Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Madhi: Foute wat regering met entstowwe gemaak het

Suid-Afrika sal waarskynlik nog een of twee vlae van die koronavirus beleef voordat ’n substansiële deel van die bevolking ingeënt is. Hierdie is die foute wat die regering gemaak het, skryf die bekroonde entstofkundige prof. Shabir Madhi.

Die regering wil vanjaar nog 47% van die Suid-Afrikaanse bevolking, sowat 40 miljoen mense, inent. Foto ter illustrasie. Foto: Reuters

Suid-Afrika het ’n bevolking van byna 60 miljoen. Om kudde-immuniteit teen Covid-19 te bereik het die regering onlangs die ambisieuse mikpunt gestel om 67% van die bevolking in te ent – sowat 40 miljoen mense. Luidens hul plan wil hulle dit nog hierdie jaar doen.

Maar is hierdie ambisieuse mikpunt selfs haalbaar? Na my mening is hierdie voorgestelde Covid-19-strategie nie ’n strategie nie, maar eerder ’n aspirasie. En bowenal ’n onrealistiese aspirasie.

Die olifant in die kamer is dat die regering die mikpunt gestel het om twee derdes van die bevolking in te ent, maar hy het nog nie die 80 miljoen dosisse beveilig wat nodig is hiervoor nie.

Hierdie is wat ons weet: Suid-Afrika wil genoeg entstowwe vir tot 10% van die bevolking koop deur die Covax-fasiliteit – ’n geraamde 12 miljoen dosisse. Dié fasiliteit is ’n wêreldwye samewerking om die ontwikkeling, vervaardiging en billike verspreiding van nuwe entstowwe te versnel. Hierdie entstowwe sal waarskynlik van Februarie en daarna beskikbaar wees, en sal daarna oor die volgende paar maande stelselmatig beskikbaar word.

Dit het deurgeskemer oor die afgelope vier weke namate die regering al hoe meer kritiek gekry het dat hy nog nie ’n plan het nie.

Die departement van gesondheid het ook aangedui dat 20 miljoen dosisse entstof waarskynlik beskikbaar sal wees teen einde Junie of Julie. Dit lyk asof die regering dit reggekry het om ’n bykomende 6,5 miljoen entstowwe te verkry benewens die entstowwe van Covax en dat hulle sowat 1,5 miljoen dosisse van die Serum Instituut in Indië bekom het, wat die Astra Zeneca-entstof vervaardig. Die eerste 1,5 miljoen dosisse van dié instituut is geoormerk vir die immunisering van gesondheidswerkers gedurende die eerste fase van die ontplooiing.

Daar is baie dinge wat egter onduidelik bly. Byvoorbeeld, hoe sal die inentings vir 1,2 miljoen werkers in gesondheidsfasiliteite toegedeel word, aangesien die 1,5 miljoen dosisse slegs 750 000 van hulle kan immuniseer. Dit beteken daar sal besluite geneem moet word oor watter personeel in gesondheidsfasiliteite ingeënt moet word.

So benewens die werklikheid dat die land nog nie die 80 miljoen dosisse het wat nodig is vir 40 miljoen mense nie, was daar nog weinig beplanning oor hoe hierdie entstowwe benut gaan word. Dit het deurgeskemer oor die afgelope vier weke namate die regering al hoe meer kritiek gekry het dat hy nog nie ’n plan het nie.

Dit lyk asof die regering al sy eiers in een mandjie gesit het en besluit het om slegs ’n entstof te bekom deur die Covax-fasiliteit, en eers later begin het met betekenisvolle onderhandelinge met vervaardigers.

Die departement van gesondheid het nou ’n taakspan aangestel om te kyk na operasionele kwessies. ’n Goeie beginpunt vir hierdie span sal wees om meer realistiese teikens en tydlyne te stel. Die span moet ook begin om ’n breër benadering te volg om sodoende die potensiaal van die private sektor en die burgerlike samelewing in te span om die entstof te ontplooi.

Onrealistiese teikens

Russiese entstof kom in Argentinië aan. Foto: Getty Images

Die regering voorsien drie fases van immunisering. In die eerste sal gesondheidswerkers geteiken word. In die tweede word noodsaaklike werkers geteiken – mense wat rampe bestuur soos brandbestryders, mense ouer as 60 en diegene met onderliggende siektes wat ’n hoër risiko het as die meeste mense. Sowat 16,5 miljoen mense word geteiken in hierdie fase.

Tydens die derde fase word die algemene bevolking ouer as 18 geteiken – sowat 22,5 miljoen mense. Dit is makliker gesê as gedaan. Gesondheidswerkers is relatief maklik om te bereik. Maar ek is nie oortuig dat ons die logistieke vermoë het om substansieel uit te reik nie – selfs nie eens na mense ouer as 65 en diegene met onderliggende siektes nie. Sonder ordentlike beplanning is entstowwe geneig om in depots te bly net omdat die logistiek nie behoorlik uitgewerk is vir die verspreiding daarvan nie.

Geen ander land benewens Israel het eers naby gekom aan 150 000 inspuitings per dag nie, om nie eens te praat van 300 000 nie.

