Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Lesse uit Franse protes

Die gewelddadige protesaksies in Parys dui op die skynheiligheid van Franse kiesers wat ’n kuur soek vir ’n probleem, maar weier om die medisyne te sluk, meen John Lloyd.

Betogers staan voor die Arc de Triomphe by die Champs-Élysées in die Franse hoofstad, Parys. Foto: Getty Images

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk is die magtigste politikus in Europa, maar hy is tans in 'n hoek en word ingeperk.

Die kragtoer van sy sukses in 2017, sy oorwinning oor die verregse Marine Le Pen by die stembus, die oorweldigende sege van sy splinternuwe party La République En Marche! (wat net twee jaar van te vore die lig gesien het) het hom amper keiserlik in sy mag gemaak.

Daardie mag het nou aansienlik gekwyn. Hoewel Macron se politieke ambisie ingekort word en sy mag ondermyn word, het die wêreld ’n paar waardevolle lesse die afgelope paar maande tydens sy termyn geleer.

Die kragtoer van Macron en sy beleidsrigtings vroeg in sy termyn, is nou die einste krag waarteen hy moet stoei.

’n Verdeelde EU

Sy vasbeslotenheid om ’n dieper integrasie van die Europese Unie (EU) aan te moedig, is grootliks in die wiele gery. En dit is nie net omdat sy onontbeerlike vennoot in die poging, Duitsland se kanselier, dr. Angela Merkel, se politieke mag ook besig is om te kwyn nie.

In November het die Financial Times ’n bitsige woordewisseling tussen Wopke Hoekstra, Nederland se minister van finansies, en Bruno Le Maire, sy Franse eweknie, onthul. Le Maire het Hoekstra daarvan beskuldig dat hy ’n groep klein noordelike Europese lande bekend as die “nuwe Hanseverbond”, wat kragte saamsnoer teen nouer finansiële integrasie binne die EU, lei – en dit ook glo ook nog met die stille goedkeuring van Merkel.

Betogers staan voor die Arc de Triomphe by die Champs-Élysées in die Franse hoofstad, Parys. Foto: Getty Images

Macron se nuutste uitdaging is die protesoptrede in Parys teen stygende brandstofpryse. Dit word beskou as die gewelddadigste sedert die Sorbonne-protesoptogte van 1968.

Tot dusver het Macron hom hardkoppig teen die betogers verset.

“Ons mag nie van koers afwyk nie, want die rigting van die beleid is geregtig en noodsaaklik,” was sy reaksie teen die protesoptogte, hoewel dit lyk asof die betogers die meerderheid van die Franse bevolking se steun het.

Die populistiese regses onder Le Pen en die populistiese linkses, onder leiding van Jean-Luc Mélenchon, gebruik ook die betogings om hul steunbasisse te vergroot.

Die EU moet ’n punt bereik en erken dat sy amptelike retoriek uit voeling is met sy lede se behoeftes.

Ironies genoeg was een van Macron se grootste suksesse tot dusver die lig wat hy op twee belangrike skynheilighede van Frankryk se kiesers laat skyn het.

Die EU beywer hom vir ’n meer hegte unie van lidlande en invloedryke figure soos Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, is die hele tyd besig om ’n veldtog te voer ten gunste van ’n Europese federale staat.

Maar, soos die relletjie tussen die Franse en Nederlandse ministers van finansies wys, sal talle, indien nie die meeste van die EU-lande nie, terugdeins van daardie toekoms.

Die EU moet ’n punt bereik en erken dat sy amptelike retoriek uit voeling is met sy lede se behoeftes; en dit is dat soewereiniteit, veral wat betref ekonomiese kwessies, uitsluitlik by lidlande se regerings, parlemente en burgers moet berus.

Hoe meer Macron vir nouer samewerking druk, hoe meer duidelik word dié feit.

Bitter medisyne

Rookwolke hang oor Parys ná onlangse betogings teen onder meer hoër brandstofpryse. Foto: Getty Images

Die optogte teen die brandstofverhogings ontbloot 'n nog ’n groter skynheiligheid – een wat spreek tot hoe ons nou leef en hoe ons kinders en kleinkinders gaan leef.

In ’n opruiende toespraak verlede week het die president na die betogers probeer uitreik en belowe om hul woede in ag te neem en die manier hoe die regering by hulle aansluiting probeer vind te verander. Maar hy het beklemtoon dat hy nie van die beleid sal afsien nie, want “dis geregverdig en noodsaaklik.”

Macron het selfs ’n stekie ingekry met sy onbereidwilligheid om die brandstofheffings op te skort en die Franse daarvan beskuldig dat hulle hul brioche aan albei kante gebotter wil hê.

Jy kan nie, sê hy, terselfdertyd die omgewing wil red en teen die stygende brandstofpryse betoog nie.

“Jy kan die nie slagspreuk ‘sny belasting en bou meer crèches en skole' uitroep nie,” het hy sy mes dieper ingedruk.

