Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
LUISTER: Lekota: ‘Wat gaan van ons word?’

Swart ekonomiese bemagtiging kom neer op rassehaat en is niks anders as die werkreserveringswette van apartheid nie, het Mosiuoa Lekota, leier van Cope, aan Gert van der Westhuizen gesê in die tweede aflewering van Praat politiek met Netwerk24.

Vir Lekota – ’n anti-apartheidsaktivis wat onder meer op Robbeneiland aangehou is, 31 jaar lank ’n lid van die ANC was en onder dié party se vaandel as premier van die Vrystaat en minister van verdediging gedien het – draai alles om Suid-Afrika se Grondwet.

Daarom glo hy dat vanjaar se verkiesing die belangrikste in Suid-Afrika is sedert 1994. “Ek dink dit is ’n deurslaggewende verkiesing. Dit gaan bepaal of ons Suid-Afrika gaan red of nie, of ons terug na die grondwetlike pad sal keer en of ons vorentoe sal gaan asof daar nie ’n grondwet in die land is nie.

“En as ons dit nie dié keer kan regkry nie . . . ek wonder wat van ons gaan word.”

Volgens Lekota het die ANC die grondwetlike pad onder die leiding van oudpres. Jacob Zuma byster geraak en is dit die oorsaak van die situasie waarin Suid-Afrikaners hulle vandag bevind – in ’n land wat onder meer deur grootskeepse korrupsie gekenmerk word.

Hy glo pres. Cyril Ramaphosa is net so skuldig daaraan omdat hy Zuma se adjunkpresident was.

“Dit is anders as die ANC waaronder ek grootgeword het.”

As ’n mens nie die Grondwet volg nie, moet jy korrupsie volg. Daar’s geen ander pad nie.

Lekota sê swart en wit Suid-Afrikaners het oor die jare geveg en gestreef na ’n land wat aan almal behoort wat daarin bly.

Die Grondwet bepaal ook dat Suid-Afrika alle Suid-Afrikaners se tuiste is en dat almal dieselfde regte moet hê en byvoorbeeld nie van hul eiendom onteien kan word nie.

Maar die ANC loop nie meer die grondwetlike pad nie. “Hulle loop die pad wat heeltemal teen die Grondwet is: ‘Ons gaan die land vat en aan ons mense gee’ . . . al daai soort stories wat ons lankal verslaan het met die Vryheidsmanifes van 1955.”

Daarenteen het Cope nog nooit van dié grondwetlike pad afgewyk nie; inteendeel, dié party het die mense van Suid-Afrika volgens Lekota al in 2008 gewaarsku dat die ANC onder Zuma net die land gaan afbreek met die manier waarop hulle dinge gedoen het.

“As ’n mens nie die Grondwet volg nie, moet jy korrupsie volg. Daar’s geen ander pad nie, en dis waar ons vandag is,” meen hy.

SEB nes apartheid se wette

Daar is baie wat Lekota bekommer oor die ANC-regering, maar veral planne om eiendom sonder vergoeding te onteien, en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat volgens hom niks goeds vir die toekoms voorspel nie.

SEB, sê hy, is niks anders nie as ’n vorm van rassehaat nie. Dit is nes die werkreserveringswette van apartheid, want jy kan nie mense van een ras bo dié van ’n ander bevoordeel as dit oor werk gaan nie.

Dit was nog altyd sy standpunt dat dit verkeerd is om een rassegroep bo ’n ander te bevoordeel, sê Lekota: “Voordat ons nog die Grondwet geskryf het, toe ons dit geskryf het, nadat ons dit gedoen het . . . ”

Wat het hulle gedoen? Hulle is Suid-Afrika se kleintjies.

Volgens Lekota het hy herhaaldelik gevra hoe lank daar nog aangehou gaan word om apartheid teen “blanke kinders” toe te pas.

“Wat het hulle gedoen? Hulle is Suid-Afrika se kleintjies. Hulle het nog nie eens enige werk gedoen of wat ook al nie . . . iets gedoen aan enige persoon nie, hulle moet hul eie kanse gegun word.”

As hy gevra word oor kritiek uit swart geledere oor sy standpunt rakende SEB, verwys hy na die Grondwet. Spesifiek na Seksie 3, sê Lekota, voordat hy oorslaan in die amptelike Engels van die Grondwet: “Gesamentlike Suid-Afrikaanse burgerskap, geregtig op dieselfde regte, voordele en voorregte van burgerskap.”

Landbou moet ekonomie help groei

Lekota beroep hom ook op die Grondwet om sy teenkanting teen onteiening sonder vergoeding te regverdig.

