Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
LUISTER: NUK-lid: ANC se moeilikste verkiesing ooit

Woensdag se verkiesing is die moeilikste vir die ANC sedert 1994, het Enoch Godongwana, lid van die ANC se NUK en voorsitter van dié party se subkomitee oor ekonomiese transformasie, aan Gert van der Westhuizen gesê in die vierde aflewering van Praat politiek met Netwerk24.

Vanjaar se verkiesing is weens verskeie redes die belangrikste sedert 1994, sê Godongwana.

“Ons (die ANC) beveg vir die eerste keer ’n verkiesing vanaf ’n swakker basis en in daardie opsig gaan dit baie belangrik wees.”

Nuwe en omstrede kwessies dra voorts by tot die fassinerende aard van die verkiesing; die ANC se moeilikste sedert 1994.

Die ANC is volgens Godongwana by ’n kruispad – nie ’n kruispad wat die verkiesing betref nie, maar wat hy ’n kruispad vanuit ’n interne perspektief noem.

“Ons het vanuit ’n interne perspektief probleme oor die afgelope klompie jare gehad wat betref die erodering van ons waardestelsel. In daardie opsig is ons besig met ’n proses van vernuwing waar ons die waardestelsel wil herstel.

“So, ja, ons is by ’n kruispad . . . gaan die vernuwing slaag of nie?”

Godongwana, een van die min senior ANC-lede wat hom al so vroeg as 2010 uitgespreek het teen die rigting wat die ANC onder oudpres. Jacob Zuma ingeslaan het, glo pres. Cyril Ramaphosa kan in Woensdag se verkiesing ’n behoorlike mandaat van kiesers kry om die nodige hervormings in die land en in die party te maak.

Ons is gewoond aan 60%. Ons sal nie tevrede wees met enigiets minder as dit nie.

Wat sal ’n behoorlike mandaat wees?

“Ons is gewoond aan 60%. Ons sal nie tevrede wees met enigiets minder as dit nie,” sê Godongwana.

“Die ANC is besig om na homself te kyk, die foute wat begaan is en hoe om dit met verloop van tyd reg te stel.

“Ons het in die verlede uitdagings gehad en ons het dit nog altyd reggekry om te herstel, onsself te vernuwe. Ons is nou in die proses waar ons met trots kan sê ons het ’n nuwe leierskap met ’n ander kernwaardestelsel en ons wil seker maak dat ons die beweging vorentoe kan neem.”

Volgens Godongwana was die ANC nog altyd "nederig genoeg" om uit sy foute te leer en dit reg te stel. Godongwana gee toe dat Ramaphosa self gewilder as die ANC onder die mense van Suid-Afrika is, maar sê dit is nie iets nuuts nie. Dit was ook die geval met oudpres. Nelson Mandela en oudpres. Thabo Mbeki.

Mense met verskillende idees was nog altyd ’n kenmerk van die ANC.

Ramaphosa se gewildheid wys wel dat dit beter gaan in die land sedert hy as ANC-leier en president oorgeneem het en weerspieël ook Suid-Afrikaners se vertroue in hom.

Die ANC wil met leiers soos Ramaphosa aan die stuur toesien dat hy nie met die volgende verkiesing oor vyf jaar in dieselfde posisie as nou is nie en dat hy kan staatmaak op ’n breër steunbasis.

Maar sal die ANC nie steeds opgeskeep sit met die verskillende faksies wat hom oënskynlik lamlê nie?

“Mense met verskillende idees was nog altyd ’n kenmerk van die ANC,” antwoord Godongwana dié vraag. “By die konferensie van 1969 (in Morogoro in Tanzanië) het die president selfs uitgestap! Ons het al moeilike tye in die ANC gehad, dit is nie iets nuuts nie.”

Die geskille in die ANC is volgens Godongwana nie ideologies van aard nie, maar kom eerder neer op die verleidelikhede van mag (trappings of power) en hoe dit die waardestelsel van die ANC ondermyn het.

Net ANC kan sosiale kohesie bewerkstellig

Godongwana sê die ANC het egter een voordeel bo die ander politieke partye wat saam met hom by die stembus om kiesers se steun gaan meeding.

“Nie een van hulle besef die waarde van sosiale kohesie tussen die onderskeie groepe in Suid-Afrika nie. Net die ANC kan sosiale kohesie verseker."

Hy kry dit al die afgelope 25 jaar reg om Suid-Afrika se "delikate" samelewing bymekaar te hou, sê Godongwana.

“Kyk byvoorbeeld na die DA in die Wes-Kaap. Die rasseharmonie in die Wes-Kaap is besig om te kwyn onder die DA. Sosiale kohesie tussen die rassegroepe is steeds belangrik vir die ANC – nie net vir die ANC nie, maar ook vir die samelewing en die land, politieke stabiliteit en die ekonomie.”

Wanneer die ANC die ongelykhede van die verlede wil regstel, beteken dit glad nie dat hy die een of ander groep in die land te na wil kom nie.

Volgens Godongwana is die ANC die enigste politieke party wat onomwonde nierassig is.

