Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Lyfstraf: ‘Dít is hoekom geen raps onskuldig is nie’

Ontmoet die ouerpaar wat onwetend gehelp sorg het dat lyfstraf nou onwettig is. En die professor wat sê geweld begin in die ouerhuis. Willemien Brümmer berig.

Adriaan Mostert en sy vrou, Hannah, het die JoshGen-kerk in 2013 by die Menseregtekommissie verkla oor ’n handleiding wat aan ouers die presiese dikte en lengte van die roede voorskryf waarmee ’n eenjarige “opgelei” moet word. Dié handleiding is intussen van sy webwerf verwyder. By ouerpaar is hul kinders, Leah (12) en Aidan (14), wat ook vroeër jare getugtig is. Foto: Adrian de Kock

“Ons het dit nie verwag nie, maar dit was onvermydelik,” sê Adriaan Mostert, ’n IT-spesialis, wat sonder dat hy dit besef het, die grondslag vir ’n mylpaal-bevel in die konstitusionele hof gehelp lê het.

As dit nie vir hom en sy vrou, Hannah, was nie, sou siepsop-braaiboud in die ouerhuis – en buig die boompie terwyl hy nog jonk is – dalk nie nou ’n strafregtelike oortreding gewees het nie.

Dit het alles begin by die charismatiese Joshua Generation Church, wat in 2013 ’n handleiding van 38 bladsye geplaas het op sy webwerf met die presiese dikte en lengte van die roede waarmee ouers ’n eenjarige moet “oplei”.

In dié handleiding, Raising Children, wat sedertdien van die webtuiste verwyder is, beveel die kerk aan dat die stok of lat waarmee ’n eenjarige kind moet pak kry 25 cm tot 28 cm lank en 3 mm dik moet wees. Vir ’n ouer kind beveel die ouerpaar wat die handleiding geskryf het ’n hout- of plastiekstok aan van sowat drie liniale lank. “Onthou, ’n pak slae moet ’n mate van pyn veroorsaak, anders is dit nutteloos, en jou kind sal onveranderd bly,” skryf hulle.

Toe Adriaan en Hannah die handleiding sien, het hulle ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) gelê en gevra dat die kerk verbied word om lidmate “verlof te gee om kinders seer te maak”.

In 2016 beslis die MRK uiteindelik teen JoshGen. Die kerk se bevordering van lyfstraf in die huis is onaanvaarbaar, is onder meer bevind.

Andrew Selley, die stigter en hoofpastoor van JoshGen, stig op sy beurt in Januarie 2014 die niewinsgewende Christelike organisasie, FOR SA of Freedom of Religion SA. Die rede? Wetgewing stel glo toenemend “die staat bo die Bybel”.

In 2016 beslis die MRK uiteindelik teen JoshGen. Die kerk se bevordering van lyfstraf in die huis is onaanvaarbaar, is onder meer bevind, maak nie saak of dit “op die leringe van ’n spesifieke godsdiens gegrond is nie”.

JoshGen appelleer egter op prosessuele gronde en die MRK onderneem om die verslag te hersien . . . wat tot op hede nie gebeur het nie.

In dieselfde jaar word ’n Moslem-pa, slegs bekend as YG, in ’n streekshof in Johannesburg skuldig bevind aan die aanranding van sy vrou en 13-jarige seun nadat die seun pornografie op die internet gekyk het.

Dié saak word op hersiening geneem in die hooggeregshof, waarna dié hof bevind dat die verweer van “redelike of matige tugtiging” ongrondwetlik is. FOR SA, wat as ’n vriend van die hof toegelaat word, neem dit weer op appèl en dit word na die konstitusionele hof verwys.

Die res is natuurlik geskiedenis. . .

Toe kinders moes vóél

Die Mostert-gesin in hul huis in ’n sekerheidskompleks in Big Bay saam met hul twee Bokser-honde. Was dit nie vir hulle nie, was lyfstraf in die ouerhuis dalk nie nou onwettig nie. Foto: Adrian de Kock

Adriaan is in sy noppies. “Dit het altyd gevoel soos onafgehandelde sake. Die MRK-saak het op ’n tipe skaakmat neergekom. Maar ja, as ons JoshGen nie na die MRK geneem het nie, sou die saak nie in die konstitusionele hof gedraai het nie. As FOR SA die saak nie na die konstitusionele hof gedwing het nie, sou daar nou nog geen betekenisvolle regsuitspraak oor die kwessie gewees het nie.”

