Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Liewe student: Praat! Dit kan jou lewe red!

Daar is ’n epidemie onder studente en ons moet dringend kennis neem en stappe doen, skryf Lizette Rabe.

Selfdood het verlede jaar die lewe van drie Matie-studente geëis. Foto ter illustrasie. Foto: Leanne Stander

Hoewel daar geen amptelike statistieke is nie, was verlede jaar waarskynlik die fataalste jaar vir universiteitstudente wat psigiese siektes betref.

Volgens berigte het ses studente aan die Universiteit van Kaapstad aan selfdood gesterf en aan die Universiteit Stellenbosch drie. Op ander kampusse het selfdood waarskynlik net so ’n groot tol geëis. Met die akademiese jaar wat pas begin het, is dit noodsaaklik dat kennis – én aksie – geneem word van dié stil tragedies wat op ons kampusse afspeel. Benewens die individuele tragedies en menselewens wat vir altyd vernietig is, is dit statistiekgewys skrikwekkende syfers.

Ons het inderwaarheid ’n morele plig om die stilte, stigma en skanse rakende psigiese siektes te verbreek en openbare bewusmaking te kweek.

Verlede jaar was die openbare deelname – en ontsetting – gepas groot met die tragedie rakende die wrede dood van die Matie-student Hannah Cornelius. Dis soos dit moet wees. ’n Jong mens mag nie in haar fleur, op die drumpel van haar drome, so wreed uit hierdie lewe geruk word nie.

Maar met die dood van drie Matiestudente weens ’n ander stil sluiper op ons kampusse was daar geen soortgelyke opwel van emosie nie en geen openbare onthutsing oor drie pragtige jong mense wat hul lewe verloor het nie. Maar ook dié drie Maties, en studente elders wat hul lewe weens selfdood verloor het, verdien dieselfde openbare onthutsing oor hul dood. Ons het inderwaarheid ’n morele plig om die stilte, stigma en skanse rakende psigiese siektes te verbreek en openbare bewusmaking te kweek.

Die SpeakUp-veldtog

Die SpeakUp-veldtog het onder meer ten doel dat die deelnemers aan die verskillende sportkodes – en hul ondersteuners – oor psigiese gesondheid moet dink soos oor fisieke gesondheid. Buitendien, jy kan nie net fisiek fiks wees nie – jy moet ook psigies fiks wees.

Die psigiater van die oud-All Black-kaptein John Kirwan, het, toe hy met sý depressie geworstel het, vir hom gevra wat hy sou doen as hy sy dyspier sou seermaak. Hy het geantwoord dat hy dit sou rus en na ’n fisioterapeut gaan. Waarop die psigiater geantwoord het hy moet haar dan beskou as die fisioterapeut vir die belangrikste spier in sy liggaam: sy brein.

Groot tekort aan steundienste vir studente

’n Studie verlede jaar in Brittanje het getoon dat selfdood onder studente in die Verenigde Koninkryk ’n rekordvlak bereik het met ’n verdubbeling die afgelope dekade. Die voorkoms van psigiese gesondheidsprobleme soos depressie en angsstoornis onder Britse eerstejaarstudente het die afgelope tien jaar boonop vyfvoudig toegeneem. Dit word beskryf as ’n krisis en dat die Britse regering en universiteite saam veel meer moet doen om te verhinder dat ’n behandelbare siekte tot ’n fatale stadium ontwikkel. Die verslag het ook uitgewys hoeveel groter die druk op studentesteundienste is – én hoe groot die tekort is.

Hoewel nog geen universiteitswye studie oor die situasie in Suid-Afrika bestaan nie, kan ’n mens die gevolgtrekking maak dat dieselfde fenomeen hom op Suid-Afrikaanse kampusse afspeel – veral gegewe 2017 se selfdoodstatistiek van slegs twee kampusse.

Sosiale media dra baie by tot die hedendaagse druk op studente. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Studente is om verskeie redes onder onvoorsiene druk, waarvan die “altyd aan”-kultuur van sosiale media ’n groot bydraende faktor is. In Suid-Afrika is daar boonop die bykomende stresfaktore van studiegeld en kampusse wat soms letterlik onder beleg is weens betogings wat beslis negatief inspeel op studente se welsyn.

Cally Ballack, ’n Matiestudenteleier wat haar ook beywer vir die bewusmaking van psigiese gesondheid op kampus, meen die stres en angs rakende akademiese druk is dikwels ’n kantelpunt vir studente.

“Die negatiewe konnotasies en stereotipes van psigiese siektes verhinder studente om hulp te soek. Steundienste word nie genoeg geadverteer of eenvoudig oor gepraat nie. Om openlik te praat oor psigiese gesondheid is deel van jou behandeling en herstel. Ons word na kampusgesondheid gehaas as ons ’n fisieke besering het – dis tyd dat ons nou ook psigiese gesondheid ernstig opneem.”

Juis daarom dat ’n mens Varsity Sports se SpeakUp-veldtog vir 2018 so verwelkom. Dié reeks sportsoorte wat onder die Varsity Sports-banier op deelnemende kampusse dwarsoor Suid-Afrika gespeel word, wil juis studente help om psigiese gesondheid te sien as die grondslag vir álle gesondheid. Die sportsoorte wat vanjaar in die naam van bewusmaking van psigiese gesondheid gespeel word, is atletiek, krieket, hokkie, netbal, sokker, sewesrugby en bergfietsry.

Breek onbegrip rakende psigiese siektes af

Die veldtog is deur die Ithemba-stigting geïnisieer – ’n organisasie sonder winsbejag wat hom ten doel het om bewusmaking van depressie en verwante siektes te kweek as kliniese, biologiese siektes en om navorsing daarvoor te steun.

