Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
LUISTER: Groenewald: VF Plus kan doen met 'n miljoen

Opposisiepartye in Suid-Afrika sal die ANC slegs in sy spore kan stuit deur die vorming van koalisies, het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan Gert van der Westhuizen gesê in die derde aflewering van Praat politiek met Netwerk24.

Geeneen van Suid-Afrika se opposisiepartye sal die ANC op 8 Mei by die stembus kan klop nie, sê Groenewald. Maar dit is wel moontlik dat ’n koalisie van opposisiepartye die ANC in sommige provinsies, en selfs op nasionale vlak, kan uitskop.

Vanjaar se verkiesing is die belangrikste in Suid-Afrika sedert 1994 omdat dit gaan bepaal watter rigting Suid-Afrika in die toekoms gaan inslaan.

“Wat my betref, gaan dit spesifiek oor onteiening sonder vergoeding.

“As ons voortgaan met onteiening sonder vergoeding en die verkiesing vind plaas en die ANC kry nog steeds oorweldigende steun, dan sê ek vir mense ek dink ons is op lang termyn dan op pad na ’n Zimbabwe.”

Volgens Groenewald sal dit ideaal wees as die ANC se steun sodanig afneem dat hy gedwing word om ’n koalisie aan te gaan om verder te regeer. Gebeur dít nie, moet verseker word dat die ANC nie ’n tweederdemeerderheid kry sodat hy die Grondwet kan verander nie. Dan sal hy ’n ander rigting inslaan en sal daar meer hoop vir die toekoms wees, sê Groenewald.

Ek dink ons betree die nuwe era van koalisiepolitiek.

Hy glo vas ’n beter toekoms kan verseker word deur die vorming van koalisies en dat koalisieregering(s) in Suid-Afrika ná 25 jaar van demokrasie onafwendbaar is.

“Die proporsionele kiesstelsel leen hom tot koalisies. Ek dink ons betree die nuwe era van koalisiepolitiek. Ek dink ons gaan nou deur die groeipyne van koalisies . . . en omdat dit ’n nuutjie is, is daar nog baie om te leer – veral wat die koalisievennote betref.”

Groenewald glo nie die groot verskille tussen die onderskeie opposisiepartye se beleidstandpunte behoort in die pad van koalisies te staan nie. Maar maklik sal dit beslis nie wees nie.

“Ek sê altyd koalisies vereis beter gehalte leierskap en ook meer kundigheid van politieke partye. Jy moet baie meer volwasse kan wees as ’n leier om te kan verstaan ek moet nou ander politieke partye se standpunte akkommodeer en nie noodwendig as ek die grootste opposisieparty is, sê: ‘Nou maar goed, jy maak nou soos ek sê.’ Al waarin ’n groter opposisieparty wel seggenskap het, is om te sê watter uitvoerende poste hulle moet kry.”

Ervaring van koalisieregerings

Die VF Plus was sedert die munisipale verkiesing in 2016 ’n koalisievennoot in verskeie dorpe en stede. Groenewald sê juis omdat dit ’n nuutjie in Suid-Afrika is, het dit negatiewe en positiewe aspekte gehad; hy noem dit ’n “50/50-situasie”.

Sy party het in ’n metro soos dié van Tshwane ervaar dat sy lede nie noodwendig altyd die poste kry wat hy sou wou gehad het nie, “maar jy gaan voort daarmee”. Elders, soos in die Hessequa-munisipaliteit, het die VF Plus net een raadslid, maar hy is die sogenaamde “koningmaker” en het die pos van onderburgemeester gekry.

“So, jy kan een enkele raadslid hê, of een enkele parlementslid, as jy die koningmaker is, het jy ’n groter seggenskap en impak op die besluite.”

Daarom krap dit Groenewald om as hy hoor mense sê jy mors jou stem deur vir ’n kleiner party te stem.

“Dis ’n leuen, dis politieke misleiding van die kiesers. Jy moet gaan stem vir ’n politieke party wat jou waardes en jou beleidstandpunte deel . . . ons sê vir die mense: ‘Stem vir die VF Plus omdat jy sy waardes deel . . . en dan kan jy nog die bonus kry dat jy in ’n koalisie ook kan wees.’ ”

So ek sê reguit die VF Plus staan op vir die regte van wit mense, vir die Afrikaner, maar ook ander minderheidsgroepe.

Die VF Plus het volgens Groenewald in die eerste plek Christelike waardes. “Dan sê ons baie reguit ons staan op vir die regte van minderhede in Suid-Afrika. Die VF Plus is nie skaam om te sê ons staan op vir die regte van die Afrikaner nie.

