Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Diepteverslag: Covid-19 se babelaas

Op sosiale media staan dié eindelose “babelaas” van die nuwe koronavirus as “#Long Covid” bekend en die pasiënte beskryf hulself as “long haulers”. Willemien Brümmer skryf oor dié Covid-19-lyers wat atlete geword het in ’n marathon waarvan die eindstreep net verder weg geskuif word.

Dr. Helen Moffett is een van ’n groeiende aantal pasiënte wat maar net nie die bisarre simptome van die nuwe koronavirus afgeskud kan kry nie. Haar simptome het op 22 Maart begin, en sy sukkel steeds met ’n “babelaas” van dié virus. Foto: Verskaf

“Ná vier en ’n half maande ís daar verbetering . . . selfs as dit die slakke wat my spinasie vreet na renjaers laat lyk,” skryf dr. Helen Moffett op Facebook.

Dié skrywer, akademikus en redigeerder van Noordhoek is een van ’n groeiende aantal pasiënte wat maar net nie die bisarre simptome van die nuwe koronavirus afgeskud kry nie.

Op sosiale media staan dié eindelose “babelaas” van die virus bekend as “#Long Covid” en dié groep noem hulself “long-haulers”.

Hulle is die krygsgevangenes van wat prof. Paul Garner van die skool vir tropiese geneeskunde in Liverpool as die “lang stert van die virus” beskryf – dié lyers wat atlete geword het in ’n marathon waarvan die eindstreep voortdurend aangeskuif word.

Hulle is ook ’n groep wat in die toekoms toenemende druk kan plaas op ’n gesondheidstelsel wat tans nog in Suid-Afrika op die akute fase gefokus is: Covid-19-pasiënte wat vir die eerste keer in die hospitaal opgeneem word en wie se lewens aan ’n spindraad hang.

‘Ek is só moeg hiervan’

Op Skype lyk Moffett, wat veronderstel was om in Mei en Junie haar eerste roman, Charlotte, in die buiteland bekend te stel, aansienlik gryser as voor die pandemie begin het. Haar stem is afgemat. “Ek gaan die volgende twee maande daarop fokus om nié terug te keer na normaal nie, maar om rehabilitasie ’n prioriteit te maak. Dis net nie moontlik as twee en ’n half uur se werk op een dag beteken dat ek die volgende dag 16 uur aanmekaar slaap nie. Ek raak nie meer paniekbevange wanneer ’n nuwe simptoom verskyn nie: Ek aanvaar nou dit is deel van my immuunrespons op die virus wat ’n ou besering of siekte uit ’n rustige aftrede sleep.”

Hierdie foto is geneem vir die bekendstelling van Moffett se eerste roman, Charlotte, wat in Mei en Junie in Brittanje bekend gestel sou word. In plaas daarvan was sy in die bed met die voortslepende simptome van Covid-19 Foto: Cara-Lee Gevers
Vir sommige lyers van “Long Covid” is die siekte soos ’n Adventskalender: Elke dag is daar iets nuuts. “Ek raak nie meer paniekbevange wanneer ’n nuwe simptoom verskyn nie: Ek aanvaar nou dit is deel van ’n ou besering of siekte wat my immuunrespons op die virus uit ’n rustige aftrede gesleep het,” sê Moffett. Foto: Verskaf

Sy skud haar kop stadig. “Ek is só moeg hiervan. Dis moeilik om te sê wat meer uitmergelend is – die gebrek aan energie of die artritis-agtige pyn van my fibromialgie wat skielik weer kom aanklop het. Ek vra myself af hoekom is my enkel skielik seer? En dan onthou ek dat ek my ligament agt jaar gelede geskeur het.”

Haar simptome het begin op 22 Maart, die aand voordat pres. Cyril Ramaphosa die nasionale staat van inperking afgekondig het. Sy’t gevoel asof iemand ’n tou om haar keel gebind het en dit stywer en stywer trek.

“Ek het gedink dis net asma en toe begin die droë hoes en die koors. Ek het my inhalasie-toestel gebruik en aangehou werk. Maar ná twee weke het ek net sieker geword.”

