Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Louis se stem word stil

Toe Wim Bosman vroeër vandeesmaand dood is, het ’n leeu iewers in die Laeveld stil geword, skryf Johanna van Eeden.

wim bosman
Die strokieskunstenaar Wim Bosman. Hy is Donderdag in die ouderdom van 82 jaar oorlede. Foto: Marupu Nkhumise

Bosman se geliefde strokiesprentkarakter, Louis die Laeveld-leeu, het oor meer as 40 jaar met sy droë humorsin diep in Afrikaanse koerantlesers se harte gekruip.

Die sukses van dié strokie lê in die eenvoud daarvan. “Dis net ’n bobbejaan en ’n leeu en af en toe ’n vlakvark. En hulle het elke keer iets snaaks te sê,” sê Fred Mouton, spotprentkunstenaar van Die Burger.

Hy het Bosman nie persoonlik geken nie, maar elke Saterdag sy strokie gelees. “Ek het my altyd so verwonder . . . Waar kom hy elke liewe week aan nóg ’n oorspronklike sêding?”

Mouton skryf Louis se gewildheid toe aan die tipiese Suid-Afrikaanse humor “wat jy nêrens anders in die wêreld sal kry nie”.

Niël van Vuuren, Beeld se spotprentkunstenaar, sê Bosman het met Louis die Laeveld-leeu daarin geslaag om die leser van die intrapslag te laat lag.

“In ’n strokie werk jy net met twee of drie raampies en dan moet daar ’n punchline wees. Wim het dikwels net met twee raampies gewerk en jy hoef nie eens te wag vir die punchline nie. Die bobbejaan draai net sy kop so effens of die leeu se oë hang so bietjie en dan lag jy klaar.”

Hy vergelyk Bosman met die Amerikaanse strokiesprent­kuns­tenaar Charles Schulz, skepper van Peanuts, weens die eenvoud van hul werk en hul vermoë om mense te laat lag deur die onderskeidelike uitbeelding van kinders en diere. “Kinders of diere wat grootmensdinge sê, werk altyd! As ék nou ’n ou gaan teken wat op ’n stoep sit en sê ‘My skoonpa sê . . .’ gaan dit nie snaaks wees nie. Maar as ’n bobbejaan dit sê, is dit dadelik snaaks.”

Van Vuuren sê hy het Bosman nooit ontmoet nie, maar groot­geword met sy strokies. “Dit was net altyd daar . . .”

Niël van Vuuren, Beeld se spotprenttekenaar, bring hulde aan Wim Bosman.

Getrou aan homself

Maar Bosman het nie van die begin af sukses behaal nie. Frans Esterhuyse, voormalige spotprentkunstenaar van Beeld, sê hy het Bosman in die vroeë 1970’s raakgeloop.

“Daai jare het Nedbank ’n kompetisie vir spotprenttekenaars uitgeskryf. Ek het een jaar die eerste prys gewen: ’n hele R700. Dis baie geld as jy R200 per maand verdien!”

Bosman het ook sy werk ingeskryf en dis by een van die Nedbank-uitstallings waar hy en Esterhuyse mekaar teëgekom het. Hulle het oor die jare kontak gehou. “Wim was ’n baie rustige, stil ou. Eintlik ’n bietjie skaam,” vertel hy.

Esterhuyse sê by die uitstalling het Bosman “so bietjie rondgestaan by almal wat uit­gestal het”. Dit was die tyd van koerante soos Oggendblad, Hoofstad en later Transvaler. Volgens Esterhuyse wou Bosman ook graag ’n “joppie” by ’n groot koerant kry, maar sonder enige sukses.

“Sy werk het ánders gelyk as die res s’n. Dis omdat hy geen opleiding gehad het nie. Ek het destyds ’n voltydse kursus oor drie jaar in handelskuns by ’n tegniese kollege gedoen. Wim het ’n argitekopleiding gehad. Hy’t geen opleiding gehad om mense of diere te teken nie en dit op sy manier gedoen. Daar is mense wat vir hom gesê het ‘Nee wat, met dié manier van teken gaan jy nie ver kom nie’.”

Bosman het egter getrou aan homself gebly en sy kritici uitoorlê.

Eenvoudige styl

Van Vuuren sê Bosman se styl het oor die jare ontwikkel. “Dit het meer van ’n shorthand geword, ’n eenvoudiger styl. Hy’t ’n sterk lyn en ’n maklike tekenstyl gehad.”

Mouton, bekend vir die fyn detail in sy spotprente, sê ook Bosman se werk was heeltemal anders. “Hy het met so min penwerk presiés geteken en diere met die minimum lyne herkenbaar gemaak.”

Vir Pat Scott, ’n Beeld-leser van Wonderboom-Suid in Pretoria, was dit ’n skok om te hoor van Bosman se dood. Hy het plakboeke vol strokies van Louis die Laeveld-leeu wat hy die afgelope vyf jaar versamel het – elk met die publikasie­datum daarby met die hand geskryf.

Scott sê hy het met die plakboeke begin omdat die strokie vir hom so mooi was. “Dit het om die een of ander rede my oog gevang en ek het net verlief geraak op Louis en die bobbejaan. Ek kon nie wag vir die volgende Saterdag nie.”

  • Van Eeden is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Dood  |  Leeu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.