Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
James de Villiers: Maak Afrikaans vry
James de Villiers

Die spykers in die doodskis van Afrikaans word nie ingekap deur ’n universiteit wat transformeer nie, maar eerder deur sekere Afrikaners wat hardkoppig voortgaan om paranoïese slagoffers te speel.

Afrikaans sterf nie as gevolg van instellings wat dit nie meer beskerm nie; dit sterf omdat dit ’n taal is wat vir die massas onaantreklik word.

Want sien, toe apartheid val en Afrikaans sy beskermde status verloor, het Afrikaners nie net tralies gebou om hulle van die “swart gevaar” te beskerm nie, maar Afrikaans het ook tussen hom en sy naaste mure opgerig.

In plaas daarvan dat Afrikaans gehelp het om brûe te bou, ander tale te bevorder en aan Suid-Afrika te timmer, het vele Afrikaners verkies om eerder rugby te kyk, vleis te braai en oor ons politiek te kla. Ons het die Afrikaanse mense wat hier en daar progressief probeer luister en ’n plekkie wil maak vir almal, afgelag as verraaiers en toegelaat dat hulle koud en alleen aanhou sukkel.

Ons het ongemaklik geraak terwyl ons sien hoe ander kulture ons dorpe en kerke binnedring, en ons het bedreig gevoel deur hul bestaan. Ons white privilege was effe verminder: daardie privilege wat maak dat ons steeds een van die kapitaalrykste groepe in Suid-Afrika is, makliker as ander rasse werk kry en ’n mate van veiligheid in Suid-Afrika ervaar. (En met ­white privilege word bedoel ’n stel voordele en/of immuniteite waaruit wit mense daagliks voordeel trek.)

Ons nuwe politieke figure was vir ons buitewêrelds.

Afrikaans het ’n vreemdeling in sy eie land geword. Dus het ons paranoïes ons bestaan probeer beskerm. Ons het trots “Die Stem” gesing terwyl ons skaamteloos ons naaste seermaak; volksfigure het verander van mense wat ’n land wil bou na mans wat ons kultuur beskerm. Ons het onsself geïsoleer. En nou, wanneer Suid-Afrika transformeer, wonder ons hoekom Suid-Afrika ons nie wil saamneem nie.

Want Afrikaans, jy is nie die taal van die massas nie. Afrikaans, jy maak dit vir ander kulture moeilik om deel van jou te wees, juis omdat jy jou so graag suiwer wou hou. Dis die waarheid, Afrikaans; jy laat ander mense onwelkom voel, en niemand anders as onsself is daarvoor te blameer nie.

Noem my ’n volksverraaier en voel dat ek jou aanval – dis oukei. Maar ek is lief vir Afrikaans, want ek is Afrikaans en ek is deel van sy foute. Sê dat ek jou verloën, want ek sal veel eerder as ’n verraaier bekend staan terwyl ek ander mense verwelkom as dat ek eksklusiwiteit beskerm.

Afrikaans het ’n vreem-deling in sy eie land geword. Dus het ons paranoïes ons bestaan probeer beskerm.

Juis daarom is ek trots op die voorstelle deur die rektor se bestuurspan om nie Afrikaans te verwyder nie, maar net om Engels as ’n oorkoepelende taal vir kommunikasie te gebruik. Om seker te maak alle studente, ongeag van waar hulle kom, kan sukses bereik.

Geagte Afrikaner en Afrikaanse media, hierdie voorstelle vra nie naastenby om Afrikaans te verwyder nie. Dit gee almal steeds die ruimte om in Afrikaans trots te kan klasloop, eksamen te skryf en te kla. Al wat dit vra, is dat ons eerste in Engels moet praat sodat almal verstaan. Is dit regtig te veel gevra?

Ja, dit neem ’n bietjie van ons white privilege weg, maar wil ons ten koste van ander studente eksklusiwiteit behou? As Afrikaans wil voortleef, moet ons hierdie besluit ondersteun eerder as om daarteen te baklei. As Afrikaans ander wil verwelkom, hoekom dan nie ’n besluit neem om hulle daadwerklik te verwelkom nie?

As Afrikaans sê dat hy omgee, hoe kan hy dink dat dit regverdig is dat studente nie in koshuise kan deelneem nie omdat die kommunikasietaal hulle nie insluit nie? Hoe kan

Afrikaans sê hy gun almal hul plek indien my mede-Matie druip omdat sy nie die klasse verstaan nie? En hoe kan Afrikaans sê dat hy Suid-Afrika wil verbeter as hy weier dat die maksimum aantal studente toegang tot hoër onderrig het?

Die realiteit is dít: In Suid-Afrika word tans slegs ongeveer 900 000 studente toegelaat om verder te studeer. Dit beteken dat minder as 10% van Suid-Afrika toegang tot universiteite het. Slegs 32% van die voornemende Stellenbosse studente wil in Afrikaans studeer, en ongeveer 50% studeer tans in Engels in Stellenbosch.

Engels is die algemene taal van Suid-Afrika; Afrikaans is ’n minderheidstaal. Universiteite móét die mees toeganklike en diverse omgewings wees om te verseker dat ons leiers skep wat Suid-Afrika positief kan verander.

Skep ons daardie leiers deur ’n eksklusiewe Afrikaanse instelling te hê?

Universiteite is nie daar om ’n taal te beskerm nie; mense is daar om ’n taal te beskerm. Ander Afrikatale het nie eens ’n universiteit nie. Is daardie tale naby aan uitsterf?

Daar is ’n wolk van verwerping, uitsluiting en onderdrukking wat oor Afrikaans hang.

Hierdie voorstelle van die rektor se bestuurspan hou dan die moontlikheid in om Afrikaans van daardie wolk te verlos. Dit hou die moontlikheid in om die taal die eerste keer slegs

’n taal te maak, en nie deel van enige institusionele verdrukking nie. Dit kan die taal van sy alleenloper-geskiedenis vrymaak. Afrikaans kan weer trots wees.

Leser, daar is ’n duidelike verskil tussen ’n goeie leier en ’n swak leier. So is daar ’n verskil tussen progressief en hardkoppig.

Daardie verskil is dat die een in staat is om te luister en die ander nie.

Ek vra dan mooi dat julle (waarby ingesluit die konvokasie en die raad) nie sal toelaat dat Afrikaans aanhou om alleen en hardkoppig te baklei nie, maar dat Afrikaans sy betonmure sal afbreek, na sy medemens luister en ten minste probeer verstaan.

Luister na alle formele studentestrukture op die kampus (die Akademiese Bestuursraad, die Tygerberg-studenteraad en die studenteraad) wat almal die rektor se voorstelle ondersteun.

Afrikaans, jy hoef nie bang te wees nie, jy is net jou eie grootste vyand. 

As Stellenbosch nie transformeer nie, dán is Afrikaans in die gedrang; as Afrikaans nie sy deure oopmaak nie, dán sal hy in sy doodskis neerdaal.

Gaan ons Afrikaans help oorleef, of gaan ons help om die spykers in die doodskis te kap?

Die onlangse voorstelle van die Matie-rektor se bestuurspan kan Afrikaans van sy alleenloper-geskiedenis red, skryf James de Villiers. 

  • James de Villiers is ’n student aan die US, ondervoorsitter van die studenteraad en SR-kommunikasiehoof. 

Meer oor:  Afrikaans  |  Universiteit Stellenbosch  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.