Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Lyding van die ‘derde minister’

Herman Lategan verdien eer vir sy moed om na soveel jare na vore te kom oor die skreiende dinge wat met hom as kind gebeur het, skryf Barend du Plessis.

Oudmin. Barend du Plessis. Foto: Alet Pretorius

Ek skryf na aanleiding van Herman Lategan se bewonderenswaardige en dapper stap verlede week op hierdie blaaie om na vore te kom oor die skreiende onreg wat teen hom gepleeg is tydens sy kinderjare. Hy verdien eer vir sy moed.

Sy openhartige skrywe oor sy pyn en lyding het my laat besef dat daar belangrike raakpunte tussen sy skrywe is en wat ek die afgelope 19 maande beleef het.

Die beeld van die veragtelike molesteerder wat ongetwyfeld in die gedagtes van lesers opgekom het met die lees van Herman se ontboeseming, is presies die beeld wat van my geskep is in die boek Die seuns van Bird Island.

Herman vra tereg wat aangaan in die siel van die persoon wat hom geteister het. Ek vra dieselfde oor almal wat agter daardie onware boek sit.

Herman vertel hoe die slang jou voorberei en uiteindelik in jou bed geseil het. Ek is ook deur ’n slang gepik, een wat totaal onverwags uit die lug op my geval het.

Ek en my regsmense het intussen sy kronkelpad na my toe ontrafel.

Reeds vir 600 dae word my menswees verniel.

Rapport het indertyd die moed en integriteit gehad om te erken dat die koerant ’n fout gemaak het om oor die bewerings in die boek te berig en om verskoning gevra. Ek ag die redakteur daarvoor.

NB-Uitgewers, wat die boek uitgegee het, het eers onlangs, heelwat later, ook sogenaamd om verskoning gevra. Anders as dié van Rapport was dié verskoning dubbelsinnig en word ek steeds subtiel as skuldig voorgehou. Daarom het ek dit verwerp.

Dade laat letsels. Fisiek en geestelik.

Reeds vir 600 dae word my menswees gewetenloos verniel. Die uitgewers en oorlewende outeur weier skaamkwaad om hul fout te erken en ’n eerlike apologie aan my te publiseer, as voorloper tot ’n omvattende skikking.

My jare en gesondheid loop uit, en as eggenoot, pa, oupa en grootoupa, verbeur ek van die lewensvreugde van my herfsjare saam met my geliefdes. Ek móét egter aanhou om die smet wat NB-Uitgewers op my gewerp het en wat vir altyd via elektroniese data, sosiale media en biblioteke ook op my nageslag rus, ongedaan te maak.

Ek voel besmet, net soos talle slagoffers van sulke mishandeling voel.

Dit word vererger omdat mense jou nie wil glo nie, net soos talle slagoffers ook beleef.

Selfs beëdigde verklarings van mense van onkreukbare integriteit, soos ’n afgetrede senior staatsaanklaer, ’n dokter, ’n topsakeman en ’n gewese mariene bioloog, word geïgnoreer.

Die wêreldbekende onafhanklike forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow het jare lank Wouter de Swardt, ’n hoogs bekwame, onafhanklike forensiese ondersoeker, as medewerker gebruik. In opdrag van die Stigting vir Menseregte (FHR) het hulle een van die outeurs, Mark Minnie, se dood ondersoek. De Swardt moes ook die bewerings van pedofilie teen my en twee ander ministers, soos dit in die boek verskyn het, ondersoek.

Die bevinding was dat Minnie homself om die lewe gebring het. Daarná het De Swardt ’n verslag ingedien dat geen bewyse vir die bewerings teen die drie ministers bestaan nie. Ses FHR-regsadviseurs het hom daaroor onder kruisverhoor geneem. Sy verslag staan egter onbetwis. Desnieteenstaande verwerp die uitgewers dit.

Weens die uitgewers se dubbelsinnige verskoning agtervolg die mantra “Waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie” my onverpoosd.

My naam het eers ná dié van my twee gestorwe kollegas in die opeenvolgende weergawes van die manuskrip begin verskyn, want ek moes as lewende lokaas dien vir die toekomstige bemarking van die boek.

Vir dié doel moes ook heelparty fiktiewe “insidente” rondom ons drie ministers versin word. Regsadvies was dat dooie mense nie belaster kan word nie, so die outeurs en uitgewer het veral met Magnus Malan ’n vrye hand gehad.

