Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Elmien: Die 101 van onteiening sonder vergoeding

Prof. Elmien du Plessis het onlangs sommige reaksies op die voorgestelde wysiging van die Grondwet as ’n “onkritiese kruisvaart van waninligting” bestempel. Willemien Brümmer het met haar gesels oor “die 101 van onteiening sonder vergoeding”.

Die kanse is baie skraal dat die EFF-leier Julius Malema (indien hy president word) eendag die mag sal hê om te bepaal hoeveel boere en gemeenskappe vir hul grond vergoed word, meen prof. Elmien du Plessis. Foto: Foto24

Jy het onlangs die reaksie op die ANC se lekgotla-besluit dat “die bevoegdheid om kwessies rakende onteiening van grond sonder vergoeding vas te stel in die uitvoerende gesag moet setel” as ’n “onkritiese kruisvaart van waninligting” bestempel. In eenvoudige taal, hoekom is hierdie nié ’n geval van Julius Malema wat eendag gaan besluit wat jy vir jou grond kry nie?

Die staat het reeds die afgelope 25 jaar die mag om grond teen R0 te onteien as hy kan bewys dat dit regverdig en billik is. Die magte om te besluit om te onteien en vergoeding te bepaal lê nog altyd by die uitvoerende mag. Dit word geadministreer deur burokrate en die proses word streng omskryf in wetgewing, wat die magte van die uitvoerende gesag in toom hou.

Onteiening kan slegs in terme van ’n algemeen geldende wet vir ’n openbare doel of in die openbare belang, as die proses reg gevolg is, en teen billike en regverdige vergoeding plaasvind. Wetgewing omskryf die magte en sit die openbare doel (of belang) uiteen wat die onteiening regverdig. Sonder so ’n wet kan dit nie gebeur nie.

Verder dink ek nie Julius Malema gaan noodwendig eendag president word nie – en indien hy wél president word, dink ek nie hy gaan hom veel aan regsreëls steur nie.

Dit is dus nie ’n nuwe verskynsel nie. Ontleders en joernaliste het dit nou so onkrities en onnadenkend aangebied asof die ANC nou ewe skielik besluit het om die mag na die uitvoerende gesag te skuif.

Natuurlik moet ’n mens waak teen indringende staatsmag, en natuurlik moet jy vrae vra soos hoe word (enige) mag beperk en hoe word dié met mag aanspreeklik gehou, maar jy kan dit nie doen vanuit ’n plek van vrees (of woede) nie.

’n Mens moet ook vra wat is die rol van die howe in dié geval – veral waar R0-vergoeding ter sprake is. Jy sou kon aanvoer dat indien die uitvoerende mag besluit om te onteien sonder vergoeding, moet dit eers deur ’n hof goedgekeur word – maar dit is hieroor wat die gesprek behoort te wees.

Oor Julius Malema: Die president onteien nie. Verder dink ek nie Julius Malema gaan noodwendig eendag president word nie – en indien hy wél president word, dink ek nie hy gaan hom veel aan regsreëls steur nie.

Prof. Elmien du PlessisFoto: Danie Keet

Met die grondwetlike wysiging sal die staat nie in staat wees om eiendom te onteien vir herverdeling sonder dat behoorlike wetgewing wat die staat bemagtig gepromulgeer word nie. In eenvoudige taal – wat beteken dit?

Wanneer die staat grond wil onteien om byvoorbeeld ’n pad te bou, bepaal die Nasionale Padwet dat die minister van vervoer eiendom kan onteien om dié pad te bou. Die proses en die berekening van vergoeding word in die Onteieningswet uiteengesit. In die geval van grondhervorming maak die Wet op die Herstel van Grondregte voorsiening vir onteiening vir die doeleindes van restitusie, en die Wet op Huurarbeiders vir die onteiening vir huurarbeiders. Dit is nog nooit gebruik nie, want dit was nog altyd deur skikking opgelos.

Daar is nie op die oomblik ’n duidelike wet wat grondherverdeling reguleer nie – met ander woorde – in gevalle waar mense toegang tot grond vir boerdery wil hê. Die hoëvlak-paneel (onder oudpres. Kgalema Motlanthe) het dit duidelik gemaak dat sodanige wetgewing nodig is wat omskryf hoe die begunstigdes geïdentifiseer moet word, en wat onteiening magtig.