Dit het gevoel asof daar hierdie groot ding aan die onderkant van my keel vassit en ek kon nie my longe sover kry om te werk nie.

Teen Paasnaweek voel dit asof sy dit nie gaan maak nie. Sy’s te deurmekaar om te onthou hoe haar telefoon werk om ’n ambulans te bel. Sy’t asemnood, haar niere hou op funksioneer, haar inhalasie-toestel help nie meer nie en dit voel asof sy verdrink.

“Die probleem was dat ek my vermoë om te praat verloor het. Dit het gevoel asof daar hierdie groot ding aan die onderkant van my keel vassit en ek kon nie my longe sover kry om te werk nie. Ek was baie bang. Ek woon alleen en ek kon letterlik nie kombuis toe loop nie.”

Haar stem breek. “Jy moet onthou dis begin April. Ons het niks van Covid-19 geweet nie, behalwe dat dit beteken jy sterf alleen met ’n pyp in jou keel. En ek het gedink as ek nóú doodgaan, sal ek dit liewer in my eie bed doen in die omhelsing van iemand vir wie ek lief is . . . my kat.”

‘Ek weet nie wat aangaan nie’

Sy word nooit getoets nie, want sy is te siek om te bestuur en wil nie ’n Uber-bestuurder aansteek nie.

Toe sy uiteindelik daarin slaag om met haar diep besorgde maar ietwat verwarde huisarts oor die foon te praat, sê hy vir haar dat haar simptome al te lank voortsleep – dit kan nie Covid-19 wees nie.

“Volgens die inligting wat ons het: As jy Covid-19 gehad het, sou jy teen hierdie tyd óf herstel het óf dood gewees het,” het hy gesê. Dit was voordat die dokters nog geweet het dat die simptome kan boemerang en dat dit ’n allegaartjie is wat nie net die longe aantas nie.

Ek het alles verkeerd gedoen, maar ek het ook per ongeluk ’n paar dinge reg gedoen.

Hy behandel haar vir virale longontsteking en skryf kortikosteroïede en ’n verstuiwer (nebuliser) voor.

“Ek besef nou my suurstofvlakke was só laag dat ek ontsettend deurmekaar was. Ek het alles verkeerd gedoen, maar ek het ook per ongeluk ’n paar dinge reg gedoen. Ons weet nou om ’n verstuiwer te gebruik met steroïede is presies wat jy móét doen en dit is basies wat my gered het.

“Die asemnood het stadig beter geword maar toe begin ek die ander simptome opmerk: Ek het agtergekom die tamheid is skrikwekkend en toe het ’n paar ander interessante dinge gebeur . . .”

Sy glimlag wrewelrig. “Ná vier en ’n half weke was my kursus steroïede klaar en ek het drie goeie dae gehad. Ek het aan al my kliënte geskryf om te sê dat ek herstel het – en toe word dinge skielik régtig erg. Ek het ’n sitokien-storm (’n aggressiewe oorreaksie van die immuunstelsel) beleef en later besef dat die steroïede net die simptome onderdruk het. Die asemnood en die droë hoes was terug, die ontsettende artritis-agtige pyn, die uitmergelende moegheid en toe kom ek ook agter dat ek nie kan ruik of proe nie. Ek het ook ander vreemde Covid-simptome soos ’n uitslag – hierdie klein rooi stippeltjies oral oor my vel wat keer op keer terugkom. En ek het hierdie enorme koorsblaar op my onderste lip.”

Een van die neurologiese simptome van Covid-19 is dat dit jou vermoë om te proe en te ruik aantas. Pasiënte kan byvoorbeeld sukkel om onder meer kruie soos roosmaryn te ruik of te proe. Foto: Photothek via Getty Images

Sy sug gelate. “Dis vier maande later en ek is nog nie reg nie, en dan het ek nog hierdie blerrie Covid-tone (amper soos wintervoete) en ek het vir my huisarts gesê ek weet nie wat aangaan nie.”