Tot by die voorlaaste manuskrip, was al drie name in die teks – op aandrang van Minnie se medeskrywer Chris Steyn.

Regsadvies was egter dat, indien ek met regstappe kom, daar ’n wesenlike risiko was dat die uitgewers nie in staat sou wees om genoeg bewyse voor te lê om die publikasie van die beskuldigings teen my te regverdig nie.

My naam is toe vervang met die “veilige” wegkruipnaam, “die derde minister”.

Die regsadviseur was tevrede dat die boek se beskrywings van die derde minister my maar onmiskenbaar kan beskryf, want buitestanders sou my ná publikasie heel gou identifiseer.

Hy was reg. Ek was dadelik herkenbaar. Honderde oproepe en boodskappe bevestig dit.

Woensdag 1 Augustus 2018, enkele dae voor publikasie, word onverwags ’n rooiletterdag vir die boek. E-posse vlieg heen en weer.

Om 11:33 stuur die uitgewer vyf moontlike “tricky” mediavrae met aanbevole antwoorde aan die skrywers. Die eerste vier het, veelseggend, almal oor die “derde minister” gehandel.

Vraag 3: “Waarom laat julle hom dan nie toe om julle hof toe te neem en gaan bewys dan wat hy gedoen het nie?” Daarop erken die uitgewer beduidend: “It will be difficult to provide physical proof in a court of law. It will be the word of the authors (and their dozens of sources) against the word of the Third Minister”.

Wat het geword van die “getuienis” en verklarings van hierdie beweerde “dosyne” bronne? Absoluut niks!

Toe Herman en twee ander na vore gekom het, het die media nie geskroom om daaroor te berig nie, want soos NB se prokureur, Willem de Klerk, in ’n onlangse (onverwante) podsending in Kaapstad gesê het: Die media kan eers op beweerde pedofilie reageer as daar beëdigde verklarings is.

Presies die teenoorgestelde het in die Bird Island-sage op gesag van dieselfde regsadviseur gebeur.

Om 13:50 op 1 Augustus skryf Minnie in ’n e-pos aan sy uitgewer dat moontlike navrae oor getuienis voor die hof hom hinder. Dan volg sy verdoemende bekentenis: Hulle het geen konkrete bewys dat enige van die drie ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer het nie. ’n Slagoffer moet opgespoor word wat ’n klag sal indien.

Hoe hanteer die uitgewer en Steyn die enorme implikasies van Minnie se bekentenis? Deurslaggewende besluite was dringend nodig.

Deur Herman se artikel het ek kennis gemaak met twee begrippe wat ek nog nooit tevore raakgeloop het nie. Ek moes “omertà” én gaslighting gaan navors. Albei het in werking getree in die optrede van die uitgewer en Steyn ná Minnie se bekentenis.

Omertà: Sorg dat niks oor Minnie se bekentenis bekend word nie, so, snoer onmiddellik sy mond met ’n streng opdrag dat hy geen inligting aan die media gee wat hulle nie vooraf gesien het nie.

Gaslighting: Laat iemand twyfel aan hul eie geestesgesondheid deur die verspreiding van ’n leuen. Jy weet hulle praat nonsens, tog lieg hulle in jou gesig.

Hulle gaan dus roekeloos voort met die uitreiking en verdediging van die boek, al het Minnie se bekentenis die ruggraat daarvan uitgeruk en die uitgewer se geadverteerde klassifikasie van die boek as “nie-fiksie” in ’n oogwink uitgewis.

Herman en ander slagoffers se stellings sal ook deur sommige as slegs “bewerings” afgemaak word. Hy en sy drie medeslagoffers moet egter krag daarin vind dat hulle uiteindelik die moed gehad het om na vore te kom en verklarings af te lê.

Oor die nare bewerings teen my en my kollegas het ná dekades nog geen enkele slagoffer na vore gekom nie.

Res ipsa loquitur. Die feite spreek vanself.

  • Barend du Plessis is ’n voormalige minister van finansies.
VERSKONING

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Barend du Plessis in die boeke The Lost Boys of Bird Island en Die Seuns van Bird Island, asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het.

* Volg hierdie skakel na die verskoning.




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.