Hannah lag waar sy en Adriaan in ’n sonkamer in die gesin se huis in ’n veiligheidskompleks in Big Bay sit. Hulle sê spottenderwys dat hulle hulself ná die klag by die MRK moes beveilig en na ’n veiliger tuiste moes trek.

Vroeër die oggend het hul 14-jarige seun, Aidan, en hul 12-jarige dogter, Leah, ’n “kameeverskyning” gemaak. Ook dié twee het in die ou dae pak gekry – maar die glans van vrees in sy seun se oë is iets wat Adriaan eendag saam met hom graf toe sal neem.

Soos vir baie ouers was dit aanvanklik vir hulle moeilik om die mag van die gewoonte te verbreek. Beide Hannah en Adriaan het grootgeword in ’n era toe kinders gesien maar nie gehoor mag word nie.

Die Mosterts buite hul huis in Big Bay naby Bloubergstrand. Foto: Adrian de Kock

Adriaan onthou hoe hy hom op ’n keer natgemaak het toe hy as kind met ’n sambok geslaan is.

Hannah se Italiaanse pa het nie woorde gebruik nie, maar bybehore: kombuisgereedskap of waarop hy ook al sy hande kon lê. Haar gesig word effe rooi. “Ongelukkig was dit ondermynend; dit was buite verhouding tot die oortreding; dit het die vertroue tussen ons verbreek en gemaak dat ons verder uit mekaar dryf. Jy het nie die selfvertroue om uit te gaan en jou hartsbegeertes te volg nie want jy is te bang vir die gevolge daarvan.”

Die laaste keer toe Adriaan vir Aidan geslaan het, was sowat ’n jaar voordat hulle die klag by die MRK gelê het.

Die kind verstaan nie eens hoekom hy geslaan word nie.
Adriaan Mostert

“Dit was net walglik en dit het nie gewerk nie, dís vir seker,” sê Adriaan.

“Die kind verstaan nie eens hoekom hy geslaan word nie. Hy weet net my pa slaan my omdat hy kwaad is, so as ek groot is, gaan ek ook iemand slaan omdat ek kwaad is.”

Ná hul klag by die MRK moes die Mosterts hul oortuiging uitleef. “En ons moes probeer optree deur ons eie voorbeeld, wat nie maklik was nie, want ons is nie perfek nie,” sê Hannah. “Dis ’n voortdurende proses, soos wat enige ouer vir jou sal sê.”

Hulle vergelyk die verbod op lyfstraf met die wetgewing teen rook in openbare plekke. “Aanvanklik was almal ongelukkig, almal sien die einde van die wêreld, maar tien jaar later rook minder mense en niemand is dood omdat hulle nie gerook het nie.”

Geslaan met ’n staalpyp

Prof. Shanaaz Mathews, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se kinderinstituut, beywer haar nou al drie dekades vir wetgewing teen lyfstraf. Foto: Adrian de Kock

Vir prof. Shanaaz Mathews, direkteur van die Universiteit van Kaapstad se kinderinstituut, was die uitspraak soos die einde van ’n lang tog – dié ma van twee volwasse dogters teen wie sy nog nooit haar hand gelig het nie.

“Vir my gaan positiewe ouerskap regtig nie daaroor om permissief te wees nie maar om jou kinders so groot te maak dat hulle weet wat respek is, nie net vir ander nie maar ook vir hulself,” sê sy.

Vir Shanaaz (55), wat haar loopbaan in die 1980’s as ’n kliniese maatskaplike werker in die Rooikruis-kinderhospitaal begin het, was dit ’n stryd van maklik 30 jaar. In dié tyd het sy onder meer ’n nasionale studie gedoen oor kindermoord, waarin sy bevind het dat meer as 1 000 kinders jaarliks vermoor word – en dat die helfte hiervan binne die konteks van noodlottige kindermishandeling gebeur.

