Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mashaba: DA nes ANC gekaap

Die DA is nes die ANC ’n gekaapte party, het Herman Mashaba, die voormalige burgemeester van Johannesburg, aan Gert van der Westhuizen gesê. Hy het ook vertel watter planne hy in die mou voer vir sy nuwe party.

Herman Mashaba sê hy hou daarvan om oor die lewens van bekende mense te lees omdat dit hom inspireer. Foto: Gert van der Westhuizen

Wat is die protokol met die dra van maskers in die tyd van Covid-19 as jy ’n onderhoud voer, wonder ek terwyl die GPS my beduie na wat na onnodige kronkelpaadjies voel diep in die hart van Sandton waar ek ’n afspraak met Herman Mashaba by sy huis het.

Boonop wonder jy wat om van Mashaba te verwag. Hy is al Suid-Afrika se Donald Trump genoem. Xenofobies. ’n Toevallige politikus wat sê wat hy wil sonder om aan die gevolge te dink. ’n EFF-burgemeester.

In die DA is hy nie baie gewild nie nadat hy uit dié party bedank het toe Helen Zille as voorsitter van die federale raad aangestel is.

Mmusi Maimane, vorige DA-leier, het darem gesê Mashaba is sy held. Maar sulke heldeverering sal hom blykbaar nie veel help met sy beplande nuwe politieke party nie; politieke waarnemers is dit eens dat dit nie juis ’n kans op oorlewing het nie.

Sonder om te dink, groet ons mekaar met die hand.

Mashaba maak self die deur oop waar ek masker in die hand staan en wag nadat ek die deurklokkie gelui het. Op ’n veilige afstand in die portaal saam met dié voormalige burgemeester van Johannesburg, en nou leier van The People’s Dialogue, is Michael Beaumont, skrywer van The Accidental Mayor: Herman Mashaba and the Battle for Johannesburg (Penguin Books).

Mashaba dra een van daardie deurskynende perspeks-maskers wat sy hele gesig bedek, vriendelike glimlag en al. Sonder om te dink, groet ons mekaar met die hand.

“O aarde,” sê Mashaba, “ons is seker nie veronderstel om dít te doen nie.” Hy gaan soek dadelik na reinigingsmiddel in ’n ander vertrek sodat ons ons hande kan ontsmet om dié oortreding in die tyd van Covid-19 ongedaan te maak.

Hy sê ons moet op die stoep gaan sit en bestel vir ons koffie voordat hy, op ’n veilige Covid-afstand, op een van die sagte stoepbanke gaan sit.

Hy haal sy masker af en sit dit neer op die koffietafel voor hom langs ’n kopie van Ezra E. Vogel se Richard Evans se Den Xiaoping and the Transformation of China. Hy het al 523 van die 737 bladsye van dié lywige biografie van die vader van die moderne China gelees, vertel Mashaba.

Die voorblad van Michael Beaumont se boek oor Herman Mashaba se tyd as burgemeester van Johannesburg.

Hy is mal oor lees, veral biografieë en outobiografieë; hy leer uit die lewens van ander mense. Hy moet tog onthou om my sy studeerkamer te gaan wys voordat ek loop, sê hy.

DA deur ‘ware liberales’ en IRV gekaap

Daarna gesels ons oor die boek wat vertel van sy tyd as burgemeester van Johannesburg en sy stryd teen ’n korrupte ANC én sy eie party, die DA, in dié stad wat eens die ekonomiese hartland van Suid-Afrika was.

Op dieselfde dag wat The Accidental Mayor verskyn het, is die inhoud van ’n voorlopige verslag van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, oor Mashaba se termyn as burgemeester aan sommige koerante uitgelek. Daarin word hy onder meer beskuldig van onreëlmatige aanstellings van sommige senior amptenare, finansiële wanbestuur en belangebotsings.

Volgens Mashaba is die tydsberekening verdag. Dit kan nie toevallig wees dat dit gebeur het op dieselfde dag wat die boek verskyn het nie.

“Ek dring aan op ’n ondersoek daarna,” sê Mashaba driftig. “En as die finale verslag steeds dieselfde sê, sal ek op ’n oorsig aandring. Dit moet in ’n ope hof aangehoor word. Ek sal self die regskoste betaal,” sê Mashaba beslis. “Nie die staat en die belastingbetaler nie.”

Die staat en die ANC mors al klaar genoeg van die belastingbetaler se geld, sê hy. In The Accidental Mayor word juis heelwat ruimte afgestaan aan beweerde ANC-korrupsie.

Die DA is gekaap nes die ANC deur die Guptas gekaap is.