Gereelde betogings op kampusse is ’n bykomende stresfaktor vir Suid-Afrikaanse studente. Foto: Willem Phungula

In ons samelewing, veral met die nuwe soort druk wat ons digitale lewenstyl meebring, moet ons ook met ’n nuwe perspektief na psigiese siektes kyk. Met die SpeakUp-veldtog word daar beoog om jong mense se geletterdheid oor psigiese gesondheid te verbeter deur hulle met die nodige kennis te bemagtig.

Wat is psigiese gesondheid?

Die WGO definieer psigiese gesondheid as ’n toestand van welstand waarin elke individu haar of sy eie potensiaal besef, normale lewensdruk kan hanteer, produktief en vrugbaar kan werk en ’n bydrae kan lewer aan haar of sy gemeenskap.

Die positiewe dimensie van psigiese gesondheid word beklemtoon in die WGO se definisie van gesondheid in sy grondwet: “Gesondheid is ’n toestand van volledige fisieke, psigiese en sosiale welsyn en nie bloot die afwesigheid van siekte nie.”

 

Psigiese “fiksheid” óp en áf van die sportveld is die grondslag van ’n gesonde lewenswyse. Om die waarheid te sê, daar ís nie gesondheid sonder psigiese gesondheid nie. Soos wat Cameron Peverett van Varsity Sports en oudrugbyspeler sê: “Toe ek rugby gespeel het, is daar gesê as die gees gewillig is, sal die lyf volg. Die verskil tussen wen en verloor kom neer op jou besluite lank voordat jy op die veld is. ’n Gesonde psigiese balans is daarom die grondslag vir enige sukses. Dit is waar – op én af van die veld.”

Ons het ’n plig om die eeue oue onbegrip van psigiese siektes af te breek. Van dié onbegrip is byvoorbeeld steeds te sien in die argaïese Afrikaanse woorde “geestesiektes” en “geestesgesondheid”. Psigiese siektes is biologiese, kliniese siektes wat veroorsaak word deur die wanfunksionering van ons belangrikste orgaan, ons brein. Iets – ’n eksterne faktor soos stres, of ’n endogene faktor soos oorerflikheid – sneller die nie-afskeiding van lewensnoodsaaklike neuro-oordragstowwe wat kan veroorsaak dat dié tekort jou abnormaal laat optree. En indien die simptome nie herken en behandel word nie, kan dit ontwikkel in ’n kliniese siekte wat vir sommige fataal kan wees – selfs met die beste behandeling.

As simptome egter vroegtydig herken word, kan dit deur gedragsterapie met behulp van ’n kliniese sielkundige behandel word of met die hulp van ’n psigiater wat medikasie kan voorskryf.

Druk op mediese studente nog erger

Alle studente beleef buitengewone stresfaktore, maar dit is bekend dat veral mediese studente onder selfs nog meer druk is. Ek was verlede jaar by ’n studentebyeenkoms waar die studenteleier van ’n mediese kampus dapper voor die gehoor gepraat het oor die psigiese gesondheidsuitdagings op sy mediese kampus – waar dit selfs op ’n mediese kampus ’n taboe-onderwerp is.

Dit is uitstekend verwoord deur ’n Amerikaanse mediese student wat geskryf het hoe sy in ’n bose kringloop vasgevang is (lees “A Med Student’s Hidden Struggle”). Sy kan nie hulp vra nie, want dan gaan daar teen haar gediskrimineer word. Sy skryf die stigma is soms voelbaar teenwoordig: op hospitaalrondes word diagnoses te make met psigiese gesondheid dikwels fluisterend bespreek.

Lizette Rabe

Met een pasiënt se ontslag is daar geskryf: “Hy is nie siek nie. Hy het net depressie.” Asof dit nie ’n regte siekte is nie, het die student geskryf.

En: “Op ’n psigiatrierotasie het ’n ander mediese student oor ’n depressiewe jong man wat toegelaat is ná ’n mislukte selfdoodpoging gesê sy toelating is onsinnig – hy is tog reeds dood.”

Die student het haar aangrypende stuk soos volg afgesluit: “Ek skryf hierdie stuk omdat ons nooit na ’n pasiënt met kanker sal kyk en sê die persoon is reeds dood nie. Ek skryf omdat ek hoop vir ’n toekoms waar ’n mediese student wat teen ’n psigiese siekte veg, gesien sal word as iemand wat sterk is – en nie reeds sterwend nie. Ek skryf omdat ek droom van ’n toekoms waar ek nie hoef bang te wees om so iets te skryf nie.”

Hopelik sal die SpeakUp-veldtog vir al ons studente op al ons kampusse ’n stem gee: dat hulle nie bang sal wees nie om te sê: “Ek het hulp nodig!” In die veldtog se Engelse benaming: “Speak up!”

Want, liewe student, práát, asseblief!

Dit kan jou lewe red.

* Lizette Rabe is professor aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigtingOp 24 Februarie vind ’n paneelgesprek in die Breytenbach-sentrum op Wellington in die Wes-Kaap plaas met Rabe as gespreksleier. Sy het self ’n seun wat ’n mediese student was weens depressie verloor Deelnemers is Dana Snyman, wat sy verloofde verloor het, dr Cobus McCallachan, ’n psigiater, wat sy dogter verloor het, en dr. Gerrit de Villiers, ’n pediater, wat sy seun verloor het. Stuur ’n e-pos na info@breytenbachsentrum.co.za vir meer inligting.

Hulplyne

Lifeline se 24-uur-hulplyn: 0861 322 322.

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se hulplyn: 0800 567 567 of SMS 31393.


Meer oor:  Lizette Rabe  |  Cally Ballack  |  Psigiese Siektes  |  Selfdood  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.