Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Logika gee Ramaphosa ’n kans

Enige korrupsie met die verkiesing van ’n nuwe ANC-leier het reeds plaasgevind, skryf Piet Croucamp.

Oor net meer as ’n week kan ’n scenario uitspeel wat beteken dat die onbekwame kader Bathabile Dlamini; die Mpumalanga-plunderaar David Mabuza; die opportunistiese Ace Maga­shule; die korrupte Mosebenzi Zwane en Nomvula Mokonyane; die ontkenner van enige aandadigheid Lynne Brown; die vreesaanjaende Jacob Zuma-handlanger David Mahlobo; die “weekend special” Des van Rooyen; en die onopleibare Lindiwe Zulu gaan bepaal wat die internasionale kredietgraderingsagentskappe van Suid-Afrika dink.

Daar is geen twyfel nie dat die meeste ministers in pres. Jacob Zuma se kabinet óf polities immoreel óf eenvoudig korrup is.

Onder die leiding van Zuma en Gwede Mantashe, die party se sekretaris-generaal, het die skuim van die regerende party na bo gestu en die room afgesak.

Dié proses het plaasgevind te midde van sporadiese protes wat mettertyd stilgemaak is deur die opstandiges óf af te dank óf te marginaliseer. Enige redelike en konstruktiewe stemme binne die ANC is so gestigmatiseer en oorweldig deur die staats­ka­ping van die Zuma-pionne dat dit vandag maklik is om die hele party as korrup af te maak.

Dit sou egter ’n fundamentele fout wees. Want, indien dit waar was, sou miljoene Suid-Afrikaners nie hierdie week met hul hande op hul harte gehoop het dat adj.pres. Cyril Ramaphosa op ’n wolk sal verskyn om die trauma van die afgelope agt jaar te stuit nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma sou op ’n wolklose dag seker nie ’n swakker president as Ramaphosa kon wees nie, maar in haar poging om president te word, het sy haar omring met van die onguurste politieke karakters denkbaar.

Haar verlede is morsig. Die Sarafina!-debakel weerspieël haar politieke oordeel, maar sy is ook aandadig aan die grootste massa-uitwissing in die geskiedenis van Afrika toe honderdduisende Suid-Afrikaners na ’n vroeë dood gestuur is omdat Dlamini-Zuma en oudpres. Thabo Mbeki hulself willens en wetens by die vals wetenskap van Virodene laat betrek het.

’n Ooreenkoms met die duiwel sal veiliger wees as ’n maaltyd saam met Mabuza.

Dlamini-Zuma, die nou ontslape Manto Tshabalala-Msimang en Mbeki sou sonder ironie soos die Bosniese oorlogsmisdadiger Slobodan Praljak teen hanekraai ’n gifkelk in die openbaar kon neem.

Dié geskiedenis ten spyt, gaan ongeveer die helfte van die ANC se takverteenwoordigers oor ’n week vir haar stem om die nuwe leier van hul party – en noodwendig waarskynlik die volgende president van Suid-Afrika – te word.

Dit sê iets van wat van die bevrydingsbeweging van Oliver Tambo en Nelson Mandela geword het as so ’n siniese karakter ’n wesenlike kans het om die rentmeester van hul nalatenskap te word.

Maar wat jy saai, sal jy maai.

Dlamini-Zuma is tans, wat die syfers betref, nie die gunsteling om in Zuma se spore die gravitasie van die markkragte te toets nie.

Daar is ’n twyfelagtige waarheid in die Ramaphosa-kamp vaardig dat hy net die leierskapstryd kan verloor indien korrupsie op die dag van die verkiesing die mat onder hom uittrek.

Dit is onwaarskynlik. Indien korrupsie die uitslag gaan bepaal, is die korrupsie waarskynlik reeds gepleeg en is Ramaphosa maar net in hierdie laaste dae ’n lam wat ter slagting gelei word.

Daar was reeds baie korrupsie in die takke. Die paramilitêre sterkman van Mpumalanga het in die registrasieproses ANC-lidmaatskap in sy provinsie met al die grasie van ’n magsbehepte despoot bestuur. En in die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal het die tweedeklas- provinsiale leiers van die regerende party die amptenary en hul gesinne daaraan herinner dat ’n lewe sonder die staatskas ’n kouefront is wat lewens eis.

Dit sê baie van die onafhanklikheidsdrif van baie takvoorsitters in dié provinsies dat hulle uiteindelik – ten spyte van die argwaan en nydigheid van die provinsiale leiers – steeds vir Ramaphosa gestem het.

Mabuza word verdink van betrokkenheid by verskeie politieke moorde in sy provinsie. KwaZulu-Natal is ’n slagveld van huurmoorde op plaaslike politieke leiers. Meer as 200 moorde op plaaslike leiers die afgelope 20 jaar word toegeskryf aan die sterkman-politiek wat in dié provinsies bedryf word.

Indien jy dus steeds bereid is om teen die grein van premiers in hierdie provinsies te stem, verdien jou beginselvastheid ’n mate van eer.