Hoe word korrupsie, elite-begunstiging en die misbruik van mag voorkom indien nul-vergoeding wel ter sprake is?

Wetgewing moet baie streng – en duidelike – riglyne neerlê oor hoe begunstigdes gekies word. Daar is tans ’n beleid ter insae oor die kies van begunstigdes en die toekenning van grond wat ’n eerste poging is om juis dit te doen. Die proses moet ook deursigtig wees. Andersins gaan dit oor ’n sistemiese probleem van korrupsie en baantjies vir boeties in die regering, wat beteken dit moet in die groter sisteem aangesny word.

Hoe bang moet die gemiddelde leser wees, en in watter gevalle sal die staat waarskynlik kan regverdig dat die vergoeding R0 mag wees?

Ek voorsien nie dat die staat dit in baie gevalle sal kan regverdig nie. Onthou, die staat moet kan sê hoekom R0 regverdig en billik is. Ek dink van die vervalle geboue in die middestad van Johannesburg is altyd ’n goeie voorbeeld – die belasting is al baie meer as wat die gebou werd is.

My vermoede is dat die staat dalk een of twee keer gaan onteien teen R0 – en dat dit gou reggestel sal word deur die howe indien dit onregverdig of onbillik is, waarna die riglyne sal uitkristalliseer.

Die staat hoef ook nie staatseiendom te onteien nie, want hy is reeds die eienaar.

My vermoede is dat die staat dalk een of twee keer gaan onteien teen R0 – en dat dit gou reggestel sal word deur die howe indien dit onregverdig of onbillik is, waarna die riglyne sal uitkristalliseer.

Prof. Elmien du Plessis en ander soos adv. Thuli Madonsela het amptelik beswaar aangeteken teen die wysigingsproses van art. 25 van die Grondwet. Foto: Nasief Manie

Jy en ander soos adv. Thuli Madonsela het amptelik beswaar aangeteken teen die wysigingsproses van artikel 25 van die Grondwet. Wil jy uitspel hoekom?

Ons neem deel aan die openbare-insae-proses en ons lig ons bekommernisse vanuit ’n regsoogpunt. Ons het gekyk na wat die mandaat van die ad hoc-komitee is wat wetgewing moet opstel om onteiening sonder vergoeding duidelik in die Grondwet uit te druk – dit wil sê om uitdruklik te maak wat implisiet is – en op grond hiervan het ons kommentaar gelewer. Die eerste punt was dat die voorgestelde wysiging praat van “grond en verbeterings”, terwyl die mosie van die ad hoc-komitee net praat van grond. In terme van die reg sal ’n huis of ’n stoor byvoorbeeld deel van die grond wees, maar nie ’n onderneming of selfs ’n oes nie. So ons vra: Hoekom verbeterings ook? Dis buite die mandaat van die komitee.

Dan het ons uitgelig dat die invoeging van die howe nie nodig is in die wysigingswetsontwerp nie. Die hof het die bevoegdheid om te hersien in terme van die administratiewe reg, maar die Grondwet gaan nog ’n stappie verder en sê (reeds) dat die hof ook die bedrag kan bepaal – wat meer as ’n gewone hersieningsbevoegdheid is.

Ons dink dit is belangrik dat die staat, indien hy kan, moet uitspel hoe dié wysiging die probleme gaan aanpak.

Ons is ook bekommerd dat die voorrede nie uitspel hoekom die wysiging nodig is nie – en dat die staat nie erken dat daar institusionele verval is, waarvoor hulle verantwoordelik is nie.

Ons dink dit is belangrik dat die staat, indien hy kan, moet uitspel hoe dié wysiging die probleme gaan aanpak.

Hoewel ons nie dink dat daar regsredes vir die wysiging is nie (’n mens maak uitdruklik wat implisiet is deur wetgewing), kan daar politieke redes wees. Maar dié politiekery moet steeds binne die perke van die reg en die Grondwet geskied.

