Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Let op Marx se waarskuwing

Dit is in hierdie dae mooi 150 jaar gelede dat die eerste band van Karl Marx se beroemde boek Das Kapital verskyn het. Wat het van die boek oorgebly? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.

As ’n mens – los van enige morele oordele – drie boeke moet identifiseer wat die wêreldgeskiedenis ingrypend beïnvloed het, is dit die Bybel, die Koran en Karl Marx se Das Kapital: Kritik der Politischen Ökonomie (“Kapitaal: Kritiek van die Politieke Ekonomie”).

Die graf van Karl Marx in die beroemde Highgate-begraafplaas in die noorde van Londen.Foto: iStock

Laasgenoemde het in September 1867 verskyn, in hierdie dae 150 jaar gelede. Hoe dit die wêreld so dramaties beïnvloed het, is ’n interessante verhaal.

Marx is in 1818 in die Duitse provinsiestad Trier in ’n gekers­tende Joodse middelklasgesin gebore en het al as jong man in ’n rigting beweeg wat ’n mens deesdae radikaal links sou kon noem.

In 1848 het hy in Keulen saam met ’n ryk vriend, Friedrich Engels, die Kommunistiese Manifes gepubliseer waarin hulle skerp kritiek op die kapitalisme uitspreek.

Marx moes hierna na Londen uitwyk, waar hy 23 jaar lank byna elke dag navorsing in die biblioteek van die Britse Museum oor die onregverdighede van die Britse kapitalisme gedoen het.

Onthou dat Brittanje destyds die eerste land was waar die Nywerheidsrevolusie ’n proses aan die gang gesit het waarvolgens die ou spiergedrewe ekonomie na industriële produksie oorgeskakel het.

In die proses het die grootskaalse verstedeliking enorme agterbuurte met ongelooflike ellende en armoede laat ontstaan. Mense, selfs kinders van so jonk as vyf jaar, het dikwels 16 uur of meer per dag vir ’n hongerloon gewerk.

Dis teen dié agtergrond dat Marx sy vlammende morele protes akademies uitgewerk en in 1867 as die eerste van drie dele van Das Kapital gepubliseer het.

’n Maklike werk is dit nie.

Das Kapital

Inteendeel, waar hy as joernalis nogal boeiende koerantartikels kon skryf, is dié werk lomp, moeilik leesbaar, swak gestruktureer en só propvol syfers en feite dat selfs ’n intelligente navorser slegs met moeite daardeur kan worstel.

Hoe ook al, in die boek gee Marx ’n manier om die geskiedenis en die samelewing van sy tyd te verklaar. Hy ontwikkel ’n omvattende formule wat álles moet verduidelik.

In die voorwoord skryf hy hy wil die fundamentele strukture onder die geskiedenis se oppervlak blootlê. Hy wil van die “verskyningsvorm” na die “wese van die dinge” deurdring en die meganismes wat veranderings bewerkstellig, identifiseer.

Drasties vereenvoudig, kom sy filosofie daarop neer dat die ekonomiese produksiemiddele gekonsentreer word in die hande van ’n steeds beperkter groep rykes.

In die proses word die werkers gereduseer van mense tot blote produksie-instrumente.

Die rol van werkers is bloot om waarde tot die rou produkte toe te voeg deur hulle tot vervaardigde artikels om te skep. Daardie toegevoegde waarde – bekend as Marx se meerwaarde-teorie – is die geld wat die kapitaliste van die arbeiders steel.

Terselfdertyd ken die groot kapitaal geen staatkundige grense nie. Die groot kapitaal lok telkens oorloë uit om wapens te kan verkoop en wins te maak.

Dus ken ook die arbeidersbeweging geen grense nie. Die arbeiders moet hande oor alle grense heen vat, in opstand kom en ’n wêreldrevolusie teweeg bring.

In die proses word die werkers gereduseer van mense tot blote produksie-instrumente.

Oor presies hoe die arbeiders se magsgreep moet verloop, het hy elders geskryf: “Tussen die kapitalistiese en kommunistiese gemeenskap lê die periode van revolusionêre transformasie van die een na die ander. In ooreenstemming hiermee is ook ’n politieke oorgangsperiode waarin die staat niks anders kan wees nie as die revolusionêre diktatuur van die proletariaat.”

In dié tyd, solank die kapitalistiese klas nog bestaan, sal dwang nodig wees: “Hulle moet met dwang verwyder of getransformeer word, en die proses van dié transformasie moet met dwang versnel word . . .”

Wanneer die arbeiders die mag gegryp het, sal die staat vanself verskrompel en ten slotte heeltemal verdwyn.