Teen die agtergrond hiervan is dit opvallend dat nie een van die twee voorste perde in die resies – Ramaphosa en Dlamini-Zuma – daarvoor kans sien om Mabuza ’n plekkie te gee op hul leierslyste nie. Dlamini-Zuma het byna elke ander korrupte politikus op haar lys. Mabuza sal die leierskap van die ANC op ’n skinkbord vir haar gee, sou sy na sy pype dans; tog is sy so senuagtig soos ’n mak hiëna om uit sy hand te eet.

Ramaphosa aan die ander kant weet dat ’n ooreenkoms met die duiwel veiliger sal wees as ’n maaltyd saam met Mabuza.

Die ironie van dit alles is dat Mabuza steeds daarin geslaag het om die mees benoemde kandidaat vir die adjunkpresidentskap te wees.

Dus, Ramaphosa en Dlamini-Zuma beland dalk net, sonder dat hulle dit wil hê, met dié politieke blaasvlam op hul skote.

Daar word groot gewag gemaak van die sogenaamde bruinkoevert-strategie en die waarskynlikheid dat die leierskap uiteindelik beslis gaan word deur die kandidaat wie se “agente” op die dag van die verkiesing met die meeste kontant in die BMW se kattebak gaan opdaag.

Daar word bespiegel dat bedrae van tot soveel soos R100 000 per stem op die spel is.

Die stories is waarskynlik meer vrees as werklikheid en is teen dié tyd al soveel keer onnadenkend herhaal dat dit ’n waarheid van hul eie aangeneem het.

Ek hou vol dat die werklike korrupsie reeds gepleeg is met die bepaling van takverteenwoordigers.

Die onderliggende spanning tussen die ondersteuners van Ramaphosa en Dlamini-Zuma is so groot dat geen omkoopgeld ’n wesenlike verskil aan die syfers kan maak nie.

Veral ook omdat ’n onafhanklike verkiesingskomitee die proses gaan bestuur en dat selfone nie in die stemlokaal toegelaat gaan word nie. Sonder ’n selfoonfoto van die stembrief sal niemand ooit weet vir wie die afgevaardigde uiteindelik gestem het nie.

Dit is egter wel moontlik dat takverteenwoordigers wat in die aanloop tot die verkiesing ’n voorkeur vir ’n bepaalde kandidaat gewys het juis om dié rede na die kongres gestuur word.

As Magashule en Mabuza jou daaraan herinner dat jou posisie binne die provinsiale regering afhang van jou stem by Nasrec is dit ’n kwessie van wiens brood men eet, diens woord men spreek.

Maar aan die ander kant is ’n korrupte leier ook net gevaarlik indien hy jou woord agterna kan verifieer. Met die stemprosedure vanjaar word die takafgevaardigdes tot ’n groot mate beskerm teen die opportunisme van provinsiale leiers.

Dieselfde argument geld in die politieke warm kombuis van KwaZulu-Natal. In dié provinsie is daar ’n werklike waarskynlikheid dat die afgevaardigdes beduidend anders by die konferensie gaan stem as wat die huidige syfers toon.

Dlamini-Zuma se steun, soos gemeet deur die uitslae van provinsiale en takvergaderings, maak nie werklik sin nie. Haar agterhoede word gedek deur ’n korrupte en ongewilde president. Sy was baie lank nie werklik betrokke by partypolitiek nie en die ANC is nou nie eintlik wat ’n mens sal beskryf as ’n geëmansipeerde politieke tuiste vir vroue nie.

Die Vroueliga en die Jeugliga is haar grootste ondersteuners, maar albei organisasies beleef ’n algehele laagtepunt wat hul status in die groter beweging betref.

Sy word omring deur ’n bende van algemeen bekende korruptes, mense wat die skuld moet kry vir die feit dat drie miljoen ANC-kiesers met die laaste verkiesing nie die moeite gedoen het om uit die bed op te staan om vir hul party te gaan stem nie.

Elkeen van die afgevaardigdes wat vir haar stem, moet bewus wees van die waarskuwings dat dit bitter moeilik gaan wees vir die ANC om die verkiesing in 2019 regstreeks te wen met haar as politieke leier.

Vir Dlamini-Zuma om dus meer as 40% van die steun van die takke in KwaZulu-Natal te kry, klink nie logies nie.

Instinktief klink dit daarom onwaarskynlik dat sy met haar reputasie en gebrekkige openbare steun meer as 50% van die steun in die komende leiersverkiesing kan kry.

Indien Dlamini-Zuma dus oor net meer as ’n week as ANC-president triomfeer, is dit omdat die korrupsie reeds gepleeg is, nie omdat daar geld oorbetaal is om stemme te werf op die dag van die konferensie nie.

As daar ooit ’n uitdaging was vir die gesegde dat die goeie uiteindelik die slegte oorwin, sal dit hierdie kongres wees.

Indien Zuma se eksvrou met Mabuza, Magashule en Mahlobo op haar rug hierdie rivier suksesvol oorsteek, moet jy dringend ’n makelaar in buitelandse valuta kontak – dis nou te sê as sy foon nie reeds beset is nie.

Maar my geld is op redelikheid en die oorwinning van die goeie.

En op Ramaphosa.

*Dr. Piet Croucamp doseer politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.