Mashaba vertel graag van die toestand waarin hy Johannesburg aangetref het nadat sy koalisieregering by die ANC oorgeneem het, veral van die feit dat net 6% van die stad se 906 brûe in ’n goeie toestand was en dat 78% (meer as 700) se toestand daarop gedui het dat hulle in die toekoms in duie kan stort.

Maar dit is nie net die ANC wat deurloop nie.

In die boek is min goeie dinge oor die DA, die party wat Mashaba kortstondig verteenwoordig het en waarvan Beaumont 13 jaar lank ’n lid was, geskryf. Mashaba het baie beter herinneringe aan sy samewerking met die EFF, IVP en Vryheidsfront Plus as koalisievennote in die Johannesburgse stadsraad as aan die party waarvan hy eens ’n lid was.

“Die DA is gekaap nes die ANC deur die Guptas gekaap is,” sê Mashaba. “Nie net deur die sogenaamde ‘ware liberaliste’ nie, maar ook deur die Instituut vir Rasseverhoudinge.”

Sosiale media is deesdae een van ’n politikus se beste vennote, sê Herman Mashaba. Foto: Gert van der Westhuizen

Volgens Beaumont het die DA Mashaba deurentyd ondergrawe omdat daar mense in dié party was wat nie van sy noue samewerking met sy koalisievennote gehou het nie.

Dit het naderhand vir hom en Mashaba duidelik geword dat die DA eintlik maar net mense in die meer welvarende woonbuurte se belange op die hart dra en hulle nie veel gesteur het aan ontwikkeling in die armer dele van die stad nie. Boonop lyk dit al hoe meer asof die DA nie werklik daarin belangstel om te regeer nie, maar dat hy tevrede is om ’n opposisieparty met die steun van 20% van die kiesers te bly.

Hoe om ’n koalisieregering bymekaar te hou

“Die DA hou ook daarvan om Herman te kritiseer vir sy pragmatiese benadering tot plaaslike regering,” sê Beaumont. “Maar dit is die enigste manier waarop jy ’n koalisieregering op plaaslike vlak kan bestuur. Plaaslike regering gaan nie oor ideologie nie. Dit gaan nie oor internasionale betrekkinge nie, dit gaan nie oor Palestina en Israel en makro-ekonomiese beleid nie.

“Dit gaan oor dinge waaroor die VF Plus en die EFF kan saamstem: strate, huise, elektrisiteit, water . . .”

Hoe kon ek aanbly? My party het my dan nie gesteun nie.

Moes Mashaba dan nie maar aangebly het as burgemeester van Johannesburg as hy mense van uiteenlopende partye kon kry om ter wille van die welvaart van die stad saam te werk nie? Daar is juis voormalige ondersteuners wat voel hy het hulle verraai deur as burgemeester en uit die DA te bedank.

“Hoe kon ek aanbly?” antwoord hy met ’n vraag van sy eie. “My eie party het my dan nie gesteun nie. Wat kon ek doen toe dinge ’n stadium bereik het waarin DA-lede klandestiene ontmoetings met die ANC gehad het om ’n mosie van wantroue in my van stapel te stuur?”

Michael Beaumont, skrywer van die boek oor Herman Mashaba se termyn as burgemeester van Johannesburg, was vir 13 jaar lank ’n lid van die DA. Hy het net ná Mashaba uit dié party bedank.

Nou gaan hy probeer om met sy eie party die politieke landskap te verander. Maar dit was nie ’n halsoorkop besluit nie, sê die sjarmante Mashaba wat dit baie moeilik maak om nie van hom te hou nie.

“Toe ek bedank het, het baie mense gesê ek moet my eie party stig. Maar voordat ek dit kon doen, moes ek eers probeer uitvind of ek ’n mandaat daarvoor het en of genoeg mense dieselfde waardes as ek deel. Dit is hoe die konsep van The People’s Dialogue ontstaan het.”

Die reaksie van gewone mense op dié beweging se webwerf was oorweldigend en het hom verbaas, sê Mashaba.

Ons gesprek word ’n paar keer deur die gelui van sy selfoon onderbreek.

“Ek sou tevrede gewees het as 500 000 belangstelling getoon het, maar daar was 2,4 miljoen reaksies op ons webwerf. Van die 125 000 voorleggings wat ons gekry het, was tot so lank as tien tot 12 bladsye.”

Daarin vertel mense wat hulle van ’n nuwe party verwag. The People’s Dialogue sal aanhou met sulke konsultasies voordat hy in Augustus amptelik as ’n politieke party van stapel gestuur word. Die raad en menings van kenners sal ook ingewin word.

“Ons sal met studente, onderwysers, skoolhoofde en professore praat oor wat verkeerd met ons onderwysstelsel is sodat ons planne kan beraam om dit reg te stel,” sê Mashaba. Daar is ook reeds met regslui gesels oor probleme met die regstelsel en die bekamping van korrupsie.