Sy was ook destyds werksaam by die Mediese Navorsingsraad (MNR) en het ’n nasionale epidemiologiese studie oor intieme vrouemoord (intimate femicide) gelei. Daarin is bevind dat daar elke ses uur ’n vrou deur haar intieme lewensmaat vermoor word.

Selfs sagter vorms van tugtiging kan kinders laat voel asof hulle geen beheer het oor wat met hulle gebeur nie. Jy weet nie of dit straf of mishandeling is nie, dis net so ’n grys area. Die probleem is dat wanneer jy kwaad is, het jy nie beheer nie.
Prof. Shanaaz Mathews

En dít het meer met lyfstraf te make as wat ’n mens mag dink. Sy het vir haar doktorsgraad onder meer navorsing gedoen oor mans wat hul lewensmaats vermoor het.

“Ek het baie ure in die tronk deurgebring om te probeer verstaan hoe hulle by dié punt uitgekom het,” sê sy. “Die een ding wat by al hierdie mans uitgestaan het, was ’n baie wrede kindertyd, waarin fisieke straf deur die bank die norm was.”

Sy onthou veral die wit Afrikaanssprekende man in sy 60’s wat in die tronk was omdat hy sy vrou en sy volwasse stiefseun vermoor het. “Hy het op die platteland grootgeword in ’n baie streng Afrikaanse gesin met ’n baie outoritêre pa, en lyfstraf is eenvoudig beskou as die manier waarop jy jou kinders dissiplineer.”

Hy het gehuil toe hy haar vertel het van die keer toe sy pa hom met ’n sigaret gevang het.

“Pleks daarvan dat sy pa met hom gesels het oor hoekom dit sleg is om te rook, het hy hom met ’n staalpyp geslaan. Dit het vir hom in daardie stadium gevoel asof hy gaan sterf en niemand hom sou red nie – en dís hoe ’n pak slae kinders kan laat voel.

“Selfs sagter vorms van tugtiging kan kinders laat voel asof hulle geen beheer het oor wat met hulle gebeur nie. Jy weet nie of dit straf of mishandeling is nie, dis net so ’n grys area. Die probleem is dat wanneer jy kwaad is, het jy nie beheer nie. Dít het my laat verstaan hoe geweld in die vorm van dissipline hierdie ongelooflike blywende effek het op wie ons is en wie ons as mense word.”

Stryd teen geweld begin in ouerhuis

Prof. Shanaaz Mathews: “Ons sal parallelle moet begin trek tussen wat kinders vroeg in hul lewens ervaar en hoe dit later ’n invloed het op wie hulle word.” Foto: Adrian de Kock

Nog ’n mylpaal-studie waarvan sy deel was – die sogenaamde Birth to Twenty Plus-studie in Soweto (Bt20+) – het interessante bevindings opgelewer. Dit is die grootste en langlopendste studie oor kindergesondheid en -ontwikkeling in Afrika en is reeds in 1990 begin.

Uit die studie het geblyk dat die helfte van die kinders (wat nou 29 is) binne die eerste vyf jaar van hul lewens lyfstraf gekry het. Teen die tyd dat hulle 17 jaar oud was, het sowat 70% van hulle die een of ander vorm van fisieke straf of geweld in hul ouerhuise beleef.

“Dit is werklik belangrik want al ons navorsing wys vir ons dat indien kinders lyfstraf kry, veral van ’n jong ouderdom af, kan hulle nie onderskei tussen wat liefdevol is en wat nie liefdevol is nie. En as jy ’n kind raps of slaan, beskou hulle dit as ’n normale reaksie as jy nie van iemand se gedrag hou nie. Hulle is dus meer geneig om van ’n jong ouderdom af aggressief teenoor hul portuurgroep op te tree.”

Kinders wat by die huis geweld ervaar, word aggressief.
Prof. Shanaaz Mathews

In ’n land soos Suid-Afrika waar geweld ’n “nasionale sport” geword het, sê sy, is dit uiters belangrik om die siklus van geweld te breek.

“Ons weet daar is ’n intergenerasiesiklus van geweld. As ons dink aan wat nou in Suid-Afrika gebeur, waar ons al hierdie betogings oor geweld teen vroue gehad het, is dit nie moontlik om dit te skei van wat in ons kindertyd gebeur het nie. Ons sal parallelle moet begin trek tussen wat kinders vroeg in hul lewens ervaar en hoe dit later ’n invloed het op wie hulle word.”