’n Plaastoneel in die Suid-Vrystaat met ’n bui reën wat agter ’n trop ooie uitsak wat deur die veld aangejaag word. Kommersiële boere is in die lig van die voorgenome veranderinge aan die Grondwet bekommerd oor hoe lank hulle hul plase nog sal besit en die effek wat die skielike aanbod van duisende plase en miljoene stuks vee op die mark aan pryse en voedselsekerheid kan doen. Foto: Charles Smith

Die landbou-organisasie TLU SA sê in ’n verklaring dat die regering nou die howe se magte om te besluit oor onteiening wil wegneem en dat hulle die mag aan die kabinet wil gee. Maar die howe kan tog nog steeds genader word – onder meer as die onteiende persoon nie saamstem met die vergoedingspakket wat aangebied word nie?

...daar is geen manier waarop die ANC die howe geheel en al uit die proses kan haal nie.

Soos ek hierbo verduidelik, het die besluit nog nooit in die eerste plek by die howe gelê nie. Dit was nog altyd moontlik om die howe te nader, en die onteiende kan dan beswaar aanteken en die hof kan in terme van artikel 25(2)(b) ’n bedrag bepaal. Daar is natuurlik geldige bekommernisse oor die kostes wat dié wat onteien word, dan moet aangaan, wat aandag behoort te kry. Maar daar is geen manier waarop die ANC die howe geheel en al uit die proses kan haal nie. Indien hy die bestaande magte wil inkort wat die howe reeds in terme van art 25(2)(b) het, is dit buite die mandaat van die komitee.

Dr. Theo de Jager van die landbou-organisasie Saai meen in die oë van buitelandse regerings en beleggers is die ANC se dryfkrag vir onteiening sonder vergoeding maar bloot ’n “verlengstuk van ’n kultuur van plundering, nepotisme en ander vergrype onder die heersende elite”. Jou kommentaar?

My fokus as regsgeleerde is hoofsaaklik op die regsaspekte van onteiening sonder vergoeding, alhoewel dit natuurlik nie in ’n vakuum plaasvind nie. Die huidige fokus is dan ook op artikel 25(3) en die staat se onteieningsmag. Ek kyk na die artikel en die wysiging – nie net uit die oogpunt van wit boere nie, maar uit dié van alle eienaars, omdat dit alle eienaars én gemeenskappe sal raak.

En hierdie chaos is ’n teelaarde vir skelm mense oor die hele spektrum. En die reg het ’n belangrike rol te speel.

Enige een kan onteien word indien dit vir ’n openbare doel is. Gemeenskappe, soos byvoorbeeld die Xolobeni-gemeenskap, is baie kwesbaar in dié opsig.

Verder is daar natuurlik talle probleme met hoe grondhervorming tans gebeur. Daar is ook baie verhale van boere wat die proses vir eie gewin uitgebuit het. Dit is kompleks. En hierdie chaos is ’n teelaarde vir skelm mense oor die hele spektrum. En die reg het ’n belangrike rol te speel.

In die breër gesprek is my fokus egter op die regsmeganismes wat nodig is om staatsmag in te perk en om seker te maak dat grondhervorming in terme van ’n regsproses plaasvind. Dit moet ook binne die raamwerk van die Grondwet plaasvind en slegs mense bevoordeel wat verdienstelik is.

Dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus meen indien vergoeding deur die uitvoerende gesag bepaal word, kom dit op die arbitrêre ontneming van mense se grond neer. Jou kommentaar?

Dit sal arbitrêr wees as dit nie in terme van 'n algemeen geldende wet gebeur nie. Dit kan ook arbitrêr wees as daar nie voldoende regverdiging is vir waarom R0 regverdig en billik is nie – maar dit is nie noodwendig die geval nie.

Artikel 25 in die Grondwet verwys nie net na grond nie, maar na alle eiendomsreg. Die groot vrees is nou natuurlik dat nie net grond onteien kan word nie, maar ander dinge in private besit – soos jou motor of jou spaargeld. Behoort ons slapelose nagte hieroor te hê?

Dit is so dat “eiendom” ’n wye konsep in die Grondwet is. Hierdie dinge kan reeds (en kón reeds voor die voorgenome veranderinge aan die Grondwet) onteien word.

Daar is nog geen aanduiding in die gesprek oor die wysiging van artikel 25 dat ’n mens se motor of spaargeld of pensioen onteien gaan word vir grondhervormingsdoeleindes nie.

Maar die mosie, die mandaat en dus die gesprek oor nul-vergoeding is net beperk tot grond (wat vir grondhervormingsdoeleindes onteien word). Daar is nog geen aanduiding in die gesprek oor die wysiging van artikel 25 dat ’n mens se motor of spaargeld of pensioen onteien gaan word vir grondhervormingsdoeleindes nie.