“Die ANC het dit ook verder verbreed deur te gaan sê wit mense is die probleem in Suid-Afrika. So ek sê reguit die VF Plus staan op vir die regte van wit mense, vir die Afrikaner, maar ook ander minderheidsgroepe. Dis hoekom ons byvoorbeeld ook baie bruin lede het.”

Sy party glo ook in selfbeskikking; nie die “verskriklike outydse” selfbeskikking in ’n afsonderlike volkstaat nie, maar moderne selfbeskikking. Dít behels onder meer die afwenteling van meer magte na die provinsies.

“Oningeligtes sal graag sê ons gryp terug na apartheid. Hoegenaamd nie. Selfbeskikking is ’n moderne, internasionale politieke begrip. Die Katalone is bereid om tronk toe te gaan vir selfbeskikking. Nou is dit apartheid? Nee, dit is nie.”

Hoe selfbeskikking sal werk

Selfbeskikking gaan eerder oor regte soos moedertaalonderrig in ’n bepaalde gebied. Volgens Groenewald is daar ’n redelike groot konsentrasie van Afrikaners in die oostelike gebiede van Tshwane.

Hulle moet ’n stadsraad kry wat sal toesien dat hul “normes en waardes” geld in die gebied waar hulle bly. Dieselfde kan in Centurion gebeur.

“Dit was altyd prakties moontlik, jy het altyd die stadsraad gehad van Centurion, die munisipaliteit op sy eie. Die ANC het gekom en alles gaan sentraliseer. Ons sê jy moet weer desentraliseer. Dis niks anders nie as ’n bepaalde vorm van selfbeskikking nie.”

Dit gaan nie oor velkleur nie, sê Groenewald. “Ek dink die ANC wil maak asof alles net kleur was. Tans is die ANC die politieke party wat na alles deur ’n kleurbril wil kyk; soos regstellende aksie, soos swart ekonomiese bemagtiging, dis die wit mense se skuld dat die grond gesteel is, dis die wit mense se skuld dat daar nie vordering in die ekonomie is nie, ensovoorts, ensovoorts.

Op die einde van die dag gaan dit oor die welvaart van almal.

“So hulle maak dit ’n kleur-aspek. Ek sê ons moet veg vir ’n beter toekoms, nie vir ’n beter verlede nie. Wat in die verlede plaasgevind het, het plaasgevind. Ons moet nou veg vir ’n beter toekoms.”

Baie wit mense kry deesdae danksy ANC-propaganda die indruk dat hulle tweedeklasburgers is, sê Groenewald. Die VF Plus wil sulke mense weer trots op hulself laat voel. Dit kan reggekry word sonder om tot rassepolarisasie te lei omdat daar baie welwillendheid onder die rassegroepe van die land is; dit is net uitsprake van ANC-politici wat spanning veroorsaak.

Die VF Plus wil dié saak regstel deur onder meer ras uit die ekonomie te haal. Die land sal dan ook weer welvarend word danksy ’n gesonde, groeiende ekonomie. “Op die einde van die dag gaan dit oor die welvaart van almal. Almal wil in ’n land bly wat voorspoedig is, wat veilig is . . . ons moet weer begin respek kweek: respek vir jouself, wedersydse respek vir mekaar en ook vir jou verskille . . . ”

’n Miljoen stemme

Die VF Plus se slagspreuk van “Slaan terug” het die party heelwat kritiek op die hals gehaal. Foto: Jacob Rooi

Die VF Plus se slagspreuk van “Slaan terug” dui ook glad nie daarop dat hy nie respek vir ander het nie, sê Groenewald.

“Daar is mense wat sê dit is te kragdadig, maar ek dink die politieke omstandighede in Suid-Afrika vereis dat die kiesers kragdadig moet begin opstaan en hul stemme laat hoor.”

Dit moet egter altyd met die nodige respek vir jou teenstander gedoen word, sê Groenewald.

Volgens hom is daar aanduidings dat die VF Plus sal groei in vanjaar se verkiesing, veral in Gauteng en ook die Oos-Kaap.

Die party se steun is lankal nie net meer tot wit mense beperk nie omdat sy beleid oor minderheidsregte veral bruin ondersteuners lok.

Groenewald verwag selfs dat die VF Plus 3% van alle kiesers se steun gaan kry.

“Ek het gevra vir ’n miljoen stemme en dis nie onmoontlik nie. In 1994 het ons ongeveer ’n halfmiljoen gekry . . . ek sê die omstandighede in Suid-Afrika het polities só verander dat dit is moontlik is. So ek staan daarby.

“Dit is wat ek vir die mense vra, kom ons kyk wat gee hulle vir ons.”

Meer oor:  Pieter Groenewald  |  Ekonomie  |  Verkiesing 2019  |  Selfbeskikking  |  Ff Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.