Godongwana sê hy voel “baie ongemaklik” oor die rassespanning in die land en selfs die rassehaat wat van tyd tot tyd, selfs in sy eie party, na vore kom. Dit ondermyn die idee van die Reënboognasie.

Dit is moeilik om die presiese oorsaak daarvan vas te stel, maar dit kom dikwels na vore wanneer mense se ekonomiese welvaart in die gedrang is.

Daarom is dit van groot belang om die lewenstandaarde van alle Suid-Afrikaners te verbeter.

“Dit gaan nie binne ’n jaar of twee gebeur nie en vereis dat alle Suid-Afrikaners eensgesindheid daaroor moet hê, ongeag ideologiese of politieke verskille.”

Onteiening sonder vergoeding uit verband geruk

Wanneer die ANC die ongelykhede van die verlede wil regstel, beteken dit glad nie dat hy die een of ander groep in die land te na wil kom nie, sê Godongwana. Die ANC besef egter daar sal nie stabiliteit in die land wees as ekonomiese ongelykhede nie reggestel word nie.

Hy sê ongelukkig is die ANC se bedoelings met onteiening sonder vergoeding uit verband geruk en gebruik mense dit om vrees aan te blaas.

Dit is snert dat onteiening sonder vergoeding ’n aanval op eiendomsregte is, voeg Godongwana by.

“Dink net ’n oomblik en vra jouself af watter ander land in die wêreld beskerm eiendomsregte in sy grondwet as deel van ’n handves van menseregte? Nie net in die grondwet nie, maar ook as deel van ’n handves van regte.

“In dié opsig is Suid-Afrika ander lande ver vooruit.”

Die Amerikaanse ambassadeur het gesê Amerikaners is nie baie bekommerd oor onteiening sonder vergoeding nie.

Hy het die resolusie oor onteiening sonder vergoeding opgestel by die ANC se konferensie in 2017 waar dit as beleid aanvaar is.

“Dit sê tog duidelik dat dit nie landbouproduksie, voedselsekerheid of enige ander sektor van die ekonomie mag ondermyn nie. Ek stem ook nie saam dat onteiening sonder vergoeding die ekonomie reeds skade aangedoen het nie.

“Ek gesels met verskeie ambassadeurs. Die Amerikaanse ambassadeur het gesê Amerikaners is nie baie bekommerd oor onteiening sonder vergoeding nie, hulle is meer bekommerd oor ander regulatoriese kwessies.”

Beleggers in Londen meen die sukkelende Eskom hou meer gevaar vir die ekonomie in as onteiening sonder vergoeding.

Die ANC se eie peilings wys ook dat mense ’n groter behoefte aan grond in stedelike gebiede het vir behuising en selfs vir begraafplase as landbougrond.

Daar is mense wat landbougrond wil hê, maar die meerderheid soek grond in stedelike gebiede. Staatsgrond kan gebruik word om hul wense te vervul en as dit nie genoeg is nie, kan ander grond vir herverdeling gebruik word.

Die ANC gaan weer regeer

ANC-ondersteuners spog met T-hemde waarop pres. Cyril Ramaphosa se gesig pryk. Hy verteenwoordige baie mense se hoop op ’n beter toekoms. Foto: AP

Godongwana sê die kommissies van ondersoek wat bykans daagliks gevalle van korrupsie en staatskaping blootlê, is uiteraard nie goeie nuus vir die ANC nie.

Kiesers sal verskillend daarop reageer.

Een groep sal waarskynlik uit protes nie gaan stem nie. ’n Ander groep sal weer sê die ANC is besig om te hervorm en teen korrupsie op te tree en hulle sal op stemdag hul kruisies agter die regerende party se embleem trek.

Daar was nog altyd ’n kerngroep van kiesers wat vir die ANC stem en dit sal volgens Godongwana Woensdag weer die geval wees, hoewel dit die ANC se moeilikste verkiesing tot dusver is.

“Al wat ek weet, is dat die ANC steeds die regerende party ná 8 Mei sal wees,” is Godongwana se antwoord toe hy gevra word om ’n voorspelling te waag.

“Daarom het ons nie die luukse om populistiese besluite te neem of valse beloftes te maak nie, want op 9 Mei sal jy moet sê hoe jy hierdie valse beloftes gaan nakom.

Die ANC nie koalisies in ’n provinsie soos Gauteng met die DA aangaan as dit nie op grond van beginsels gedoen word nie.

“Ander partye kan vir ’n saal vol studente gaan vra om vir hulle te stem en belowe dat hulle op 9 Mei die myne gaan nasionaliseer en dat onderrig gratis gaan wees.

“Dit is maklik om sulke dinge te sê, maar moeilik om in werking te stel,” sê Godongwana.

Net so kan die ANC ook nie koalisies in ’n provinsie soos Gauteng met die DA aangaan as dit nie op grond van beginsels gedoen word nie.

As die DA byvoorbeeld sê daar gaan geen swart ekonomiese bemagtiging meer wees nie, sal daar nie gronde wees om ’n koalisie met dié party te vorm nie. 

Die oorweging vir koalisievorming moet nie wees om tot elke prys aan bewind te bly nie, sê Godongwana.

“Dan kan ons eerder in die opposisiebanke sit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.