Wawiele en ’n swart gat

Sy besef vir die eerste keer sy’s nie alleen nie toe sy Garner se webdagboek in die British Medical Journal lees. Hy skryf hier oor hoe hy sewe weke lank op ’n wipwarit van bisarre simptome, uiterste emosies en afmatting was nadat Covid-19 by hom gediagnoseer is. Net soos in haar geval het sy siekte bloot voortgesleep. Sy simptome was soos ’n Adventskalender: Elke dag was daar iets nuuts.

Wanneer Helen Moffett dit buite haar huis waag, dra sy hierdie teken op haar rug. Selfs pasiënte met “Long Covid” is nie meer aansteeklik ná die akute fase van die siekte nie. Dit is ook uiters onwaarskynlik dat hulle herinfekteer kan word. Foto: Verskaf

“Stadig maar seker het die respiratoriese simptome begin verdwyn, maar ek het steeds hierdie skerp pyn in my regterlong en ek kan steeds nie bestuur nie,” sê Moffett. “My huisarts dink dis ook die Covid-19 wat my oë affekteer. Hulle traan heeltyd. My sig is wasig en ek sien dubbeld en dit voel asof ek my periferale visie verloor het. Dis glo alles tipies van langtermyn-Covid. En die blerrie gastroënteritis! Dis op die oomblik ’n bietjie van ’n siklus. Die een week hoes en nies ek en my long pyn, en dan begin die gastro weer en elke gewrig en been in my lyf is seer, en dan het ek nog die hele tyd die gebrek aan smaak en reuk!”

Om nie eens van die ander neurologiese en sielkundige simptome te praat nie. As sy ’n kamer instap, vergeet sy wat sy daar wou doen, sy’s lomp en snags knel ’n verlammende angs haar.

Ek en al die ander met ‘Long Covid’ het hierdie dae van diepe wanhoop, maar dan kry ons ook iets wat jy noem ‘Covid-euforie’.

Haar stem is hees. “Ek besef nou eers hoe diep traumaties daardie eerste twee maande vir my was. Aanvanklik wou ek net deurdruk deur elke uur en elke dag, en ek dink met afgryse terug daaraan en besef dit gaan my tyd neem om daarvan te herstel. Maar daar is ander dinge ook: Ek het iets opgemerk wat hulle Covid-woede noem en dan is daar die swart Covid-depressie. Ek en al die ander met ‘Long Covid’ het hierdie dae van diepe wanhoop, maar dan kry ons ook iets wat jy noem ‘Covid-euforie’. Die pyn verdwyn vir ’n oomblik en jy kry hierdie skielike opwelling van energie. Die son skyn, jy merk die voëltjies in die tuin op en jy voel só verlig. Jy wil net buitentoe storm en gaan wawiele doen. Maar drie uur later begin die volgende stel simptome weer.”

Wat is dit wat verkeerd loop?

Al klink die simptome soos iets uit Alice in Wonderland is dit tekenend van ’n wispelturige virus wat nie net die longe teiken nie, maar hom by onwaarskynlike plekke inwurm. Veral dié wat ernstig siek word, het dikwels ’n aansienlik meer komplekse stel simptome – enigiets van inflammasie van die brein tot bloedklonte en skade aan die hart en niere.

Die psigiater prof. Jackie Hoare meen Covid-19 kan potensieel ’n langtermyn- psigiatriese of ’n neuro-psigiatriese siekte inhou. Foto: Verskaf

Prof. Jackie Hoare is ’n psigiater aan die Universiteit van Kaapstad, wat in neuro-psigiatrie gespesialiseer het en op die raakvlakke tussen fisieke en geestesgesondheid fokus. Sy is ook ’n lid van die Covid-19-taakspan van die Groote Schuur-hospitaal.

“In hierdie stadium is daar nog nie regtig data in Suid-Afrika oor wat die langtermyn-neuro-psigiatriese of -neurologiese simptome van Covid-19 is nie, maar daar is ’n paar tekens uit internasionale data van wat ons te wagte kan wees,” sê sy.

Meer as 300 studies is reeds in ander wêrelddele oor die neurologiese probleme van Covid-19-pasiënte gedoen. Dinge soos kopsere, afgematheid, ’n verlies aan reuk en smaak, delirium en selfs beroertes en stuipe.

