Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mag ons krities wees oor Madiba se nalatenskap?

Suid-Afrikaners mag krities wees oor oudpres. Nelson Mandela se nalatenskap, maar sal hulself ook ’n paar indringende vrae moet vra, skryf Leslie van Rooi.

Die Mandela-banier op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. (Met erkenning aan Erhardt Thiel en Stefan Els.) Foto: Verskaf

Ter viering van Mandeladag en Madiba se toespraak op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) in 1991, het die US onlangs ’n banier aangebring wat hierdie wêreldikoon se besoek aan die universiteit herdenk.

Dit val my op dat die banier reaksie ontlok selfs in ’n tydperk waar dit redelik stil op kampus is.

Die reaksie, hetsy positief erkennend, (meer) neutraal of afwysend, sê dalk meer oor hoe ons vandag oor Nelson Mandela dink as oor die historiese figuur self.

Dit is duidelik dat mense die banier raaksien en dat dit ons dwing om na te dink oor die persoon en nalatenskap van Madiba.

In hierdie verstaan van Madiba, is daar nie plek vir woorde soos 'vrygeborene(s)' nie, juis omdat hy kwansuis toegelaat het dat die juk van apartheid vir nog ’n geslag daar sal wees.

Veral oor die afgelope paar jaar, en spesifiek uit die geledere van jong Suid-Afrikaners, klink daar kritiese stemme op oor die nalatenskap van Madiba. Die kritiek blyk hoofsaaklik te wees teenoor Mandela se “beleid van versoening” en die gevoel dat dit misbruik word deur Suid-Afrikaners om die status quo te handhaaf. 

Blykbaar het dit Suid-Afrika nie toegelaat om sterk skuiwe in die wese van ons samelewing te maak nie. In hierdie verstaan van Madiba, is daar nie plek vir woorde soos “vrygeborene(s)” nie, juis omdat hy kwansuis toegelaat het dat die juk van apartheid vir nog ’n geslag daar sal wees.

Tegelyk blyk dit of die idee van ’n versoende Suid-Afrika verwerp word en dat dit eerder plek moet maak vir ’n verstaan dat veral swart Suid-Afrikaners hul regmatige plek moet inneem. So is daar dan nie meer plek vir die reënboognasie nie, juis omdat dit niks doen om swart Suid-Afrikaners se plek in ons land te erken en te beklemtoon nie met die gevolg dat min dinge verander.

Dus beleef die Madiba-idee, soos in die verlede, vandag weer fel kritiek

Wat sou jy in Madiba se plek gedoen het?

Oudpres. Neslon Mandela op ’n ANC-byeenkoms voor 1994 se verkiesing. Foto: Dawid Roux

Mag ons krities teenoor Madiba se lewe en nalatenskap wees?

Ja, natuurlik.

Maar voor ons ons kritiek kwetsend deel, is dit dalk eers nodig om vir ons self die volgende vrae af te vra: Hoe sou ek anders besluit het oor die politieke en ekonomiese bestel wat 1994 moontlik gemaak het? En wat sou die gevolge wees? Hoe sou ek gedink het oor nasiebou in die 1990’s en watter alternatiewe sou ek op die tafel geplaas het?

Net dalk, as ons hierdie vrae probeer beantwoord – selfs met die onregverdige voordeel van die hede – moet iets van hierdie kritiek teenoor Mandela na ’n kritiek teenoor my en ons as medeburgers van Suid-Afrika skuif.

Ons sukkel om uit die lesse van die verlede te leer en daarom herhaal ons, selfs sonder dat ons dit soms besef, dieselfde foute.

As ’n mens met hierdie bril na die onlangse geskiedenis kyk, is dit maklik om raak te sien dat, wat ons vandag beleef as rassepolarisasie, meer te make het met die idee dat ons nie wou/wil versoen nie en dat ons nie wou/wil nuut dink oor die moontlikhede van ons land en sosiale kohesie nie.

Ons, anders as Madiba, sit vas in ’n verstaan waar vrees, ’n verdwaalde rassevooroordeel waarvoor daar nie meer plek is nie, en ’n onwilligheid om harder te werk aan die moontlikhede van ons land, weliswaar die moontlikhede van ons land kniehalter.

Moontlikhede waarvan ons daagliks iets sien, maar nie tot so ’n mate kan waarmaak dat dit Suid-Afrika op ’n trajek plaas waar dit wat ons wel weet moontlik is, werklik waar kan word nie.

Ons sukkel om uit die lesse van die verlede te leer en daarom herhaal ons, selfs sonder dat ons dit soms besef, dieselfde foute.

Leslie van Rooi.

Ons kan en moet krities wees teenoor Madiba, so ook teen die nalatenskap van ander voor ons. Maar dan moet ons ook krities teenoor ons self wees.

Dalk moet die kritiek wat ons teen Madiba uitspreek eerder selfkritiek wees.

Hierdie selfkritiek moet ons egter nie verlam nie, maar juis in staat stel om moeilike vrae aan onsself en aan mekaar te vra.

So sou ons kon vra: Wat moet my aandeel wees in die daarstel van ’n Suid-Afrika waar almal kan tuis voel en tuis hoort? Hoe vestig ek ’n gemeenskap waar ek myself kan uitleef en waar ek kan werk om moontlikhede vir diegene om my te kan skep?

Hopelik kan antwoorde op hierdie vrae ons help om van die elemente van die verlede weg te breek wat ons verhoed om te werk in die rigting van ’n Suid-Afrika waarin almal tuis hoort.

Om nie hierdie wegbreek te maak nie, en om nie ontslae te raak van die las van rassevooroordeel nie, is om Madiba se nalatenskap goedkoop te maak.

* Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan Stellenbosch Universiteit.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Leslie Van Rooi  |  Mandela100  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.