Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
LUISTER: Maimane: ‘Dis nou tyd om dapper te wees’

Politieke partye vrees eintlik net een ding. En dit is jou stem, het die DA-leier, Mmusi Maimane, aan Gert van der Westhuizen gesê in Praat politiek met Netwerk24, die eerste van Netwerk24 se reeks potsendings.

Mense is bang vir verandering, almal van ons. Maar hy verstaan dit, sê Maimane.

Die gedagte dat die ANC die mag in die land kan verloor, klink vreemd vir Suid-Afrikaners omdat hulle al gewoond geraak het aan ANC-oorheersing in verkiesings.

“Ons vrees dit wat ons nie ken nie. Ek vra Suid-Afrikaners om te sê wat ons wel weet, is dat dinge in regerende partye nie verander nie. Dit word net erger omdat politieke partye vir min bang is.

“Hulle is banger vir jou stem as vir enigiets anders.”

As die ANC se steun nie met dié verkiesing sodanig verminder dat hy ’n koalisie moet sluit om te regeer nie, sal dinge in die land volgens Maimane nie verander nie.

Die tyd het nou aangebreek om dapper te wees.

“Ons sal ’n ander weergawe van ’n Gupta hê, ’n ander weergawe van ’n Zuma. Dit gaan dieselfde rolprent wees.”

Nie eens pres. Cyril Ramaphosa sal die ANC in ’n ander rigting kan stuur nie, meen Maimane. Dit maak ook geen sin om te sê ’n stem vir die ANC is eintlik ’n stem vir Ramaphosa nie.

“Pres. Ramaphosa is deel van die ANC, pres. Ramaphosa sal doen wat die ANC doen. Hy is nie in beheer nie, die ANC is in beheer.”

Volgens Maimane moet Suid-Afrikaners vanjaar dapper wees by die stembus en nie verandering vrees nie. Die DA het met goeie regering sedert 2016 in Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai gewys dat mense se vrees vir verandering ongegrond was.

“Die tyd het nou aangebreek om dapper te wees.”

Hy kan mense nie ’n perfekte wêreld waarborg nie en dit kan selfs soms ’n stamperige rit wees. “Maar ek kan jou belowe dit sal beter wees as om eenvoudig by die pa te bly wat jou mishandel.”

Een Suid-Afrika vir almal

Die DA, sê Maimane, het al bewys dat hy Suid-Afrika in ’n ander rigting kan stuur. Dié party regeer al oor 16 miljoen Suid-Afrikaners en werkloosheid in gebiede wat deur die DA gelei word, is laer as elders. “Korrupsie bestaan letterlik nie in die DA nie omdat ons daarteen veg, en waar korrupsie voorkom, tree ons onmiddellik daarteen op.”

Maimane het ook baie planne vir die toekoms. Hy wil baie graag sien dat minstens een lid van elke huishouding in die land ’n werk het. Dit sal mense se afhanklikheid van welsynstoelaes verminder en onder meer die groei van kleinsake-ondernemings aanhelp en ekonomiese groei bewerkstellig. Dit is baie belangrik om ekonomiese voorspoed vir alle Suid-Afrikaners te probeer bewerkstellig omdat daar steeds op ekonomiese gebied sprake van twee Suid-Afrika’s is.

Maimane wil ook ’n eerlike en professionele polisiediens hê en seker maak Suid-Afrikaners bly in ’n land wat gebou is op ’n doeltreffende regering.

Dit sal ’n land wees waarin alle Suid-Afrikaners sal tuisvoel, belowe Maimane. Sy party is immers die enigste een wat die droom najaag van een Suid-Afrika vir almal; een nasie met een toekoms, voeg hy by.

Mense van alle rasse kan reeds in die DA tuisvoel, sê hy. Dit word onder meer weerspieël in die party se kandidatelyste.

Ek dink dis is goed dat debat gevoer word rondom vrae oor regstelling.

Tog sê kritici van die binnegevegte in die DA is rasgegrond?

Dít, sê Maimane, is allesbehalwe die geval.

“Sekere kritici hou daarvan om aan die hand te doen dat enige argument in die DA op grond van mense se ras beoordeel moet word eerder as op die meriete van die argument.

“Dit word gedoen om die narratief te bevorder dat swart mense in dié party moet wees en wit mense in daai party.”

Hy dink eerder meningsverskille dui op ’n gesonde debat in DA-geledere.

“Ek dink dis is goed dat debat gevoer word rondom vrae oor regstelling en hoe jy verseker dat ons iets doen aan historiese ongeregtigheid.

“Die DA is wat Suid-Afrika is en die debat is nie uniek aan die DA nie, dit gebeur in koffiewinkels en gemeenskappe . . . dit is ’n breë debat.

