

Dié materialisme word nie meer deur godsdiens beperk nie, trouens, dit ontwikkel tot ’n “tweede godsdiens”.

Spengler het ook beswaar gemaak teen die staatsgesag in die massa se hande, wat noodwendig tot ’n Caesarisme, ’n diktatuur, lei. Dié Caesarisme beteken “die einde van die politiek van gees en geld. Die magte van die bloed, die oerdryfkragte van alle lewe, die ongebroke liggaamskrag aanvaar weer hul ou heerskappy.”

’n Demokraat was die konserwatiewe Spengler nie. Hy verwys al in Der Untergang profeties na die “Derde Ryk”, wat hy as “die Germaanse ideaal” beskryf.

Maar al het hy Adolf Hitler se magsgreep in 1933 toegejuig, het hy hom daarna vol afsku van dié ploerterige diktator weggedraai. Sy minagtend-sarkastiese kommentaar was: “Die Führer het van my boek die ganse titel gelees!”

Trouens, Hitler was presies die Caesar-diktator wat Spengler voorspel het. En bowendien het Hitler in Spengler se filosofie (waarvan die intellektueel lui diktator slegs oppervlakkig kennis geneem het) bevestiging van sy waandenkbeelde ontdek.

Wat ’n mens nietemin ook kan sê, is dat Spengler gehelp het om die anti-demokratiese intellektuele bedding voor te berei waarin Hitler later gesaai en geoes het.

Spengler se denke toon tewens ooreenkomste met dié van die invloedryke Spaanse filosoof José Ortega y Gasset, skrywer van die bekende La Rebelión de las Masas (“Die opstand van die massa”) wat in 1930 verskyn het.

Maar Spengler se invloed was nie tot Duitsland of Europa beperk nie. Dit is die verdienste van die Suid-Afrikaanse historikus G.D. Scholtz dat hy Spengler se invloed op genl. J.B.M. Hertzog se politieke loopbaan oopgevlek het (Hertzog en Smuts en die Britse Ryk, 1975).

Scholtz het vasgestel dat Hertzog se seun, die latere politikus dr. Albert Hertzog, Spengler se werk ná ’n Europese besoek in 1929 vir sy pa saamgebring het. Dié het die boek ’n hele paar keer gelees en met vriende bespreek.

Dit was baie jare lank ’n raaisel waarom dié felle Afrikanernasionalis in 1933-’34 opeens omgeswaai en eers ’n koalisie met genl. Jan Smuts se Sappe aangegaan en vervolgens met hulle saamgesmelt het.

Scholtz se gevolgtrekking (bl. 17) lui: “Die laaste jare van sy lewe, van 1929 tot 1942, kan dan ook eers behoorlik begryp word wanneer dit in verband gebring word met die invloed wat die historiese beskouinge van Spengler op sy politieke denke uitgeoefen het. Daaruit moet die feit dat hy in 1933 bereid was om ’n koalisieregering met Smuts aan te gaan en dat hy ook die posisie van Suid-Afrika in die Britse Ryk in ’n ander lig begin sien het, verklaar word.”

Onthou dat dit die tyd van die Groot Depressie was. Teen dié agtergrond vervolg Scholtz: “Hoe ellendiger die ekonomiese omstandighede in die wêreld geword het en hoe meer gespanne die politieke verhoudinge in Europa, hoe dieper het Hertzog daarvan oortuig geword dat alles wat gebeur, dien tot bevestiging van Spengler se siening dat dit met die Westerse kultuur en beskawing berg af gaan en dat sake besig was om in die rigting van die Caesarisme of diktatuur te beweeg. Met die demokrasie was dit inderdaad afgelope.”

Dat Hertzog in die jare onmiddellik voor sy dood openlik ’n aanhanger van die Ossewa-Brandwag se nasionaal-sosialistiese oortuigings geword het, word ook deur die invloed van Spengler se denke op hom verklaar.

As ’n mens die geskiedenis van die laaste dekades bekyk, val dit op dat sowel Spengler as die matelose optimisme van 1900 wat hy verwerp het, verkeerd was.

Aan die een kant is die geskiedenis geen ononderbroke opgaande lyn nie; dit is eerder ’n siklus van boontoe en ondertoe. Andersyds lei die mensdom se tegnologiese ontwikkeling nie outomaties tot die opkoms van ’n Caesar nie.

Dat dit soms wel gebeur, soos in die geval van ’n Adolf Hitler en ’n Josef Stalin (asook ’n Donald Trump wat in dié rigting probeer mik), is die uitvloeisel van besondere, eiesoortige oorsake wat nie noodwendig algemeen geldend is nie.

Terselfdertyd skyn die oprukkende materialisme en agteruitgang van godsdiens Spengler se pessimisme te bevestig.

Tog, die geskiedenisgang laat hom nie in die keurslyf van historiese wette dwing nie. Jy kan baie van Spengler leer, maar bekyk sy denke met ’n gesonde dosis nugterheid.

  * Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Propaganda  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.