“Daar is twee hipoteses oor hoekom Covid-19 die sentrale senuweestelsel kan aantas,” verduidelik Hoare. “Die een is die indirekte skade wat aangerig word deur die lewensgevaarlike suurstoftekort wat voorkom by pasiënte wat ernstig siek word, en die ander is die oorreaksie van die immuunstelsel bekend as ’n sitokien-storm. Dit is duidelik dat ons in Suid-Afrika bekommerd moet wees oor langtermyngevolge wat met mense se geestesgesondheid en neuro-psigiatriese en neurologiese simptome te make het.”

Hierdie kan potensieel ’n langtermyn- psigiatriese siekte of ’n neuro-psigiatriese siekte wees.
Prof. Jackie Hoare

Presies wát verkeerd loop, moet wetenskaplikes nog vasstel. “Daar was al gevalle waar dokters gerapporteer het dat die virus die bloed-brein grens kan oorsteek, wat meeste van die bloedvate in die brein omring, maar dit is nog nie genoegsaam as deel van groot studies nagevors nie,” sê Hoare. “Ons het selfs al pasiënte in die Groote Schuur-hospitaal gesien by wie ons die virus in die serebrospinale vloeistof kon isoleer – maar of dit net by dié pasiënte gebeur wat ernstig siek word en of dit by almal gebeur, weet ons nie. Weer eens: Is dit weens suurstoftekort, is dit weens die sitokien-storm of is dit omdat die virus spoorsny tot in die sentrale senuweestelsel en direk daar gaan amok maak? En is dít dalk hoekom baie pasiënte die langtermyn-afmatting en -hoofpyne ondervind?”

Sy beklemtoon elke woord. “Hierdie kan potensieel ’n langtermyn- psigiatriese siekte of ’n neuro-psigiatriese siekte wees. En dis nie genoeg om te kyk na studies wat internasionaal gedoen is nie. Ons het ’n unieke bevolking in Suid-Afrika en ons moet eerstens seker maak dat pasiënte op lang termyn opgevolg word en dit behels nie net hul respiratoriese simptome nie.”

Die uitwerking van die nuwe koronavirus op pasiënte se langtermyn- psigiatriese welstand is iets wat nog in Suid-Afrika in diepte bestudeer moet word. Foto: NurPhoto via Getty Images

Hoekom so moeg?

Sy is diep bekommerd oor die trauma wat gepaardgaan met hospitalisasie weens Covid-19, veral vir diegene wat meganies moet asemhaal. “Ons sien ook iets bekend as komplekse verlies, waar verskeie familielede binne ’n kort tydperk aan die virus sterf.”

Nog iets wat in Suid-Afrika bestudeer moet word, is dié groep pasiënte wat oor chroniese moegheid en chroniese pyn kla, sê sy. "Dis nog te vroeg om presies te weet wat die chroniese moegheid veroorsaak, maar daar is 'n lang geskiedenis van virusse wat tot vermoeidheid of chroniese moegheidsindroom lei, soos byvoorbeeld nadat jy die Epstein-Barr-virus ('n lid van die menslike herpes-virus-familie waarmee die meeste mense in 'n stadium besmet word) opgedoen het."

Dr. Anthony Fauci, die “popster” van infeksiesiektes in Amerika, sê daar is ’n “aansienlike aantal mense met ’n post-virale sindroom wat hulle weke en weke ná sogenaamde herstel uitknikker”. Foto: Getty Images

Dié chroniese moegheid het die afgelope tyd al hoe meer onder die soeklig gekom nadat selfs dr. Anthony Fauci, die "popster" van Amerika se Covid-19-taakspan, gesê het daar is 'n "aansienlike aantal mense met 'n post-virale sindroom wat hulle weke en weke lank ná hul sogenaamde herstel uitknikker".

Voortslepende simptome ná ander ernstige virale siektes is niks nuuts nie. Selfs griep word reeds lankal verbind met sekere simptome at volhard in sommige gevalle soos moegheid en spierpyn – iets wat reeds ná die 1890- en 1918-'19-pandemies duidelik geword het.

Kanadese navorsers het byvoorbeeld gevind dat dinge soos slaaploosheid, chroniese moegheid, depressie en spierpyn ná Ears-CoV algemeen was.