’n Mens moet versigtig wees om Marx se denke slegs op Das Kapital te baseer. In ’n onlangs verskene biografie (Karl Marx: Greatness and Illusion) wys prof. Gareth Stedman Jones van die Universiteit van Londen daarop dat Marx regdeur sy lewe taamlik rondgeslinger het. Eintlik is die boek ’n momentopname van ’n man wat in sy denke nogal taamlik wispelturig was.

Marx se idees het aanleiding gegee tot twee groot invloedryke rigtings.

Die een was die sogenaamde sosiaal-demokrasie. Die sosiaal-demokrate was mense wat Marx se basiese diagnose aanvaar het, maar wat binne die grense van die demokrasie en die regstaat vir verandering wou werk.

Hul erfgename is byvoorbeeld die Franse Sosialistiese Party (van oudpress. François Mitterrand en François Hollande) en die Duitse Sosiaal-Demokratiese Party (van oudkanseliers Willy Brandt, Helmut Schmidt en Gerhard Schröder).

Maar hy het die vermoë van die kapitalisme om homself te hervorm skromelik onderskat.

Die ander rigting was die kommuniste wat in 1917 die mag in Rusland gegryp en die helfte van die mensdom dekades lank aan ’n reeks meedoënlose totalitêre diktature onderwerp het. Dit was veral Wladimir Lenin wat Marx se idees kwaai geradikaliseer het.

Albei rigtings het in die onlangse geskiedenis gevoelige klappe gekry. Die Sowjet-vorm van die kommunisme (ook in China) is dood, en die sosiaal-demokrasie is pas in Duitsland en Frankryk in verkiesings behoorlik gestraf (ofskoon dit in Brittanje weer sy kop lig).

Marx het egter bepaalde fundamentele foute gemaak.

Sy basiese fout, waaruit die ander almal voortspruit, was dat jy die geskiedenis en samelewing op grond van ’n enkele formule – klassestryd – kan verklaar.

As historikus en politieke wetenskaplike kan jy klassestryd as faktor sekerlik nie ignoreer nie, maar dis maar één tussen talle ander. Die lewe is nie so eenvoudig nie. ’n Holistiese benadering is altyd die beste.

Die tweede is dat Marx gemeen het die kapitalisme dra die kiem van sy eie ondergang in hom. Steeds minder mense en instansies ding mee om al hoe groter rykdom, en ten slotte sal hulle mekaar aan die keel gryp en

vermorsel, waarna die arbeiders in opstand sal kom en die mag gryp.

Foto:

Dít het hy as ’n absolute wet, ’n noodwendigheid, gesien. Maar hy het die vermoë van die kapitalisme om homself te hervorm skromelik onderskat.

’n Anekdote illustreer dit: Die Amerikaanse motorfabrikant Henry Ford is in ’n stadium deur sy mededinger-fabrikante verkwalik omdat hy sy werkers te veel betaal. Sy antwoord was dat hy sy werkers in staat wil stel om almal ’n Model-T-Ford te kan bekostig!

Die kapitalisme, in toom gehou deur die liberale veelpartydemokrasie, het daarin geslaag om die laer stande se lewenstandaard dramaties te verhoog.

Vandag besit selfs die relatief arm mense in die ontwikkelde lande toerusting soos ’n televisie, rekenaars, yskaste, noem maar op. Bitter min mense ly honger.

In sy invloedryke boek Capitalism, Socialism and Democracy het die Oostenryks-Amerikaanse ekonoom Joseph Schumpeter die begrip “creative destruction” in die openbare domein geplaas. Schumpeter se standpunt hieroor, kort gestel, was:

“The opening up of new markets, foreign or domestic, and the organizational development from the craft shop and factory to such concerns as U.S. Steel illustrate the process of industrial mutation that incessantly revolutionizes the economic structure from within, incessantly destroying the old one, incessantly creating a new one.”

Teen dié agtergrond was die oorgang van die ou spiergedrewe na die industriële ekonomie pynlik, maar deel van dié “creative destruction”.

Tans beleef die wêreld in die oorgang na die digitale ekonomie weer só ’n pynlike proses. Dit verklaar deels die opgang van populistiese partye, links en regs.

Tog moet ’n mens die waarskuwing wat Marx gerig het, nie afskryf nie. In ons eie dae sien jy soveel inhaligheid by talle rykes dat ’n mens geneig is om te sê die grootste vyand van die kapitalisme is juis die groot kapitaliste.

  • Scholtz is ’n joernalis en historikus.
Meer oor:  Kommentaar  |  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.