Uiteraard gaan ons taai debatte hê, maar jy moet bereid wees om sulke debatte te hê as jy een Suid-Afrika vir almal wil bou.

“Ons het in ’94 ’n pynlike verlede geërf wat ons verdeel en ons het vertrek op ’n reis na ’n Suid-Afrika wat versoen is. Politieke partye het daardie droom laat vaar en hulle wil ons verdeel.

“Die DA sê: ‘Laat ons saamwerk . . . dit gaan nie altyd perfek wees nie en uiteraard gaan ons taai debatte hê, maar jy moet bereid wees om sulke debatte te hê as jy een Suid-Afrika vir almal wil bou.’ ”

As die DA ophou om te dink en uit te daag, sal dit agteruitgaan en soos ander partye word wat dink die beste en maklikste oplossing is om net een rassegroep se belange te bevorder.

“As jy oor regstelling praat, en ek het dit al voorheen gesê . . . as jy nie sien ek is swart nie, dan sien jy my nie.

“Ek wil hê Suid-Afrikaners moet hul diversiteit vier. Ek wil hê ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner moet trots wees op die feit dat hy ’n Suid-Afrikaner is, dat hy ’n geskiedenis het wat oor verskeie geslagte heen strek en waarvan sommige met die verdrukking van Afrikaanse mense gepaard gegaan het.

“Dit artikuleer ’n pyn wat Afrikaanse mense ook dra, net soos swart Suid-Afrikaners.”

Jy kan nie almal tevrede stel nie

Maimane sê ná ’n kwarteeu van demokrasie is die meeste arm mense in Suid-Afrika steeds swart. Daar kan egter saamgewerk word om ongeregtighede reg te stel. “Dit beteken nie as ek gelyke regte aan sommiges gee, neem ek regte van ander weg nie.”

Maimane sê dit is moeilik om almal altyd tevrede te stel.

“Daar gaan uiteraard swart Suid-Afrikaners wees wat sê ons wil hê dié ding moet net swart mense bevoordeel.

“Ek sê nee. Wit Suid-Afrikaners het ’n goeie bydrae om te lewer en moet dit doen. Daar is wit Suid-Afrikaners wat sê dit lyk asof julle swart mense voortrek. Dit kan ons nie hê nie.”

Ons moet nou bereid wees om eerlike gesprekke te voer oor die Suid-Afrika wat ons wil hê.

Dit is beter vir Suid-Afrikaners om saam te werk omdat die vlakke van ongelykheid in die land eenvoudig nie langer kan voortduur nie. Dit sal populistiese organisasies net in staat stel om te groei, want hulle teer op ongelykheid.

“Ons moet nou bereid wees om eerlike gesprekke te voer oor die Suid-Afrika wat ons wil hê en daarvan sal ek nie wegskram nie . . . swart en wit mense, ons gaan hard werk, ons gaan debatteer en soms gaan daar kritiek van albei kante wees omdat ons vir almal werk, maar ons gaan nie wegskram nie, want die dag as ons sê ons bevoordeel swart mense of ons bevoordeel wit mense, is die dag dat ons nie sal kan opstaan en sê ons wil een Suid-Afrika vir almal bou nie.”

Sy grootste vrees is dat die droom van een Suid-Afrika vir almal sal vervaag en dat dit die mense van die land op grond van ras sal verdeel, sê Maimane.

Ons wil in Gauteng regeer, ons wil in die Noord-Kaap regeer en ons wil in die Wes-Kaap regeer.

Hy glo sy party se boodskap sal inslag vind by kiesers en steur hom nie veel aan meningspeilings en die kommentaar van ontleders wat daarop dui dat die DA steun verloor nie.

Inteendeel, hy glo die DA is die enigste party wat van die een verkiesing tot die volgende groei. Dit gaan vanjaar weer gebeur, sê Maimane.

“Ons wil in Gauteng regeer, ons wil in die Noord-Kaap regeer en ons wil in die Wes-Kaap regeer. In sekere plekke sal daar dalk koalisies wees, maar dit is nie iets wat nou bespreek moet word nie.”

Koalisies moet op grond van beginsels gesluit word, sê Maimane. Dit moet nie koalisies van ras of korrupsie wees nie.

Hy sal met partye saamwerk wat ’n nierassige toekoms vir Suid-Afrika wil hê, en glo aan ’n markgerigte ekonomie, grondwetlikheid wat die oppergesag van die reg beteken, die uitroei van korrupsie en die bou van ’n doeltreffende staat.

Intussen is Maimane bereid om vir elke stem te werk.

“Ek is nie ’n populis nie. Ek sal Suid-Afrika gemeenskap vir gemeenskap wen deur mense van die eerlike waarheid te oortuig.”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Korrupsie  |  Koalisies  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.