Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Maggie se Marshall-plan vir SA

Voorheen vertroulike dokumente wat pas uitgereik is, toon hoe Margaret Thatcher druk op die apartheidsregering geplaas het, skryf Hermann Giliomee.

Betogers marsjeer in Londen om protes aan te teken tydens ’n ontmoeting tussen Margaret Thatcher en PW Botha op 2 Junie 1984. Foto: Getty

In die gewilde televisiereeks The Crown is daar ’n toneel waar koningin Elizabeth II die destydse premier Margaret Thatcher kritiseer vir haar standpunte oor Suid-Afrika en dat haar regering nie genoeg doen om ’n oplossing vir die apartheidsvraagstuk te vind nie.

Die tonele is blykbaar gegrond op berigte wat destyds in die Londense Sunday Times verskyn het en waarin senior bronne in Buckingham-paleis aangehaal word as sou daar spanning tussen die koningin en die eerste minister hieroor wees. Die berigte is deur Downing Street én die paleis ontken.

Dokumente wat egter onlangs deur die Public Record Office in Londen uitgereik is, dui daarop dat Thatcher – wat in die openbaar sanksies teen die apartheidstaat sterk teengestaan het – in die laat 1980’s agter die skerms veel groter druk op die regering van oudpres. PW Botha geplaas het as wat haar kritici haar wil toegee.

Sy het veral klem gelê op die vrylating van oudpres. Nelson Mandela, destyds die simbool van die wêreldwye anti-apartheidstryd.

                                                                                 ***

Op 4 Mei 1988 het Thatcher met Colin Eglin, destyds die leier van die Progressiewe Federale Party (PFP), ontmoet.

Hul gesprek het begin met ’n vraag aan Eglin oor die stand van politieke hervorming in Suid-Afrika. Sy antwoord was dat die sleutelkwessie in Suid-Afrika nie meer apartheid is nie, maar politieke mag.

Hy het ook die beginsel van een mens, een stem in ’n eenheidstaat teëgestaan, maar betoog vir ’n federale stelsel gekoppel aan proporsionele verteenwoordiging in die regering.

Hy het opgemerk dat Botha begin het om wit kiesers voor te berei op een of ander vorm van magsdeling, maar dat hy te oud en te rigied was in sy denke om self ’n oplossing te vind. Gevolglik was hervorming in Suid-Afrika vasgevang in ’n soort niemandsland.

Eglin het (heeltemal korrek, soos dit later sou blyk) FW de Klerk as die waarskynlikste opvolger van Botha geïdentifiseer en bygevoeg dat De Klerk voldoen het aan die behoefte aan “ ’n meer buigsame onderhandelaar”.

Thatcher het geantwoord dat dit De Klerk laat “swak” klink het. Sy het bygevoeg: “Die wit bevolking sal beter gedien word deur ’n sterk leier met duidelike doelstellings.”

                                                                                ***

Minder as ’n jaar later, in Januarie 1989, het Botha ’n beroerte gehad. Die dokters wat geraadpleeg is, was van mening dat hy onmiddellik met pensioen moes aftree.

Botha het egter aan sy amp vasgeklou, maar wel bedank as NP-leier. De Klerk, wat in sy plek as NP-leier verkies is, het de facto-staatshoof geword totdat Botha se kabinet hom op 25 Augustus 1989 gedwing het om te bedank en De Klerk staatspresident geword het.

Vroeg in 1989, kort ná Botha se beroerte, het Thatcher die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, Pik Botha, gevra om haar in die geheim in Londen te ontmoet om te praat oor wat sy die “verswakkende tempo van hervorming in Suid-Afrika” genoem het.

Sy het klem gelê op Mandela se vrylating.

Dié ontmoeting vind op 25 Maart 1989 plaas. Thatcher maak reg uit die staanspoor haar mening duidelik dat die belangrikste stap vir die Suid-Afrikaanse regering was om Mandela onmiddellik en sonder voorwaardes vry te laat. Sy vrylating het volgens haar “ ’n soort toetssteen” vir die Weste geword en die risiko dat hy nie vrygelaat word nie, “was enorm”.

Thatcher het Botha gewaarsku dat sy en die Duitse kanselier Helmut Kohl sonder Mandela se vrylating dit geleidelik moeiliker sou vind om verdere sanksies teen Suid-Afrika te weerstaan ??op ’n tydstip dat die land gesukkel het om sy lenings terug te betaal en sy skuld te herskeduleer.

Sy het benadruk dat ’n verbetering van die ekonomiese omstandighede van swart Suid-Afrikaners op sigself nie genoeg was nie. Al wat dit sou doen, is om hul wrok oor hul politieke uitsluiting verder aan te wakker.

Thatcher onthul toe ’n belangrike plan wat sy in die mou voer. Sy en Kohl het die moontlikheid van aansienlike finansiële hulp van Brittanje en Duitsland aan Suider-Afrika bespreek wat na die streek sou vloei ná die vrylating van Mandela en ’n postapartheidsbestel begin vorm aanneem het.