’n Mens moet die indringende magte van die staat probeer beperk, maar die fokus behoort te wees op wat ’n regverdige balans in die Grondwetlike konteks is. Om elke keer die slegste moontlike scenario te skets (byvoorbeeld dat jou motor onteien gaan word) om nodige hervorming te stop, sal maak dat ons op ’n nul-som-spel gaan eindig.

Dr. Annelie Lotriet van die DA reken die ANC se onlangse lekgotla-besluit is ’n manier om die mag van die howe te verwater. Jou kommentaar?

Die proses is nog aan die gang en die ANC se posisie is nie duidelik nie. Soos voorheen gesê – indien die howe uitgesluit word, sal dit ongrondwetlik wees. Indien die bestaande bevoegdhede wat die howe het in terme artikel 25(2)(b) uitgehaal word, oorskry die komitee sy mandaat. Die ANC moet by die Grondwet en die pligte in terme daarvan gehou word.

Elmien du Plessis: “My vermoede is dat die staat dalk een of twee keer gaan onteien teen R0 – en dat dit gou reggestel sal word deur die howe indien dit onregverdig of onbillik is, waarna die riglyne sal uitkristalliseer.” Foto: Mariska Spoormaker

Die argument is ook nou indien jy begin by eiendomsreg, wat is die volgende kleinood in die Handves vir Menseregte wat “op onderduimse wyse” verander kan word? Is hierdie vrees geregverdig?

Artikel 74 van die Grondwet maak voorsiening daarvoor dat die Grondwet en ook die Handves vir Menseregte gewysig kan word. Selfs ons grondbeginsels kan met die regte meerderheid gewysig word. Die politieke kompromie waarop die 1996-Grondwet berus, moes op die een of ander tyd getoets word. Dit behoort ons almal tot introspeksie te dwing en te laat vra: Hoe het ons hier gekom, en hoe verseker ons dat die legitimiteit van die Grondwet nie weer so maklik vir politieke gewin in twyfel getrek en uitgebuit kan word nie?

Wanneer sal die hele wysigingsproses afgehandel wees en wanneer sal Suid-Afrikaners meer sekerheid hê oor wat met hul eiendom gaan gebeur?

Ek voorsien dat ons nog ’n rukkie hiermee besig gaan wees. Die datum vir die finalisering van die wysiging gaan waarskynlik na die einde April geskuif word. Die onteieningswetsontwerp is tot Junie “op ys”. Ek voorsien ook dat daar groepe is wat uit beginsel sal litigeer. Ek sal verbaas wees as dit teen die einde van die jaar afgehandel is.

Wat is die verskil tussen nulwaarde en sonder vergoeding?

Ingevolge die voorgestelde wysigings soos vervat in die Agtiende Konsepwysigingswetsontwerp op die Grondwet moet sekere bepalings van art. 25 gewysig word om onder meer te lui dat ’n hof, waar grond of enige verbeteringe daarop vir die doelwitte van grondhervorming onteien word, mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Prof. Elmien du Plessis het aan Philda Essop verduidelik dit gaan oor die bewoording van art.25, wat lui dat wanneer eiendom onteien word, is dit aan vergoeding onderworpe. Daardie vergoeding moet billik en regverdig wees.

Die Grondwet lui verder dat daar ’n billike ewewig moet wees tussen die openbare belang en diegene wat daardeur geraak word. ’n Hof moet dus al die belange teen mekaar opweeg om te besluit wat billik en regverdig is.

Die Grondwet lys ook vyf omstandighede wat in die berekening van vergoeding (hoewel dit nie beperk hoef te wees tot dié vyf nie) in ag geneem moet word. As ál die faktore opgeweeg word, is dit moontlik om by ’n bedrag van R0 uit te kom.

In die geval van onteiening sonder vergoeding onthef dit die staat daarvan om vergoeding te betaal en hy hoef nie te verduidelik hoekom vergoeding nie betaal word nie.

“As die vergoeding dus R0 is, moet die staat dit regverdig. R0 is ’n bedrag,” het du Plessis verduidelik. “Diegene wat daardeur geraak word, kan dit in die hof uitdaag.”

*Du Plessis is verbonde aan die regsfakulteit van die Noordwes Universiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.