Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Maak Kaaps deel van skole se leerplan

Dit word wêreldwyd aanvaar dat moedertaalonderrig die beste resultate lewer. As dit waar is van Afrikaans, Engels, en ons inheemse tale, dan geld dieselfde argument ook vir Kaaps, skryf Michael le Cordeur.

Kaapse Afrikaans is die moedertaal van 3,4 miljoen mense in Suid-Afrika. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Dit word wêreldwyd aanvaar dat moedertaalonderrig die beste resultate lewer. As dit waar is van Afrikaans, Engels, en ons inheemse tale, dan geld dieselfde argument ook vir Kaaps.

Vandag is daar byna sewe miljoen Afrikaanse huistaalsprekers waarvan 3,4 miljoen mense Kaapse Afrikaans as moedertaal het. Kaaps is dus groter as vier van Suid-Afrika se ander amptelike tale, ’n moedertaal waarmee rekening gehou moet word.

Die vraag is of Kaaps in die skoolkurrikulum verreken moet word in die skole waar die leerlinge hoofsaaklik Kaaps as huistaal het, en indien wel, hoe moet dit geskied?

Die beginsel dat onderrig in ’n kind se moedertaal minstens vir die eerste ses jaar van sy skoolloopbaan onontbeerlik is vir ’n kind se kognitiewe ontwikkeling, word wêreldwyd aanvaar. Leerlinge se voorafkennis is in hul taal opgesluit en moedertaalonderrig fasiliteer die verwerwing van kennis en begrip.

Die vraag is of Kaaps in die skoolkurrikulum verreken moet word in die skole waar die leerlinge hoofsaaklik Kaaps as huistaal het, en indien wel, hoe moet dit geskied?

S. Mehrotra het dit in 1998 as volg gestel: “ . . . if the medium of instruction in school is a language that is not spoken at home the problems of learning in an environment characterized by poverty are compounded, and the chances of drop-out increase correspondingly.”

Wat sê die beleid?

Die gevierde digter en dramaturg Adam Small word deur baie mense as die vader van Kaaps beskou. Foto: Gallo Images

Die vraag is of die amptelike beleidsdokument – die Kurrikulum Assessering Beleidsverklaring (KABV) – voorsiening maak vir die verrekening van Kaapse Afrikaans en in welke mate.

Volgens die doelwitte van die KABV moet taal leerlinge in staat stel om:

• ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond, fisieke of intellektuele vermoë, hulle toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as waardige burgers.

• sensitief te wees vir kwessies wat diversiteit weerspieël soos armoede, ongelykheid, ras, geslag, taal, ouderdom, gestremdhede.

Taal is ’n instrument vir denke en kommunikasie en om kennis te verwerf.

In die konteks van die KABV is daar dus voldoende redes vir die gebruik van Kaaps in die skool.

Taal is ’n instrument vir denke en kommunikasie en om kennis te verwerf.

Volgens die beginsels van die KABV is taal ook ’n kulturele en estetiese middel sodat leerlinge in staat sal wees om uitdrukking te gee aan kulturele diversiteit, hul identiteit, gevoelens en in interaksie te tree met ander.

Hierdie doelwitte is slegs moontlik as die leerling in sy huistaal (Kaaps) kan leer.

Stigmatisering van Kaaps

Genl.-maj. Jeremy Vearey, hoof van die Wes-Kaap se teenbende-eenheid, het onlangs die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing in Kaaps gelewer. Foto: Deon Raath

Die verhouding tussen Kaapse Afrikaans en Standaardafrikaans is en was nog altyd problematies.

Sedert die 1980’s is verskeie pogings aangewend om ander variëteite van Afrikaans te erken. Desondanks het standaardisering voortgegaan om die Kreoolse aard van Afrikaans te ontken, terwyl die taal gesuiwer is van Khoi-, Maleisiese- en slawe-invloede.

Op grond van hierdie suiweringsproses is Standaardafrikaans gesien as “beskaafde” Afrikaans, teenoor ander variëteite (soos Kaaps) wat as “onbeskaafd” beskou is.

Voor ’n mens dus van Kaaps as ’n skooltaal kan begin praat, moet daar eers ’n einde kom aan die stigmatisering van Kaaps.

Hein Willemse (2011), Gerda Odendaal (2012), Charlyn Dyers en Frank Hendricks (2017) en ook ek (in 2013) het al herhaaldelik gepleit dat die stigmatisering van Kaaps laat vaar moet word omdat dit die sprekers van die taal aanstoot gee.

Hoewel die sprekers van Kaaps meestal bruin is, praat nie alle bruin mense Kaaps nie, terwyl daar ook baie wit sprekers van Kaaps is.

Die media kan ’n groter bewusmakende rol speel in die stryd teen die stigmatisering en die stereotipering van Kaaps en sy sprekers.

Die digter Peter Snyders verwys hierna deur selfspottend en satiries te dig oor die sprekers van dié taal se gebrek aan taaltrots en kulturele selfvertroue:

Of hoe?

dit issie mooi nie:

dit diegreid die coloured mense –

of hoe?

Wat traai djy

om ’n coloured culture te create?

of dink djy is snaaks

om soe te skryf

of hoe?