Die Grondwet maak voorsiening vir grondhervorming wat op ’n stapsgewyse manier kan plaasvind sonder dat mense op anargistiese wyse grond gryp.

Grondhervorming in Suid-Afrika is nodig omdat 80% van die land se mense in die apartheidsdae met net 13% van Suid-Afrika se grond tevrede moes wees weens die wette oor grond van 1913 en 1936 en ander apartheidswetgewing.

Cope sal toesien dat mense wat kan bewys dat grond in die verlede van hulle weggeneem is, dit terugkry. Daar is heelwat staatsgrond wat aan mense gegee kan word wat nie grond besit nie.

Voornemende boere sal ook gehelp word met grond én opleiding. Daar sal net seker gemaak word dat mense wat grond kry, dit wel gebruik om op te boer.

“Jy moet nie grond soek net om op en af te loop en te sê: ‘Ek het grond nie.’ Jy moet dit gebruik.”

Landbou is belangrik vir Suid-Afrika se welvaart en ekonomie omdat dit mense van kos sal voorsien en buitelandse valuta verdien kan word met die uitvoer van landbouprodukte.

“Jy sien, as ons dié ekonomie verwoes gaan baie van ons, blank en swart, sterf van hongersnood. Die geheim is . . . om saam die ekonomie te bou sodat almal van ons genoeg kan hê, maar as ons gaan verwoes, gaan dit soos in Zimbabwe wees.”

Sal met almal saamwerk wat saamstem

Volgens Lekota is hy bereid om met enigiemand saam te werk wat sy waardes deel; maak nie saak wat hul kleur is nie of hoe ryk of hoe arm hulle is nie.

Hy het ook ’n antwoord reg vir diegene wat hom wil kritiseer omdat hy al openbare platforms verskyn het saam met ’n organisasie soos AfriForum.

Lekota sê hy het in sy dae as anti-apartheidsaktivis al wit Suid-Afrikaners wat soos hy gedink het omarm en as sy kamerade aanvaar.

Hy het die teoloog dr. Beyers Naudé as jong student ontmoet en glo hy is een van die beste Suid-Afrikaners wat hy in sy lewe ontmoet het.

As Vrystater is Lekota ook baie trots daarop om te kan sê adv. Bram Fischer is van dieselfde provinsie as hy; iemand wat geveg het vir gelyke regte vir almal sodat Suid-Afrikaners in vriendskap kan leef.

“Ek het tronk toe gegaan die eerste keer omdat ek ’n lid was van die Suid-Afrikaanse Studente-organisasie. Ons beleid was dat Suid-Afrika ’n land is waarin swart sowel as wit bly en waarin hulle sal aanhou om saam te bly.”

Hy was later ’n stigterslid van die United Democratic Front wat probeer het om alle Suid-Afrikaners byeen te bring sodat hulle nee kon sê vir apartheid.

Hy sal die pad bly loop wat mense soos Walter Sisulu, Govan Mbeki en oudpres. Nelson Mandela hom geleer loop het.

“Ek werk en ek is van plan om (saam) met enige Suid-Afrikaner, insluitend blanke Suid-Afrikaners, (te werk) wat saam met my stem dat almal van ons dieselfde regte moet geniet.”

Hy hou ook van die feit dat AfriForum hof toe gaan as iets volgens hom verkeerd is en dat hofsake op grond van die Grondwet se bepalings beveg word; dieselfde Grondwet wat sê “almal van ons moet gerespekteer word, aanvaar word as Suid-Afrikaners”.

“So ek het geen probleem met hulle nie . . .”

Hy sal wel die eerste een wees wat opstaan as daar teen mense gediskrimineer en hul lewens bedreig word en sê: “Nee! Nee!”

Hy sal die pad bly loop wat mense soos Walter Sisulu, Govan Mbeki en oudpres. Nelson Mandela hom geleer loop het.

Dit is ’n pad wat uitgeloop het op die Grondwet wat Mandela in Sharpeville onderteken het.

“Ons staan sterk daarop, dis die regte manier, dis die regte pad om te loop . . . ek het (dit al) verduidelik en ek het verduidelik en ek is bereid om nog te verduidelik hoekom.”

Uiteindelik is daar net een vraag, sê Lekota.

“Wat is reg vir Suid-Afrika? Wat is die regte ding vir Suid-Afrika? As Suid-Afrika vrede, versoening en stabiliteit wil hê . . . dit is die pad van vrede en voorspoed in die toekoms. Enige ander pad is onaanvaarbaar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.