Selfs as jy aanneem dat die regering 80 miljoen dosisse entstof in die hande kry vir 40 miljoen mense, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit voor April beskikbaar sal wees in substansiële hoeveelhede. En indien jy aanneem die regering begin van 1 April om mense in te ent sal 150 000 elke dag ingeënt moet word, sewe dae per week, in die eerste maand. Daarna sal 300 000 elke liewe dag ingeënt moet word tot 31 Desember, omdat die meeste entstowwe waarskynlik twee dosisse sal vereis.

Geen ander land benewens Israel het eers naby gekom aan 150 000 inspuitings per dag nie, om nie eens te praat van 300 000 nie. Selfs lande soos Brittanje en Amerika het gesukkel om selfs tot 50 000 mense per dag in te ent.

Aangesien geen van die entstowwe gemagtig is vir die gebruik van kinders onder 16 nie, wat sowat 30% van ons bevolking uitmaak, sal die teiken om 40 miljoen Suid-Afrikaners te immuniseer beteken byna 95% van alle volwassenes in die land moet ingeënt word.

Private sektor

Volgens ’n onlangse peiling sal slegs 53% van Suid-Afrikaners gewillig wees om ingeënt te word. Foto: AP

As jy in gedagte hou dat ’n onlangse opname deur Ipsos aan die hand gedoen het slegs sowat 53% van alle volwassenes sal gewillig wees om ingeënt te word – en dis onwaarskynlik dat hierdie inentings verpligtend gemaak sal word – is die droom om 40 miljoen Suid-Afrikaners in te ent teen die einde van die jaar baie onwaarskynlik.

’n Meer realistiese doelwit is om sowat ’n derde van die bevolking in te ent. Dit is sowat twee derdes van die volwasse bevolking, maar nie twee derdes van die Suid-Afrikaanse bevolking nie. Maar selfs vir hierdie mikpunt om bereik te word, sal daar desentralisasie moet wees van rolle en verantwoordelikhede. Indien die land uitsluitlik afhanklik is van die openbare sektor om die entstowwe te versprei, sal ons klaaglik misluk. Om hierdie rede is dit van kritieke belang dat die private sektor ’n leidende rol speel by die afleweringspunt. Wanneer dit kom by die ontplooiing van entstowwe is die private sektor, met sy algemene praktisyns en ’n groot aantal apteke, baie meer toeganklik vir Suid-Afrikaners as openbare gesondheidsklinieke.

Die private sektor – of dit nou groot apteke of algemene praktisyns is – moet sy solidariteit wys. Dié sektor kan byvoorbeeld waarborg dat enige een kan instap en ingeënt word sonder dat hulle hoef te betaal. Daarsonder sal daar ongelykheid wees.

Dít is wat verkeerd geloop het

Die regering het ’n fout gemaak om eksklusief deur Covax toegang tot entstowwe te probeer kry. Foto: Reuters

Die huidige deurmekaarspul is die gevolg van twee foute die afgelope jaar. Die eerste was die regering se besluit om eksklusief deur middel van Covax te probeer om toegang te kry tot entstowwe. Covax is in die lewe geroep om te verseker dat lande genoeg entstowwe kan kry vir minstens 20% van die bevolking. Die meganisme om pryse vas te stel wat ingebou is in dié gelyke toegangsfasiliteit beteken dat groter ekonomieë ’n premie moet betaal om armer ekonomieë te subsidieer.

Suid-Afrika het hom in die situasie bevind waar hy $12 tot $13 per dosis moes betaal as ’n hoër middelinkomste-land indien hy wou deelneem. Dit is meer as drie keer soveel as wat dit sou kos om die entstof direk van Astra Zeneca (of die Serum Instituut van Indië) te koop teen die huidige prys van $3 per dosis.

Deelname aan die Covax-fasiliteit beteken jy bewys maatskaplike solidariteit aan armer lande wie se koste per dosis gekruissubsidieer word deur ryker lande en filantropiese organisasies. Maar hierdie inisiatief is ook meestal blind vir die nood waarin ons ekonomie verkeer.

Dis eers onlangs – ná die openbare herrie – dat dit lyk asof die regering begin het met betekenisvolle bilaterale onderhandelinge.

Die tweede fout was dat die regering die probleem vererger het deur nie betyds te begin om ooreenkomste aan te gaan met vervaardigers deur ’n gevorderde meganisme om hom tot die mark te verbind nie. Baie ander lande, ook middelinkomste-lande, het dit gedoen toe entstowwe begin het met fase twee en fase drie kliniese proewe.

Dis eers onlangs – ná die openbare herrie – dat dit lyk asof die regering begin het met betekenisvolle bilaterale onderhandelinge. Die probleem is dat dit te min is, en te laat. Baie van die entstowwe wat reeds vir gebruik goedgekeur is in Noord-Amerika en Europa wat oor die volgende ses maande vervaardig sal word. Dit is reeds geoormerk vir ander lande wat hulle vroeër reeds daartoe verbind het.

Die gevolg is dat Suid-Afrika waarskynlik nog een of twee oplewings van die koronavirus sal sien voordat ’n substansiële deel van die bevolking ingeënt is.

• Madhi is professor in entstofkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand en die direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se analitiese navorsingseenheid vir entstowwe en infeksiesiektes. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Covax  |  Shabir Madhi  |  Suid-Afrika  |  Indië  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.