“Dit sal alles opgeneem word in die party se bloudruk,” ’n term wat Mashabe bo dié van manifes verkies.

Dié werkwyse herinner baie aan dié van die ANC voordat die Vryheidsmanifes in 1955 in Kliptown aanvaar is, waag ek. Die reaksie is nie juis oorweldigend by die noem van die politieke vyand se naam nie.

Beaumont sê wel dat Kliptown ná 26 jaar van demokratiese regering nog nie elektrisiteit gehad het nie en dat Mashaba se stadsraad dié township geëlektrifiseer het. “Kan jy jou dit voorstel?”

Hoe bedryf jy politiek in die tyd van Covid-19?

Mashaba meen een van sy party se uitdagings is om van die 19 miljoen stemgeregtigde Suid-Afrikaners wat nie stembus toe gaan nie, so ver te kry om dit wel te doen. Maklik sal dit nie wees nie.

Dit sal in elk geval seker moeilik wees om ’n nuwe party te organiseer met al die beperkings op openbare byeenkomste wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het?

“Jy is heeltemal verkeerd,” reageer Mashaba op dié stelling. Hy gebruik deesdae Zoom en sosiale media om voornemende kiesers te probeer oortuig om eendag vir hom te stem. “Jy weet, die mens is ’n vreemde spesie wat altyd in die status quo glo,” lag Mashaba.

“Maar nou gebruik ons platforms op sosiale media om mense te bereik. Ek het nou die aand met 11 studenteleiers (oor Zoom) gesels. Alleen in my studeerkamer,” sê Mashaba met die duidelike trots van ’n 60-jarige wat moderne tegnologie onder die knie gekry en dit tot sy voordeel kan inspan.

“Só bereik ons honderde en selfs duisende mense. En sulke vergaderings is ordelik; daar is geen ontwrigtings nie,” sê hy.

Mmusi Maimane (links), vorige DA-leier, was aan Herman Mashaba se sy toe hy as burgemeester van Johannesburg bedank het. Foto: Gallo Images

Dit is boonop baie goedkoper om politiek op dié manier te bedryf, voeg Beaumont by.

“Om sowat 4 000 mense vir ’n politieke vergadering in ’n saal soos dié van die Standard Bank Arena bymekaar te kry, sal jou maklik tussen R3 miljoen en R4 miljoen kos. Jy moet mense met busse aanry en reël vir veiligheidswagte en kos. Nou doen jy dit vir die prys van die data wat jy gebruik.”

Korrupsie en boeke

Teen die einde van die onderhoud gesels Mashaba weer oor korrupsie en wanbestuur, iets wat hom na aan die hart lê. Hy sê onder meer dat provinsiale regerings afgeskaf moet word omdat dit net ekstra uitgawe vir die belastingbetaler beteken en op ’n mors van geld neerkom.

“Ons kan daardie luukse nie bekostig nie. ’n Span tegnokrate in die nasionale tesourie kan geld direk na plaaslike regerings versprei en dan het ons nie ’n premier nodig wat in ’n konvooi met agt motors met blou ligte rondjaag nie. Gebruik daardie geld om paaie te bou, ons brûe te herstel voordat hulle inmekaar stort, ons infrastruktuur te herstel, gebruik dit om die sakegemeenskap aan te spoor om werksgeleenthede te skep . . .”

Voor die pandemie het die ekonomie op ’n trollie gelê en wag om die waaksaal ingestoot te word.

Die lys is eindeloos, want die ekonomie bly volgens Mashaba die land se grootste enkele uitdaging.

“Voor die pandemie het die ekonomie op ’n trollie gelê en wag om die waaksaal ingestoot te word. Nou is dit reeds in die waaksaal.”

Herman Mashaba aan die woord met die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes in 2019. Foto: Gallo Images

Daar is baie werk wat voorlê, meen Mashaba. Hy het ook nie veel tyd vir ’n blaaskans ná ons onderhoud nie, want ’n gemaskerde televisiespan wag om die volgende uur van ’n besige dag op te neem.

Daar is nog net tyd vir die beloofde besoek aan die studeerkamer.

Op rakke agter glas staan onder meer biografieë van oudpres. Nelson Mandela en Oliver Tambo, voormalige ANC-leier. Die omstrede biografie van Dimitri Tsafendas, die man wat oudpremier HF Verwoerd doodgemaak het, vang ook my oog. Dit is ’n boek wat hom beïndruk het, sê Mashaba.

Daar is ook ’n stel Encyclopedia Britannica in rooi gebind, iets waarmee menige ordentlike huis gespog het voor die koms van die internet wat nes die pandemie ons lewens, en ook die politiek, so onherroeplik verander het.

Toe ons groet, onthou ons om nie weer hand te skud nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.