Ons weet ook reeds dat pasiënte wat 'n ernstige virale longontsteking oorleef het – veral diegene wat in waakeenhede opgeneem is – dikwels langdurige probleme het. Party sukkel weens die skade aan hul longe en ander komplikasies met aanhoudsende asemloosheid en afgematheid. Hulle kla ook oor depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring.

Tydens die twee vorige uitbrekings van ernstige koronavirusse – Ears-CoV in 2002 en Mers in 2012 – het navorsers soortgelyke langtermyn-simptome gesien. Kanadese navorsers het byvoorbeeld gevind dat dinge soos slaaploosheid, chroniese moegheid, depressie en spierpyn ná Ears-CoV algemeen was. 'n Derde van dié wat oorleef het, moes hul werk en lewenstyl verander en slegs 14% het geen langtermyn-simptome gehad nie. Onder 'n Koreaanse groep Mers-lyers het byna 50% ná 12 maande steeds chroniese moegheid ondervind.

"Ek dink ons moet ons gereed maak daarvoor dat Covid-19 'n spieëlbeeld hiervan kan wees, of potensieel selfs erger kan wees," sê Hoare.

Dr. Helen van der Plas, infeksiesiektes-spesialis van die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands het self onlangs van die nuwe koronavirus herstel. Sy sê in dié stadium is “Long Covid” nog soos “Pandora se boks”. Daar is nog te min navorsing daaroor gedoen. Foto: Verskaf

Dr. Helen van der Plas, 'n infeksiesiektes-spesialis van die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands, sê ons moet egter onthou dat dié twee koronavirusse baie hoër sterftesyfers gehad het. Daar was ook veel minder mense wat aan dié siektes gely het. So dié data kan nie sommer net op Sars-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, van toepassing gemaak word nie.

Selfs jonges se simptome kan voortsleep

Die mees betroubare data wat ons in hierdie stadium oor langtermyn-Covid-19 het, is 'n eweknie-geëvalueerde Italiaanse studie wat in JAMA, die joernaal van die Amerikaanse Mediese Vereniging, gepubliseer is. Volgens dié studie het byna nege uit tien pasiënte – wat ná hul "herstel" van Covid-19 uit 'n hospitaal in Rome ontslaan is – twee maande nadat die siekte by hulle gediagnoseer is, steeds gekla oor minstens een simptoom wat net nie wou wyk nie.

Ná twee maande was net 13% van dié pasiënte perdfris en gesond, terwyl 32% een of twee simptome gehad het en meer as die helfte drie of vier ervaar het.

Terwyl geen van die 14 pasiënte ná twee maande koors of ander tekens van akute siekte gehad het nie, het meer as die helfte steeds tam gevoel en meer as 40% het steeds met asemnood gesukkel. Sowat 27% het oor pyn in hul gewrigte en 22% oor borspyn gekla.

'n Verdere studie wat vanaf Maart tot Junie vanjaar deur onder meer die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention gedoen is, was 'n tydige waarskuwing vir selfs jonger pasiënte sonder onderliggende siektes. Tot dusver het die meeste studies gefokus op volwassenes wat gehospitaliseer is. Hierdie studie het bevind dat selfs diegene wat nie gehospitaliseer word nie, kan met meer langdurige simptome sukkel. Sowat 'n derde van die deelnemers het gesê hulle was twee tot drie weke nadat hulle positief getoets is, nog ver van gesond. Selfs van die jong volwassenes (18 tot 34 jaar oud) wat aan geen chroniese toestande gely het nie, het byna een uit elke vyf gerapporteer dat hulle twee tot drie weke later nog ongesteld was. Dit teenoor 90% van die buitepasiënte met gewone griep wat binne twee weke heeltemal herstel het. Die simptome wat die langste voortgeduur het, was 'n droë hoes, afgematheid en kortasemheid.

Pandora se boks

Van der Plas, wat self onlangs van die virus herstel het, sê die probleem met die meeste van die studies is dat die pasiënte nog nie lank genoeg opgevolg kon word nie.

