Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ma chère, daar is ’n verskil tussen flirtasie en teistering

Die #MeToo-veldtog teen seksuele teistering het ’n heksejag geword, het die bekende Franse aktrise Catherine Deneuve en 99 ander Franse vroue Dinsdag geskryf. Marita van der Vyver antwoord.

Bonjour Catherine,

Ek wou begin deur verskoning te vra dat ek jou so familiêr op jou naam aanspreek, maar my Franse man spot my gereeld oor ons Afrikaanse meisies so obsessief jammer sê. (En asseblief en dankie.) Ek sou ook verkies het om hierdie brief in Engels te skryf, want “you” klink meer beleef as “jy”, en in my hartstaal is “u” darem net te formeel, meer geskik vir dominees as vir beroemde aktrises.

Catherine Deneuve

Maar wees verseker ek het enorme respek vir jou as aktrise. Ek het omtrent al jou rolprente gesien en ek waardeer veral die feit dat jy gereeld saam met onbekende regisseurs werk, in klein rolprentjies wat nie juis buite Frankryk gesien word nie, en waarvoor jy sekerlik nie die soort geld kan vra wat A-lys-aktrises in Hollywood sou verwag nie.

Dis waarom ek hierdie brief aan jou rig, eerder as aan die 99 ander vroue wat die manifes in Le Monde onderteken het om mans se “vryheid om lastig te val” te verdedig. Jy is nou eenmaal die internasionale poster girl van hierdie groep. “Catherine Deneuve en ander protesteer teen #MeToo”. Dis hoe daar in die buitelandse media oor jul verklaring berig word. As jou naam nie onder die 100 name was nie, sou die manifes nie naastenby soveel mediadekking gekry het nie. Die res van die wêreld sou dit kon aflag as net nog ’n bewys dat Franse vroue ’n vreemde houding oor seks het, en daarvan vergeet.

Ek woon al lank genoeg in Frankryk om te weet dat Franse vroue nes alle ander vroue is, en dat verreweg die meeste vroue wêreldwyd nie daarvan hou as mans ongevraag aan hul lywe vat nie. Natuurlik is daar ’n verskil tussen verkragting en ’n baas wat “sy hand op jou knie sit” of jou “probeer soen” – maar hoe op aarde kan jy die reg verdedig van daardie baas om ’n jong vroulike werknemer “lastig te val”?

Jy en die ander vroue wat die manifes onderteken het, is almal bekende, welgestelde vroue met ’n mate van mag. Enigeen wat sy hand op jóú knie wil sit, sal eers by jou lyfwagte en persoonlike assistente moet verbykom. En kom ons wees nou maar eerlik, baie van die 100 ondertekenaars is verby die ouderdom waar simpel mans julle sou wou lastig val – selfs al was julle arm of onbekend. (Ek weet waarvan ek praat, want ek is ook al oor die 50.)

Nou kom jy en jou 99 susters en julle sê, hokaai, kom ons bly liewers stil.

Maar ek was van die begin af dankbaar oor die #MeToo-veldtog omdat ek nie wil hê my 18-jarige dogter en haar tydgenote moet aanmekaar “lastig geval” word deur mans wat nie die verskil ken tussen flirtasie en teistering nie. Daar ís ’n verskil, en baie mans kén die verskil, dank die hemel. ’n Flirtasie is ’n wedersydse aksie, anders word dit teistering. Dis so eenvoudig soos dit. Lank lewe flirtasie!

En daardie “frotteurs du métro” – die grillerige mans wat hul geslagsdele teen vroue in oorvol moltreine of busse vryf – vir wie ons eintlik moet jammer kry omdat hulle so min seks het dat hulle gedwing word om sulke dinge te doen? Liewe Catherine, wanneer laas het jy in ’n metro gery? Buiten wanneer jy ’n rol vertolk van ’n vrou wat openbare vervoer moet gebruik omdat sy nie ’n chauffeur kan bekostig om haar rond te ry nie. (Een van jou onvergeetlike rolvertolkings was hoeka in Truffaut se The Last Metro. Ironies, nè.) Vertel bietjie vir my dogter – wat gereeld die metro gebruik – dat sy die “frotteurs” gelate moet aanvaar! Dis nou maar die prys wat sy moet betaal omdat sy jonk en vroulik is en nie private vervoer kan bekostig nie?

Skaars ’n week gelede moes hierdie dogter donkeroggend deur ’n studentebuurt van Lille stap om ’n trein te haal om by die huis te kom kuier. (Die vroegste treine is die goedkoopste.) Sy is agtervolg deur ’n vreemdeling met ’n bisarre voet-fetisj wat sy “vryheid om lastig te val” terdeë geniet het deur allerlei suggestiewe voorstelle te maak oor wat hy alles met haar voete wil doen. Sy was bang, daar was niemand anders op straat nie, sy kon nie weghardloop nie, want sy het ’n swaar tas gesleep.

Toe ek haar ’n paar uur later op ons plattelandse stasie oplaai, was sy steeds sigbaar onthuts. Sy wil asseblief nóóit weer daardie vroeë trein haal nie, het sy gesê. Ons sal volgende keer heelwat duurder moet betaal, anders sal sy nie kan kom kuier nie.

Dít, ma chère Catherine, is die alledaagse werklikheid van jong meisies in Frankryk, die bakermat van vryheid, gelykheid en broederskap. Let wel, broederskap, nie susterskap nie. Dink jy werklik die broers het nodig dat ons húlle beskerm? En jy weet tog in sommige ander lande is dit véél erger om ’n jong meisie te wees as in Frankryk?

Nogtans het jy ’n manifes onderteken wat #MeToo kritiseer omdat dit tot “mannehaat” kan lei. Ek het my verstand gekry in ’n era toe vroue bang was om te sê hulle is feministe. Netnou dink almal hulle haat mans en skeer nie hul beenhare nie! Ek het jare lank op my tande gekners as vroue sê: “Ek is ’n feminis, máár?.?.?.”

En noudat “feminisme” eindelik as die woord van die jaar aangewys is, noudat mense begin begryp dit het niks met mannehaat te doen nie, nou kom jy en jou 99 susters en julle sê, hokaai, kom ons bly liewers stil, die arme mans gaan dink ons haat hulle en dan gaan hulle nie meer vry voel om ons lastig te val nie.

Jammer, Catherine, maar dit voel soos déjà vu.

En daar sluit ek sowaar af met die j-woord wat ek so hard probeer vermy het.

Groete van ’n (feministiese) Afrikaanse bewonderaar

Meer oor:  Veldtog  |  Seksuele Teistering  |  Feminisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.