Traai om ôs lieweste op te lig;

ôs praat mossie soe nie . . . ? of hoe? (uit Versagtende omstandighede, 1995)

Vervreemding

Michael le Cordeur

Hoewel die sprekers van Kaaps meestal bruin is, praat nie alle bruin mense Kaaps nie, terwyl daar ook baie wit sprekers van Kaaps is. Daar is dus nie ’n oorsaaklike verhouding tussen velkleur en taal nie.

Sprekers van Kaapse Moesliemafrikaans, wat reeds vroeg in die 19de eeu vorm gegee het aan hierdie variëteit van Afrikaans, het volgens Ernst Kotzé (2014) ’n aansienlike bydrae gelewer tot geskrewe Afrikaans.

Tog is hierdie belangrike komponent reeds met die heel eerste standaardiseringspogings uitgesluit, wat ’n miskenning van die bydrae van ’n beduidende groep Afrikaansgebruikers behels.

Hierdie miskenning het oorgespoel na die taal waarin ons met mekaar praat, want al is daar ’n verwantskap tussen bruin/swart en wit sprekers, het die wyse waarop Kaaps hanteer is, gelei tot ’n vervreemding wat die taal steeds kortwiek.

In een van sy heel vroegste gedigte verwoord SV Petersen die gevoel van bruin mense:

Weet dit

vir my bly jy ’n vreemdeling, niks meer;

jou vader was ’n slaaf, en myne was ’n heer! (Uit Verwantskap, 1944)

Die standaardisering van Afrikaans het dus met sosiale ongeregtigheid gepaardgegaan waarvoor die taal ’n duur prys betaal het: die vervreemding van sy variëteitsprekers. Hierdie vervreemding is die duidelikste sigbaar in die skoolsituasie.

In ’n artikel in 2015 noem ek dat dit juis oor die miskenning van hul taal is dat sommige studente by die universiteit hulle skaam vir hul taal.

Deel van die skoolleerplan

Die gedigte in Kaaps van skrywers soos Ronelda Kamfer word reeds op skool bestudeer. Foto: Argief

Gelukkig is die wiel besig om te draai: Kaaps is toenemend sigbaar in die klaskamer, veral op die gebied van die letterkunde.

Vandag word Kaaps via die gedigte van Marius Titus, Peter Snyders, Adam Small, en onlangs ook die poësie van Patrick Petersen, Nathan Trantaal en Ronelda Kamfer, reeds op skool bestudeer. Romans soos Diekie vannie Bo-Kaap deur Zulfa Otto-Sallies (wat afspeel in die Bo-Kaap en die leerling ’n kykie gee in die lewe van ’n Moesliem-gesin), die bekroonde boek van Bettina Wyngaard, Troos vir die Gebrokenes (wat die leerling inlig oor die lewe van ’n arm bruin gesin in ’n bruin township op die platteland), Gerook deur die joernalis Eldridge Jason (’n verhaal oor die lewe van ’n bendelid) asook dramas van Adam Small (Krismis van Map Jacobs en Kanna hy kô hystoe) vorm deesdae deel van die letterkunde-leerplan op universiteite en in skole.

Kaaps is dus deel van die skoolleerplan gemaak terwyl erkenning gegee is aan die ryke geskiedenis en erfenisse van hierdie land.

’n Toekomstige herstandaardisering van Afrikaans is onvermydelik.

Op die gebied van taalleer kry Kaapse woorde vir die eerste keer wyer erkenning. So is daar in die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) ongeveer 80 Moesliem-woorde opgeneem.

En ’n halfeeu nadat die eerste Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verskyn het, is dit die eerste keer dat so baie Kaapse variante in dié gesogte Afrikaanse woordeboek verskyn.

Kaapse, maar ook Moesliem-woorde soos “kwaailappies”, “mang”, “berk”, “ghoema”, “papgeld”, “tamaaf” en “skanghagha”, wat al baie jare in die Kaapse bruin gemeenskap gebruik word, pryk vir die eerste keer in dié HAT.

Herstandaardisering

’n Toekomstige herstandaardisering van Afrikaans is onvermydelik. Kenners soos Frank Hendricks (2009) en Gerda Odendaal (2012) stem saam dat die herstandaardisering van Afrikaans sal lei tot die bemagtiging van al sy sprekers.

In die woorde van Adam Small:

[d]it is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra . . . . ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe gee in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal . . . (1962).

Kaaps skep geleentheid om die verdeeldheid van die verlede te heel.

Daar is ’n goeie begin gemaak om Kaaps in die leerplan te verreken, veral op die gebied van die letterkunde. Hierdie proses moet voortgesit en uitgebrei word na taalleer.

Om dit te vermag, is ’n meer inklusiewe benadering as wat tans die geval is in Afrikaansonderrig op skool nodig. Nie net skep dit geleentheid om die verdeeldheid van die verlede te heel nie; dit sal ook bydra om die volle potensiaal van elke leerling te ontsluit soos deur die Grondwet van Suid-Afrika voorgeskryf.

* Bronne: J. Cummins (2005), K. Heugh (2006), E. Kotzé (2014), ML. Le Cordeur (2015), S. Mehrotra (1998) Vic Webb (2006), Madge Du Preez (2011), M.C. van Rensburg 1997.

* Dié artikel is gegrond op ’n lesing wat onlangs op ’n webinaar van die Afrikaanse Taalraad gelewer is.

* Prof Le Cordeur is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Adam Small  |  Michael Le Cordeur  |  Taal  |  Afrikaans  |  Moedertaalonderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.