“In dié stadium is ‘Long Covid’ nog soos Pandora se boks.

Ek was gisteraand op roep en het vyf Covid-19-pasiënte opgeneem. Drie was nuwes en twee was ou gevalle.
Dr. Helen van der Plas

“In Suid-Afrika het ons eers in April en Mei beduidende getalle begin sien, en ons gaan nog nie sien wat Italië en byvoorbeeld New York nou sien wat langtermyngevolge betref nie. In hierdie stadium sien ons egter reeds dat pasiënte ’n maand ná hul ontslag weer weens komplikasies soos bloedvatverstopping in die longe en ander vaskulêre probleme opgeneem moet word. Ons sien ook byvoorbeeld dat ’n pasiënt ’n virale longontsteking het en herstel en ontslaan word, maar dan ’n paar weke later gaan hulle weer agteruit. Dis basies ’n onverklaarde voortdurende immuunrespons wat geaktiveer bly. Dit is mense wat beter word op steroïede en wanneer hulle klaar is met die kursus, is hulle skielik weer terug by ons. Ek was gisteraand op roep en het vyf Covid-19-pasiënte opgeneem. Drie was nuwes en twee was ou gevalle.”

Sy sê ’n beduidende aantal pasiënte wat gehospitaliseer word, het skade aan hul longe soos longfibrose of -littekens opgedoen.

“Ek kry die respiratoriese fisioterapeute hier om die pasiënte op te voed oor watter asemhalings- en respiratoriese oefeninge hulle moet doen en pasiënte se huisartse moet met die rehabilitasie help.”

Hoe ernstiger siek pasiënte van Covid-19 word, hoe langer sal dit hulle waarskynlik neem om te herstel. Foto: NurPhoto via Getty Images

Van der Plas meen die immuunstelsel se oorreaksie op die siekte kan die afgematheid verklaar. “Hoekom daar egter pasiënte is wat ses maande of langer moeg bly, weet ons nog nie. Maar selfs al weet ons nie, moet ons verstaan dat daar heelparty pasiënte sal wees wat selfs ’n jaar nadat hul simptome begin het, nog nie heeltemal funksioneel sal wees nie. Hulle sal sukkel en aan produktiwiteit inboet.

Dis baie kommerwekkend, want hul vermoë om ’n bestaan te kan maak sal bedreig word – en dit sal ook sleg vir werknemers wees.”Hoe sieker jy was, hoe langer sal jy waarskynlik neem om te herstel.

“Ek weet dat pasiënte wat werklik siek was en ’n maand lank in die waaksaal was, gaan eers oor sowat ses maande begin herstel. Jou hersteltyd hang ook af van watter onderliggende siektes jy het. Met enige akute infeksie het jy ’n massiewe respons van die immuunstelsel wat minstens ses maande kan aanhou.”

Selfs al word jy net ’n bietjie siek, kan jy simptome hê wat volhard, wat regtig sleg is.

Dit gaan jou uitknikker . . .Selfs diegene wat minder ernstig siek was, kan egter hartaanvalle kry indien hulle byvoorbeeld diabetes of hoë bloeddruk het. Vanuit haar kantoor kyk sy uit op die stad wat tot onlangs toe nog deur die virus verlam was maar waar die aantal nuwe infeksies stadigaan ’n plato begin bereik het. Sy was self aan die begin van Julie nog in die bed met ernstige hoofpyne en afgematheid.

“Die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention erken nou dat dit beslis nie ’n matige siekte is nie. Selfs al word jy net ’n bietjie siek, kan jy simptome hê wat volhard, wat regtig sleg is. Hoe lank was jy laas siek toe jy ’n gewone verkoue gehad het? Vier dae? Vyf dae? Hierdie siekte hou aan en dit gaan jou uitknikker, selfs al is jy jonk en net effens siek – en as jy die broodwinner in die huis is en jy is moeg en jy kan nie jou werk doen nie.”

Sy staan op. “Hierdie siekte is nie suutjies nie. Dis hoekom ons moet maskers dra en ’n gesonde afstand moet handhaaf, en indien jy simptome het, jou moet isoleer en laat toets.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.