Sy beklemtoon elke woord. “Kinders wat by die huis geweld ervaar, word aggressief. Ons mag dit dalk nie so sien nie, maar dis hulle wat by die speelskool in ’n bakleiery betrokke raak en ander kinders boelie. As ons ons gedrag wil verander, moet ons by die huis begin.”

Sy verduidelik: “Baie mense sê dat hulle as kind geslaan is en heeltemal oukei is – dit geld dalk vir sommige van ons, maar ’n mens kan duidelik in die media sien dat groot dele van die samelewing nié oukei is nie. Ons het almal ’n verantwoordelikheid om te dink hoe ons self die vlakke van geweld kan verlaag.”

‘Piets help nie’

Hoewel die kinderinstituut al sedert 2003 betrokke is by die herskryf van die kinderwet om lyfstraf in die ouerhuis te verbied, was Shanaaz self regstreeks by ’n hofstryd betrokke toe sy in 2017 in die saak teen die Moslem-pa, YG, gevra is om ’n kennersverklaring op te stel.

“Die hof het ons genooi as amicus curiae [vriend van die hof] en ek het die kennersverklaring geskryf met al die jongste navorsing en oor wat ons van die effek van lyfstraf weet. En ja, natuurlik weet ons dat lyfstraf ’n onmiddellike reaksie ontlok. As jy ’n kind se hand piets as hy iets stouts doen, sal hy waarskynlik dadelik ophou daarmee. Maar dit sal net korttermynresultate hê. Jy leer nie vir die kind hoekom sy optrede gevaarlik was of hoekom jy nie wou hê hy moes so optree nie.”

Die regering moet nou geld belê daarin om eenvoudige en praktiese boodskappe aan ouers uit te stuur. “Op die oomblik sê baie ouers: ‘Maar wat moet ek doen? Dit neem my beheer weg.’

“Dit gaan egter nie daaroor om beheer uit te oefen nie. Dit gaan daaroor om beter verhoudinge te bou.”

‘Moenie agter Bybel skuil nie’

Die charismatiese Joshua Generation Church was in omstredenheid gedompel nadat hy by die Menseregtekommissie verkla is oor ’n handleiding, Raising Children. Sy stigter en hoofpastoor, Andrew Selley, het daarna die organisasie FOR SA gestig. Foto: Liza van Deventer

Van nou af sal daar nie meer so iets wees soos om jou kind “in liefde” te raps nie.

Sy sê navorsing het bewys dat daar oorvleueling tussen selfs “ligte” vorms van dissipline en kindermishandeling is en dat die meeste kindermishandeling in die konteks van dissipline gebeur.

“Wat jy beskou as ’n ligte straf en wat ek beskou as ’n ligte straf, kan dalk ver verwyderd van mekaar wees. Wat ons sien, is dat jy dalk jou kind vandag op sy hand gepiets het, maar môre eskaleer dit tot iets anders as dit nie meer die gewensde uitwerking het nie.”

Ek kan my nie indink dat ons honderdduisende ouers gaan sien wat in die hof verskyn nie.
Prof. Shanaaz Mathews

En nee, sy het nog nooit ’n grootskaalse eweknie-geëvalueerde studie teëgekom wat hom ten gunste van lyfstraf uitspreek nie. “Om godsdiens te gebruik om lyfstraf goed te praat is verkeerd. Ek dink ons het gevorder in ons denke oor menseregte. Ons het almal ons eie vorms van godsdiens – maar ons is nou in 2019 en die Bybel is baie jare gelede geskryf en ons moet anders begin dink oor wat dit in ons hedendaagse konteks beteken.”

Sy skud haar kop oor FOR SA se ander verweer: Dat “liefhebbende, Godvresende ouers” voortaan in die tronk sal moet boet. “Ek kan my nie indink dat ons honderdduisende ouers gaan sien wat in die hof verskyn nie. Dit gaan bloot nie gebeur nie.”

Sy staan op, gereed vir ’n wêreld sonder liniale en pantoffels en houtlepels en rottangs.

“Dit gaan nou daaroor om planne te maak om ouers te ondersteun eerder as om hulle tronk toe te stuur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.