Beslissende optrede oor koolstofvoetspore en aardverhitting op 'n amptelike en persoonlike vlak trap ook in die slaggat van skynheiligheid.

Macron se woorde spreek direk tot ons almal, want dit werp lig op die dissosiasie tussen wat ons erken goed is vir ons burgerlike samelewing (soos crèches en skole) en die planeet (soos ’n verlaagde koolstofvoetspoor) aan die een kant – en aan die ander kant om ons eie belange te beskerm, in so 'n mate dat ons bereid is om die strate in te vaar en aan protesoptogte deel te neem.

’n Onthullende verslag deur die New York Times wys dat verskeie voorstedelinge vir die Demokratiese Party in die Amerikaanse middeltermynverkiesing gestem het. Dit wys hulle het progressiewe lewensbeskouings, maar dat hulle nie noodwendig saamstem met die party se beleide oor kwessies soos verhoogde belasting nie.

Beslissende optrede oor koolstofvoetspore en aardverhitting op 'n amptelike en persoonlike vlak trap ook in die slaggat van skynheiligheid.

’n Goeie manier wat toenemend gebruik word om deugsaamheid te bewys, is om wetenskaplikes se bevindings in twyfel te trek.

Selfs dié wat saamstem dat menslike optrede die hoofoorsaak van aardverwarming is, wil steeds 4x4-voertuie ry wat baie brandstof verbruik en is ook bereid om teen verhoogde brandstofpryse te betoog.

’n Goeie manier wat toenemend gebruik word om deugsaamheid te bewys, is om wetenskaplikes se bevindings in twyfel te trek. So kan jy die kuur vir die diagnose weier sonder om skynheilig voor te kom.

Wanneer wetenskaplikes rampspoedige gevolge voorspel as uitlaatgasse nie beperk word nie, is hulle immers besig om hul navorsing te oordryf, of nog erger, dit uit die duim te suig. Hierdie het die verstekposisie van populistiese leiers en hul ondersteuners geword.

Dit blyk waar te wees in Frankryk, waar die nasionalisties-populistiese leiers die betogers ondersteun.

Ook in die VSA

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het vergeefs probeer om betogers in Parys te paai. Foto: Reuters

Die Amerikaanse regering se vierde nasionale klimaatsassessering, wat op 23 November uitgereik is, voorspel dat klimaatsverandering die Amerikaanse ekonomie teen die einde van die eeu miljarde dollar kan kos.

Daar word verwag dat brande, op die skaal van die dodelike veldbrande wat in November in Kalifornië gewoed het, meer gereeld sal voorkom. Vloede gaan meer verwoesting saai en openbare gesondheidsbronne gaan getap word deur hittegolwe, droogte en besoedeling.

Pres. Donald Trump het sy eie regering se verslag in twyfel getrek. Toe hy gevra is oor wat die ernstige voorspellings vir die Amerikaanse ekonomie inhou, het hy prontuit verklaar: “Ek glo dit nie.” 

Trump het sy politieke steun gebou op kiesers wat glo hul lewe is reeds moeilik genoeg, sonder dat hulle nog moet bekommer oor die uitwerking wat aardverhitting op hul lewe gaan hê. Hy gaan nie dié oortuiging probeer uitdaag of verander nie.

In Augustus het sy regering juis aangekondig dat hy voornemens is om die ekonomiese brandstofstandaarde wat oudpres. Barack Obama in werking gestel het, te verlaag. Dit was ’n kernbeginsel van die Obama-regering se klimaatsveranderingprogram.

Leer by Macron

John Lloyd

Macron het nog nie sy mees ambisieuse doelwit, om weer nuwe lewe by die EU in te blaas, verwesenlik nie. Hy loop ook die risiko om nog meer ongewild by kiesers te word deur te weier om aan die brandstofbetogers se eise toe te gee.

Maar hy het ons ’n waardevolle les geleer: Dat luisterryke retoriek en ’n klaarblyklike konsensus oor ’n herenigde Europa en krimpende koolstofvoetspore nie hul doel dien nie.

As hy suksesvol wil wees, moet die doelwitte vir die EU gewysig word en die dringendheid van optrede teen klimaatsverandering beklemtoon en nagestreef word.

Populistiese politiekery dui op daadwerklike probleme wat spruit uit groot ongelykheid en gapende kulturele klowe. Dit bevat ook baie gevaarlike illusies. Enige nuwe politieke orde moet eersgenoemde erken en laasgenoemde bestry.

* John Lloyd is ’n medestigter van die Reuters Instituut van Joernalistiek by die Oxford-universiteit. Sy boeke sluit in What the media are doing to our politics en The power and the story. Hy is ’n bydraende redakteur van die Financial Times en stigter van FT Magazine.

Dié artikel het oorspronklik op Reuters verskyn. 

Meer oor:  Europese Unie  |  Emmanuel Macron  |  Angela Merkel  |  Marine Le Pen  |  Frankryk  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.