Sy het ’n dokument getiteld “A Marshall Plan for Southern Africa” aan Pik Botha oorhandig wat gereed gelê het sou apartheid tot ’n einde kom. Die naam van die plan het gesuggereer dat dit soortgelyk sou wees aan die grootskaalse hulp wat die VSA aan Europa gegee het in die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog en wat daarop gemik was om die verwoeste kontinent weer op te bou.

Thatcher se plan het aansienlike finansiële en tegniese hulp aan Suider-Afrika behels om die infrastruktuur te herbou en die ekonomieë van die verskillende state aan die gang te kry.

Thatcher benadruk dat geld opsigself nie ontwikkeling sou bring as daar ’n gebrek aan tegniese bekwaamheid, persoonlike integriteit en toewyding was onder diegene wat die kapitaal moes bestee nie. Haar plan sou nie net voortbou op die kapitaal wat deur Europa verskaf word nie, maar ook op Suid-Afrika se “rykdom aan tegniese en wetenskaplike kennis”.

Dit sou behels dat die fisieke infrastruktuur van die streek herbou word, om produktiwiteit te verhoog deur onderwys en opleiding, om regerings in Suider-Afrika te ondersteun in hul pogings om buitelandse beleggings te lok en die invoer van Suider-Afrikaanse goedere na Europa te vergemaklik.

Thatcher het haar voorstelle beskou as die beste manier waarop die Europese gemeenskap die lande in Suider-Afrika kan help om hul hulpbronne te ontwikkel en welvaart te bou.

Pik Botha het die aantekeninge gelees en geantwoord dat hy die voorstelle as “redelik” beskou. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika “desperaat” is vir finansiële hulp van buite.

Van dié planne het egter niks gekom nie. Die Berlynse muur het in November 1989 geval, wat Westerse kommer oor die Sowjet-avontuur in Afrika verminder het. Thatcher is ’n jaar later uit die kussings gelig – nog voordat ernstige onderhandelinge in Suid-Afrika begin het – en die Suid-Afrikaanse krisis was nie so hoog op die voorkeurlys vir haar opvolger, John Major, soos vir haar nie.

                                                                              ***

Op 23 Junie 1989 het FW de Klerk, toe nog NP-leier maar reeds die de facto-staatshoof, Thatcher in Londen ontmoet.

Die onderhoud het nie goed begin nie. Thatcher het uit die staanspoor gesê dat sy De Klerk se siening oor die behoefte aan groepsregte om die tirannie van een groep bo ’n ander te vermy “onbehulpsaam” vind. Sy het daarop gewys dat dit lyk asof hy swart Suid-Afrikaners vra om nie hul magte te gebruik om ander te onderdruk nie, terwyl wit Suid-Afrikaners presies dit gedoen het. Dit het in werklikheid gelyk asof wit mense verwag het dat swart mense beter sou optree as toe wit mense oor hulle regeer het.

Margaret Thatcher, Britse premier, saam met PW Botha in 1984. Foto: Getty

Die verslag van die ontmoeting lui dat De Klerk “nogal van stryk gebring” was, maar dat hy verduidelik het dat ’n mens nie algemene stemreg in ’n eenheidstaat in Suid-Afrika kan hê nie. ’n Vorm van federalisme sou ’n gedeeltelike oplossing bied, maar nóg Thatcher nóg De Klerk was geesdriftige federaliste. Die enigste sterk steun vir ’n federale stelsel sou waarskynlik kon kom van wit mense wat in die westelike deel van die land woon, waar die NP waarskynlik beheer oor die provinsiale regering sou kon kry.

Die regering van die Amerikaanse president George H.W. Bush het ook probeer om ’n skikking te bevorder. Edward J. Perkins, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het die swart opposisie teen apartheid in Suid-Afrika versoek om ’n soort versekering aan die Afrikaners en wit mense in die algemeen te gee. Hy het bygevoeg: “Hulle sal wil weet dat hulle ná die oorgang nie weerloos en onteien sal wees in hul geboorteland nie.”

Hy het bygevoeg dat diegene wat ’n vinnige en betekenisvolle verandering in Suid-Afrika wil sien, dit behoort te doen deur die saak van twee mededingende nasionalismes te konfronteer. In 1989 het Bush die eise van De Klerk ondersteun vir gelyke geleenthede as die hoeksteen van ’n nuwe grondwet.

Die NP-regering het die beloftes van ontwikkelingshulp verwelkom, maar het bowenal gesmag na tasbare steun van vriendelike Westerse regerings vir sy eis om verpligte magsdeling. Daar was egter nie ondersteuning vir hierdie eis nie.

Robin Renwick, Britse ambassadeur in Suid-Afrika, het die standpunt van sy regering uitgespel: “Ons sal die beskerming van minderheidsregte steun, maar ons sal nie ’n minderheids­veto steun . . . waar die wit mense op hul eie allerhande wetgewing kan fnuik nie.”

Die Amerikaanse regering het maatreëls soos federalisme en die oppergesag van die reg ondersteun ten einde die mag van die uitvoerende gesag te beperk, maar het ook nie veel geduld gehad met pleidooie vir verpligte magsdeling om die mag van die sterkste party te beperk nie.

In Julie 1992 verklaar Herman Cohen, Amerikaanse minister van buitelandse sake vir Afrika, dat alle partye die “reg van die meerderheid om te regeer” moes erken.

Geen kant, het Cohen voortgegaan, kon aandring op “té ingewikkelde reëlings wat ten doel het om ’n deel van mag aan bepaalde groepe te waarborg nie”. Dit sou net doeltreffende regering verhinder, het hy gemeen. Minderhede het die reg om op beskermingsmaat­reëls aan te dring, maar hulle kan nie ’n veto verwag nie.

Die ANC kon nie hul belangrikste eis beter verwoord het nie.

                                                                                 ***

In Mei 1988 vind ’n belangrike vergadering plaas waartydens pres. P.W. Botha vir dr. Niël Barnard, hoof van die Nasionale Intelligensieagentskap, vra om aan die hoof te staan van ’n span wat Mandela in die tronk moet ontmoet. Botha wou hê Barnard moet ’n klein span staatsamptenare lei om verkennende gesprekke met Mandela te voer. Hy het drie ander senior staatsamptenare aangestel om saam met Barnard te gaan: Willie Willemse, kommissaris van gevangenisse, Fanie van der Merwe, direkteur-generaal van justisie, en Mike Louw, adjunkhoof van nasionale intelligensie.

Nadat hy sy opdrag ontvang het, het Barnard aan Botha gesê: “Meneer die president, ons moet duidelik verstaan waarop ons ons moet voorberei wanneer ons met Mandela begin onderhandel: Dit sou noodwendig uitloop op ’n meerderheidsregering met Mandela as president.”

‘Ons het mekaar as gelykes ontmoet.’

Botha, effens geïrriteerd deur die vermaning het geantwoord: “Ek verstaan dit baie goed. Jy hoef nie vir my te preek nie,” voordat hy Barnard gewaarsku het om nie deur Mandela “betower te word” nie.

                                                                               ***

Tussen Mei 1988 en Julie 1989, het Barnard en sy span Mandela by byna 50 geleenthede ontmoet vir gesprekke wat byna 200 uur geduur het.

Gedurende die grootste deel van 1989 was Botha weens sy siekte grotendeels afwesig van die politieke toneel.

Mandela het aangehou vra om hom te ontmoet en Botha het geweier om Mandela te ontmoet voordat hy geweld afgesweer het. Mandela het op sy beurt geweier om geweld af te sweer sonder die versekering dat hy onvoorwaardelik vrygelaat sou word.

Uiteindelik sou die twee op 5 Julie 1989 (net ’n maand voordat Botha op 14 Augustus sou bedank as staatspresident) mekaar persoonlik in Tuynhuys, Botha se kantoor in Kaapstad, ontmoet.

In ’n onderhoud wat ek voor Mandela se dood met hom gevoer het, het hy die gesprek tussen hulle twee nageboots waartydens Botha sou aandring dat hy geweld afsweer voordat enige gesprek kan begin wat kan lei tot onderhandelinge.

Mandela sou antwoord: “O nee, ek kom nie na u toe met my hoed in die hand nie. Ek kom na u as die leier van ’n organisasie. Moenie bekommerd wees oor my beleid nie. Dink liewer aan ons as dat ons praat oor die toekoms van Suid-Afrika.”

Uiteindelik was dit Botha wat bes gegee het. Soos Mandela opgemerk het: “Ons het mekaar as gelykes ontmoet.”

In die tronk het Mandela homself gestaal vir die moeilike onderhandelinge met Botha. Hy het van ander swart leiers gehoor dat PW Botha nie met swart mense onderhandel nie, maar bloot op hulle skree.

In ’n memorandum wat hy voor die vergadering aan die president gestuur het, het hy gewaarsku dat dit enige gesprek baie moeilik sou maak.

Mandela se vrese was ongegrond. Hy het later toegegee dat hy die vergadering “effens benoud” ingegaan het en “oorlog” verwag het weens Botha se reputasie.

Ná die vergadering het hy aan sy gehoor gesê dat hy die president as ’n “eersteklas jintelman” beskou.

Vir my het hy vertel: “As jy nie die Suid-Afrikaanse situasie geken het nie, sou jy nie tydens ons ontmoeting geweet het wie die staatspresident en wie die gevangene was nie.”

Die twee se samesprekings het min om die lyf gehad, maar Mandela het dit duidelik gestel dat hy nie bereid is om vrygelaat te word voor Walter Sisulu en die ander met wie hy al jare in die tronk was nie ook vrygelaat word nie.

Die vergadering was veronderstel om geheim te bly, maar Botha kon homself nie beteuel nie. Op ’n jagtog kort daarna het hy ’n foto van homself, Mandela, Willemse en Barnard aan sommige kabinetslede gewys en die storie vertel. Die geheim van hierdie belangrike gebeurtenis was uit.

*Prof. Hermann Giliomee is ’n historikus en skrywer van talle boeke oor Suid-Afrika se politieke geskiedenis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.